Foto’s Francois Oberholster en Tessa Harding

Wie woon hier? Tessa en Craig Harding
WAAR Vredehoek, Kaapstad

Klipgrys keramiekteëls van Florstore Ontrend en herwinde houtpanele en rakke pas perfek by die ontblote Oregon-dennehoutbalke.
"Ons snuffel graag rond by tweedehandmarkte in Kaapstad en het oor die jare ’n paar lekker kopies gekry, soos ’n Le Creuset-pan wat ons vir net R40 gekoop het."
Die kombuis en die sitkamer het deure na die stoep en die groentetuin daaronder.

Als bymekaar

Tessa en Craig Harding se huis in Vredehoek vervul baie behoeftes. Buiten die fyn afwerking wat so deel is van ’n statige ou gebou het dié lieflike erfenishuis ook ’n grasperk met genoeg speelplek vir Ted, die hond, en Bear Grylls, die kat, én hulle kan organiese groente in hul sonnige tuin kweek.

Die kombuis maak met groot dubbeldeure oop op die groentetuin, en dis hul grootste bron van vreugde. Die Hardings kuier graag saam met vriende en familie, en dan berei Craig, ’n vryskutwebontwerper, iets heerliks uit die tuin terwyl Tessa, wat verantwoordelik is vir die bemarking en kreatiewe aspekte van hul familie onderneming, Mungo, die tafel dek uit haar uitgebreide versameling linne.

“Die huis was in ’n goeie toestand toe ons dit koop,” sê Tessa. “Maar die kombuis het gesmeek om verandering; toe besluit ons om dit op te knap.”

Die kombuis is beslis ons gunstelingvertrek – dis die een plek waar ons ons stempel op die huis kon afdruk. – Tessa
Volgens Tessa sal ROA in Woodstock, wat die tafel en bank in hul eetkamer gemaak het, enigiets volgens bestelling maak.
Hul beste kopies
  • Handgemaakte keramiekprodukte van Funky Furnace in Plettenbergbaai
  • Glase en algemene kombuisgereedskap van Banks in Woodstock
  • Rosetta Roastery-koffiebone van Yuppiechef.com
  • Hake, herwindromme en broodblikke van Pedersen + Lennard in Woodstock
  • Mandjies en mooigoed van L’Orangerie in Wynberg
  • Teeservette, voorskote, servette en tafeldoeke van Mungo in Plettenbergbaai
  • Kroegstoele van Chair Crazy in Woodstock
.
.

Nuwe kinkel

Een van Craig en Tessa se opwindendste vooruitsigte tydens die beplanning van hul opknapprojek was om die plafon uit te haal en die dakbalke bloot te lê – nou is dit vir hulle die mooiste element van die vertrek.

“Met die oop balke en dakruimte voel die kombuis nou veel groter. Ons wou die vertrek ’n moderne kinkel gee sonder om die erfenis-gevoel te verloor, daarom het ons herwinde hout vir die rakke en die panele onder die toonbank gekies. Dit vul die moderne kaste perfek aan,” sê Tessa.

Op die paartjie se moet-hê-lysie was ’n stoof met gasbranders en ’n toonbank waar gaste kan sit en gesels terwyl hulle kosmaak. En danksy die groot deure na die stoep glip Craig maklik uit om gou vars groente in hul eie tuin te gaan pluk.

Ingelegde lekkernye

Groen vingers

Craig het op ’n plaas grootgeword en altyd naweke saam met sy ouers in die tuin gewerk. “Selfs nou wanneer my ma kom kuier, gaan ons kwekery toe en bring die dag buite deur,” sê Craig, wat baiekeer na sy oorlede pa, ’n entomoloog, verlang wanneer hy probeer vasstel hoe om sonder chemikalieë van plae ontslae te raak.

“Hy sou geweet het wat om te doen,” sê Craig. Maar hy glo sy grootste vyand is nie noodwendig die goggas nie, dis liewer die sterk wind in dié deel van die stad.

