Foto’s en stilering Henrique Wilding

WIE WOON HIER? Diana Steward
WAAR Yzerfontein
GROOTTE 1 093 m² (insluitend binnehowe, loopgange en buiteruimtes)

As eggenoot, tuisteskepper en ma van vier, het Diana Steward oor die jare al op uiteenlopende plekke gewoon – haar man het reg oor die wêreld gewerk: van Engeland en New York tot Malawi en Johannesburg.

Nadat hy jare in die Britse weermag was en later onder-hoofbestuurder van ’n groot korporasie (met ’n paar ander titels tussenin), wou Simon Steward graag gaan boer. En so beland die gesin toe op die Towers-veeplaas naby Darling, waar hulle 20 jaar lank gebly het.

In 2012, nadat die paartjie geskei is, het Diana besluit om te verhuis na ’n “leë nes” met ’n see-uitsig – die 2 684 m²-erf wat die Stewards jare tevore op Yzerfontein gekoop het.

“Ná al die huise waarin ek oor die jare gebly het, het ek ’n wenslys opgestel van wat ek graag onder een dak wou hê,” verduidelik sy. Bo-aan die lys was ’n huis wat met sy natuurlike omgewing saamsmelt. “Ek hou van organiese argitektuur en wou ’n huis hê wat nie die landskap oorheers nie.”

Eers het Diana verskeie ekovriendelike boumetodes soos gekompakteerde grond en strooibale oorweeg, maar gou het sy besef so iets gaan baie duur uitwerk as dié materiale nie reeds op die terrein is nie; daarom het sy rou bakstene vir haar huis se buitemure (en party van die binnemure) gekies. Sy het ook daktuine geskep om die natuurlike prentjie te voltooi.

’n Verskeidenheid inheemse plante groei in die daktuine wat almal met mekaar verbind is. Dit laat die huis by die omliggende teksture en kleure inskakel en dien ook as isolasie. Dit skep ’n besonderse buiteruimte met ’n skouspelagtige uitsig.“Ek is dol oor die rustigheid hier, oor die fynbos wat my omring en die pragtige voëls wat elke dag kom kuier,” sê Diana.

1. ’n Loopgang verbind die onderskeie dele van die huis aan weerskante van die binnehowe. “Die doel is dat die estetika en energie van die gang jou oog van die boogingang moet lei tot by die meditasiekamer met sy koepeldakstruktuur,” verduidelik Diana. “Omdat die kante oop is, raak dit nooit beklemmend nie.” Die plafon is blou geverf as weerspieëling van die lug. Lampe van Moroccan Warehouse 2. Boogdeure versag die reguit lyne in die res van die huis. Boogdeure gemaak en ingesit deur Allan and Sons 3. Langs die opgeboude swembad is ’n terras met ’n braaiplek. Hier, net soos by die oop gang, kan sterk seilblindings afgerol word om die wind te keer. ’n Plafon van dik beton ondersteun die daktuin, en die vloer bestaan uit klip wat op die erf voorkom. Blindings van Elliott Awnings

Meditasie is ’n belangrike deel van Diana se lewe, daarom was die koepelvormige meditasiekamer die eerste ruimte wat sy vir haar huis bedink het. Die losstaande struktuur is geïnspireer deur die korbeelhuise wat naby Carnarvon in die Noord-Kaap voorkom. “Daar’s iets omtrent die vorm wat dit ’n vreedsame atmosfeer gee,” sê sy. Diana doen graag “bricolage” (kunswerke saamgestel uit verskillende artikels) in haar ateljee. In die plafon is ’n koepel met ’n blou rand ingebou; dit verteenwoordig “’n sirkel in ’n vierkant”, die Chinese simbool vir aarde en lug.

Ontwerp vir ’n leefwyse

Gewapen met ’n ruwe skets van haar nuwe huis se uitleg en ’n ellelange wenslys, het Diana by die argitek Vernon Collis van Collis & Associates gaan aanklop. Saam het hulle twee jaar lank ’n “versameling bousels wat deur middel van beskutte binnehowe en ’n loopgang met mekaar verbind is” ontwerp – met heelwat inspirasie uit die argitektuur van die streke rondom die Middellandse See en die plaaslike Weskus.

