Foto’s Francois Oberholster • Stilering Marian van Wyk

WIE WOON HIER? Cathy Marriott en Basil Stilwell, en die tweeling Emma en Francis Marriot (18) 

WAAR Stanford, Wes-Kaap 

GROOTTE 410 m² (stoepe ingesluit)

Die wêreld is vol merkwaardige vroue, en Cathy Marriott van Stanford in die Overberg is ongetwyfeld een van hulle. Want wat jare lank haar droom was, is nou werklikheid: Haar strooibaalhuis is ’n monument van kreatiwiteit aan die einde van ’n romantiese, laventel-omsoomde dubbelspoor-sementpad waar eende en ganse die werf oppas.

Cathy en haar lewensmaat, Basil, bly al agt jaar hier op hul kleinhoewe Sondagskloof, sowat 20 km buite Stanford in die Overberg-streek van die Wes-Kaap.

Skaars agt jaar gelede het sy nog klere ontwerp; deesdae noem sy haarself ’n “Google-kleinboer”. Haar modeskeppings het soos soetkoek verkoop, maar Cathy se hart was elders – toe het sy nog nie geweet wáár nie, maar wel wát: ’n lewe op ’n plasie waar sy uit haar tuin kon leef en haar tweelingdogters (toe tien jaar oud) uit die stadsgewoel kon kry.

Cathy se swembad het gestalte gekry nadat sy die idee in ’n tydskrif gesien het. Sy het besef sy kan die wonderlike water uit hul bergfontein in sy natuurlike vorm in die 3 x 5m- bad gebruik. Dis ingebou op die hoek van die groot voorstoep en ’n volle 2m diep. Die water stort oor die swembadrand na benede tot in bakke met waterplante en gruisklip wat dit filtreer voordat dit weer in die swembad teruggepomp word.

Toe sy en Basil in 2010 ’n aanbod maak op die lappie grond, het ’n klein kothuis eerste verrys in die populier-bos naby waar die hoofhuis vandag staan. Daar was net een slaapkamer en ’n spesiale dakbed vir die tweeling skuins bo die kombuis. In die somer het hulle sommer in hangmatte buite op die stoep en tussen die bome geslaap.

Maar in haar agterkop had sy ’n groter plan: ’n huis van ekovriendelike strooibale, kleibakstene, hout en sink wat haar en haar geliefdes se tuiste sou word. Haar argiteksvriend, Alwyn van Wyk, het die planne begin optrek, en vandag is die hoofhuis op Sondagskloof ’n ruimte vol karakter en verrassings. 

Oopplan-leefarea

Een van die twee kaggels wat die groot oopplan-leefvertrek onder in drie “seksies” verdeel. Agter die kaggel is die woonvertrek (die TV-kamer en Cathy se werkkamer) sigbaar; dié kant is die sitkamer. Die boonste verdieping is ontwerp rondom ’n oop dubbelvolume-ruimte op grondvlak. Dit laat ook ekstra lig in vir dié ruimte onder.

Oral in Cathy se huis word optelgoed, aandragoed en hier en daar ietsie nuuts vir versiering gebruik – hetsy ’n versameling hoede op ’n geverfde werkbank of blomme uit die veld.

Die tweeling, Emma en Francis, het ’n spesiale leeshoekie bo wat oor die leefruimte onder uitkyk.

Vensters

Die argitek het Cathy oorreed om net een soort raam vir al 48 vensters in die huis te gebruik: outydse kantelvensters van staal soos wat ’n mens destyds in skole gekry het. “Ek het jare gelede ’n ateljee in die Old Biscuit Mill in Woodstock, Kaapstad, gehad. Daar het ek verlief geraak op dié soort venster en hoe mooi dit lyk saam met rooi bakstene. Ek noem dit industrieel Victoriaans.”

