Wie kuier hier? Rikus en Eunice Swanepoel en hul drie seuns, Limrik (16), Rein (13) en Markus (7)
WAAR: Buffelsbaai, Tuinroete

Wanneer die skoolklok lui vir die vakansie klim die Swanepoel-gesin op die eerste vlug Buffelsbaai toe. En sodra hulle inklok by Houwater – hul strandhuis se naam, want “’n Swanepoel van Houwater skrik nie vir kouwater!” – is die dolle gejaag van Pretoria sommer gou-gou vergete.

Hier vang Limrik vis van die môre tot die aand en sorg gereeld vir vars seekos oor die kole. Rein swem, snorkel, ry branderplank en lyfplank. En met ’n bal onder die arm vind Markus altyd maats by die klimraam in die woonwapark.

Vir pa Rikus en ma Eunice is dit baie spesiaal om veral Kersfees en Paasnaweek saam met familie hier vakansie te hou. “Met drie seuns en ’n paar maats op die strand word daar spontaan ’n krieket-, rugby-, vlugbal- of sokkerspan gemaak!” lag Eunice. Rikus geniet dit om die gesin met sy kookvernuf te bederf en omdat daar nie ’n televisie in die huis is nie, kuier hulle meestal om bordspeletjies en kaarte.

“Ek self lees ure om op die stoep en koel af in die rotspoele voor die huis. Ons maak ook graag musiek om ’n vuur.”

Die Swanepoels het die strandhuis in 2013 op ’n veiling gekoop. Hulle skat die huis is tussen ongeveer 1950 en 1960 gebou en die oorspronklike gedeelte van die huis – die boonste vlak – bestaan uit ’n kombuis, badkamer, drie slaapkamers en ’n leefkamer met ’n sit- en eetgedeelte. Die vorige eienaars het ’n woonstel onder die huis aangebou wat bestaan uit twee slaapkamers, ’n badkamer en ’n leefvertrek met ’n kombuis-hoekie. Dié nuwe aanbouing se dak vorm ’n lieflike ruim stoep vir die boonste vlak; hier is ’n gesellige, beskutte braaiplek met ’n lieflike uitsig oor die see.

1. Die mure buite-om die huis is met Nutec-planke beklee, wat aan dié ouerige huis ’n kontemporêre voorkoms gee. Muur geverf in Light Sage van Plascon. 2. Die voorkant van die huis, aan die straat se kant, het ’n oulike dekstoepie gekry "want hier kan kinders nog in ide straat speel!" sê Eunice, wat hier saam met haar ma, Cory Minny, die seuns se manewales gadeslaan. 3. Lekker op die rotse!

Buffelsbaai se ongerepte natuurskoon, lieflike, veilige strand, rotse vir visvang, en staproetes maak dit die ideale vakansieplek. – Eunice


Die houtvloere op die boonste vlak, soos hier by die voordeur, is net so behou. Die mure se seesandkleur is Soap Bubble van Plascon. “Dit is een van my gunsteling-verfkleure vir binneruimtes,” vertel Eunice, ’n binneontwerper. “Dis ’n baie veelsydige gryserige skakering met ’n warm ondertoon.” Eunice is ’n groot voorstander van hake – hoog en laag sodat oud én jonk kan bykom! Hier hoef niks rond te lê nie.

Die mooiste kuns kom aangedra uit die natuur ... ’n uitgespoelde wonder uit die see, ’n geheim opgesluit in ’n stuk dryfhout of ’n rangskikking van gladde spierwit spoelklippe. – Eunice

1. Die vintage-stoele in verskillende kleure het saam met die huis gekom, maar die Swanepoels moes die lieflike kas heelpad van anderkant die berg uit Prins Albert aanry! Eunice is mal oor outentieke vintage-stukke en is bly dat alles so mooi bymekaarkom hier. Skandinawiese tafel van MRP Home. 2. Eunice het agt dekstoele laat maak en in die kleur Lemon Essence van Plascon geverf. “Met die uitsig van hier af voel dit kompleet asof jy op ’n seevaart is,” sê sy. Geel stoele van Pike’s Enterprises. 3. Op die rakkies is kershouers van hout, emaljeware, porseleinhouers met speelkaarte en skryfbehoeftes gerieflik byderhand, asook potjies, bakkies en blompotjies. Staanlamp van African Affair. 4. Die Aalwyn-en-fynbostuin is uitgelê met die hulp van die landskapargitek Maude Guthrie. Houttrap gebou deur Knysna Timber Homes.

