Foto’s Francois Oberholster

WIE WOON HIER? Illze en Wouter Muller; hul kinders Annegret en die tweeling, Anet en Hendrik-Wahl
WAAR Naby Herbertsdale, 42 km van Mosselbaai in die Suid-Kaap.

Ou goed, nuwe goed, erfgoed en mooigoed … Dít sou die dekor in Illze en Wouter Muller se plaashuis buite Herbertsdale in ’n neutedop kon saamvat.

Maar Illze se kreatiewe flair strek heelwat wyer as dit. Haar dekorleuse is immers “eenvoud, simmetrie, neutrale kleure en natuurlike stowwe, altyd met iets ongewoons daarby wat dit spesiaal maak”. Want kyk, dit verg ’n spesiale aanvoeling as jy soos dié boervrou in ’n familieplaashuis wat rondom 1850 gebou is, kan intrek en jou eie stempel daarop afdruk sonder om afbreuk te doen aan die historiese argitektuur óf ’n familietwis te veroorsaak!

“Wouter se oupagrootjie se broer George Frederick, die eerste Muller wat hom in die vallei kom vestig het, het die huis gebou en sy nageslag het meer as ’n eeu hier gewoon,” vertel Illze. “In 1981 het Wouter se stiefpa, Andrew Muller (van dieselfde Muller-familie), die plaas gekoop, en Wouter het die melkboerdery in 1989 by sy stiefpa gekoop.”

By die voordeur hang staallampe in ’n lanternstyl; Illze het dit self ontwerp en laat maak. Die geelhoutwakis is ’n erfstuk en die portret is van die vrou van ’n Spaanse skeepskaptein wat destyds die mark in Mosselbaai se hawe bedryf het.

Toe sy ná hul troue in 1993 hier intrek, was die huis vol oudhede met ’n baie formele uitleg: ’n baie kleiner kombuis ver van die aparte formele sitkamer, eetkamer en onbenutte ingangsportaal, en die somtotaal van drie buitedeure. Illze, wat graag ná skool argitektuur wou swot, maar uiteindelik heel ander akademiese draaie geloop het, het eers vrede gemaak met die binnekant en in die tuin laat waai.“Daar was net gras en bome, geen struktuur nie!”

In die sitkamer skep uiteenlopende teksture karakter – daar’s klip, leer, gras en hout. Dis waar die oorspronklike hoofslaapkamer, ingangsportaal, badkamer en ’n instapkas was. Die Mullers het ’n gas- eerder as ’n houtkaggel gekies omdat die huis ’n rietdak het.

’n Tydsame proses

So tussen die gewoel in die tuin, wat vandag ’n groen lushof is met ’n snytuin waar haar vriendinne elke jaar kom St. Josefslelies pluk, het sy die televisiekamer se venster met ’n deur vervang, die eerste van drie buitedeure wat sy oor die jare bygevoeg het sodat die huis en die tuin ’n geheel kan vorm.

Dit was ’n stadige begin, maar 12 jaar gelede het haar argitekinstink die oorhand gekry en kon sy begin werskaf om die 19de-eeuse huis in pas met die 21ste eeu te bring. Wouter en Illze het alles self gedoen, met net die hulp van ’n messelaar. “Ek het gehelp bou en messel, klippe ingekap …” vertel sy.

Statige dubbelskuifdeure wat by die opstal se historiese karakter pas, skei die kombuis van die leefvertrek. Die lang tafel in die kombuis het Illze in twee dele laat maak sodat sy dit op verskillende maniere kan gebruik. Soms voeg sy ’n derde tafel by sodat daar sitplek vir 22 is. “Kuierplek vir almal – familie, vriende, partytjies én familietroues,” is hoe Illze die kombuis met sy sementwerkvlakke beskryf. Die swart leiklipvloere skep ’n rustige atmosfeer.

Die leefvertrekke vloei nou logies van die sitkamer na die kombuis, wat die grootste verandering was en nou al vyf gesinslede se gunsteling-vertrek is. Die oorspronklike kombuis was ’n ware wegsteekvertrek aan die agterkant – deesdae die tweeling se slaap- en badkamer. Die Mullers het dit na die voorkant verskuif, waar voorheen ’n formele sitkamer was. “Dis nou ’n heerlike vertrek met vensters in drie rigtings, wat jou nader aan die omgewing laat voel. Wouter kan sy boerdery deur die venster dophou!”

