Foto’s Francois Oberholster • Assistent Sharon Welman

DIE HUISMENSE Marliza en Thinus van den Berg en hul seuns Billy (20) en Thinus (15)
WAAR Langfontein in die Kamdeboo, tussen Graaff-Reinet en Aberdeen

‘Wanneer George se winkels ekstra yskaste begin indra vir die toeloop van vakansiegangers oor die Kersseisoen, vat ons die pad plaas toe.’ Want vir Marliza van den Berg en haar gesin raak dié dorp dan net te besig. “Ons ry met ’n vreeslike pakkasie,” lag sy. “Dit lyk seker vreeslik kommin! Buiten ons honde, Bakkies en Frik, Koos die kat en al die vars produkte, piekel ons ook allerlei boerderybenodigdhede saam – op ’n keer selfs lewende hoenders en duiwe.”

Hoewel die snikhete Karoo beslis nie ’n tipiese Kersvakansie-bestemming is nie, wag daar baie plaaslekkertes op Langfontein, die wild-skaap-en-beesplaas wat die Van den Bergs in 2004 gekoop het. “Dis eenvoudige plesiere, soos om die hoenders, al die plaasgeluide en my gesin se voetstappe op die houtvloere te hoor.”

Vir Marliza is Kersfees ’n tyd van samesyn en mooi herinneringe. Dis wanneer sy terugdink aan haar kleintyd, toe 40 tot 50 familielede elke jaar saamgekuier het. En aan haar oorlede pa, Spyker (André) Viljoen, wat so gaande was oor mooi Kersmusiek en veral die liedjies “Stille nag” en “O, Holy Night”.

Thinus en Marliza se kleindogters, Lika Botha (7) en haar niggie Layla van Deventer (amper 2), wag Kersvader in. Leerders van Up With Downs, ’n skool vir kinders met spesiale behoeftes op George, maak dié kranse vir hul jaarlikse Kersmark. Marliza het wilde rankrose uit Langfontein se tuin daarin gevleg.

“As die dag klaar is, raak ons rustig op die stoep. In die somer kuier ons tot laataand onder die prieel,” vertel Marliza. Groen buitedeure en hortjies in die Plascon-kleur Graaff-Reinet Green komplementeer die tradisionele Karoo-argitektuur.

Lika is Marliza se regterhand in die kombuis, en kleinsus Katryn (3) gaan beslis in haar voetspore volg. Mure tussen die gang, die oorspronklike klein kombuis en ou spens is uitgebreek en ekstra skuifraamvensters is ingesit om die groot leef-en-kuierkombuis te skep. Die blinding se lap het Marliza jare gelede gekoop (die reeks is intussen gestaak).

’n Vol tafel

Kersfees op die plaas wentel steeds om familie en goeie vriende, en Thinus se volwasse dogters, Lindie Botha en haar man, Wickus, asook Lorraine van Deventer en haar man, De Wet, en hul kleinspan maak die tafel onder Langfontein se koeltebome gesellig vol.

En dan is daar die vreugde om vir Billy, Marliza se seun, by die huis te hê, want in die kwartaal gaan hy tuis by ’n tehuis vir verstandelik gestremde volwassenes.

“Kersfees saam met Billy is besonder spesiaal, want hy is altyd ekstaties. Sodra ons die eerste Kersversierings uithaal, begin hy vra wanneer kom Kersvader, en dit hou aan tot een van die skoonseuns daai Kersvaderpak aantrek,” vertel Marliza. “Solank as wat ons lewe, sal ons vir Billy ’n Kersvader hê,” lag sy.

Vanjaar dek Marliza haar feestafel onder die witstinkhout voor die ou plaasskuur. Daar is iets van oral: linneservette van Franse markte; borde uit Checkers; kruie en blomme in bekers van Wonki Ware, Biggie Best en Pep Stores; en ’n viniel-kanttafeldoek van Babylonstoren saam met ou kristal en silwer. Om die draai wag die Van Deventer-gesin: Lorraine, De Wet as Kersvader, en klein Layla saam met haar niggie Lika Botha. Thinus kerf die gestopte hoender. 

Billy is gaande oor Kersfees en straal behoorlik as Lindie vir hom ’n geskenk gee. Sterre van gesifte meel dra by tot die atmosfeer van feestelike eenvoud.

Ons werk, kook en maak mooi met wat ons het vir ons Kerstafel op die plaas. – Marliza

Kloksgewys van links is Thinus van den Berg; Lika en Lindie Botha; Thinus (jr.), Billy en Marliza van den Berg; Wickus en Katryn Botha; De Wet, Layla en Lorraine van Deventer. Op die spyskaart is ’n voorgereg van plaasbrood en Marliza se tuisgemaakte wildspatee; ’n hoofgereg van hoender met ’n vulsel van spek, pere, salie, pietersielie, pekanneute, suurlemoenskil en broodkrummels, asook slaaie; en ’n sjokoladekoek as nagereg.
Kranse van Up With Downs-Kersmark

Marliza is ’n kranige kok wat al ’n kookkursus in Frankryk agter die blad het, maar hou dinge eenvoudig oor Kersfees. “Ek waag nie my hand aan brood nie. Ons helpers Charmaine Dunjana en Dalene Lomberg se brode is al legendaries, en die perfekte voorgereg saam met wildspatee.”

Die leefstyl op die Franse platteland was die inspirasie vir die kombuis, die Van den Bergs se gunsteling-vertrek.

Waar werk plesier is

Kersfees of te nie, Langfontein is alles behalwe ’n leeglê-plek. Dis ’n werkende plaas én gasteplaas met drie selfsorgkothuise. En almal wat hier kom afsaal, sit hand by. Vra maar vir Wickus en De Wet...

