Foto’s Francois Oberholster | Stilering Marian van Wyk

WIE WOON HIER? Serina en Eugene Chambers

WAAR Onrusrivier

Grootte [84 m²]

In laas jaar se Desember-uitgawe het ons heerlik gekuier by Serina en Eugene Chambers in hul nuutgeboude huis op Onrusrivier.

Maar die jongste toevoeging tot hul erf – ’n kothuis van 84 m² – is voorwaar ’n klein ruimte met ’n groot hart. Dié blyplek is spesiaal gebou om as vakansieverblyf verhuur te word aan ’n gesin van vyf tot ses mense en is deel van Serina en Eugene se aftreeplanne om hul inkomste aan te vul. (Die hoofhuis het ook reeds twee en suite-kamers op die onderste vloer wat as gaste-akkommodasie dien.)

“Toe ons die erf drie jaar gelede gekoop het, was die openbare speelpark reg langsaan ’n groot bonus,” vertel Serina. “Gevolglik is die kothuis nie agter in die tuin ingedruk nie, maar het dit ’n pragtige uitsig op dié park, selfs met ’n hekkie sodat die kinders kan speel terwyl die ouers op die stoep ontspan.” Boonop front die kothuis nes die hoofhuis noord, wat dit koel in die somer hou en sonnig in die winter.

Tydens die beplanning, met die hulp van die argitek Donovan Young, het Serina en Eugene geen aandag aan detail ontsien nie. Onder die wakende oog van hul bouer, Chico Shumane, is als nougeset uitgevoer – dit was immers deel van hul planne om in die toekoms self hier in te trek en die groot huis te verhuur.

Slim ontwerp

Aangesien die twee huise op die erf in boustyl verskil maar tog mekaar moes komplementeer – die hoofhuis het Nutec-bekleding en die kothuis is in ’n plaasstyl – was dit belangrik om soortgelyke elemente in albei huise te gebruik. Daarom het albei strukture dieselfde grys sinkplaatdak en dieselfde verfkleur binne en buite.

Die kothuis spog met 3,2 m hoë plafonne, spesiaal so beplan dat die dak so te sê op dieselfde hoogte as die dubbelverdieping-hoofhuis s’n is. Dié ekstra hoogte laat die kothuis heelwat groter lyk, terwyl stapeldeure van 2,4 m hoog boonop ekstra lig inbring.

Die plafon is reg onder die staandak tussen die dakkappe aangebring om die gevoel van ruimte verder te versterk. Volgens Eugene kos dit nie veel meer as gewone plafonne nie en is dié opsie die paar ekstra rande werd.

Wat die uitleg betref, is optimale vloei tussen binne en buite geskep. Die kothuis het ’n ruim braaistoep onder dak langs die leefvertrek, asook ’n stoep by die voordeur – dit vergroot die leefruimte tot 104 m². Elk van die twee slaapkamers het ook ’n buitedeur. Die leefvertrekke is in ’n oopplan-ontwerp gehou; daar is geen gange nie en die vloere en mure het dieselfde ligte verfkleur – alles beplan om ’n gevoel van ruimte te skep.

Dis in die detail
Eugene sê ontblote dakkappe moet dikker as die gewone wees omdat dit nie die skuins stutte het wat normaalweg in die plafon versteek is nie. Die Chamberse het die dennehoutbalke donkerder gebeits met Wonda Seal en Isoboard-panele tussen die oop kappe ingesit. Green Isotherm en Silver Sheen Reflective tusssen dié panele en die dak verseker uitstekende isolasie.

Die ou kerkbank is ’n vonds uit Serina se reise en pas goed by die antieke tafel met sy gedraaide pote. Sy gebruik die 30 jaar oue Persiese mat onderstebo sodat die growwer onderkant ’n meer ingeleefde, informele gevoel kan oordra. Die koskas teen die muur dien as pakplek vir borde en glase, terwyl die stoele met hul verweerde voorkoms die geheel afrond.

Die klein kombuis is ingerig met ’n kombinasie van vintage-kaste en vorm deel van die leefvertrek. Eugene het die hanglig afgerond met ’n geroeste ystersirkel. Serina se emaljeware skep persoonlikheid op ’n rak gemaak van ’n ou steierplank.

Elke dekor- of meubelstuk moet funksioneel én mooi wees. – Serina

Al is die ruimte klein, het die kombuis ’n aparte, onopsigtelike opwashoekie. Kassies met sifdraad soortgelyk aan dié in die kombuis word hier herhaal. Daar is ook plek vir ’n skottelgoedwasser.

