Foto’s Sally Chance | Stilering Marian van Wyk

Hout en natuurlike klip komplementeer die landelike omgewing en verleen ’n plaasgevoel aan die huis. Die geil tuin is die handewerk van hul tuinier, Mxolisi Nkabini. 

Verfkleur (hortjies)
Plascon Bovine

WIE WOON HIER? Merewyn de Heer-Rossouw, Juan-Pierre Rossouw en hul kinders, Luke (17) en Rachel (14) de Heer

WAAR ’n Kleinhoewe sowat 15 km buite Nottinghamweg, KwaZulu-Natalse Middelland

Die ingang het ’n plaashuis-gevoel met waterstewels slaggereed vir reëndae, asook perdrytoerusting aan hake teen ’n muur. Dis al plek in die huis, buiten die hoofbadkamer, waar die ou vloere behou is.

Verfkleur
Plascon Houri

Ek hou van so ’n tikkie weelde in ’n aardse, outentieke en pretensielose omgewing. Dit maak my gelukkig! – Merewyn

Merewyn de Heer-Rossouw en haar man, Juan-Pierre Rossouw, het in 2016 dié kleinhoewe van sowat 12 hektaar naby die dorpie Nottinghamweg gekoop.

En al het die kreatiewe ma van twee die stadslewe en ’n loopbaan in die advertensiebedryf gegroet vir ’n rustiger leefstyl in die KwaZulu-Natalse Middelland, beteken dit nie sy sit agteroor nie. 

Inteendeel: Sedert hulle hierheen verhuis het, het Merewyn die onderneming Hellooow Handmade op die been gebring. Sy en ’n groep vroue wat deur MIV geraak word, maak onder dié handelsmerk kandelabers wat glans aan haar plaasstylhuis, asook baie ander Suid-Afrikaanse huise, verleen. Dit pryk ook in voorste huiswarewinkels die wêreld oor, insluitend die Amerikaanse kleinhandelaar Restoration Hardware.

“Dié besigheid is my hele lewe!” sê Merewyn. “Die kleikrale wat ons in die kandelabers gebruik, word met die hand gerol – iets wat siek of swak vroue ook kan doen. Dis ’n regte bemagtigingsprojek wat werk skep, en dit breek my hart dat ander plaaslike en internasionale besighede goedkoop namaaksels van my ontwerpe verkoop. Ek het aan die begin ’n streng strategiese besluit geneem om nooit ingevoerde hout- of plastiekkrale te gebruik nie, want dit sal nie werk skep vir ons mense nie. Dit neem ’n vrou omtrent sewe dae om sowat 11 000 krale aan ’n kandelaber te ryg!”

Trouens, dié passie vir handgemaakte kandelabers het die knoop deurgehak toe Merewyn en Juan hierdie stukkie hemel, soos Merewyn die eiendom met sy pragtige rivier- en berguitsig noem, gekoop het. Die heldergroen kombuis en donker linoleumvloere het wel ’n nuwe baadjie nodig gehad.

“Ek was dadelik verlief op die spitsdak en hoë plafonne, wat ideaal is vir ons massiewe kandelabers. Maar dis dalk die Mooirivier wat deur die erf loop wat regtig my hart gesteel het,” sê sy. “Ons glo die plek is ’n goed bewaarde geheim – na genoeg aan die beskawing, maar verwyder van die bedrywige stadslewe. My wekker is deesdae ’n onnutsige haan wat ons soggens vieruur al wakker maak!”

In die winter word die kaggel elke dag aangesteek omdat die temperatuur snags tot naby vriespunt kan daal. Merewyn bieg sy is dol oor simmetrie en hou daarom van hoe die sentrale skoorsteenmuur – met die kaggel in die sitkamer en stoof in die kombuis – die oopplanruimte verdeel.  

Alles na haar smaak

Twee weke voor die gesin ingetrek het, het hulle begin opknap, en in die proses is amper al die binne-afwerkings vernuwe.