Ek geniet dit so wanneer ons ’n hele maaltyd uit die tuin kan berei. Dis moeiliker as wat dit klink! – Craig
Tessa se kombuiswenke
  • Belê in gehalte-breekgoed wat lank sal hou – die meeste van ons borde is handgemaak. Ons vermy gewoonlik massavervaardigde breekgoed.
  • Kies tydlose stukke met ’n minimalistiese voorkoms waarvoor jy nie moeg sal word nie en skep aksente met kleurvolle bykomstighede wat jy kan verander nes jy wil.
  • Hou jou kombuis se opknap binne die “storie” van jou huis; jy wil nie met ’n deurmekaarspul van ontwerpe sit nie.
  • Maak seker die meeste stukke is funksioneel pleks van net esteties.
  • Koop ’n skottelgoedwasser. “Dit sal jou huwelik red,” grap Tessa.

Hout-en-glas-koffietafel van Pedersen + Lennard; mandjie van L’Orangerie; Cottonfields Mushroom-deken en Toulousekussingoortreksels van Mungo; skildery deur Helen Mudge
.
Gemaksone

In die winter onthaal Tessa en Craig gaste in hul oopplan-sit-eetkamer. “Die Earthfirevuurpot is nou wel nie ’n oop vuurherd met ’n knetterende vuur nie, maar dit werk verbasend doeltreffend in die groot vertrek, en ons kuier graag daar met ’n paar lekker outydse bordspeletjies,” sê Tessa.

Die treffende Art Deco-stoel in die sitkamer – wat nou opgeknap en weer oorgetrek is – was ’n skadu van sy ou self toe die Hardings dit in die huis se kelder ontdek het. Dit word pragtig aangevul deur gordyne van Design Teammateriaal, ’n TV-kas met ’n retro-kinkel deur Brak Furniture en ’n groot Kelim wat die paartjie in Istanboel gekoop het.

Tessa vertel: “ ’n Matwinkel-eienaar het ons met komplimente en tee oorlaai. Uiteindelik moes Craig die badkamer besoek, toe koop ons die mat. Ons het die meeste van ons begroting op dag een geblaas – ’n groot fout deur groentjie-toeriste – maar ons is dol daaroor!”

Hierdie praktiese ruimte het ook speelse detail soos die replika-Eames-stoel van Chair Crazy en stringe origami-voëls wat van die oorspronklike ligskakelaars hang. “In pas met die tradisie van ’n papiergeskenk vir die eerste huweliksherdenking het Craig 40 origami-voëls vir my gemaak. Sedertdien het ek al baie van hulle vir gaste gegee wanneer hulle by ons kom eet,” sê Tessa. “Ek is seker hy gee nie om dat ek die liefde deel nie.”

Die diskrete bedlampies is van Pedersen + Lennard, die mat van Rugs Oriental en die beddegoed van Mungo.
.
Die turkoois mosaïek-teëls is van Douglas Jones

Salige toevlug

Die paartjie se hoofslaapkamer is ’n rustige ruimte. Groot skuifdeure wat op die agtertuin oopmaak, verskaf ’n lieflike uitsig op Duiwelspiek. “Ons hou daarvan dat ons slaapkamer apart van die gastekamer en ver van die straat af is – almal het privaatheid, rus en vrede,” verduidelik Craig. Hy verduidelik dat die hoofslaapkamer meer as 20 jaar gelede aangebou is.

Die en suite-badkamer is slim ontwerp: Die pasgemaakte wasbakeenheid, ook deur Kitch Inc, is deel van die hoofslaapkamer, maar voel afgebaken danksy die lae muur wat dit skei, sonder om die vloei te belemmer. Vir privaatheid is die stort en toilet anderkant die wasbakke weggesteek agter ’n skuifdeur. “Die beste deel van die badkamer is die dubbele stortkop. Ja, dit is romanties om saam te stort, maar dis ook prakties – veral wanneer ons soggens dieselfde tyd by die huis moet uit,” grap Craig.

VERSKAFFERS