Foto’s Francois Oberholster | Stilering Marian van Wyk

WIE WOON HIER? Alana en Jan-Hendrik Groenewald met hul kinders, Dawid (3) en Hanna (1)

WAAR Strand, Wes-Kaap

GROOTTE 190 m²

Ons is dol hieroor!
Die natuur het dié plakpapier se treffende groen piesangblaar-ontwerp geïnspireer. “Ek wou die tuin by ons huis inbring, so wanneer jy by die voordeur instap, voel dit of jy ’n bietjie van die tuin saam met jou inbring,” sê Alana.

Die buffetkas en deurklopper is tweedehandse vondste

Die paartjie het die voorportaal opgekikker met ’n subtiele grys verf aan die binnekant van die deur. Alana se ouma, ’n ywerige pottebakker, het die keramiek-deurstuiter gemaak. 

Telkens wanneer die Groenewalds verby “die huis met die pragtige tuin” gery het, het hulle effens spoed verminder om dit te bewonder.

“Ons was absoluut mal oor dié bekoorlike plek. Dit was ons droomhuis en ons het altyd grappenderwys gesê ons wil eendag daar bly!” vertel Alana. In 2017 het hul droom waar geword.

Die huis is in dieselfde buurt waar hulle reeds gewoon het – trouens, Jan-Hendrik se ouers woon in dieselfde straat. Toe die Groenewalds besluit dis tyd om huis te soek vir hul groeiende gesin, het Jan-Hendrik se ma dit genoem aan ’n vriendin wat ’n eiendomsagent is. Die agent het op die ingewing van die oomblik gaan aanklop by die eienaar van “die huis met die pragtige tuin” om te verneem of sy ooit daaraan sou dink om te verkoop...

“Die eienaar het gesê baie mense het oor die jare kom vra, en sy was uiteindelik gereed om die huis te verkoop omdat die onderhoud vir haar te veeleisend begin raak het. Daardie klop aan die deur het op presies die regte tyd gebeur! Nodeloos om te sê, ons het daardie einste dag na die huis gaan kyk en die volgende dag ’n aanbod gemaak!” sê Alana.

’n Ou beige rusbank het nuwe houtpote en vrolike geel stoffering gekry. Nou staan dit mooi uit teen die wit lelie-plakpapier, ’n treffende afdruk van ’n M. de Gijselaar-skildery.

Hanglamp van @home; koffietafel gemaak deur ’n vriend

Rek jou rande Die paartjie het die MDF-kombuiskaste met melamien-voorkante by Davidson’s Boards gekoop. Hulle is dol oor die matswart afwerking.

Muurteëls van Tiletopia

“Ek wou nog altyd hê ons eetarea, wat eintlik in die kombuis is, moet ’n rustige ruimte wees,” sê Alana. Die rustieke dekor is geïnspireer deur die rou sementvloer en ontblote baksteenmuur. “Ons het dit eenvoudig, gemaklik en kindervriendelik gehou met ’n rooi-en-blou Persiese mat as enigste element met kleur.

Die eetkamertafel was ’n tweedehandse vonds; hanglampe van Builders; spieël van MRP Home; die stoele en Persiese mat was veilingkopies 

Rek jou rande Die Groenewalds gaan graag na veilings. “Jy kry altyd die mooiste goed teen goeie pryse,” sê Alana. “Maar ons besluit vooraf op ’n hoogste prys en hou daarby, want dis so maklik om op hol te gaan met die bieëry en jou begroting te oorskry.”

Lieflik en prakties

Die tuin wat die paartjie se hart gesteel het, strek reg om die kant van die huis. Hier, in ’n lieflike hoekie tussen ’n trots-van-Indië, bougainvillea en hibiskusboom, het die Groenewalds ’n gesellige sithoekie ingerig.

Daar was geen permanente sitplek toe hulle intrek nie, en hulle het besluit om ’n L-vormige betonbank en ’n oop braaiplek van wit sement te laat bou.

“Die sitplek vra die minimum onderhoud,” sê Alana. “Daar is nie stoele wat omwaai in die wind, tafels wat blare en stof vergader of seile wat oor meubels gegooi moet word nie. Ons dra net kussings en dekens uit soos nodig!” 

Toe die sitplek klaar was, het hulle die grond voor die bank laat gelykmaak en bedek met plaveiblokke en gruis, pleks van nog gras – ’n waterslim plan.

Wanneer jy onder die rankplant instap, voel dit asof jy die geraas van die buitewêreld afskud. – Alana

Die huis se oorspronklike sitkamer is nou die hoofslaapkamer. “Dit kry die wonderlikste oggendson en het ’n lieflike uitsig op die tuin,” sê Alana. Die plakpapier wat die paartjie vir dié ruimte gekies het, is ’n afdruk van ’n Eelke Jelles Eelkema-skildery. “Dis een van my groot gunstelinge, want dit roep ’n gevoel van vrolike tevredenheid op; dis kleurryk en helder, maar terselfdertyd kalm en rustig.”

