Foto’s Francois Oberholster | Stilering Marian van Wyk

WIE WOON HIER?
Willow Tucker en Jean de Lauwere en hul honde Adix, Malachite en Bullet
WAAR Port Elizabeth

Die rusbank  was die eerste groot meubelstuk wat die paartjie gekoop het. Die bankie was Willow se ouma s’n; haar ma het dit mooigemaak met Annie Sloan-krytverf en nou dien dit as kanttafel. Strooikussings van MRP Home en Woven Green


Wat hulle verander het
Die kombuiskaste is pasgemaak. Sweefrakke is nie regtig die norm in plot-en-plan-huise nie, maar dit was op Willow se wenslys. Die oop balke was een van die opsies wat nie ekstra koste sou meebring nie. Sy het ook ’n besemkas in die garage laat insit vir losgoed wat nie in die huis pas nie.

In die kombuis wou Willow en Jean ’n skoon, Skandinawiese ontwerp hê; dit het hulle reggekry met oop rakke, Supawood-kaste en Caesarstone-werkblaaie in ’n gedempte kleur. “Ons was bly toe ons verneem metroteëls was een van die opsies vir die kombuis, so dit was nie ’n ekstra uitgawe nie,” sê Willow. 

Jean de Lauwere en Willow Tucker het hul plot-en-plan-huis gekies weens dieideale ligging daarvan naby hul gunsteling-winkels en -restaurante in die Vriendelike Stad, Port Elizabeth. 

Maar pleks van die huis slaafs volgens die kontrakteur se spesifikasies te laat bou, het hulle ’n paar veranderings aangebring. “Die bestaande huisplan was nie presies wat ons in gedagte gehad het nie; daarom het ons die uitleg aangepas,” sê hulle. 

As avontuurlustige paartjie bring hulle baie tyd buite deur en gaan stap gereeld met hul honde. Hulle wou hê hul huis moet voorsiening maak vir hul persoonlikheid en ontspanne leefstyl. “Ons bring die meeste van ons tyd in die natuur deur, maar daar kom Sondae wanneer ons rustig by die huis wil wees en kosmaak of kuier saam met vriende,” sê Willow.

Jean is ’n projekbestuurder in die boubedryf en Willow spesialiseer in grafiese ontwerp en fotografie in die bemarkingswese. Met dié agtergrond het hulle ’n duidelike visie gehad van wat hulle van ’n leefruimte verwag. Dit moes stewig gebou, ruim en lig wees – ’n plek wat mooi sou verouder saam met sy onverskrokke inwoners. 

Willow het ’n praktiese tuiste verlang wat ook haar kreatiewe sy sou voed, maar bowenal moes hul huis tydloos wees. “Ek wou nie ’n plek hê wat sou sukkel om ‘by te bly’ nie. Ek wou hê dit moet saam met die tye beweeg,” verduidelik sy.

Wat hulle verander het
Die paartjie het ’n behandelde balau-dek aan twee kante van die huis by die oorspronklike plan gevoeg. 

Willow se ouers het ’n hand met ’n plant en sy het daardie passie by hulle geërf. Sy kook met die groente en kruie wat in haar klein tuin groei. “Ons het ’n verskeidenheid groente, soos blaarslaai, pak choi, krulkool, preie, pietersielie, origanum en roosmaryn, maar dit verander elke seisoen sodat daar altyd iets vars is om te eet.”

Beter beplan

Met Jean se agtergrond in die boubedryf en skrynwerk en Willow s’n in die kleinhandel het hulle gou met kreatiewe dog eenvoudige oplossings vorendag gekom. “Ons het al ons beskikbare hulpbronne gebruik – en ons maak ’n gedugte span,” sê hulle. 

In nuwe ontwikkelings is drieslaapkamerhuise redelik standaard, maar die paartjie het net twee slaapkamers nodig gehad – een as die hoofslaapkamer en een vir ’n tuiskantoor. Willow is ook ’n kranige kok en Jean is mal oor onthaal; daarom wou hulle hê die kombuis moes nommerpas wees. 

Willow het met binneontwerpers saamgewerk en die oorspronklike uitleg aangepas sodat daar meer spasie kon wees vir die hoofslaapkamer, asook ’n groter oopplankombuis-en-sitkamer met deure wat op ’n dek aan twee kante van die huis oopvou. Die dek en sitkamer lei na ’n kuierarea met ’n braai en kroeg, asook ’n aangrensende groentetuin en aparte stoep. Omdat die meeste aanpassings aan die binnekant was, het die ontwikkelaar dit goedgekeur en kon die bouwerk begin. 

