Foto’s Greg Cox l Produksie Marian van Wyk

WIE WOON HIER?

Jan Sauer Lambrechts

WAAR Richmond, Noord-Kaap

GROOTTE 150 m²

Die ruwe tafel en bankies het Jan Sauer gemaak van dwarslêers wat op die werf rondgelê het toe hy die huis gekoop het. Dit is op sementpote gemonteer.

Jan Sauer het die staalrakke in die kombuis self gemaak. Dit pas by die styl van die vertrek en hou sy glasware netjies byderhand. Die skedel bo die kaggel is van ’n gemsbok wat hy op die plaas Sweetfontein tussen Britstown en De Aar geskiet het. Swart hangligte van Weylandts; die kroegstoeltjies is op ’n veiling gekoop; kaggelrand van Vasco Henriques

Jan Sauer Lambrechts is nie veel van ’n prater nie; hy’s ’n doener. Hy hou hom eenkant terwyl Tuis se mense sy huis afneem, maar toe hulle ’n ruskans vat, sit hy ’n quiche vars uit die oond voor. Die juweel van ’n huisie wat hy hier op Richmond in die Groot-Karoo opgeknap het, is ’n toonbeeld van sy doenlustigheid. Ook die feit dat hy ’n gastehuis op die dorp bedryf, sowel as ’n steengroef 70 km verder op De Aar én nog 40km verder ’n trouvenue buite Britstown.

Beslis ’n doener.

Sy wortels lê hier, maar Jan Sauer het twee jaar lank ’n Kaapse draai gegooi ná sy studie in stadsbeplanning en argitektoniese ontwerp. Toe roep die Karoo hom terug.

“As jy van die Karoo kom, is hy altyd in jou are. Buitendien is my hele familie hier,” sê hy. “Ek het besef wat ek in die stad gedoen het, kan ek hier ook doen – ek kan my kreatief uitleef.”

En, soos hy verduidelik, moet ’n mens in die Karoo leer improviseer, want jy ry nie sommer gou winkel toe en kry daar wat jy soek nie. Toe hy dus die oudste huisie op die dorp koop om as gastehuis en sy eie naweekplek in te rig, het hy ruim geleentheid gekry vir planne uitdink en kreatief wees, want die plek was heeltemal vervalle.

In die middag kry die sitkamer lekker winterson wat op die bank uitspoel, perfek vir middagslapies! En wat lê lekkerder as ’n Chesterfield-leerbank? Sofa en staanlamp van Weylandts; metaaltafeltjie met houtblad van Coricraft

Stoele met wit linne-oortreksels van Weylandts; ottoman van @home; mat van Hertex; rottanglampskerms van La Grange Interiors

Toeka tot nou

As jy in Loopstraat ry op soek na die Seisoen Karoo Retreat, trek die vooraansig nie die aandag tussen sy bure nie. Dit is so beplan, want Jan Sauer wou nie dat die huis uit pas met die dorp is nie. Binne is dit ’n ander storie, met baie byderwetse detail wat gemaklik in die eenvoud van die oorspronklike struktuur woon.

Die oopplan-leefvertrek lyk nog ruimer met sy drie meter hoë plafon en groot staaldeure wat op die stoep oopmaak. Die diep stoep aan die westekant is ’n tipiese manier om die somerhitte binne die huis te help verlig, so ook die klipbekleding teen die mure wat bydra tot goeie isolering.

Hortjies op spore skuif heeltemal toe voor die groot glasdeure; dit help nie net die huis koel hou nie, maar is ’n stewige sekuriteitsmaatreël.

As jy in die kort gang afstap, vang die treffende geblomde plakpapier in die hoofslaapkamer jou oog. Dié kamer is net soos die tweede slaapkamer taamlik donker – die kleiner vensters is nog ’n maatreël teen die hitte.

Omdat Richmond tydens die Tweede Vryheidsoorlog ’n basis vir Britse soldate was, het Jan Sauer iets van die verlede ingebring met geskiedkundige prente of jagtonele wat oral teen die mure hang. Sy kunssinnigheid sien ’n mens ook in die pragtige kussings met die kenmerkende blou Delft-patrone. Hy het foto’s van breekgoed geneem, ontwerpe daarvan geskep en dit op linne laat druk. Hy doen dit ook met plante en blomme.

JAN SAUER SE 5 WENKE AS JY ’N OU HUIS OPKNAP

• Werk met wat jy het – moenie probeer om die huis iets te maak wat dit nie is nie.

• Bestee eerder meer geld op materiaal van goeie gehalte, want ou huise kan deurentyd baie aandag verg.

• Los al die probleme aan die huis op, anders gaan dit aanhoudend kop uitsteek.

• Hou alle groot items neutraal en eenvoudig sodat dit vir jare lank steeds mooi sal wees.

• Geniet die restourasieproses. Dis ’n belewenis om te sien hoe iets ouds voor jou oë weer nuut word.

Elke kamer het sy eie badkamer. Die een by die hoofslaapkamer het ’n geskiedkundige gevoel danksy foto’s van bekendes uit die verlede soos genl. De Wet en Emily Hobhouse. Dié het hy op die internet gesoek en laat druk en raam. Bad van CTM

[SY 5 DEKORWENKE]

• As jy hoë plafonne het, kan jy met ’n groot skaal werk om die vertrek nog groter te laat lyk. Sit deure en vensters in wat van die vloer tot die plafon strek. Werk met lae: Hang byvoorbeeld bo ’n bed twee rye prente en daarbo nog iets, soos ’n bokkop – alles trek die oog boontoe.

