Foto’s Francois Oberholster

Fig Tree Cottage

Die huismense Melissa en Carl Rautenbach en hul dogters, Tyla en Megan
WAAR Matjiesvlei buite Calitzdorp, Klein-Karoo
GROOTTE 60 m2
ORIËNTASIE Noord

Wanneer Rautenbach en haar gesin ’n bietjie winterson soek, mik hulle graag Calitzdorp toe – na die historiese kothuis op haar pa, André, se plaas in Matjiesvlei wat hulle met soveel sorg gerestoureer het. Soms gaan hulle alleen, ander kere is dit gesellige kuiers saam met haar pa en sy vrou, Elsa Luckhoff, en Melissa se twee susters, Leilah Cilliers en Talitha Rabie.

Toe André destyds die plaas gekoop het, kon die drie susters elkeen ’n naweekplekkie kies uit die twee bouvallige pioniershuisies en ’n ou skuur op die plaas.

“Gelukkig het ons elkeen op ’n ander plek besluit,” vertel Melissa. Sy het haar huisie Fig Tree Cottage gedoop nadat dit in 2001 opgeknap is.

“Hier is ’n klompie vyebome en een staan reg voor die kothuis, vandaar die naam,” verduidelik sy. “Helaas kom die bobbejane met die grootste deel van die oes weg!”

Melissa Rautenbach en haar pa, André, bekyk die poskaartmooi uitsig op die Swartbergreeks en die Gamkarivier vanaf die stoep buite haar pioniershuisie, Fig Tree Cottage.

Die kombuis, met sy oorspronklike rietplafon, het mure in die Plascon-kleur Matisse en wit stoepverf op die vloer. Melissa het self die kassie, wat hulle by Pasella op Oudtshoorn gekoop het, in wit en die Plascon-kleur Gathering Storm geverf.

Vir my is dit hemels hier. Die stilte en vrede is oorweldigend! – Melissa

Waters van rus

Danksy uitstekende plaaslike bouspanne het die regrukprojek seepglad verloop, vertel Melissa. “Ons het die huisie se basiese vorm behou, maar ’n mooi gewel nes dié van die ander huisies hier in die Matjiesvlei-omgewing aangebring. Ons huisies het nie elektrisiteit nie, en dis deel van die lekker. Die ligte wat wel daar is, werk met gewone batterye.

“Tyla en Megan kom al van kleins af plaas toe, en die rustige ritme van die natuur laat hulle ná ’n paar dae vergeet dat hier nie selfoonontvangs is nie.”

Die plaas is vir Melissa vol herinneringe. Dis hier waar sy haar ma, wat in 2011 oorlede is, onthou, en haar ma se tuin bly haar gunstelingplek.

“Op koue winterdae het my ma sommer vroegoggend al die Dover-stofie hier in my kombuis kom stook en dan souskluitjies vir nagereg gemaak. Nou gebruik ons die Dover hoofsaaklik vir verhitting.

“ ’n Groot lekkerte is laatmiddag se stoepsit met ’n glas wyn terwyl ons kyk hoe die laaste sonstrale die een bergspits rooi verf. Dan braai ons lamstjops en tuisgemaakte wors van Calitzdorp.

Soortgelyke matte te kry van Coricraft

Die lappieskombers is Melissa se eie handewerk, gemaak van haar gunstelinglappe. Die rietdak het tydens die opknapprojek nuwe dakbalke van bloekomhout uit die omgewing gekry.

Ou, verweerde linne lyk so mooi in ’n plaashuis. Gooi sommer ’n stuk oor jou bed met ’n lekker warm kombers by die voetenent. – Melissa

’n Vintage-affair

Ná jare van tuine uitlê het Melissa deesdae haar eie blomme-onderneming, Flourish, en haar kreatiwiteit slaan oral deur. “Met die huisie se dekor het ek dinge eenvoudig probeer hou om by die Karoo-styl te pas,” sê sy. “Ek is baie lief vir die sagte, romantiese gevoel van die Britse ontwerper Rachell Ashwell se shabby-sjiek styl, en veral hoe alles wat mooi is, ook prakties kan wees.

“Hoewel ons Fig Tree Cottage gereeld verhuur, het ek ’n huislike atmosfeer probeer skep. Die wit sementvloere is koel in die hoogsomer – en help ook dat ’n mens ’n skerpioen maklik raaksien!

“Al die meubels is tweedehandse of familiegoed. Iets met karakter en ’n paar jaar agter die blad is vir my onweerstaanbaar. My gunstelingkleure is pastelle, veral skakerings van groen, grys, grysblou, ligpienk en lila. Dit skep ’n rustige gevoel. Sterker kleure sal ek net as kontras met die sagter palet kombineer.”

Die badkamermure is in die Plascon-kleur Delicate Vine geverf. Warm water kom van ’n sonkraggeiser wat na gas kan oorskakel wanneer dit nodig is. Melissa se kunstenaarvriendin Lesley Dippenaar het die mosaïekpaneel bo die wasbak as ’n geskenk vir haar gemaak.

MELISSA SE WENKE VIR ’N PLAASGEVOEL
  • Jou mure se verfkleur bepaal die atmosfeer wat jy wil skep. Kry inspirasie hiervoor uit jou omgewing.
  • Bring optelgoed uit die natuur binnetoe: voëlnessies, bokhorings, groenigheid. Knip ’n paar aalwynlote af en sit dit in ’n mooi pot op jou tafel. Verander ’n eenvoudige kandelaar in iets spesiaals met ’n paar droë takke.
  • Kyk uit vir ’n mooi wit geborduurde lap en hang dit voor jou badkamervenster.
  • Beligting is baie belangrik. Omdat hier nie elektrisiteit is nie, koop ek goedkoop feëliggies wat met batterye werk en draai dit om ’n kerskandelaar of hang dit aan spykers teen my mure.