“Verlede jaar het ons op Oukersdag in die vroeë oggendure uit Pretoria gery om darem voor donker op die plaas te wees,” vertel De Wet. “Man, ons was goed moeg toe ons hier kom. Net toe ek dink ek gaan nóú ’n bier oopmaak, sê Thinus: ‘Kom, ek het hande nodig, die lusernbale moet op die trok gelaai word voor die reën kom.’ ”

Thinus, ’n sakeman, haal maar net sy skouers op terwyl die ander oor dié herinnering lag. Hy ry soggens immers lank voor sonop sy eerste draaie op die plaas, en teen die tyd dat die son na die Karookoppies begin loer, is hy terug vir koffie en beskuit saam met die res van sy gesin om die kombuistafel.

“Die plaas is stil en die ritme en atmosfeer is baie anders as by die see, maar dis besig op ’n ander manier,” verduidelik Marliza. “Ons werk eintlik vrek hard hier, maar daar is iets baie bevredigends aan woel op ’n plaas. Ons kry dit darem al beter reg om ’n balans te handhaaf tussen werk en rus; om ook die omgewing, mekaar en die huis te geniet, die mooi regtig in te neem.

“Op ’n plaas is ’n mens afgesonder. Selfs in die feesseisoen is dit net jy en jou huismense wat bewus is van die jaar wat verby is. Daar is mos nie vuurwerke of toeters wat blaas nie. Net miskien ’n hoenderhaan wat kraai ... Ons werskaf en kook almal saam. Hier moet jy werk en kook en mooimaak met wat jy het. Ek hou dinge so eenvoudig moontlik, want vir my is kook deel van die kuier.

“Ek glo ’n mens moet die klein plesiertjies elke dag raakleef. En dit is makliker in ’n plek soos die Karoo. Hier lê die vreugdes in die omgewing en jou mense, met niks wat jou aandag kan aftrek nie.”

Marliza pluk graag bosse laventel sodra hulle op die plaas aankom. “Dit doen my siel goed om uit te kyk oor die pers massa,” sê sy.

’n Onverwagse oase

Marliza was nie juis ingenome toe Thinus die plaas in 2004 gekoop het nie. “Ek was doodgelukkig met my stedelike bestaan in Pretoria, hoewel ons daaroor gesels het om George toe te trek. Toe ek hoor Thinus het ’n aanbod op ’n Karooplaas geteken, was dit vir my soos ’n doodsvonnis...”

Maar toe die Van den Bergs by Langfontein inry, het dié groen oase haar asem weggeslaan. “Die eenvoud van die huis was vir my so mooi, al was omvattende opknapwerk nodig. Daar was akkerbome, ’n dam – so ’n onverwagse oase en so anders as wat ek my die Karoo voorgestel het. Dís die betowering van die plek. Kamdeboo is juis die Khoi-woord vir groen aarde. Dit spreek vanself.”

Die opstal is reeds in 1860 gebou, en nie ’n plek waar jy sommer met ’n tienpondhamer en krytverf kan inspring om reg te maak wat pla nie. “Hier was baie werk nodig,” vertel Marliza. “Al die houtwerk buiten die vloere was geverf, van die binnedeure en vensterrame tot die vloerlyste, en die plafonne was swart gebeits. Die vertrekke was donker en net sommige kamers het klein venstertjies gehad.

Langfontein se ou klipskuur is min of meer so oud soos die opstal, wat in 1860 gebou is.

“Ek het die fliek Under the Tuscan Sun al ’n paar keer gekyk en vereenselwig my goed met Diane Lane se karakter. Ons het selfs ’n plaaslike Poolse bouer, Conrad Kasperski van The Polish Way, gehad!

“Dis vir ons almal baie spesiaal om in ’n huis met ’n geskiedenis te leef. Ons is lief vir tradisie. Maar dis terselfdertyd ’n verant-woordelikheid om so ’n huis met die nodige respek te restoureer. Hier het soveel mense geleef en herinneringe gemaak...”

Die geelhout vir al die vloere in die huis is glo in die 19de eeu per ossewa uit Knysna aangery. Die rustigheid van die Karoo het die sagte groen palet geïnspireer in die sitkamer, waar Koos die kat uitspan wanneer hy nie jag nie. Thinus Jr. het hom as babakatjie uit ’n veldbrand gered, en hy ry dolgelukkig van George af plaas toe sonder ’n mandjie.

Die hoofslaapkamer kyk op die voorstoep uit. Hier wou Marliza ook ’n ouwêreldse gevoel skep. Die binneversierder Cyndy Minnaar het haar gehelp om die regte materiaal vir die gordyn bo die bed te kry. “Dis loodswaar; ek en Thinus het omtrent gesukkel om dit op ’n leer vas te hou. Ons het ’n hele drie uur geneem om dit te hang!”
Materiaal van St Leger & Viney

’n Ou plaashuis het sy eie geluide wat ’n dorpshuis net nie het nie. Dis een van die lekkertes van vakansie hou op Langfontein. – Marliza

Hoewel die ou badkamer se uitleg heeltemal verander is, het dit steeds ’n ouwêreldse plaasatmosfeer danksy ’n skuifraamvenster, pootjiesbad en sementvloer. Omdat die plaas so afgeleë is, moes Marliza self ’n plan maak toe die bad se emalje afskilfer. “Gelukkig het Tuis in April 2017 gewys hoe ’n mens dit self kan opknap met Rust-Oleum Tub and Tile, wat ons by Builders gekry het.”

VERSKAFFERS & KONTAKTE