Dekor

By Eunice se strandhuis kry ’n mens beslis nie die indruk dat ’n klomp ou meubels hier afgelaai is nie. “Dis vir my belangrik dat die huis kindervriendelik, gemaklik en huislik moet wees,” sê Eunice. “Tweedehandswinkeltjies in die omgewing is ’n skatkis! Met ’n bietjie verbeelding en kreatiwiteit asook ’n praktiese ingesteldheid kan jy wondere verrig met optelgoed.”

Die meeste van die meubels is by die vorige eienaars oorgeneem; Eunice het dit net geverf en herstoffeer. “Ek wou graag die sewentigsgevoel behou, maar dit ’n vars baadjie gee. Ek het die bal-en-klou-sitkamerstel se los kussings in geel viniel oorgetrek sodat klam swembroeke nie ’n probleem sal wees nie,” vertel sy. Wit beddegoed, helderkleurige los dekens en handdoeke, meestal Country Road van Woolworths, gee ’n moderne aanslag aan die meubels.

Geel is duidelik die gewildste kleur in dié strandhuis. “Ek hou van geel, want dit is vrolik en beur jou op,” vertel Eunice. “Ek gebruik geel graag saam met blougroen en spierwit in kombinasie met dryfhout vir ’n natuurlike voorkoms. Wit bied altyd ’n element van varsheid. Dié kleurkombinasie is geïnspireer deur die son, sand en see met sy skuimwit branders.”

As dit by ornamente kom, glo Eunice in ’n kombinasie van oud en nuut. “Antieke goed soos geel Luna-porseleinbreekware is iets wat ek graag uitsnuffel op markte en saam met glas, hout, piouter en wit emalje uitstal.

“Ek gebruik ook graag die kinders se skeppings soos ’n beeldhouwerk van ’n vis of ’n kunswerk van skulp in my dekor.

1. Die beskutte braaistoep bo is ’n gunsteling-bymekaarkomplek. 2. Geel en akwa werk goed in die kinderkamers. 3. Bo elke seun se bed hang ’n kunssinnige foto wat elkeen se persoonlikheid weerspieël. Handdoeke en dekens van Country Road; die geel verf is Lemon Essence van Plascon.  4. Die hoofslaapkamer spog met ’n kontemporêre hemelbed met geel aksente en ’n foto van Eunice en Rikus bo die bed. Veiligheidshortjies is regdeur die huis aangebring. Luike van American Shutters.

Eunice se wenke

  • Hake, hake en nogmaals hake! Ek is mal daaroor en bring dit ook laag teen mure en aan die binnekant van kasdeure aan. My seuns het van kleuterdae af hul goedjies met trots opgehang. Alles van handdoeke, klere, hoede en strandsakke tot verkykers, kameras, nette en braaitange kan opgehang word sodat ’n plek netjies – én mooi – kan lyk.
  • Dink aan veeldoelige gebruike as dit by meubels kom – ’n ou kis dien nie net as koffietafel nie, maar ook as pakplek vir Kersversierings.
  • Daar’s niks soos ’n lagie verf nie!
  • ’n Warm buitestort en toegang tot die huis deur ’n stoorkamer of motorhuis beperk sand en die klomp losgoed wat saamgepiekel word.
  • Hou maar altyd die beginsels van goeie ontwerp soos balans, proporsie, harmonie, ritme en aksent in gedagte wanneer dit kom by kleur, lyn, vorm en tekstuur.
  • Belê in duursame afwerkings van goeie gehalte, want humiditeit en roes is ’n werklike probleem by die see.
VERSKAFFERS EN KONTAKTE
  • African Affair 044 343 1008, africanaffair.net
  • American Shutters 087 238 2123, americanshutters.co.za
  • Knysna Timber Homes 044 382 5085, knysnatimberhomes.co.za
  • MRP Home 0800 212 535, mrphome.com
  • Louann Waters 072 343 7217
  • Maude Guthrie 082 334 0111
  • Pike’s Enterprises 072 514 7484