Wie woon hier? Abi James
Waar? Bo-Kaap, Kaapstad
Grootte 130m2

Foto: Francois Oberholster

Toe Abi drie jaar gelede hier intrek, was dié area so te sê ’n modderpoel. Sy het die ou plaveistene uitgehaal en vervang met dié pragtige blou-en-wit teëls. Die ingang se teëlrand en kunswerk deur Abi se vriendin Susie Jayne Baily nooi jou hartlik binne. Dubbele oopswaaideure maak oop op die binnehof, wat versier is met Marokkaanse vloerteëls.

Die gebruik van wit en ander neutrale kleure laat die leefkamer elegant dog gemaklik voel. Kandelaber van Block & Chisel; kanttafeltjies van Weylandts, gumtree.co.za en Amatuli; mat van Moroccan Warehouse
Abi het ’n eiland in die oopplan­kombuis laat inbou sodat sy die ruimte kon gebruik vir kook, eet én ontspan. Die rakke en spat­paneel van vlekvrye staal, asook die spoorligte, gee die ruimte ’n industriële kinkel.

Abi James se huis het ’n manier om ieder en elk gelukkig te laat voel. Die treffende blou voordeur, omraam met muurkuns van ’n grenadellaplant in volle blom, laat gaste altyd glimlag wanneer hulle by dié interieur- en juweliersware-ontwerper se toevlug in die Bo-Kaap instap.

Die ingang is die eerste aanduiding van Abi se liefde vir als wat mooi is. Maar sy glo vas dat skoonheid iets om die lyf moet hê, en met die intrapslag is dit duidelik dat dié ruimte nie net ’n mooi prentjie is nie.

Binne is dit versier met aandenkings van haar reise, haar vorige huise in die Verenigde Koninkryk, Noord- en Suid-Afrika, en van kunstenaars wat sy tydens haar reise ontmoet het. Dis ’n rustige toevlug waar elke vertrek jou na ’n ander wêreld wegvoer.

Lig stroom in by die twee groot skuifraam­vensters op die eerste verdieping; op die ongepleisterde muur is die klip waarmee die huis oorspronklik gebou is, sigbaar. Kiaat-kas van Weylandts
Abi hou van vars blomme en plante in haar huis, vandaar die groenigheid rondom die hangende glas-kershouer. Smeulstofie van Builders

Dekor uit alle oorde

Abi, ’n gebore Londenaar, reis al van ’n baie jong ouderdom en dit het onvermydelik haar liefde vir dekor geïnspireer en beïnvloed.

In haar kinderjare het sy jaarliks Afrika saam met haar ouers besoek (haar ma is ’n Suid-Afrikaner en haar pa ’n Brit). Sy onthou hoe sy ná ’n vakansie in Suid-Afrika teruggekeer het na die Verenigde Koninkryk met sakke vol lap en aandenkings vir haar kamer. “Dit moes maar taamlik vreemd gelyk het in ’n Engelse koshuis!” sê Abi en lag.

Heelwat later, tydens ’n universiteitsvakansie in Zambië, het sy ’n werk in tekstielontwerp losgeslaan, en dis waar haar loopbaan in interieurontwerp begin het.

Sewe jaar gelede het ’n werkgeleentheid haar Suid-Afrika toe gebring. “Aanvanklik het ek in Tamboerskloof gewoon en dié plek as werkspasie gebruik en met die musiekgroep Freshlyground gedeel,” verduidelik Abi. “Toe hulle begin toer en nie meer die ruimte nodig gehad het nie, het ek dit my huis gemaak.”

Met haar basis in dié 100 jaar oue blyplek, wat eers ’n groente-en-vrugtewinkel was, reis Abi nog gereeld na Kenia en Ethiopië, waar sy krale koop vir haar juwelierswarereeks, Soul Design. Sy is ook die interieurontwerper vir Tongabezi Lodge in Zambië.

“Ek is mal oor die karakter van die Bo-Kaap: die keisteenstrate, helder geverfde huise en die gemeenskapsgevoel. Dis hoofsaaklik ’n Moslem-buurt en die daaglikse oproep tot gebed herinner my aan Zanzibar!”

Omdat die huis oor die jare opgeknap is, was daar nie baie werk te doen nie – Abi het net haar persoonlike stylstempel kom afdruk en dit in ’n gesellige, eklektiese tuiste omskep.

