Die meubels op die stoep met sy pragtige uitsig kom uit ’n verskeidenheid tweedehandswinkels; daar is ook erfstukke, terwyl ander van Weylandts of pasgemaak is.

Foto’s Sally Chance | Stilering Marian van Wyk

WIE WOON HIER? Craig en Sam Chapman met hul kinders, Max (14), Elle (12) en Indiana (5)

WAAR Umhlanga

GROOTTE 455 m²

Ek kom sit graag hier in die toegeboude stoep om te lees of ’n bietjie te werk; niemand pla my hier nie. – Sam

Toe Craig en Sam Chapman dié huis so reg uit die 1970’s in Umhlanga sien, was dit inderdaad liefde met die eerste oogopslag.

“Die boustyl het my dadelik aangetrek en ek kon heelwat potensiaal in dié eiendom sien,” sê Sam. “Van daai einste oomblik af het ek begin planne beraam oor hoe ons die vloei kon verbeter sonder dat dit die integriteit van hierdie ongelooflike struktuur skaad.”

Dis al nege jaar sedert die Chapmans hier ingetrek het en weens ’n knap begroting het hulle stuk-stuk veranderings aangebring en aanbouings gedoen. Hulle het ook die raad van hul argiteksvriendin Lisa Rorich ter harte geneem en eers ’n ruk in die huis gewoon voor hulle enige veranderinge aangebring het.

Dit het hulle help bepaal waar om byvoorbeeld ekstra vensters in te sit ten einde meer winterson in te laat, asook waar die gesin die meeste tyd saam deurbring sodat hulle dié vertrekke die beste kan benut.

Vandag is dié amper 50 jaar oue huis met sy vyf slaapkamers en drie badkamers net reg vir die Chapman-gesin – al is daar nog heelwat wat hulle wil doen!

Die eetkamertafel anker die groot oopplanvertrek waar die gesin elke aand bymekaarkom. Deur die dag is dit ook Sam se werk-area; sy het onlangs Saint Lori Boutique, ’n klerewinkel in Umhlanga, gekoop.

Tafel en stoele van Peter JA Stuart

Die tema deurgedra

Nie almal kry dit reg om hul dekor of kleurskema reg deur die huis te laat geld nie, veral nie in kinderkamers nie. Maar Sam het dié kuns bemeester.

Vir eenvormigheid is een soort vloerafwerking deur die hele huis gebruik. “Ek wou spesifiek hê al my vloere moes een kleur en tekstuur hê, want ons vorige huis het ’n kombinasie van teëls en matte gehad, en ek het gevoel dit breek die ruimte te veel op,” verduidelik Sam. Die donker afgevlakte vloere werk goed met die monochroom voorkoms en word versag met los matte.

Die Chapmans het hul meubels oor jare bymekaargemaak. “Ek moet my inhou, anders koop ek heeltyd ougoed,” sê Sam laggend. “Bygesê, ek moet ’n plek vir alles kry en daar is vir seker ’n paar stukke in my huis waarvan ek ontslae gaan raak sodra ek die perfekte ding opspoor.”

Wanneer dit by kuns kom, wys Sam ook haar vernuftige kant. “Ek wens ek het meer geld vir kuns gehad ... Ek het ’n paar spesiale werke deur die plaaslike kunstenaars Grant de Lange en Angelika, maar ek moes ook tevrede wees met die goedkoper opsie: afdrukke op seildoek. Die afdrukke in my huis is ’n kombinasie van oorspronklike Afrika-stukke en persoonlike foto’s wat ek oor die jare geneem het.” 

Sam glo dis belangrik om met die intrapslag al ’n indruk te skep met ’n treffende aksentstuk; dis ook ’n praktiese plek om jou handsak en selfoon neer te sit. Haar seun Max het dié ronde tafel swart geverf en ’n oorskietstuk marmer is gesny om op sy blad te pas.

Dié buffetkas is op uitverkoping by Builders gekoop – dit pas perfek in die ruimte. Die kleure in die hout skakel in by die groenigheid daarrondom.

Hanglamp van Couch Interiors

Rek jou rande Dié kunswerk is een van Sam se eie foto’s – sy het dit op seil laat druk en toe oor ’n raam gespan.

Koel kombuis

Die Chapmans het hul huis opgeknap namate hul begroting dit toegelaat het; nou is dit nog net twee slaapkamers en die kombuis wat hul beurt afwag. Maar jy sal nooit kon raai dat die kombuis nog oorspronklik is nie – dis net geverf!

“Ons beplan om die toonbank te verleng en die kombuis ordentlik oor te doen, maar ons het nog nie ’n los geldjie nie,” sê Sam. Intussen moes hulle verlief neem met ’n laag verf op die “aaklige grys melamienkaste”.

Die paartjie het die hulp van Rembrandt Spray Painters ingekry om die kaste professioneel af te werk, waarna hulle die deure na die opwaskamer en spens self geverf het met swartbordverf van Builders. “Soos julle kan sien, skep my kinders graag hul eie kuns!” sê Sam.

Sy erken sy is “behep” met swart en wit. “Ek is mal oor die sterk kontras: dis klassiek en treffend, dog skoon,” sê sy. Nie almal is dapper genoeg om dié palet in hul huis te gebruik nie, maar Sam maak dit werk deur natuurlike elemente soos rou hout, gevlegte mandjies en matte, asook baie plante, daarmee te kombineer.

