Foto’s Francois Oberholster

Wanneer Wanda du Toit elke Woensdag van Stellenbosch af Porterville toe ry, kom daar ’n groot kalmte oor haar. “Ek is baie trots op my besluit dat die dolle gejaag van 24/7 werk oor en verby is,” babbel dié mede-eienaar en skeppende direkteur van die handwerkmark Kamers/Makers.

Nie dat sy deesdae op haar louere rus nie. Van Maandag tot Woensdag is Wanda op kantoor in die Eikestad, waar sy en haar lewensmaat, Jeremy Doveton-Helps, ’n kothuis huur. Die res van die week woon hulle op Porterville. Hier kan sy rustig met haar kreatiewe talente woeker. En tydens skoolvakansies bly hulle net daar.

Dié sjarmante fasade het Wanda se hart summier gesteel toe sy die huis die eerste keer gesien het. Saam met haar is Harry die “border-skollie”, soos hulle hul aanneemhond noem.

Die groen muur (geverf met Wanda se eie mengsel van oorskietverf) skep ’n koel gevoel op die sonnige agterstoep. Wanda het die blindings gemaak van lap wat eers ’n afdak by die swembad was.

’n Mens moet altyd ’n bietjie kitsch hê, net om dinge real te hou. – Wanda

1. Die rak met vintage-Lucia Ware- en Drostdy Ware-keramiek in die eetkamer skep ’n mooi fokuspunt. Dié vertrek is net ’n deurloop van die kombuis na die sitkamer, sê Wanda. “Ons eet amper altyd buite, selfs in die winter.” 2. Dié mooi kas was een van die meubelstukke wat Wanda saam met die huis gekoop het. Dis nou uitstalplek vir haar mooi breekgoed. Die Home Sweet Home-skildery is deur JP Meyer.

1. Dié ruim agtertuin met sy waterwys grondbedekking van gruis is waar die huismense eet, leef en ontspan. Danksy ’n hangmat, dagbeddens en ’n groot poef is hier meer as genoeg lêplek op loom somerdae. Koeltebome, ’n swembad en buitestort sorg vir die res op snikhete dae. 2. ’n Witstinkhoutboom gooi heerlike skadu oor die etenstafel waar Wanda en Jeremy amper heeljaar eet. Sy dek graag ’n mooi tafel, en glo ’n mens moet gebruik wat jy het. “Dis nie ’n performance nie; die tafel kan maar onpretensieus wees solank mense gemaklik sit. En lapservette het!” 3. Die fontein skep ’n rustige atmosfeer. 4. Agter die sementengel deur Xolile Williams groei tamaties, allerlei kruie, spinasie, radyse, wortels en beet – alles vir die kraakvars slaaie wat sy graag voorsit. Die macramé kom van Mzansi Makers, Kamers se organisasie sonder winsoogmerk.

1. Wanda is ’n groot kuiergees en voel die kombuis bars uit sy nate. In die nuwe jaar wil sy die muur na die agterstoep oopbreek en ’n baie groter kuierkombuis inrig. 2. "Dis gewoonlik te warm om op die stoep te sit en ons het genoeg ander buitesitplekke." 3. Die gordyne wat die uitsig op die agtertuin omraam is ’n deurgeknipte tafelloper. 4. Die gesin noem dié slaapkamer met sy gordyn gemaak van ’n ou kanttafeldoek die "oumakamer", want dis waar Wanda se ma, Louise van Zyl, graag slaap. 5. Die rusbank in die sitkamer is vir lê gekies. "Ek is mal oor slaap!" skerts Wanda. Regs van die kaggel is kleurvolle vintage-muurvase saam met swart vase deur Hennie Meyer. Die Tretchikoff-Miss Wong-kussing was ’n geskenk van haar kinders, Mia en André-Leo.

Ek en Jeremy het eers in mekaar vasgeloop in die kombuis; nou dans ons lekker om mekaar en kook heerlik sonder kop-aan-kopbotsings. – Wanda

Perfekte herlaaistasie

Wanda het in Desember 2015 ingetrek. Binne-in die huis was geen opknapwerk nodig nie; sy het net die gehawende ou motorhuis in ’n ateljee omskep en die tuin nuut uitgelê met ’n kuierkol, buitetafel, swembad en groentetuin.

