Foto’s Francois Oberholster • Stilering Marian van Wyk

Wie woon hier? Lisa Peters en Ben Coster
WAAR Oranjezicht, Kaapstad
GROOTTE 210 m2

Met die eerste oogopslag lyk dié Victoriaanse dame waar Lisa Peters en haar man, Ben, woon, na net nog ’n tipiese Kaapse erfenishuis. Die buitekant van die 115 jaar oue gebou met sy wit deurrame en netjiese grys mure kom immers heel voorspelbaar voor.

Tot jy die pienk voordeur sien. Dan besef jy dié Oranjezicht-woning is allesbehalwe gewoon. “Ek is dol oor die kontras – soos wit deure met iets ongewoons daaragter,” sê Lisa met ’n glimlag.

Die fasade het ’n tradisioneel Victoriaanse voorkoms, terwyl die binnehof agter meer moderne, industriële elemente soos die staalraamdeure het. Binne is daar ’n verrassing om elke hoek en draai!

Sy het die eiendom vier jaar gelede gekoop, al was sy aanvanklik nie opgewonde daaroor nie. Lisa het ’n paar eende en ’n lappie grond vir tamaties by haar droomhuis voorsien en het gemeen dié werf is hopeloos te klein. “Maar my vertroude eiendomsagent, wat my toe al omtrent 60 eiendomme gewys het, het my oortuig dis ’n goeie kopie om reg te ruk en weer te verkoop,” verduidelik sy.

“Victoriaanse huise is so solied. In daardie opsig was dit dus perfek – daar was selfs ’n ou Aga-stoof in die kombuis. Maar die gebou is nie goed onderhou nie en die binnekant het dringend aandag gekort.”

Halfpad deur die opknap het Lisa duur plakpapier en teëls begin koop. “Dit was persoonlike keuses en glad nie wat ’n mens doen wanneer jy beplan om weer te verkoop nie!” erken sy en lag.

Sy het toe die huis gehou, en deesdae woon Lisa en Ben, wat so tussen die opknappery deur verlief geraak en getrou het, baie lekker hier en onthaal hulle graag vriende in dié sjarmante ruimte.

Dis in die detail
Die teëls in die voorportaal is nog die oorspronklike. “Quadrata in Dieprivier het my gehelp om twee gekraakte teëls met soortgelykes te vervang,” sê Lisa.

Die gastebadkamer met sy Graham and Brown-flamink-plakpapier – selfs aan die binnekant van die deur – is een van Lisa se gunstelingvertrekke in die huis. Daar het selfs ’n flamink permanent “ingetrek” (tweede foto).
Muurligte van Magpie Art Collective

’n Ryk geskiedenis

Nadat Lisa besluit het om die huis te koop, het sy by Cape Town Property Histories in Woodstock aangeklop om dit na te vors en ’n brosjure oor sy geskiedenis saam te stel. Sy is die 14de eienaar; die huis het aanvanklik deel uitgemaak van die Oranjezicht-landgoed wat in 1901 onderverdeel is.

Oor die jare het die onderskeie eienaars heelparty veranderinge aangebring – sommige beter as ander. Lisa, wat al opknapprojekte in verskeie lande voltooi het, het dié een aangepak met die hulp van wat sy ’n “bontspul karakters” noem.

“Ons het klam pleister afgekap, vier vertrekke oorgepleister, skreeulelike matte uitgeruk en die ou Oregondennehoutvloere afgeskuur. In die kombuis het ons ’n sementvloer gelê en geteël, die kombuis en sitkamer omskep in een oopplanruimte en nog ’n badkamer aangebou sodat die drie slaapkamers elkeen sy eie en suite het,” verduidelik sy.

Lisa het die projek aangepak met die grootste respek vir die oorspronklike styl van die huis. Maar moenie dink dit het haar gekeer om haar persoonlike stempel daarop af te druk nie!

Die kandelaber bo die eetkamertafel is pasgemaak van herwinde materiaal deur Magpie Art Collective op Barrydale – dis ’n wonderlike weerspieëling van Lisa se opgewekte persoonlikheid.

Plakpapier gee ’n dimensie wat verf en verftegnieke nie kan doen nie. Dit het oombliklike trefkrag. – Lisa

’n Nuwe vloer is in die kombuis gelê met ’n omranding wat Lisa uit Frankryk laat invoer het. “Dit was elke sent werd,” sê sy. Die Aga-stoof in die herd was deel van die koop. Lisa vertel: “Ek het die mure rondom oorgeteël en my handige man het die stoof weer aan die werk gekry! Ons stadiggeroosterde knoffel en rissies is altyd ’n treffer.”

Dis in die detail
Swart metro-teëls dien as spatpaneel en skakel in by die fokusmuur wat diepte en naatlose vloei tussen binne en buite skep.

Tonne pret!

Wat dekor betref, glo Lisa dis nie nodig om by een styl te hou nie. Elkeen van die drie slaapkamers het ’n unieke, speelse tema: Deadly Sinful, Dog House en Boudoir.