Vloere

Cathy se keuse van sement vir die vloere in die kombuis-area herinner aan ’n plaashuis. Dis boonop maklik om skoon te maak en pas by die industriële gevoel van die huis. Die kleisteenmure in die kombuis het sy net so gelos en verseël. In die res van die huis is die vloere gemaak van natuurlike dennehout wat deur hul vriend Jan Botes spesiaal in breë vloerplanke gesaag is om in die verskillende vloerruimtes te pas. Die houtvloere op die grondvloer is donker gekleur en verseël.

Plafonne

Die plafonne is van Oregondennehout – alles ou planke wat Cathy oor jare in die Kaap versamel en gebêre het vir die dag wanneer haar droomhuis ’n werklikheid word. I-balke van staal pas by die industriële kantelvensters.

Die gesin se TV-kamer is nie net Cathy se naaldwerk- en kunskamer nie, maar ook gastekamer wanneer iemand op die dagbed voor die venster agter oorslaap.

Die kaggel word sommer maklik aangesteek langs Cathy se reuse-kombuistafel wat altyd gereed staan vir ’n kuier. Agter is die sitkamer en leefvertrek.
In die opwasdeel langs die kombuis, waar die spens- en yskaste ook staan, is goiingsakke ingespan pleks van kasdeurtjies.

Strooibaalkuns

Cathy se fassinasie met strooibale as boumateriaal het jare gelede begin toe sy een naweek in ’n strooibaalhuis op Verlorenvlei in die Sandveld (tussen Elandsbaai en Redelinghuys) gebly het. “Ek het totaal verlief geraak op die gevoel. Dit was so solied en tydloos, asof dit maar nog altyd daar was.”

Sy het sommer self ’n kursus gaan doen om te leer hoe maak ’n mens die “stene” uit ’n mengsel van lusern, klei en kalk – met die idee om dié kennis eendag in die toekoms toe te pas. Strooibale is in die somer immers volop in die Overberg en die kleigrond op hul plaas was ’n lieflike oker kleur, perfek vir die tegniek.

“Die idee om ons eie strooibaalhuis – ’n huis ‘op die grond, uit die grond’ – te bou was net onweerstaanbaar. Só kon ons ons eie natuurlike hulpbronne gebruik. Dit het boonop etlike voordele: breë vensterbanke vir boeke uitpak of net sit en staar na die berge; dis ook koel in die somer en heerlik snoesig in die winter.”

Met al haar planne agtermekaar is die fondamente gegrawe en gevul met beton. Intussen is die strooibaal-stene gemaak en opgestapel om uit te droog sodat die bouery kon begin.

Die enigste bouer in die distrik wat sy kon oorreed om bouwerk met dié materiaal aan te pak, was Jerome Dickson. “Hy was al een wat kans gesien het; die res was maar skrikkerig.”

Maar waar daar ’n wil is, is ’n weg – agt maande later was die huis klaar en kon die gesin intrek. Die dogters was reeds op skool in Hermanus, waar die gesin toe tydelik gewoon het en van waar sy die bouprojek kon bestuur.

Basil werk groot dele van die jaar oorsee, daarom moes Cathy haar moue oprol en die werk gedoen kry. Nie dat sy enigsins omgegee het nie: Haar droom was besig om gestalte te kry.

Die hart van die huis: ’n gemaklik ingerigte kombuis. Al die houtwerk is van herwinde Oregondennehoutplanke wat Cathy in die jare voor haar projek begin bymekaarmaak en gestoor het.

Die agterstoep by die kombuis het ’n uitsig op die populierbos.

Cathy glo jy eet wat jy self geplant het of wat jou werf oplewer. Sit jy op ’n Sondagoggend aan vir ontbyt op die ruim stoep met sy vredige uitsig op die Overberg se berge, is alles op die tafel uit hul eie grond: sonryp tamaties, vars basilie, eiers van die werfhoenders...

Strooi, klei en sink

Die huis se twee kantmure is weerbestand gebou met gewone kleibakstene en dié aan die westekant is met sinkplate beklee. Ander mure op grondvlak is van strooibale gebou. 

