Foto’s Elza Cooper Stilering Amanda van Wyngaardt

WIE WOON HIER?

James Diack, sy lewensmaat, Diane Lecluse, en die honde Luke, Dali en Lolita

WAAR Melville Ridge, Johannesburg

GROOTTE 215m²


Om die beskikbare ruimte ten beste te benut het die paartjie beton-boekrakke in die sitkamer laat inbou. “Omdat ek nogal ’n obsessie oor kookboeke het, was dit die perfekte oplossing vir ons beperkte vloerspasie,” sê James.

Koffietafel pasgemaak op Brightside Farm; sagte meublement deur Paraphernalia Upholsterers; skildery van Rosebank Art & Craft Market

James het ’n dranktrollie in ’n hoek tussen die sitkamer en stoep gesit sodat gaste ’n drankie kan skink wanneer hulle tussen die kombuis en kuierplek buite beweeg. Die kapstok is ’n tweedehandse vonds.

Nadat hy die eerste keer na ’n ou skakelhuis in Melville Ridge, Johannesburg, gaan kyk het, het James Diack geweet hy sou dit in iets spesiaals kon omtower – ondanks die afgeleefde voorkoms. Die eiendom het sulke lieflike uitsigte op die Melvillekoppies dat ’n mens skaars kan glo die helder liggies van ’n bedrywige stad is maar ’n hanetree daarvandaan.

“Ek het baie gehou van die idee dat ek straat af na die plaaslike bakkery en ons gunsteling-restaurant of -kroeg kan stap. Melville het so ’n internasionale gevoel,” sê hy. Hy wou nie ’n massiewe huis hê wat baie onderhoud sou vra nie, en die grootte van die erf was so reg in sy kraal. “Ek wou iets tussen ’n huis en ’n solderwoonstel hê; nie te groot nie, maar met plek vir my honde en genoeg ruimte om te onthaal.” Die eiendom het aan al James se vereistes voldoen. Teen die einde van 2009 het hy toe die groot stap gedoen en dié klein juweel gekoop.

Gelukkig het James iemand geken wat die huis met sy doolhof van klein vertrekkies in ’n oop, gesellige blyplek kon verander. Sy ma, Janet, het ’n slag met mooimaak op ’n knap begroting. James het grootgeword in die lieflike ruimtes wat sy versier het – die gesinshuis in Northcliff, hul strandhuis op Anerley aan die Suidkus en die plaas Brightside in die Magaliesberg. “Ek het geweet sy’s opgewasse vir die taak,” vertel hy. 

In die TV-kamer skep Earthcote se tekstuurryke Fever Tree Green (links) ’n mooi agtergrond vir ’n klassieke grys rusbank wat Paraphernalia Upholsterers ontwerp en gemaak het; die deken was James se ouma s’n. Glas-sytafels van Superbalist

Die siersteen-toonbank staan uit teen die donker Earthcote Pandomo-muur. Pleks van ’n spatpaneel agter die stoof het James en Janet ’n eenvoudige plaat van vlekvrye staal gekies. Swart en wit teëls vorm ’n skaakbordpatroon op die vloer. Al is die kombuis klein, is die uitleg prakties en goed beplan met oorgenoeg plek vir James se versameling kook- en breekware.

Ghost-kroegstoele van Kartell

Oopgemaak

Janet is passievol oor boerdery en saam met James, ’n suksesvolle sjef, bestuur sy die plaas Brightside, wat 95% van die bestanddele vir sy Johannesburgse eetplekke voorsien.

Brightside belê ook al meer as 30 jaar in die plaaslike gemeenskap van Magaliesburg deur die inwoners op te lei in vaardighede soos bou- en sweiswerk. Só kon hulle ’n inkomste verdien met die bou en inrig van James se restaurante, en toe die tyd aanbreek, kon Janet hulle in die werk steek met die opknap van haar seun se nuwe huis.

James wou ’n oopplanruimte skep wat lig en helder is, met groot vensters vir vars lug en ’n fokus op die uitsigte. “Ek wou ook hê die kleurpalet en al die muur- en vloerafwerkings in verskeie teksture moes die skakerings van die Melvillekoppies weerspieël,” verduidelik hy.

Omdat kos ’n groot rol daarin speel om die belangrike mense in sy lewe bymekaar te bring, moes die kombuis sentraal in die uitleg wees; James wou ’n ruimte skep waar hy tegelykertyd kan kook én gaste onthaal. Die plan was om die huis se dop te behou, maar die uitleg binne effens aan te pas vir beter vloei.

Met Janet aan die stuur het die bouspan kombuismure uitgekap en sodoende ’n groot oopplan-kombuis-sit-en-eetkamer geskep. Vir tekstuur is ’n kombuistoonbank gebou van sierstene en betonlateie, met ’n sementblad bo-oor. Tesame met die ontblote koperpype gee dit ’n subtiele industriële geur aan die ruimte. Omdat daar nie plek was vir ’n aparte waskamer in die knap kombuis nie, het Janet ’n dwarsmuur van siersteen laat bou om die wasbak en wasmasjien weg te steek.