As kinesioloog sê Lisa sy is fyn ingestel op energie. “Daarom moes die plakpapier, verf en dekor by die luim van elke vertrek en sy besonderse eienskappe inskakel,” verduidelik sy. “Die kombuis het byvoorbeeld ’n treffende bloupers fokusmuur wat dramaties kontrasteer met die geilgroen tuimelende vertikale tuin wat ’n mens deur die vensters sien.

“In die eetkamer wou ek ’n weelderige atmosfeer skep, toe verf ek dit met Plascon se Rafter; só ‘verdwyn’ die ou ingeboude kaste as’t ware in die muur.”

Lisa onthaal graag en haar dekor is altyd ’n onderwerp. “Ek is dol daaroor wanneer gaste vra waar ek iets gekry het, hoe ek iets gekies het en wat my besiel het om sekere elemente te gebruik.”

Lisa bring graag detail in lae in en voeg dikwels ’n verrassingselement of twee by – die rooi hartjies in die bedkap in Boudoir, die hondjie-hake agter die deur in Dog House of die voëls in Deadly Sinful se alkoof. Daar is telkens iets wat jou aandag trek en nader lok.

1. en 2. Die handgemaakte geelhout-hemelbed in die hoofslaapkamer staan in die middel van die vertrek – pleks van teen ’n muur – ter wille van die beste uitsig op Tafelberg. Ben het daarop aangedring om die deure en rame dieselfde donkerpers as die mure te verf sodat dit “verdwyn” en jou fokus op die berg bly.
Hackney Empire-plakpapier van The House of Hackney

3. Elkeen van die drie slaapkamers het sy eie dekortema: ’n naam-plaatjie teen elke deur berei jou voor op wat binne wag.

Ek is mal daaroor as my vriende sê hulle sou dit nooit self so gedoen het nie, maar hulle sou die huis net so koop en niks verander nie! – Lisa

Die piesangblaar-plakpapier in die hoofslaapkamer se en suite bewys dat groot ontwerpe ook in klein ruimtes kan werk. Die ontwerp is geïnspireer deur die bekende Martinique-plakpapier in die ikoniese Beverley Hills Hotel, wat Lisa ’n paar jaar gelede tydens ’n vakansie gesien het; sy het dié in ’n ysterwarewinkel in Parys raakgeloop. Swart vloerteëls skep ’n tikkie weelde.

Boudoir front noord, wat dié kamer lig en lugtig maak. Dis al vertrek waar Lisa ’n pastel kleurpalet gebruik het om die klassieke argitektuur te komplementeer. Maar sy kon nie ’n paar spatsels pienk in die badkamer weerstaan nie!

1. Die swart pootjiesbad en die dubbelwasbak-eenheid in Boudoir se en suite was daar toe Lisa die huis gekoop het. 2. Gaste verkyk hulle altyd aan dié muur in die Dog House se en suit.
Albany Imagination se Pugs Life-plakpapier van wallpaperdirect.com

Lisa se dekorwenke
  • Klee jou huis in met trots; dis een van die belangrikste maniere waarop jy jou persoonlikheid kan uitbeeld en mense kan verstaan wie jy regtig is. Omarm dit, koester dit, skep dit!
  • Wanneer jy iets sien waarvan jy hou, koop dit! As jy dit nie kan bekostig nie, maak ’n nota van die vervaardiger se naam sodat jy kan teruggaan wanneer jou geldsake beter lyk.
  • Dis belangrik om jou te omring met kleure en voorwerpe wat jou gelukkig, opgewek, verfris en entoesiasties laat voel. Hoe klein dit ook al is, as dit met jou praat, span dit in!
  • Soek raad by die kenners. Verfvervaardigers het byvoorbeeld konsultante wat na jou huis sal kom en gratis verfstrategieë sal uitwerk (ek het Plascon en Midas gebruik). Hoekom self deur kleurkaarte soek en 50 toetspotjies koop as iemand jou kan raad gee oor die perfekte kleur – en nog belangriker, die regte skakering?

1. ’n Vorige eienaar het die kontemporêre swart staalrame laat installeer. Die handgemaakte teëls in die Mediterreense styl in die binnehof skakel goed in by die kombuisteëls daarbinne. Plante soos ’n hisbiskus in ’n pot, Nieu-Seelandse boomvarings en olifantsore gee ’n tropiese gevoel langs die swembad.
Stoele van Chair Crazy; teëls van Union Tiles

2. Bignonia en klimop skep ’n geil lewende muur.

1. Die swaai het voorheen bo die eiland in die kombuis gehang as potterak. Lisa het dit onderstebo gedraai, geverf en opgehang. “Ek het spons by The Fabric House gekoop en laat oortrek met bedrukte Ikea-lap wat ek in Australië raakgeloop het.”

2. Die “Gevalle Engel”-stoel was ’n geskenk van die kunstenaar Barry Armitage toe hulle ingetrek het – hy kon aan niemand anders dink in wie se huis dit meer gepas sou wees nie. Die beeldhouwerk van die rooi vrou het al menige besoeker laat glimlag.

KONTAK EN VERSKAFFERS