Produksie Luanne Toms | Foto’s Elsa Young/Frank Features

WIE WOON HIER?

Jonty en Melanie Rhodes met hul kinders Daniella (19), Ross (15), Ethan (12), Timothy (9) en India (4)

WAAR St James, Kaapstad

GROOTTE 120 m2

Bank en leerstoele van Weylandts; handgeweefde deken uit Indië; hanglampe van Hoi P’loy; hobbelperd van Emporium; mat van Bangladesj; die buitestoele hang aan hake op die stoep; só bly dit uit die pad, maar byderhand vir uitdra.

Dit maak sin dat Jonty Rhodes en sy vrou, Melanie, ’n huis in St James in Kaapstad se Valsbaai gekies het – dis ’n stil kusbuurt bekend vir sy warmer water en koloniale argitektuur, en dis beskut teen die stad se berugte suidooster.

Jonty en Melanie, wat mekaar ses jaar gelede tussen die branders ontmoet het, is albei lief vir die see en deel ’n passie vir langplankry. ’n Mens sien hulle gereeld op hul gunsteling-strand in Muizenberg, net ’n paar minute van hul huis af.

Die paartjie het die 170 jaar oue erfenishuis vier jaar gelede aanlyn gekoop toe hulle nog in Indië gewoon het, waar Jonty destyds ’n afrigter in die Indiese Premierliga was. Melanie was toe swanger met hul dogter, India, en hulle was op soek na permanente blyplek in Suid-Afrika met genoeg plek vir die hele kroos – Jonty se dogter Daniella en seun, Ross, en Melanie se twee seuns, Ethan en Timothy, uit vorige huwelike.

“Ons wou ’n ontspanne gesinsruimte hê waar ons almal bymekaar kon wees. Omdat ons reeds in Muizenberg en Kalkbaai huise gehuur het, het ons die omgewing geken en daarvan gehou,” onthou Melanie. “Al het ons nie dié huis vooraf gesien nie, was dit die soort klassieke ou huis wat my van nature aantrek. En toevallig het dit alles op ons lysie gehad: ’n motorhuis, ’n groot genoeg tuin en ’n natuurlike fontein.”

Die kleur van die trap is deur die see geïnspireer. Melanie het dit spesiaal laat meng.

Melanie sê sy gebruik nie gewoonlik swart in haar dekor nie omdat dit koud en afsydig kan voel. Maar nadat die hele huis se bedrading oorgedoen is, het hulle swart dekplaatjies vir die kragproppe en skakelaars, asook swart kombuiskaste, gekies omdat dit by die ysterwerk en die warmte van die hout gepas het.

“In ’n klein ruimte is dit belangrik om met een oogopslag te kan sien waar alles is en om soveel deure moontlik uit te haal – dis altyd my eerste stap,” verduidelik sy. In die kombuis word van die kinders se kuns uitgestal saam met gebruiksware, ’n ou koper-waterkan, koppies en bakkies wat Melanie in Indië gekoop het.

 Die kombuisvloer is herwinde hout van ’n sloopwerf. Pasgemaakte rakke en losstaande kaste van hout en metaal is hier en daar swart geverf in kontras met die wit metroteëls.

Oud en nuut saam

Melanie se waardering vir alles wat oud is, is gewortel in ’n tyd toe die wêreld minder behep was met oormaat en gelykvormigheid.

“Ek voel aangetrokke tot die wysheid van die verlede wat op ’n kontemporêre en relevante manier toegepas word,” verduidelik sy.

“Daar was ’n tyd toe huise eenvoudig en toepaslik was, en vakmanskap ’n nodige en gevierde tradisie. Honderd jaar gelede sou ’n huis in byvoorbeeld Nepal nie soos een in Suid-Afrika kon lyk nie omdat dit vir die bepaalde klimaat, kultuur, beskikbare materiale en, natuurlik, ons individuele menslike gees ontwerp is.”

Gedagtig hieraan het Melanie daarna uitgesien om ’n nasionale gedenkwaardigheid in ’n tuiste te omskep. Maar toe sy die huis ’n paar maande later te siene kry – met die ses weke oue India op die arm – het sy besef dit sou ’n veel groter taak wees as wat sy verwag het. “Ek was naïef genoeg om te dink ons kon net ’n paar nuwe rusbanke koop en intrek,” sê Melanie. “Maar omdat die huis vir meer as ’n eeu in dieselfde familie was, was die loodgieterswerk en elektriese bedrading verouderd, die houtvloere bedek met melamienteëls en matte, en van die mure met planke toegekap om klammigheid te versteek.”

Melanie het haar nie laat afskrik nie en het met die goeie raamwerk van die huis gewerk en baie van die wonderlike oorspronklike elemente herstel. Al die deure, vensters, hortjies en plafonbalke van Oregondennehout, asook ’n kaggelomranding van groen marmer, die oorspronklike koperwerk en swart ysterwerk was toegeverf.