“Ongelukkig het alle suksesverhale ook terugslae,” vertel Willow. “Ons bouprojek was geen uitsondering nie.” Omdat die huis verskil het van die ander projekte in die landgoed, het die bouspan nie altyd verstaan wat van hulle verwag word nie. Een keer het die paartjie met ’n besoek aan die perseel ontdek hul badkamervloer is wit geteël en die mure swart – net mooi verkeerdom! In dié stadium het Willow se ma ingespring en ’n oog oor die proses begin hou sodat probleme opgelos en foute deurgaans reggestel kon word.  

Wat hulle verander het
Willow en Jean het die standaard- wit teëls op die plan vervang met langwerpige vloerteëls met ’n houtvoorkoms ter herinnering aan die houthuis waarin Willow grootgeword het.

Pleks van wit gordyne soos in die res van die huis het Willow grys gekies vir die hoofslaapkamer wat danksy die nuwe vloerplan ’n ware toevlugsoord is. “Ek het gevoel ons kort meer kontras, anders verdwyn die bed en spieëltafel teen die wit mure.” Die spieëltafel was Willow s’n toe sy ’n kind was; Jean het dit na haar smaak herstel.

Veranderinge

Willow en Jean was nie 100% tevrede met die standaard-opsies nie en het hul tyd geneem met die beplanning van die kombuis en badkamer, asook details soos beligting, verf en vloere. Hulle het besluit op ’n kombuis in die Skandi-styl met oop rakke, ’n wit palet en hout-aksente. Die eiland is in die middel van die leefvertrek, wat dit die perfekte plek maak vir gesellige kuiers. 

Vir die badkamer het hulle besluit op ’n eenvoudige palet. “Ek was mal oor die idee van ’n monochroom dog neutrale ruimte wat manlike sowel as vroulike elemente kon akkommodeer,” sê Willow. Die instapstort tref goeie balans tussen ruimte en privaatheid, terwyl huisplante pragtig uitstaan teen die matswart vloerteëls en wit mure. Teëls met ’n houtvoorkoms en wit mure in die res van die huis vorm ’n klassieke skoon skilderdoek waarop die paartjie hul eie stempel kon afdruk met meubels en bykomstighede. 

Die binneversiering was ’n familieprojek, en twee weke nadat hulle ingetrek het, was die “span” se werk klaar. Sleutelitems is aangekoop terwyl die bouwerk nog aan die gang was. “Ons het min meubels gehad, maar ons het amper ’n jaar gehad om artikels waarvan ons regtig hou, uit te soek.” sê Willow. Haar ma het byvoorbeeld die rusbank op ’n uitverkoping raakgeloop. Dit het ’n soektog na bypassende kanttafels, kunswerke, matte en strooikussings aan die gang gesit. 

Namate die bouwerk gevorder het, het Willow hul huis kreatief en ruimtelik bestudeer om te besluit wat die beste waar sou pas. “Met Pinterest se hulp kon ek stadigaan die eindresultaat begin sien.” Sy het hoofsaaklik gehou by natuurlike, gedempte stukke met spatsels kleur. “Ek het dinge gekies wat oor die jare saam met ons gesin kan verander en aanpas.” 


Wat hulle verander het
Die badkamer is hul eie ontwerp, sê Willow, wat ’n instapstort en ’n sweefrak met ’n wasbak wou hê. Die swart 
en wit teëls was ook spesiale toevoegings. 

Die studeerkamer sluit heelparty vroulike elemente in. Dis ook die honde se slaapplek, vandaar die groot, warm mat. Die rakke was ’n selfdoenprojek deur Willow se pa, en haar ma het die poef as verjaardaggeskenk gemaak.

Op die oorspronklike plan was daar drie slaapkamers; die eienaars het dit verminder na twee ter wille van meer beweegruimte. 

Gee plot-en-plan jou eie stempel

Willow en Jean se wenke:

• Moenie huiwer om die ontwikkelaar te vra of die plan aanpasbaar is nie – dis dikwels moontlik. 

• Neem jou tyd en visualiseer presies wat jy wil hê vir jou huis en kyk hoe jy dit meer persoonlik kan maak.

• Planne moet aan ontwikkelaars voorgelê word vir goedkeuring. Vergewis jouself vooraf van enige beperkings.

• Omdat die bouers nie volgens hul gewone planne werk nie, kan jy teenspoed verwag. Besoek die perseel elke dag om die vordering fyn dop te hou.

• Vind uit presies watter opsies daar vir die afwerking is – dalk is daar iets na jou smaak en kan dit jou geld spaar. 

Die dekor was my en my ma se afdeling, met Jean en my pa as die nutsspan. – Willow

Wat hulle verander het
Die paartjie het ’n dek verkies wat om die hoek van die huis strek, met opvou­deure aan twee kante uit die leefarea.

VERSKAFFERS