Links van die oordekte gang is die leefgedeelte, Diana se ateljee, ’n swembad en terras. Die slaap- en badkamers is regs daarvan. Elke ruimte het ’n daktuin en ’n binnehof as middelpunt, sodat al die vertrekke op ’n buiteruimte oopmaak.

Die swembadterras gee toegang tot die daktuine, en ’n skaduryke rietstruktuur met sitplek bo die terras vorm ’n spesiale hoekie van waar ’n mens die uitsig in sy volle glorie kan waardeer.

Danksy die uitleg volg die koel seebries in die somer sy pad deur die struktuur; tog is die huis in die koue maande beskut teen die ysige noordwestewind waarvoor die Weskus berug is.

Dis ’n ware toevlug wat Diana vir haar, haar vriende en familie wat gereeld kom kuier, geskep het. Om tyd langs die swembad, onder die meditasiekoepel, in die daktuine of op die strand, net 500m ver, te spandeer, gee haar die grootste vreugde.

Die meeste mense beskou waarskynlik my kombuis is onklaar, maar ek hou van die organiese voorkoms van die ruimte, en hoe prakties dit is. – Diana

LEEFRUIMTE

Die eetkamer is gerieflik tussen die kombuis en sitkamer. Dik stawe ondersteun die koepelplafon en houthortjies maak oop op ’n asemrowende see-uitsig.

KOMBUIS

Betonblaaie, ’n ruwe baksteenmuur en uitstalgoed van reg oor die wêreld skep die aardse voorkoms wat Diana in haar kombuis wou hê. Danksy oop rakke is alles byderhand in dié klein dog praktiese ruimte. Diana het uittrekrakke onder die wasbak laat insit sodat sy die geweefde mandjies wat sy al jare het, kon gebruik, terwyl eenvoudige hake teen die baksteenmuur ekstra bêreplek verskaf.

BADKAMER

HOOFSLAAPKAMER

In die hoofslaapkamer vorm ’n kimono wat Diana by haar oorgroottante geërf het, ’n lieflike fokuspunt in die inham agter die bed. Lamp van Nostalgia

Ons is dol oor hoe die houtmeubels en gedempte tone die wit mure en sementvloere regdeur die huis komplementeer.

Ek volg nie tendense nie en het nie ’n bepaalde kleurskema nie, maar ek het ’n voorkeur vir organiese teksture en, belangrikste van als, my plek moet soos ’n tuiste voel. – Diana

’n Eklektiese styl

In Diana se huis sal jy nie sommer iets kry wat onlangs gekoop is nie. Sy het verkies om dit in te rig met geliefde artikels uit die talle huise waarin sy voorheen gewoon het. “Trouens, ek kan nie onthou wanneer laas ek winkel toe gegaan het om meubels of dekorartikels te koop nie!” sê sy laggend. “Ek hou van die bekendheid en die gemak wat dié dinge inhou; daarom maak ek seker al my ‘ou vriende’ het ’n plek in dié huis.”

Diana het ook heelwat erfgoed, onder meer ’n paar antieke Breton-stukke wat ryklik versier is met kerfwerk – sommige van hulle het al in 1850 per skip saam met haar oupagrootjie na Suid-Afrika gekom. Daar is ook ou eikehoutmeubels van haar man se familie in Norfolk.

Terwyl sy haar huis ontwerp het, het sy sorgvuldig beplan waar elkeen van dié kosbaarhede moet kom en elkeen het nou ’n ereplek. In die leefvertek het Diana byvoorbeeld nisse laat inbou waar sy haar gunsteling-boeke en kunswerke uitstal. Elke meubelstuk het ’n doel en daar is niks “ekstra” in haar dekor nie – alles is prakties dog romanties, baie soos die ontwerp van dié besonderse huis.

“Noem my styl maar eklekties. Dis eenvoudig ’n versameling goed waarvoor ek lief is – alles werk dalk nie goed saam nie, maar hulle hoort bymekaar!”

KONTAK EN VERSKAFFERS