“Ons het al die linoleumvloere uitgegooi en vloere van saamgestelde eikehout ingesit, en ook elke liewe lig vervang,” vertel Merewyn. “Vir my gaan beligting oor ongewone aksente met karakter, en my handgemaakte kandelabers is my lewe.

“My dekorstyl is taamlik eklekties en ek volg nie modes slaafs na nie. Ek verkies onverwagte of vintage-stukke met ’n interessante storie en kombineer dit graag met moderner stukke. Op ’n manier werk dit alles saam.”

Vra ons waar Juan inpas tussen al die linne, sy en fluweel, lag Merewyn. “Ek is baie gelukkig. Ek kan my ding doen in die huis terwyl hy daar buite windpompe en kampdrade staanmaak! Hy is my rots.” 

Elkeen van die vintage-kandelabers en hanglampe in die eetgedeelte op die stoep – tweedehandse kopies van Kalkbaai tot Parys – hou spesiale herinneringe in.

Tafel van Vintage-Etc

Die sitkamer is die ene rustigheid met skakerings van blou en groen, wat mooi afgespeel word teen wit, natuurlike en grys skakerings – Merewyn se gunsteling-palet.

“Vir atmosfeer het ek heelwat tekstuur bygevoeg – van hout en koper tot luukse fluweel, keramiek en kristal. Ekstralang gordyne benut die dubbelvolume ten volle.

Pleks van ’n koffietafel is twee kiste en ’n trommel saamgegroepeer; laasgenoemde het aan Juan se oupa Pieter Willem Rossouw behoort en is gedurende die 1940’s vir uniforms en toerusting van die polisie-opleidingskollege in Pretoria gebruik. 

Ons is dol hieroor!
Juan het dié raam vir ’n groep kandelabers gemaak uit die kopstuk en voetenent van ’n Victoriaanse bed. 

Die besonderse teëls bo die stoof is Merewyn se gunsteling-ontwerpelement in die kombuis. “Daar’s ’n paar diep woorde wat jou aan die dink sal sit,” sê sy.

Teëls van La Grace by Kamers/Makers; vloer van saamgestelde eikehout van Inovar Floor

Merewyn het die kombuiskaste, oorspronklik heldergroen, ’n meer gesofistikeerde houtskoolgrys laat verf vir die stedelike plaashuis-gevoel wat sy graag wou hê.

Kandelaber van Hellooow Handmade

Ons is dol hieroor!
Die ekstragroot Twist-kandelaber met handgekleurde ombree-krale is 1,2 m hoog en weeg ’n allemintige 45 kg!

Merewyn se dekorwenke vir Dubbelvolume-ruimtes

“Vertrekke met dubbelvolume moet as ’n skoon skilderdoek en as ’n geheel van die vloer tot by die hoogste punt van die balke benader word; ek geniet dit om visueel opwindende dekorelemente in die oop ruimte daar bo te gebruik.

“Aan weerskante van my kombuis het ek stukke gebruik wat die oog na die spits van die pafon lei: ’n versameling muurhorlosies aan die een kant en ’n oorgroot kandelaber aan die ander kant.” Van die horlosies is op ander tydsones ingestel omdat Merewyn dikwels oorsee reis om haar kandelabers te bemark. 

Die klassieke afwerkings in die badkamer tussen die hoofslaapkamer en Rachel se kamer saam met die handgemaakte kandelaber skep die kontras tussen oud en nuut waarvan Merewyn hou.

Kandelaber van Hellooow Handmade

Visstokke is ’n gepaste en speelse fokuspunt bo Luke se bed.

Die paartjie is innoverende herwinners. Hul bed-lampies is gemaak van vintage-ampèremeters, terwyl Luke se bedlampie ’n ou lantern is – dit het net bedrading en ’n groot gloeilamp gekort.

Die blomme kom uit hul tuin en sluit aan by die “vuil blospienk” aksente (soos Merewyn dit noem) in die strooikussing. Op haar wenslys is ’n groot en suite-badkamer vir dié slaapkamer.

In Luke se badkamer skep vierkantige metroteëls ’n manlike gevoel. Merewyn het die hangligte self gemaak en die spieël was ’n geskenk van haar ouers vir haar 23ste verjaardag.  