Al wat nog op haar wenslys is, is die groter kombuis, want wanneer haar kinders, Mia (19) en André-Leo (27), kom oorslaap, word hier op groot skaal om die tafel in die agtertuin gekuier.

Maar vir eers wil sy asseblief net ontspan. En nee, die somerhitte pla glad nie. “Ons is soggens baie vroeg op en ry teen vyf-uur al fiets. Teen een-uur moet ’n mens inkom. Dan maak ons die gordyne en alles dig toe teen die hitte en verskyn eers weer teen ses-uur se kant, wanneer ons buitentoe begin leef. Die someraande hier is wonderlik – en dis waarna ek die meeste uitsien vir die vakansie. Porterville is die perfekte buitekuierplek saans.

“Hierdie vakansie wil ek ’n maand lank net by my Swartland-huis bly en so min moontlik doen. Ek het nog nie eens aan Oujaarsaand gedink nie. Net aan fietsry, eet, slaap, swem, lees en kook. Ek kry my beste kreatiewe idees wanneer ek langs die swembad lê, en dis presies hoe ek my batterye gaan herlaai vir die nuwe jaar.”

’n Vervalle ou motorhuis is in Wanda se ateljee omskep. Die staalraamvenster is nuut, maar die oorspronklike sinkplaatdeur skuif op rollers oop en toe. Die totempaal op die deur is ’n vroeë werk deur die landskapkunstenaar Strijdom van der Merwe. Tussen die beddings staan renosterhorings deur die kunstenaar JP Meyer.

Mia, in die nuwe jaar ’n B.Rek.-student aan Maties, het haar ma se kreatiewe gene geërf, maar haar slaapkamer weerspieël onmiskenbaar haar eie styl. Sy het die afgelope jaar ’n internskap by Kamers/Makers gedoen.

1 en 2. Die hoofslaapkamer is pure nostalgie en Wanda se gunsteling-uitspanplek. “Dis die perfekte kamer. “Ek word met die son in my oë wakker, maar smiddae is dit heerlik koel. Dan sien ek die berge van my bed af.” 3. Wanda eksperimenteer graag met spieëls van verskillende vorms, en het ’n groot versameling in die badkamer (links en bo links). Sommige, soos dié bo die bad, het sy saam met die huisinhoud gekoop. Die geometriese stortgordyn van Ikea is die enigste kontemporêre element in die huis.

Pure nostalgie

As ’n mens Wanda oor haar dekorstyl pols, lag sy net: “O jinne, ek het geen plan nie; dinge gebeur net soos ek aangaan!”

Maar haar versamelgoed en mooigoed is so nommerpas vir die meubels wat sy saam met die huis gekoop het dat dit lyk asof alles al jare lank hier in harmonie saamleef. Sy koop graag tweedehands by markte en op klein dorpies wanneer sy en Jeremy die langpad vat. En natuurlik is daar altyd baie versoekings by Kamers/Makers se vier markte elke jaar.

Wanda was van jongs af ’n handwerker en kreatief. “My ouma Pollie du Plessis het my leer naaldwerk doen toe ek agt was, en ek het reeds in my skooldae sakgeld verdien deur klere en juweliersware te maak.

“Ek is lief vir die nostalgiese element van vintage, en herwin graag iets ouds met liefde. Ek vrolik my neutrale palet op met spatsels helder kleur, en kombineer ’n hele mengelmoes teksture: koper, hout, linne, emalje, porselein en keramiek. Minimalisme en die verbruikerskultuur is beslis nie vir my nie; ek hou van dinge met integriteit.

“My thrill is om klein hoekies mooi te maak; dis georganiseerde clutter wat in ’n kompakte ruimte gebeur en heeltyd verander. 

VERSKAFFERS
  • Kamers/Makers kamersvol.com
  • Hennie Meyer Ceramics 021 975 1339
  • Mzansi Makers mzansimakers.co.za
  • Xolile Williams 073 646 9442