Gretha Bester en haar man, Craig, ’n versekeringsmakelaar, het hul bekoorlike Victoriaanse huis in die Paarl tien jaar gelede gekoop toe hul oudste dogter, Saskia, hoërskool toe is. “Ons het destyds in ’n moderne huis in Welgemoed gewoon, maar het geweet dat die Paarl se skole hoog aangeskryf word. Ek en Craig hou ook van die plattelandse atmosfeer en natuurlik die pragtige ou huise op die dorp,” vertel sy.

"Dis vir my heerlik om by die huis te kan werk, want nou kan ek blomme pluk, ’n meubelstuk skuif en sommer net 'huis-huis' speel wanneer ek die kans kry." – Gretha

Hul huis is ook Gretha se werkplek – sy bedryf haar onderneming Makietie Linne van hier – en saam met die ander kinders, Emile, Mieke, Charl en ’n Jack Russell, Miela, is hierdie ’n regte gesinshuis.

Gretha en Craig het lank na hul droomblyplek gesoek, want hulle het baie besonderse idees gehad oor wat hulle wou hê. “Ons het na verskeie huise gaan kyk, maar niks het reg gevoel nie. Nadat Craig dié huis gesien het, het hy my dadelik gebel om te sê hy het ‘ons huis’ gevind! Ek het vroeg die volgende oggend gaan kyk en hy was reg,” onthou Gretha met ’n glimlag.

Die mure van die toegeboude stoep is met Dulux se Grecian Grey dakverf geverf en die vloer met Grey van Dura Paints.
Die Besters het die rottangbank by ’n antiekwinkel op Stellenbosch gekoop en die kussings met leer laat oortrek by Incanda Meubels.

Die onthaalvertrek

“Ons het die stoep onlangs met aluminiumstapeldeure en -vensters toegemaak om kuierplek te skep,” vertel Gretha, wat daarvan hou om mooi tafels vir haar gaste te dek. “Ek sit graag mooi linne en blomme en selfs naamkaartjies op my tafels!”

Toe hulle die vensters ingesit het, was Craig vasbeslote om die pilare as Victoriaanse glanspunte te behou. Maar dit was nie maklik om iemand te kry wat dit kon doen nie. “Die ouens wat al ons houtrame gemaak het, het aluminium begin gebruik en ons het hulle gevra om te help. Hulle het reguit vertikale stroke in die pilare gesny en die rame daarin gesit,” sê Craig. Sodoende, verduidelik hy, hoef hulle nie die raam by die pilare se silhoeëtte te laat aanpas het nie én kon hulle ’n meer water- en lugdigte seël bewerkstellig.

Hy dink nou daaraan om ’n kaggel in die ou vuurherdstyl te laat inbou, maar intussen is die gesin heeltemal tevrede om die ruimte te gebruik vir lees, kaartspeel of sommer net saamkuier – maak nie saak hoe die weer lyk nie!

Die Besters het hul kombuiseiland – ’n winkelvertoonkas in ’n vorige lewe – by Fancy That ontdek.

Heerlike oopplan-ontwerp

Die leefarea, wat noordwes front, sluit die kombuis, sit- en eetgedeeltes en toegeboude stoep in; die oorspronklike kabinette van Oregondennehout het net verf gekort om weer nuut te lyk!

Een ding wat nogal ’n uitdaging was, was die lae plafonne en tekort aan natuurlike lig. “Ons het die plafon gelig, maar agterna beskou moes ons nog vensters ingesit het vir ekstra lig. Dis een van daai dinge waarvoor jy eers ’n rukkie in ’n huis moet woon voor jy kan weet wat werk en wat nie,” sê Gretha, wat later ’n daklig wil laat installeer.

Die muur agter die oond is wit geverf om die swakgeboude sierstene te versteek; nou skep dit die perfekte agtergrond vir Gretha se versameling mooi blou en wit breekgoed.

“Craig sê as ek nog ’n blou ding by die huis aandra gaan hy van sy kop af raak,” lag sy. “Maar hy raak net so meegevoer deur kaste en skilderye, en kom gereeld by die huis aan met nog iets wat hy by ’n tweedehandswinkel raakgeloop het.”