• Die regte muurkleur skep die atmosfeer vir die hele vertrek, daarom moet jy genoeg tyd bestee aan die kies van die regte verfkleur of plakpapier.

• Elke vertrek het ’n fokuspunt nodig. Dit kan maklik geskep word deur ligte, meubelstukke of plakpapier wat die oog vang. Selfs iets kleins kan ’n groot impak maak as dit reg aangewend word.

• Hou jou groot meubelstukke neutraal, dan kan jy die hele gevoel en voorkoms van die vertrek verander deur byvoorbeeld net ander kussings op die bank te sit.

• Moenie opknap met modes in gedagte nie. Doen dit na jou smaak, want modes verander en om te restoureer is ’n groot en duur proses.

Jan Sauer se geliefde Delft-patrone en -kleure lyk lieflik op die houtkas. Kussings van La Grange Interiors; ligte en leerkopstuk van Weylandts; die wit-en-blou potte, tafel en glasware was veilingvondste.

Stoel van @home

Ou huise het altyd onaangename verrassings, soos ou kleistene wat sommer verkrummel as jy spykers daarin begin kap. – Jan Sauer

Die blouwildebeesskedel in die gastekamer kom van die familieplaas en die kussings is uit Jan Sauer se eie linnereeks, Sauer (Cactus-ontwerp). Koffers en leerkopstukke van Coricraft

Die vuurput by die swembad is die perfekte plek om te ontspan of saam met vriende en familie te kuier. Jan Sauer het die lampe self gemaak en die kussings op die ingeboude bankie is uit sy Sauer-reeks.

Die woorde van die lied “Geheim” deur die sanger Koos van der Merwe staan op hierdie baksteenmuur geskryf. Steenmakers op Richmond het die individuele steentjies met die letters gemaak. Beddens van Patio Warehouse

Die drie bruin lampskerms op die agterstoep het Jan Sauer gemaak uit siwwe wat by hul steengroef onklaar geraak het en wat hy rond gebuig het. Die tafel het hy lank gelede gemaak; dit het in die skuur staan en wag tot daar plek was vir hom hier. Mat van Mr Price Home; kopertafeltjie van Coricraft; drukwerk op kussings deur La Perle; die lêstoele was veilingkopies

Op die ander ent van die lang agterstoep is ’n reuse-vuurherd vir braai. Hier is die staaldeure bruin geverf. Stoele van @home; tafel van Eye for Wood

Jan Sauer gebruik graag vars turksvyblaaie as versiering; hy vervang dit wanneer dit begin verwelk.

Vorige glorie herstel

Die pad om tot by hierdie lekkerleefhuis te kom, was lank – al het dit in werklikheid net agt maande geduur. “Ons moes letterlik van vooraf begin, want die vorige eienaars het die vensters en deure met onvanpaste materiaal vervang en al die houtvloere uitgehaal!” vertel Jan Sauer.

“Wat ek heel eerste gedoen het, was om te gaan sit en dink wat ek graag vir hierdie huis wou hê. Toe het ek die uitleg beplan en sorgvuldig gewerk om binne ’n knap begroting te bly. Uiteindelik het net die vier buitemure bly staan; binne is alles platgeslaan. “Ek wou die huis heeltemal terugvat na sy oorspronklike glorie, maar met ’n moderne aanslag.”

Dit is waarom hy hout en klip gemeng het met metaal en glas, soos te sien in die houtplafonne en klipmure waarby die reuseglasdeure en vensters in hul staalrame pragtig aansluit.

’n “Sondige” stokperdjie van Jan Sauer is veilings. “Ek is mal oor veilings en koop altyd iets wat vir my mooi is sonder om te weet waar ek dit gaan gebruik. Ek het ’n skuur vol goed wat my altyd êrens handig te pas kom. So het ek hierdie skuifraamvensters gekry toe ’n plaashuis buite Stellenbosch gesloop is.”

Al die klipwerk teen die mure en op die stoep het sy bouers – almal plaaslike mense – self gedoen.

“Die klippe het ons herwin van die ou stoep. Dit was moeilike werk, want party is dik en party dun, maar die span het dit ongelooflik mooi gedoen. Hulle het baie gekonfyt geraak daarmee.”

Die huis se kroon – en dalk ook die projek s’n – is die nuwe sinkdak wat Jan Sauer laat opsit het in pas met die styl van dié wêreld se geboue.

“Niks is mos mooier as reën wat op ’n sinkdak val nie.”

Waterbeker van MUD; glase van Checkers

VERSKAFFERS

@home 0860 834 834

Checkers 0800 01 07 09

Coricraft 087 245 0005

CTM 010 271 0161

Eye for Wood 060 835 8801

Hertex 021 914 3390

La Grange Interiors 021 447 3508

La Perle 021 871 1663

Mr Price Home 0800 212 535

MUD 028 572 1125

Patio Warehouse 087 825 1120

Sauer Group 060 381 8753

Seisoen Karoo Retreat 081 077 0151

Weylandts