“Plante is my sieleheil, my kalmte en my geluk,” sê Sam. “Dit bring elke dag soveel vreugde in my lewe.” Daarom sit sy ook tekstuurryke blare uit die tuin in vase; dit versag die monochroom palet en skep terselfdertyd ’n tropiese atmosfeer wat goed werk in die huis.

Ons is dol hieroor!
Sam hou van ongewone kombinasies; hier het sy drie verskillende hanglampe gebruik. “Al drie was vir my mooi!” sê sy.

Rek jou rande Om die hele melamienkombuis te spuitverf en die kashandvatsels te vervang was die perfekte kitsoplossing tot tyd en wyl die paartjie se begroting ’n algehele opknap toelaat. Selfs die groot, vierkantige teëls teen die muur het ’n laag verf gekry.

Swart en wit saam kan skel lyk, so dis belangrik om warmte en lewe in te bring. – Sam

Sam se wenke vir swart in jou dekor

  • Doen dit net! Wees dapper: Swart is net ’n kleur en as jy nie daarvan hou nie, kan jy dit altyd weer toeverf.
  • Swart is ’n ongelooflike agtergrond vir plante, kuns en enigiets anders wat jy wil uitstal.
  • Dit verleen diepte en karakter aan ’n ruimte, maar sal nie werk as die vertrek nie genoeg natuurlike lig kry of baie klein is nie.

Sam se geliefde versameling orgideë is baie gelukkig op die ingeboude rak agter die bad. Die buitestort is teen die muur oorkant die bad.

Teëls van Union Tiles

Ek is versot op die natuurlike lig en daar is selfs apies en voëls in die bome wat my dophou wanneer ek soggens stort! – Sam
Ons is dol hieroor!
Spieëlkassies is aan pale gemonteer om die natuurlike lig en die uitsig op die buite-badkamer ten beste te benut.

Rek jou rande Die ingeboude wasbakkaste herinner Sam aan vakansies in Griekeland – die bonus is dat dit ook die goedkoopste opsie was!

In die badkamer

Ná ’n onlangse vakansie in Marokko was Sam vasbeslote om een van haar badkamers in die styl van dié eksotiese Noord-Afrika-land te versier. “Hul ongelooflike gebruik van gekleurde teëls het my asem weggeslaan. Die lyne in ons gesinsbadkamer het dit ’n interessante ruimte gemaak om mee te werk, en ek moes soek vir ’n bad wat sou inpas. Maar op die ou end het alles perfek uitgewerk. Ek is dol oor die vloere; dit neem my dadelik terug na daardie vakansie. En die plante wat buite die venster groei, laat dit voel asof jy in ’n woud is.”

Sam se eie badkamer is ook deur ’n oorsese vakansie geïnspireer. Toe sy jare gelede by haar tante in Australië gaan kuier het, het sy die bad buite in die tuin geweldig geniet. “Ek moes eenvoudig die droom van ’n bad onder die sterre ’n werklikheid maak,” sê Sam, wat ’n buitebadkamer by die hoofslaapkamer se en suite gevoeg het. “Gelukkig raak Umhlanga nie sommer koud nie, daarom werk dit ook in die winter. Ek wou die gevoel skep dat jy in ’n tropiese tuin bad.”

Die vloerteëls in die gesinsbadkamer, wat gaste ook gebruik, is van Moroccan Warehouse in Kaapstad. Sam sê sy het die plaaslike teëlaar wat die werk gedoen het, met valkoë dopgehou!

Hanglampe van Weylandts


Ons is dol hieroor!
Sam het haar hart verloor op dié pragtige skerm by ’n winkel in Botha’s Hill en het besluit om dit as kopstuk in te span.


Die hoofslaapkamer kyk uit op die swembad. Dit het ’n tropiese tema omdat Craig en Sam albei lief is vir die strand en kalm ruimtes.

Omdat ons so naby die strand is, het die huis heeljaar ’n vakansie-atmosfeer. – Sam

Max se kamer is ’n tipiese seunskamer, maar skakel steeds in by die swart-en-wit skema. Sam het die laaikas by haar ma gekry en dit ’n nuwe swart baadjie gegee. Die stapelbeddens in haar en Max se kamer is pasgemaak deur die timmerman Ezra Kinloch – dis ekstrahoog om ’n knus slaapplek te bied met genoeg beweegruimte daaronder.

In pas met die res van die huis is die gastekamer met sy skoon lyne ook getooi in swart en wit.

Die pienk bed in Indiana se kamer was ’n tweedehandse vonds.  

Elle se kamer was ’n uitdaging om te versier omdat sy gereeld die voorkoms en kleure verander. Op die oomblik is turkoois haar gunsteling en dit kikker die swart en wit mooi op. Die dubbelbed is later bygevoeg omdat Elle meer slaapplek vir maats wou hê!

VERSKAFFERS EN KONTAKTE

Builders 0860 284 533

Couch Interiors 031 312 5999

Ezra Kinloch 084 842 8204

Moroccan Warehouse 021 461 8318

Peter JA Stuart 011 786 2323

Rembrandt Spray Painters 031 766 3065

Union Tiles 011 663 2000

Weylandts 0860 103 400