Abi se slaapkamer, kompleet met ’n romantiese Juliet-balkon, is knus ingerig met hout-items en helder, warm aksente, soos die geel bedsprei wat sy gemaak het van lap uit Indië. Stoel en leer-rak van Weylandts; mat van Ikea
Foto: Francois Oberholster
Abi het nog altyd ’n fyn oog vir dekor gehad. Dié ligblou Franse kas is van ’n antiekhandelaar in Londen; dit was ’n mondigwordinggeskenk van haar ouers. Ster en vaas van Moroccan Warehouse

Eklektiese lap en versamelings

Abi het die binnekant van haar huis wit geverf vir ’n neutrale agtergrond waarteen haar geliefde versamelgoed sou uitstaan. In die leefareas het sy ’n houtvloer oor die oorspronklike swart sement laat lê en ook wit geverf. Op die tweede verdieping is Abi se slaapkamer, badkamer en ontwerpateljee. Hier is die houtvloer natuurlik gelaat vir ’n warmer voorkoms.

Elke vertrek is versier met ’n ryke verskeidenheid materiaal, kunswerke, plante en spatsels warm kleur. “Ek vind aanklank by ’n boheemse styl met ’n mengelmoes van bykomstighede en ’n titsel ouwêreldse glans,” sê sy. “Die patrone, teksture en kleure van Indië en Marokko is vir my ’n groot bron van inspirasie, en ek is mal oor eklektiese lap en versamelings kuns en boeke. Ek het ’n ernstige lap-verslawing!”

Sy gebruik haar versamelings vir als van dekens tot strooikussingoortreksels – selfs haar stortgordyn is met die hand gemaak!

“Wanneer ek mooimaak, begin ek altyd met ’n paar items waarvan ek hou – dit kan enigiets van lap, meubels of teëls wees. Dan voeg ek stukke by wat daardie eerste kopies komplementeer,” verduidelik sy.

Dis weinig dat Abi ’n besonderse kopie kan weerstaan – soos die rooi perspeks-letters op die trap wat sy by ’n Paryse vlooimark raakgeloop het. “Ek kon niks spel met die letters wat te koop was nie, toe vat ek maar ’n N en ’n O. Ek het hulle terug Londen toe gekarwei op die Eurostar en ’n jaar later Kaapstad toe laat kom. Omdat ’n groot rooi ‘no’ darem te negatief gevoel het, gebruik ek die N as ’n Z – dit lyk vir my so mooi daar op die trap!”

Elemente van hout gee die badkamer warmte, terwyl spatsels blou, soos die stortgordyn van Indiese lap, trefkrag gee aan die ruimte. Blou muurkassie van Amatuli; wit stoeltjie en kershouer van gumtree.co.za
Ek hou van items wat ‘n storie vertel en gebruik graag kleur en tekstuur. – Abi
Foto: Francois Oberholster
Foto: Francois Oberholster

Abi gebruik die tweede slaapkamer as ateljee; dis waar sy juweliersware en dekorbykomstighede maak. Die dennehoutrakke is pasgemaak en nuwe juweliersware hang aan groot dryfhoutstompe.

V&A met Abi

Vertel wat jy onlangs gekoop het en waarvan jy onlangs ontslae geraak het? Ek het ’n poeierpienk beker gekoop wat by my rusbank pas en die deken op my bed vervang met ’n kleurryke deken van Indiese lap; die oue het ek weggegee.

As jy kon trek, waar sou jy woon? San Francisco lyk na ’n wonderlike stad en Lamu-eiland in Oos-Afrika is ’n droom-bestemming.

Wat is jou kosbaarste besitting? My Ethiopiese kruise.

Wat dink jy is die grootste dekorfout wat mense maak? Mense koop dikwels iets omdat dit trendy is, pleks van iets waarvoor hulle regtig lief is.

Wat is jou gunstelingplant en hoekom? Ek is dol oor palms; dit kan ’n ruimte so lekker volmaak.

Waar koop jy graag dekor? Moroccan Warehouse, Weylandts, Malawi Chairs, gumtree.co.za, Nap, Keniaanse markte vir lap vanoor die hele Afrika, Block & Chisel vir lampe, Caroline Gibello vir foto’s en anthropologie.com vir breekgoed.

Abi sê die binnehof van 40?m² laat haar voel of sy kilometers ver van die besige stads­kern is. Dis gevul met hartsgoed soos ’n ysterbed uit haar kinderdae wat nou sitplek bied, ’n sambreel uit Indië en rottangstoele uit Malawi. Die mosaïek-fontein was hier toe Abi intrek; dit gebruik herwinde water en pas perfek by haar styl. Vloerteëls en wit tafel van Moroccan Warehouse

Abi sê die binnehof van 40 mlaat haar voel of sy kilometers ver van die besige stadskern is. Dis gevul met hartsgoed soos ’n ysterbed uit haar kinderdae wat nou sitplek bied, ’n sambreel uit Indië en rottangstoele uit Malawi. Die mosaïek-fontein was hier toe Abi intrek; dit gebruik herwinde water en pas perfek by haar styl.

VERSKAFFERS