Een van die los kombuiseenhede kom van die Bellvillepolisiestasie, en die werkbank was Craig se pa s’n – hy het dit op die Maitland-spoorwegstasie gekry.

Die bedliggies (links) kom van Hyper Lighting & Fires in Brackenfell en gee die klassieke ruimte ’n kontemporêre kinkel. NJT Wood was verantwoordelik vir die muurpanele in die en suite-badkamer; die tydlose swart en wit teëls is van Italtile.

Hoofslaapkamer en suite

Gretha en Craig het die kopstuk en bedkassies wat nou so bekoorlik daar uitsien voor ’n winkel in Soutrivier opgeraap. Dit het die aakligste stoffering gehad, maar Lisa Spaarwater van Lemon & Lilac Paint Techniques kon die meubelstuk weer tot sy volle glorie herstel; vandag het dit ’n ereplek in die hoofslaapkamer, waar dit trefkrag verleen met sy goue detail. Die lang kussings op die bed spog met ’n eenmalige ontwerp wat Makietie Linen vir La Mottewynlandgoed gemaak het.

Hoewel die bal-en-kloubad in die en suite-badkamer saam met die huis gekom het, het die Besters besluit om die ruimte te herontwerp; hulle het ’n ingeboude wasbak vervang met ’n baie mooi losstaande eenheid kompleet met ’n sy- en haar-wasbak, die vloere en mure oorgedoen en wat voorheen ’n pakkamer was omskep in ’n lekker groot stort met ’n uitsig op die tuin.

Mieke se kamer (links) het ’n meer volwasse gevoel gekry met behulp van Modo Paint-verf in die kleur Flannel (te kry by Builders). Die unieke bedlamp is van ’n doodgewone bottel en toebehore van Hyper Lighting & Fires in Brackenfell gemaak.

Kinderkamers

Gretha het haar dogter Mieke se kamer, wat voorheen pienk was, ’n gedaanteverwisseling gegee met ’n leksel verf van Lady Grey Paints en LT Paints. “Die pienk het haar nie meer aangestaan nie,” sê sy, en wys na die vinielplakker van Wall Art Studios bo die bed wat Mieke uitgesoek het. Gehekelde en vintage-elemente dra ’n ouwêreldse gevoel aan die kamer oor. “Die rok wat aan die portretlys hang, is een wat my ouma vir my doop gemaak het; die deken op die bed kom van Woolies,” vertel Gretha.

Charl se obsessie met kaarte en skaatsplanke was die vertrekpunt vir die dekor in sy kamer, waar rooi en blou oorheers. “Hy’s ’n opgaarder; dis duidelik dat hy sy pa se voorliefde vir goeters geërf het,” voeg Gretha by. “Die alfabetgordyne is van oorskietlap gemaak en die gehekelde kussings het ek by ’n garageverkoping gekry.”

Gretha se top-wenke

  • Koop waarvan jy hou en moenie dat modeneigings jou verlei nie.
  • Minder is meer wanneer jy jou huis versier: Koop pleks van ’n klomp nuwe goed net ’n paar klassieke stukke wat die toets van die tyd sal deurstaan.
  • Kyk by tweedehandswinkels uit vir gehaltemeubels teen bekostigbare pryse.
  • Jy kan jou huis altyd met verf of nuwe stoffering verfris.
VERSKAFFERS Builders Warehouse 0860 284 533, builders.co.za, Dura Paints 011 452 5221, durapaints.co.za Fancy That 082 879 5083, fancythat.wozaonline.co.za, Hyper Lighting & Fires 021 981 4401, hyperlightingandfires.com Incanda Meubels 021 863 1965, incanda.co.za Italtile 011 510 9002, italtile.co.za, Lady Grey Paints 021 872 7952 Lemon & Lilac Paint Techniques 082 964 4254, lemonlilac.co.za LT Paints 021 447 5435, paintsupplierscapetown.co.za, Makietie Linen 084 440 3330, makietie.com NJT Wood 021 931 9289 Wall Art Studios 021 447 9644, wallartstudios.co.za Woolworths 0860 022 002, woolworths.co.za