Foto’s Elza Cooper

WIE WOON HIER?

Dieter en Laura Matzner, hul dogter, Lara, en die twee schnauzers Peppie en Mannetjie

WAAR Menlopark, Pretoria

GROOTTE 440 m²

Die groot stoep met sy baie potplante, mooi ligte en oudhede skakel met die leefvertrek en kombuis. Die stoepteëls is dieselfde as in die res van die huis, maar is hier glyvas gemaak vir buitegebruik. Ligte van Arc Lighting

Vir baie jare het Laura Matzner met groot belangstelling gekyk na ’n erg verwaarloosde huis in hul straat in Pretoria. Sy het selfs die erf gegoogle en begin droom oor wat sy sou doen op dié eiendom. Maar helaas was dit nie te koop nie.

Tot 2012, toe die eiendom onverwags op ’n veiling aangebied word. Met die kinders uit die skool was Laura en haar man, Dieter, ’n meganiese ingenieur, se behoeftes skielik anders. Laura, ’n binne-ontwerper wat nie skrik vir bou en breek nie, was lus vir ’n nuwe uitdaging. Dieter het ook al jare lank sy eie planne gehad: om ’n energiebesparende huis te bou. Die bod is op die Matzners toegeslaan. Nou was hul kans om gestalte te gee aan albei se drome.

Die erf was groot genoeg dat hulle met gemak vier huise daar kon laat bou. Hulle woon in die een en verhuur die ander drie. En al vier front noord, met son wat deur die vensters stroom.

Nege keramiekborde beklee ’n ereplek in die oopplanleefvertrek. Dis gemaak deur André du Toit van Porterville en die kolle, ringe en kruise verwys na die spel nulletjies-en-kruisies. Lig van Minima; Terrazzo Double Black-vloerteëls van Union Tiles

Ek glo ’n suksesvolle huisbouprojek begin waar die binnekant ’n verlengstuk van die argitektuur word en die twee nie as aparte entiteite langs mekaar staan nie. – Laura

Laura se ontwerpfilosofie

“Met ’n nuwe bouprojek is daar drie beperkings waarbinne jy moet werk en beplan,” verduidelik Laura, wat haar eie onderneming, Muto Interior Design, het. “Jou begroting, die boubeperkings op die erf en die munisipale regulasies van toepassing op jou woonbuurt.”

Hulle het hul planne laat optrek, die nodige toestemmings gekry, en toe die bouwerk klaar was, kon die mooimaak begin.

Laura se dekorfilosofie is eenvoudig: “Dis soms makliker om te bepaal wat nie jou styl is nie en dan deur middel van eliminasie by die voorkoms uit te kom waarvan jy hou. Ek is aangetrokke tot eerlike materiale soos hout, klip en glas.

“Daarby het ek ’n groot waardering vir ouer meubelstukke wat merendeels met die hand gemaak is en waaraan ’n vakman baie tyd bestee het. Terselfdertyd raak ek ewe opgewonde oor ’n meer kontemporêre artikel met skoon lyne,” sê sy. “Ek is baie ingestel op geordende detail, maar los goetertjies maak my benoud. Gelukkig kan ek altyd die groter prentjie sien, en dis baie bevredigend as ’n idee begin gestalte aanneem.

“Met elke projek besluit ek op een belangrike element as vertrekpunt. Die item word bestel of gekoop en ek weet dit kan nie verander nie. Die res van die interieur word dan daarrondom beplan. In ons huis se geval was dit die 600 x 600 mm-terrazzo-teëls vir die vloer reg deur die leefarea.”

Kyk ’n mens nou na die voltooide projek is dit duidelik dat dié kontemporêre keuse die huis anker en ’n basis vorm vir die lae dekor wat nog oor jare hier sal bykom namate hulle nes skop

Die argitek het die ingangsportaal en gang rondom twee antieke vertoonkaste ontwerp. ’n Smeulkaggel verhit die leefarea en Dieter se kantoor daarbo.

Dieter se eko-planne

Dieter werk al jare aan verskeie energieprojekte. “Dit is my passie om ’n meer volhoubare wêreld te skep met die oog op klimaatsverandering,” vertel dié baasbrein agter die energiebesparende huis.

Nadat Laura haar estetiese vereistes vir die uitvoering van sy planne gestel het, het die argitek, A.J. Smit van Palin & Smit Architects, alles op ’n praktiese manier byeengebring. Een van Dieter se uitdagings was die sonpanele op die dak. Dié panele werk optimaal teen ’n hoek van 15 grade met betrekking tot die son, maar hulle het besluit om die panele teen ’n laer hoek staan te maak sodat dit minder sigbaar is. Ondergrondse reënwatertenks het ook nie ekonomies sin gemaak nie – die installasie sou te duur wees vir die klein waterbesparing wat dit sou meebring.