Natuurlike lig stroom in by die eetkamer deur slim geplaaste dakvensters. Die eetkamertafel is ’n ou toonbank van die Suid-Afrikaanse Spoorweë, en James het die Globe-stoele oor jare versamel en gerestoureer. Die vloer is ’n betonblad wat met ’n sementbeits afgewerk is.

Hanglampe van Amatuli 

As sjef van beroep was dit vir James belangrik om ’n toegewyde kap-en-snyplek te hê. ’n Ingevoerde slagters-blok is by die toonbank bo die mandjielaaie ingebou.

Aandag aan detail

Om in te skakel by die eenvoud van die sementvloere het Janet ’n soortgelyke marmeragtige afwerking vir die mure gekies – Earthcote Pandomo Black Cat in die kombuis en Vuvuzela Clay in die eet-en-sitkamer. Tekstuurryke verfprodukte van Earthcote is ook gebruik vir aksentmure in die TV-kamer en twee slaapkamers.

Die bouery het net vier maande geduur en James kon in Mei 2010 intrek. Omdat hy graag sy stempel op die ruimte wou afdruk, het hy weggebly van klaar gekoopte meubels en liewer op die vaardighede van die mense op Brightside staatgemaak.

“Elke meubelstuk is óf pasgemaak óf herbenut vir die huis. Ek was gelukkig genoeg dat al die staalwerk, van die koffietafels tot die stoepmeubels, volgens my spesifikasies op die plaas gemaak kon word.” Vir die rusbanke en sagte meublement het James, gewapen met presiese mate en lap wat hy klaar uitgekies het, by Paraphernalia Upholstery gaan aanklop. Dit is mettertyd aangevul deur kleiner stukke wat hy met sorg uitgesoek het op grond van hul sentimentele waarde en unieke karakter.

In pas met James en sy lewensmaat, Diane Lecluse, se bedrywige stadsleefstyl (sy is ’n produksiebestuurder) bied die onthaalruimtes buite ’n welkome uitspanplek. Die onderdak-stoep met sy terracotta-teëls is ’n koel toevlug in die somer, terwyl ’n eetarea aan die onderkant van die tuin ’n heerlike kuierplek saam met gaste is.

“As jy so onder die bougainvillea-bedekte boog sit, voel dit glad nie of jy in die hartjie van Johannesburg is nie,” vertel James. In die lig van Covid-19-regulasies het die pizza-oond van Pappa’z Oven’z, wat hulle al in 2015 hier buite laat insit het, baie gewild geraak. “Ons het dit die laaste paar maande gereeld gebruik. Dit het ons besig gehou terwyl ons nie ons gunsteling-eetplekke kon besoek nie,” sê James laggend.

Al het hy en Diane tydens die inperking ’n nuwe roetine tuis, kan hulle nie wag om weer hul ruimte te deel nie. “Dis vir my lekker om vriende oor te nooi vir ’n bietjie vrolikheid, goeie wyn en hopelik lekker kos uit my kombuis – dis loshande my gunstelingplek!” 

James, wat onder meer die bekende Il Contadino-restaurant in Parktown-Noord besit, is dol op kook en onthaal by die huis.

In die hoofslaapkamer skep die aksentmuur lieflike kontras met die mosterdgeel fluweelkussings. Die kis is ’n antieke vonds.

Kopstuk gemaak deur Paraphernalia Upholsterers

Die ongewone kunswerk is vergroot van ’n poskaart waarvan James gehou het; dis gespuitskilder en toe op ’n groot stuk seil gedruk.

James het oorskietlap by ’n Sullies-uitverkoping gekoop en Paraphernalia Upholsterers het strooikussings vir die gastekamer daarmee gemaak.

’n Rakeenheid uit een van James se restaurante is nou uitstalplek vir snuisterye in die gastekamer.

Die bad kom van ’n skrootwerf. Nadat dit herstel is, neem dit nou ’n ereplek in die badkamer in. Grofgepleisterde mure is swart geverf as agtergrond vir die borde wat James in Kaapstad gekoop het. 

James en Diane sit gereeld op die oordekte stoep om die uitsigte te geniet. Al die staalraam-meubels is op Brightside gemaak. James het ’n ou boogvenster by ’n skrootwerf opgetel en ’n spieël daarvoor laat sny by Linden Glassworks.

Lap op kussings van Sullies

Die eetarea buite is rondom ’n ou geelhoutboom gebou. Die skaakbordpatroon op die vloer is verkry met stoepverf.

Die huis was in ’n treurige toestand, maar ek het geweet met ’n paar veranderings – en die uitsig – kon dit ’n juweel wees. – James

Die huis is in die 1970’s onderverdeel en het nou nog sy oorspronklike krul-diefwering. Die fondament rus op antieke gesteentes wat deel vorm van die Kaapvaal-kraton.

VERSKAFFERS

Amatuli 011 440 5065

Brightside Farm 

Earthcote 021 447 0217/14

Kartell 

Linden Glassworks 011 782 9246

Pappa’z Oven’z 071 460 9539

Paraphernalia Upholsterers 082 335 3745

Sullies 011 830 2834