Hanglampe van Weylandts; geel strooikussings van MRP Home; die gehekelde wit deken is ’n erfstuk

Dis in die detail
Die geel tulp is Alana se gunsteling-element in die plakpapier omdat dit perfek pas by die goue bedlampe, geel strooikussings en kleurryke kelim.

Ons hou van so baie style – van Skandinawies en Victoriaans tot Oosters, Boheems en inheems. – Alana

Vir klein Hanna se kamer het hulle besluit op pienk plakpapier met ’n titsel goud. “Ons het gemeen die kleure sal nog jare lank in haar kamer pas. Dis ook kontemporêr en veelsydig, en sal aanhou werk, selfs as ons eendag sou besluit om dié vertrek in ’n gaste-, speel- of studeerkamer te verander,” sê Alana. Sy het die laaikas by haar oumagrootjie geërf. “Dis my kosbaarste meubelstuk,” sê sy.

Groen ruimte

Die paartjie se liefde vir die natuur het die huis se dekor geïnspireer. “Ons was nog altyd lief vir die buitelewe,” sê Alana. “Ons is in ons noppies met ons nuwe tuin, en het besluit om elemente met ’n natuurtema, soos huisplante, groen aksente en geblomde plakpapier, oral in die huis te gebruik.”

Alana en Jan-Hendrik hou ook graag groot familiekuiers, daarom wou hulle ’n warm, gesellige atmosfeer skep. Kort nadat hulle ingetrek het, het hulle ’n paar binnemure laat uitbreek vir ’n oopplan-kombuis-en-eetarea waar gaste heerlik kan kuier.

Natuurlik het die Groenewalds se onderneming, Groen Bespoke Wallpaper, hul dekorkeuses beïnvloed. Bedags is Alana ’n trourokontwerper en werk Jan-Hendrik in die kommersiële drukbedryf. In 2017 het hulle hul kreatiewe talente en tegniese kennis saamgevoeg en dié plakpapierfirma op die been gebring.

“Die idee vir Groen het begin toe ons in ons vorige huis gewoon het,” sê Alana. “Ek het Jan-Hendrik gevra om my te help om plakpapier vir ons huis te ontwerp en te druk. Dit het die ruimte geheel en al verander, en kort voor lank het vriende, familie en my klante daaroor begin uitvra. Ons droom al lank daarvan om ’n besigheid te begin waar ons ons onderskeie agtergronde kon inspan – toe spring ons met albei voete in!

Verfkleur
Plascon Night’s Delight

Rek jou rande Die meeste van die vertrekke het hoë portretlyste. In Dawid se kamer het hulle dit wit gelos, maar een fokusmuur groen geverf en ’n strook plakpapier bo die lys geplak. “Dis ’n goeie manier om plakpapier by ’n ruimte in te bring, veral as jou begroting knap is,” sê Alana. “Dit werk veral goed in ’n badkamer.”

Mat van Hertex; hanglampe van Builders; bok-strooikussing van ArtVraat Designs; vere-strooikussing van Sheet Street

Rek jou rande Die paartjie het ’n eenvoudige dog klassieke monochroom tema vir die gastebadkamer gekies.

Die ateljee waar Alana trourokke ontwerp, is deel van die huis en gerieflik naby die kombuis.

Plakpapier weer hoogmode!

“Plakpapier het weer gewild geword, grootliks omdat jy dit deesdae kan verpersoonlik,” sê Alana. “Dis ’n prettige, maklike manier om jou stempel af te druk, veral wanneer dit ’n pasgemaakte ontwerp is. Só is jy betrokke by die konsep en ontwikkeling van die ontwerp – van die kleurkeuses tot die skaal van die motief.”

Sy sê ook dat nuwe tegnologie en beskikbare materiale die installering, onderhoud en verwydering van plakpapier heelwat makliker gemaak het. “Die tradisionele plakpapier van ’n paar dekades gelede is van geweefde materiaal gemaak. Jy moes ’n pasta aan die rugkant smeer en die papier dan vir ’n ruk laat lê voor jy dit kon hang. Dit was ook moeilik om af te haal en kon selfs die mure in die proses beskadig,” verduidelik Alana.

“Moderne plakpapier word gewoonlik gemaak van nie-geweefde materiaal, wat baie makliker is om te plak. Die pasta kan direk op die muur aangewend word, wat die installering aansienlik makliker en netjieser maak. Dis ook gawer teenoor die omgewing en kan maklik afgehaal word sonder enige skade.”

VERSKAFFERS EN KONTAKTE

@home 0860 576 576

ArtVraat Designs 

Builders 0860 284 533

Davidson’s Boards 021 853 4200

Groen Bespoke Wallpaper 082 749 6393

Hertex 011 262 4108/9

MRP Home 0800 212 535

Sheet Street 0800 212 535

Tiletopia 021 853 4066

Weylandts 0860 103 400