“Met al die verf afgestroop, het ons ontdek dis alles pragtige stukke wat nog in ’n puik toestand was; dit het baie van ons besluite daarna beïnvloed,” sê Melanie.

In die kinders se badkamer is daar heelwat warm hout, ’n vintage-spieël en ’n ou tafel as wasbakkas; muurhake verskaf hangplek vir handdoeke.

’n Uitleg wat werk

Die huis se uitleg is ook verander: Op grondvlak was daar ’n kombuis, studeerkamer, eetarea, sitkamer en badkamer, met al die kamers op die boonste vloer.

“Ons kon nie almal op een verdieping inpas nie en omdat ek en Jonty die see wou sien wanneer ons soggens ons oë oopmaak, het ons besluit om die leefarea op grondvlak in ’n oopplan-hoofslaapkamer en suite te omskep.

“Ons het die kombuis gehou waar dit is; dis ’n sjarmante ruimte met ’n opwashoekie en ’n kaggel, en ’n agterdeur na die binnehof.”

Danksy Melanie se slag met die omskepping van tradisionele ruimtes is dié huis nou ’n vars, dinamiese ruimte geskik vir ’n jong, groeiende gesin. “Ons het die studeerkamer naby ons kamer in ’n slaapkamer vir die jonger kinders omskep; ek het beddens ontwerp met laaie vir ekstra pakplek en uittrekbeddens vir wanneer maats oorslaap. Die kamers bo is omskep in ’n speelkamer en ’n ekstra slaapkamer.”

Jonty se betrokkenheid is reg deur die huis te sien. “Hy het ’n uiters kreatiewe sy en ek hou van sy smaak; hy meng nie in nie, maar dis vir my belangrik dat hy tuis voel in die ruimtes wat ons skep. So, terwyl ek die voortou neem met die konsep en praktiese besluite, sal ek altyd sy mening oor ’n ontwerp vra en hom die laaste sê gee.” 

Houthorings van Quirky Me

In die hoofslaapkamer en suite, met sy oorspronklike Oregondennehoutvloer, skep metroteëls van die vloer tot die plafon ’n kontemporêre gevoel teen die baksteenmuur langsaan. Die diepte van ’n skuifraamvenster is goed benut deur ’n vintage-wasbak daarin te plaas; die koperkrane is oorspronklik. Bo die bad vorm ’n spieël teen die muur ’n fokuspunt.

Badtafeltjie van LIM; bankie deur Vogel Design; losstaande Dubai-bad van Lavo Bathroom Concepts; linnebeddegoed van Weylandts; hanglampe van Hoi P’loy; mat uit Bangladesj

Dinamiese ruimte

Hul huis se ongewone uitleg ten spyt, is dit ’n dinamiese ruimte – die voormalige eetarea is nou die ingang en leefarea wat oopmaak op die binnehof, kuierarea en kombuis. “Ek hou daarvan dat die uitleg nie rigied is nie; dit gee die kinders ’n gevoel van sekuriteit dat dié huis om hul en ons daaglikse roetine as gesin draai,” sê Melanie, wat die huis se regruk nie bloot as argitek benader het nie.

“Ek sien myself seker as ’n ma wat ’n tuiste vir haar gesin wil skep; een waar hulle geliefd en gekoester kan voel. Daarom het ek hier geen ontwerpbeginsels as sodanig ingespan nie, eerder ’n instink vir wat reg voel vir dié tyd en plek in ons lewe.”

Jonty werk in Suid-Afrika sowel as Indië; gevolglik het nabygeleë Sri Lanka ’n gewilde vakansiebestemming geword vir dié gesin waarvan al die lede mal is oor brandderry! Hulle het juis onlangs ’n stranderf in Sri Lanka gekoop waar hulle ’n huisie van 40 m² tussen die kokospalms wil bou. Dit beteken natuurlik meer branderry, avontuur en gesinstyd vir dié paartjie wat perfek daarin slaag om hul werk-lewe-gesinsbalans te vervolmaak.

Die uitgesnyde kruisies teen die muur is ’n oorblyfsel van die oorspronklike huis.

Die speelkamer is ’n helder, ligte ruimte met die mooiste uitsig op die see. Sitplek met pasgemaakte denim-kussings in die venster-nis is die beste plek vir lees of speel. Handgeweefde deken uit Indië

Die leefvertrek lei na die binnehof wat ook met die kombuis verbind is, wat dit ’n heerlike kuierplek vir die gesin maak. Rottang-hangstoel van Quirky Me; blougroen bankie deur Vogel Design; geelhouttafel gemaak deur Marc Picente; kafeestoel en-tafel van Hope Garden Furniture

VERSKAFFERS EN KONTAKTE