Blend Art-porseleinvloerteëls met natuurlike mat voorkoms en vierkantige teëls van Italtile; laaikas van Trade Secret

Raamlose stapeldeure omraam die pragtige uitsig van die stoep wat noord front. Dit was eers ’n koue, onderbenutte ruimte, maar nou is dit ’n ruim leefarea. “Om dié deure te laat inbou was ons beste belegging,” sê Merewyn. Die argitek Leigh Berry van Plan Ahead het hand bygesit met hul opknap.

Mure geverf in Plascon Houri; raamlose glasdeure van Sunflex

Na aan die natuur

Vra jy Merewyn oor haar gesin, brei sy sommer ook uit oor dié met vier pote. Haar “furry family” – diere wat sy red – raak net ál groter.

Hierdie stadsmeisie het ook al ’n babavlermuis of twee gerehabiliteer, en dan is daar die hoender wat sy in die middel van die nag gered (of ontvoer!) het van ’n vulstasie waar dit verlate op ’n petrolpomp gesit het.

Merewyn het nog baie ander geveerde vriende – haar trop hoenders, tarentale en ganse, waaronder Hoppy die gans met die gebreekte been. En moenie die vyf honde (van chihuahuas tot apporteerhonde en ’n Duitse herdershond), vier katte en sewe perde vergeet nie!

Tussen verskeie selfdoen- en herwinningsprojekte by die huis hou die rivier Juan, ’n kranige kunsvlieghengelaar en -gids, taamlik besig. “Hy het ’n outentieke rivierstelsel ontwikkel en gebou om wilde bruinforel in aanhouding te teel ten einde hul getalle in die rivier weer op te stoot,” verduidelik Merewyn trots. “Dié pragtige vis was meer as 100 jaar gelede volop hier en het goed aangepas by plaaslike toestande, maar nou is hulle onder groot omgewingsdruk. Juan glo hy kan ’n verskil maak aan die oorlewing van dié spesie met hul besonderse, natuurlik ontwikkelde genetika.”

Naweke gaan oor pret saam as gesin. “Ons roei, werk in die tuin, vang vis, ry perd, stap ver ente met die honde of hou piekniek by die dam. En dan is daar natuurlik Notties Pub,” sê Merewyn. “Ons is absoluut gaande oor die gemeenskap, oud en jonk. Ons dra mekaar se belange op die hart, want ons almal het besluit om ons gerief en ’n vinnige leefstyl prys te gee sodat ons kinders hier kan grootword en die natuur kan waardeer.

“Hulle swem heeldag en speel op die foefieslaaid. Rachel ry graag motorfiets hier en Luke droom daarvan om kalfies groot te maak en saailinge te plant wat groot bome sal word wat hy eendag kan verkoop wanneer hy ouer is.

“Ons het die wonderlikste natuurlewe! Ons kom selfs die bedreigde blou-, lel- en kroonkraanvoëls by die vleiland op ons eiendom teë. Voëls is volop en hier kom gereeld sekretarisvoëls, visarende, gompoue, verskeie roofvoëls en pragtige uile. Ons sien ook pragtige ribbokke, duikers, waterbokke, blesbokke, tierboskatte en rooikatte. Dis so ’n voorreg om hier te woon.”

Afgetrede perde en selfs ’n ponie wat van die vleismark gered is, is onder die sewe perde wat ’n tuiste by Merewyn en Juan gekry het. Die paartjie het die heining gemaak deur ’n versameling ou ysterhekke stewig in die grond te druk. 

Ons droom van ’n sonkragstelsel en ’n formele groentetuin met klipmure – die bok wat hier woon, het ons vorige groentetuin opgevreet! – Merewyn
VERSKAFFERS

Hellooow Handmade 033 266 6015

Inovar Floor 0860 346 356

Italtile 0861 555 109

La Grace 083 383 3068

Kamers/Makers 

Plan Ahead 083 321 2388

Sunflex 031 512 5202

Trade Secret 021 447 1186

Vintage-Etc