Foto’s Francois Oberholster

WIE WOON HIER? David Bolton en Gorgina Franks
WAAR Kaapstad
GROOTTE 300 m²

Wanneer jy by die voordeur van David Bolton en Gorgina Franks se huis instap, nooi ’n hemelsblou voorportaal jou in om verder te verken – binne bied ’n reënboog kleure ’n fees vir die oë ...

Buite-om is die huis net so kleurvol soos binne: pers, rooi en oranje komplementeer die vars blou en groen op die stoep (bo).

Hoekom moet die buitekant van jou huis vervelig wees? Waag ‘n kans en vergeet so ’n bietje van die reëls! – Gorgina

Al is David en Gorgina albei in Engeland gebore, woon die paartjie al lank genoeg in die Moederstad om soos boorlinge te voel. Hulle leef hul liefde vir Kaapstad uit in Gorgina se onderneming, Stuff from Africa, wat skryfbehoeftes ontwerp en skep, maar ook in hul indrukwekkende versameling plaaslike kunswerke en kleurkeuses wat herinner aan die treffende kleure van die Bo-Kaap.

“Ek het geen idee waar my liefde vir kleur vandaan kom nie, maar dit laat my altyd opgewek en gelukkig voel,” sê Gorgina. Hoewel sy waardering het vir ’n meer neutrale palet, voel sy gemakliker tussen ’n verskeidenheid verkwikkende skakerings – trouens, hoe meer kleur, hoe meer vreugde!

“Ons mure is almal in helder kleure geverf,” verduidelik sy. Ondanks die mengelmoes van kleur, werk dit alles saam om ’n gebalanseerde ruimte te skep. “Ons noem ons dekorstyl ‘kleur-malligheid!’ ” sê Gorgina en lag. Sy erken daar was al ’n paar misstappe langs die pad, maar niks sal haar keer om verfwinkel toe te jaag wanneer die kleur-inspirasie haar pak nie! “Dis iets wat ’n mens in jou binneste voel ...”

1. Die kleurvolle kapstok in die blou portaal is ’n vintage-kopie van jare gelede. 2. In die eetkamer staan ’n pragtig opgeknapte tafel wat die paartjie op ’n veiling gekoop het. Gorgina het die blad blou laat spuitverf en die onderkant pienk.

Kiekies vol kleur

1. Dié muur in die kleiner sitkamer is pers, Gorgina se gunstelingkleur, en huisves haar gunsteling-skildery deur Philip Barlow.
Leunstoel van Weylandts

2. ’n Groot kunswerk deur Paul Senyol bo die rusbank, ’n Paul Latimer-illustrasie in ’n perskekleurige raam en keramiekwerk deur Frank van Reenen word met trots uitgestal in die formele sitkamer. 
Bank oorgetrek met lap van Designers Guild; blomkuns bo kassie deur Zenzulu

3. ’n Bloedrooi kaggel komplementeer die titsels blou, oranje en groen in die formele sitkamer.
Finn Juhl-leunstoel van Vamp

4. Die kombuis is dalk klein, maar dit het tonne trefkrag met genoeg bêrespasie om alles netjies te hou. Al verandering wat hulle gemaak het toe hulle 14 jaar gelede hier intrek, was om die kaste ligblou en -pienk te laat verf en die lemmetjiegroen teël-spatpaneel by te voeg. Die vertrek word geanker deur swart granietblaaie en ’n swart Smeg-yskas.

5. Dié geel fokusmuur in die kleiner sitkamer kontrasteer pragtig met die ander mure, wat in skakerings van pers geverf is. ’n Skildery deur David Kuijers rond die prentjie af.

6. David en Gorgina span uit in die sitkamer; ’n skildery deur Gavin Rain neem ereplek in teen die muur agter die rusbank. “Ons huis het ’n oopplan-ontwerp, maar dis nie te groot nie en het vriendelike sjarme,” sê Gorgina.

7. ’n Skildery deur Cathy Layzell staan uit teen dié helderoranje muur. Die tradisionele bankie daaronder is met perskepienk glans-spuitverf bygedam.

1. Die treffende geel en blou patrone op die nestafels tel die kleure in die klein sitkamer pragtig op. Umuntu-nestafels van Corner; mat van Hertex 2. ’n Rooi Cassina-leerstoel is ’n kunswerk op sigself. Die kas daaragter stal skeppings deur plaaslike kunstenaars uit. Kas van Vamp

Gorgina se wenke
  • Selfs net ’n bietjie kleur kan baie trefkrag gee. Kikker gerus jou huis op deur net een muur in elke vertrek in ’n ander kleur te verf.
  • Wanneer jy op ’n kleur moet besluit, identifiseer ’n voorwerp of kunswerk in die vertrek wat mooi aksente het en gebruik die dominante skakering om die toon vir jou palet te bepaal.
  • Geniet die proses! As iets nie werk nie, verf jy dit net weer toe.

Dit sou te duur gewees het om die ingeboude kas in die hoofslaapkamer te vervang, toe laat hulle liewer die naaswit kasdeure spuitverf.

VERSKAFFERS EN KONTAKTE