Ander eko-aanpassings soos spoumure en dubbelglas was wel uitvoerbaar, en danksy elemente soos ’n hittepomp en sonpanele gebruik die Matzners reeds sowat 43% minder munisipale krag – gemeet volgens ’n app wat die huis se totale kragverbruik aandui, sowel as hoeveel daarvan sonkrag en hoeveel munisipale krag is. Hoewel die huis reeds ’n rugsteun-battery het vir wanneer beurtkrag inskop, beoog Dieter later ’n batterystelsel wat die hele huis deurentyd van elektrisiteit sal voorsien. “Die oorskakeling behoort binne die volgende drie jaar ekonomies lewensvatbaar te wees. Dan sal ons heeltemal off the grid wees,” vertel hy trots.

Die kombuis moes eerstens funksioneel wees, sonder enige foefies. Daarom is graniet, wat maklik skoonmaak, gekies vir die werkoppervlakke. Skopplate is diep teruggesit om ’n swewende gevoel te skep. Die styl is ’n mengsel van kontemporêre skoon lyne en plaaskombuiselemente. Ligte van Hoi P’loy

[ENERGIEBEGINSELS]

Omdat die Matzners van nuuts af gebou het, kon hulle uit die staanspoor sekere eko-beginsels toepas. Dit sluit onder meer in:

• Isoboard-panele is as isolasie onder al die vloere en in die plafon geïnstalleer. Dié bord het uitmuntende energiebesparende eienskappe en ’n verskeidenheid gebruike.

• Vensters is getint volgens die hoeveelheid son wat daarop skyn ten einde hitte te reguleer en die behoefte aan verkoeling binne te beperk.

• ’n Sentrale hittepomp met ’n kapasiteit van 450 liter is ingebou. Hittepompe is meer ekonomies as ’n tradisionele geiser. Dit het die bykomende voordeel van ’n slim sirkulasiestelsel wat warm water onmiddellik beskikbaar stel wanneer jy die kraan oopdraai, sodat minder water vermors word. Die sirkulasiestelsel het ’n tydskakelaar sodat die water soggens en saans in die stelsel sirkuleer wanneer huismense die meeste water nodig het. Die pomp werk met sonkrag, maar indien nodig skakel dit oor na munisipale of batterykrag.

• ’n Sonpaneelstelsel van 8 kW verskaf 40% van die huis se krag.

• ’n 30 kWh-battery verseker dat beurtkrag geen uitwerking op die huis het nie.

• Reënwater word in tenks opgevang vir besproeiing.

• Die huis is deurgaans toegerus met ekovriendelike elektriese toerusting, en die gesin kook met gas.

Die huis se fasade is imposant en dramaties, met kleurblokke omraam deur ’n papierbas- en ’n soetdoringboom, asook ’n boomaalwyn wat die bouproses oorleef het. Die bome lok voëls en van tyd tot tyd selfs nagapies. Die blaredak verleen ’n gevoel van ingeleefdheid, wat skaars is by nuwe huise. Die tuin verg baie min instandhouding – daar’s net ’n klein grasperk vir die honde se onthalwe. Tenks van 8 m³ op die dak hou ongeveer ’n week se munisipale drinkwater vir ingeval daar ooit ’n onderbreking in munisipale watertoevoer sou wees. Bouwerk deur Thomas Carsten van Telca Developments; hittepomp deur Istvan Nuyal van Node360 Smart Solutions; sonkragstelsel deur Rhino Energy

Dit maak sin dat ons sonpanele en batterye gebruik vir kragvoorsiening. Elektrisiteit gaan net duurder word en beurtkrag gaan nie gou verdwyn nie. – Dieter

’n Gevoel van kalmte heers in die minimalistiese monochroom hoofslaapkamer. Die boks-tipe kopstuk dien ook as ’n rakkie.

Marokkaanse teëls versier ’n fokusmuur in die hoofslaapkamer se badkamer. Teëls van Moroccan Warehouse; Vero-wasbakke van Duravit; Axor Citterio-krane van Hansgrohe

Die gastebadkamer is klein, maar het selfs ’n stort en skiet nie tekort as dit by karakter kom nie.

Die tweede badkamer het ’n retro-gevoel, met mosaïekmuurteëls. Teëls van Tile Collage; Happy D-wasbak van Duravit; rakkie en spieël van Joe Paine en Muto Interior Design

Muurteëls van Italcotto; Ovo-wasbak van Sterlings; Axor Citterio-kraan van Hansgrohe; spieël en rakkie van Joe Paine en Muto Interior Design

KONTAKTE EN VERSKAFFERS

A.J. Smit 082 416 3803, ajsmit@mweb.co.za

André du Toit 082 656 3021

Arc Lighting 021 981 0539

Duravit 011 555 1220

Hansgrohe 011 445 0000

Hoi P’loy 021 447 1433

Italcotto 021 425 4192

Joe Paine 072 200 1803

Minima 021 788 2515

Moroccan Warehouse 021 461 8318

Muto Interior Design 083 450 3637

Node360 Smart Solutions 076 957 2029

Plascon 0860 204 060

Rhino Energy 011 704 5678

Sterlings 012 998 6713

Telca Developments 012 997 4287

Tile Collage 012 111 0055

Union Tiles 011 663 2000