Die buitedeur uit die hoofslaapkamer is ’n ou Victoriaanse vonds; dis herstel, skoongemaak en het nog sy oorspronklike glasruite.


Vakansiedekor

Tipies van Serina se bekende vintage-dekorstyl is die kothuis ingerig met meubels en bykomstighede uit haar winkel, Nerf-Af. Sy kombineer dit slim met moderne elemente om die voorkoms vars te hou. Benewens die wenkombinasie van oud en nuut het Serina ook ’n tikkie Franse flair ingebring in die vorm van kandelabers, linne en kussings.

“Meubels moet prakties, werkbaar en gemaklik wees in ’n selfsorg-gastehuis,” vertel Serina. “Gaste wil nie voel hulle moet alles mooi oppas nie, want dan kan hulle nie ontspan nie.

“Maar selfs al is dit ’n gastehuis, bly dit belangrik om jou eie gevoel en persoonlikheid in te bring. Pasop net dat die spasie nie ontaard in ’n warboel van jou persoonlike besittings nie!”

Die Victoriaanse kaggel skep ’n ouwêreldse gevoel, terwyl die rou baksteenmuur tekstuur en afwisseling verskaf. Om koste te bespaar is die vloere bloot geverf met Abe Cote Tough Polyurethane in die kleur Soft Grey. Dié ligte kleur en naatlose voorkoms laat die ruimte groter lyk.

Nóg weldeurdagte planne

• Elke kamer het ’n groot laaikas vir klere pleks van ’n hangkas, omdat gaste met min klere reis. Hake teen die mure is prakties vir enigiets wat wel opgehang moet word.

• Los dekens word gebruik om rusbanke se bekleedsel te beskerm, terwyl elke oortreksel ’n ritssluiter het sodat dit maklik gewas kan word.

• Al die beddens is nuut en van goeie gehalte omdat daar nie op gaste se gerief en rus ingeboet kan word nie.

• Die neutrale kleurpalet word met spatsels turkoois en potblou opgehelder. Serina glo blou is ’n rustige kleur en skep ’n seegevoel; boonop werk dit goed saam met die meeste ander kleure.

’n Outentieke Franse kandelaber met ’n verdofskakelaar skep atmosfeer in die hoofslaapkamer. ’n Bed van koningingrootte is gerieflik, terwyl die moderne wit kopstuk en kussings ’n vars en sagte voorkoms skep saam met die vintage-laaikassie.

Kussings van Beach House Living

Rolstoelvriendelik

’n Voorvereiste vir munisipale goedkeuring van ’n tweede en verhuurbare gebou op die erf was dat dit voorsiening moet maak vir rolstoelgebruikers. ’n Paadjie om die kothuis lei na ’n buitedeur in een kamer om maklike toegang te verseker, terwyl alle deuropeninge wyd genoeg is vir ’n rolstoel. Die huis mag ook geen trappe hê nie; die stort se vloer moet gelyk met die badkamervloer wees en dit moet ook nie ’n deur hê nie.

“Dit is beslis goeie beplanning vir ons eie moontlike toekomstige behoeftes as ons dalk self nie meer die trappe in die hoofhuis kan gebruik nie,” vertel Serina. “Dan kan ons met gemak in die kothuis bly, pleks van in ’n aftreeoord.”

Verfkleur Plascon Plaster

In die knap en suite-stort help ’n swewende wasbakkassie om ’n gevoel van ruimte te skep. Toiletpapier word in die groen emaljebeker gebêre.

Mosaïekteëls van CTM

Die hoofbadkamer is ’n kombinasie van oud en nuut, met ’n nostalgiese atmosfeer.

Bad van Cape Plumbing & Bathroom Supplies; swart metroteëls en wit vloerteëls van CTM; meranti-vensterrame deur D Colatruglio & Sons Joinery

Aluminium-stapeldeure maak oop op die onderdak-braaiplek buite en vergroot die leefarea, terwyl die boog in die buitenste muur die ruimte visueel vergroot. Die vintage Globe-stoele is blou geverf, terwyl ’n waterbankie by die braai vir alles en nog wat ingespan kan word.

Aluminiumdeure van J.S. Glass & Aluminium

VERSKAFFERS

Beach House Living 028 313 0383

Cape Plumbing & Bathroom Supplies 028 313 2326

Chico Shumane 078 438 4495

CTM 0800 010 810

D Colatruglio & Sons Joinery 021 976 8062

Donovan Young (argitek) 082 424 6314

J.S. Glass & Aluminium 083 745 3276

KONTAK vir selfsorgverblyf 084 946 6326, nerf-af-cottage.co.za