Die mure vir die boonste vlak bestaan uit ’n houtraamwerk wat binne met hout en buite met sinkplate beklee is; tussenin is papierpulp gebruik vir isolasie. Die hout-en-sinkplaat-struktuur is lig genoeg om op die strooibaalmure te rus en is boonop eko-vriendelik. Die rooi baksteenmure is verseël, terwyl die strooibaalmure geverf is met Glutone, ’n natuurlike kalk wat die klei nog laat asemhaal.

Rondom die oop ruimte bo is die drie slaapkamers: aan die een kant die hoofslaapkamer met sy oopplan-badkamer; aan die ander kant die tweeling se kamers met ’n gedeelde badkamer tussenin. “So het ons elkeen ons eie gaatjie.”

Nuwe lewe aan ougoed

Cathy se huis en tuin is ’n testament van haar liefde om lewe te gee aan oudhede en optelgoed. Sy weef dié vondste oral in haar huis in: ’n ou swart kas wat haar buurman wou weggooi, strooihoede van oraloor, ’n ou skilpaddop, swaeltjie-nessies... Ook haar gunsteling-pou wat sy ná sy dood laat opstop het, want sy het die kleur van daardie lieflike pronkvere in haar tuin gemis.

Die kuns teen haar mure het ook elkeen sy eie storie, sommige stukke die resultaat van transaksies met vriende: kuns in ruil vir Cathy se modeskeppings toe sy nog ontwerper was. Daar is baie min wat nuut is hier; dis eerder ’n kombinasie van opgetel, geruil, uitgesnuffel en mooigemaak.

Dis ’n cliché, erken sy, maar Cathy glo ’n mens mag maar droom en nooit opgee nie. “Begin klein, maar begín net iewers. Dit het ons tien jaar geneem om uit die stad te kon trek en toe het ons stukkie vir stukkie die grond begin skoonmaak, onkruid uitgekap, klippe opgetel en muurtjies gebou. En so maak ons nog elke dag.” 

Hortjiesdeure van gerestoureerde dennehoutplanke is voor die stortvertrek en die toilet in die hoofslaapkamer gebruik.

Verskillende teksture soos staal, klei, hout en sagte tekstiele word slim gekombineer deur die hele huis – soos hier in die sitkamer.

“Op hierdie plaas werk almal,” vertel Cathy en lag. “No free meal! Die perde moet poef sodat dit by die komposhoop ingewerk kan word, die ganse en eende raas wanneer mense kom kuier, en die varke bemes die groentetuin se grond.”
Dié kothuis was eers hul blyplek; nou is dit slaapplek vir gaste wat gereeld inval.

Hier koop Cathy graag

  • Op Stanford by die Stanford Trading Store en die winkel TAT Antique and Vintage Decor vir kreatiewe dekor-items, antiekware en meubels.
  • Op Stellenbosch loer sy gereeld in by Nest vir pragtige kussings en handgetekende boekoortreksels wat sy in kunswerke vir haar mure omskep.
  • In Kaapstad hou sy van Klooftique se wonderlike banke en Weylandts se meer kontemporêre matte en meubelstukke.
Lulu die waghond op die voorstoep.
Die stoel waarin Emma sit, is gemaak deur Malawiërs wat op die plaas werk.
Sinkplate teen die mure en op die dak gee die strooibaalhuis ’n industriële gevoel aan die westekant.
Francis geniet die vrede op die dagbed in die leefvertrek. Beddegoed word in die laaie daaronder gebêre.

Vloerplan

KONTAKTE EN VERSKAFFERS

Jerome Dickson (bouer) 073 150 4061

Klooftique 021 424 9458

Nest 082 935 2544

Sondagskloof-verblyf 

Stanford Trading Store 028 341 0449

TAT Antique and Vintage Decor 072 671 6789

Alwyn van Wyk (argitek) 083 715 7554

Weylandts 021 914 1433