"Die ou houtwerk en karakter van die huis maak my dalk minder waaghalsig in my dekorkeuses, maar dit het weer die voordeel dat ek tydlose stukke kies eerder as om net ‘trends’ te volg. Gelukkig het die Muller-familie baie positief op al die veranderings gereageer!" – Ilze

Die plaaslewe pas Illze en Wouter soos ’n handskoen. “Ek en Anet bak graag – nie omdat ons ver van Woolies is nie, maar omdat ons regtig daarvan hou. Die plaaslewe leer jou om baie dinge self te doen en moedig ’n meer organiese leefstyl aan.

“Ek is alewig aan die skep en verander; die moontlikhede om jou uit te leef en jou stempel op jou blyplek af te druk is eindeloos op ’n plaas. Ons is bewus van die natuur, die rustigheid, die ruimte en waardeer elke oomblik hier. Dis régtig ‘home sweet home’ en ons wil nêrens anders woon nie!”

1. Dié laaikas met droë takke aan weerskante in die televisiekamer kom uit die Muller-plaaswinkel wat Wouter as skoolseun bedryf het.

2. In die televisiekamer hang ’n portret van Illze se oupagrootjie se pa langs ’n oorspronklike ou ingeboude muurkas vol emalje-erfstukke. Die melkemmers gebruik sy af en toe vir blomme. Sy het die muur eers swart geverf met ’n laag Earthcote Iron Paint en dit toe met ’n laag Earthcote Rusting Agent bo-oor afgerond, wat die geroeste voorkoms gee.

Aan die einde van die gang, op pad na die kinders se slaapkamers, is nog een van Illze se treffende komposisies. Bo die riempiesbankie hang ’n olieverfskildery van die Swartbergpas deur Jan Volschenk, en onder ’n ets deur Tinus de Jongh van die Kasteel in Kaapstad.

Harmonie en simmetrie

Mooimaak is in Illze se DNS, en sy vertel dat sy altyd dink hoe sy iets nog mooier kan maak. Maar dis haar subtiel simmetriese komposisies deur die hele huis wat ’n mens opval: sementrakke en sterre aan weerskante van een van die kombuisvensters, oorgroot vase met droë takke alkant van die laaikas in die televisiekamer, lanterns twee-twee voor vensters of op mure …

“Ek dink die simmetrie-ding kom redelik spontaan. Dis deel van my liefde vir eenvoud en my filosofie dat ’n vertrek nie te deurmekaar moet lyk nie. Dit hou die atmosfeer rustig en beklemtoon sekere voorwerpe. Dit skep fokuspunte in ’n vertrek en laat jou ’n prentjie sien eerder as net ’n klomp goed bymekaar.”

1. Illze het die hoofslaapkamer se bed meer as 20 jaar gelede gekoop, kort nadat sy in haar eie woonstel ingetrek het. Mat van Weylandts

2. Annegret slaap al vandat sy drie jaar oud is op dié geelhout-en-stinkhoutbed, een van die Mullers se oudste familie-erfstukke. Die donker muur is geverf met Dulux Trade 100 Low Sheen in die kleur Rum Caramel 1.

3. In die tweeling se badkamer is die mure grof afgepleister en toe met Dulux Roofguard (’n dakverf) in die kleur Quail geverf.

Maar hoe gemaak om nuwe dekorstukke met soveel oudhede te laat saamwerk? Illze se geheim is bloot om dinge eenvoudig en neutraal te hou. “Ek hou nie van vol vertrekke nie,” sê sy prontuit. “Dan sien ’n mens niks raak nie en te veel goed en tierlantyntjies maak my onrustig. Neutrale kleure en klassieke style werk maklik saam. My voorkeur vir skoon lyne maak dit ook makliker om oud en nuut te meng.”

En só is daar om elke hoek en draai ’n mooi komposisie – hetsy met groenigheid of eenvoudige takke uit haar tuin, ou melkemmers en selfs Wouter se modderbesmeerde melkery-stewels. “Blomme, takke of blare gee lewe aan ’n vertrek. Elke komposisie moet ’n storie vertel en daar moet altyd ’n bietjie kontras wees: oud en nuut, grof en glad, hard en sag … En ’n mens moenie stagneer nie; daarom is ek nooit klaar nie. Daar’s so baie wat ek nog wil doen!”

Die Mullers op hul melkplaas onder die yslike kareeboom, wat waarskynlik soos die huis ook uit 1850 dateer. Hier kuier hulle ’n hond uit ’n bos; hulle het al selfs ’n dansvloer onder die boom opgesit en deurnag gedans. Kloksgewys van links is Wouter, Illze, Annegret, Hendrik-Wahl en Anet.