Foto’s Francois Oberholster

WIE KUIER HIER?

Johan en Anette du Preez

WAAR ’n Plaas anderkant die Sederberge, sowat vyf uur se ry van Kaapstad

GROOTTE ± 100 m²

Die kuierkol aan die noordekant is waar die Du Preezs se dag gewoonlik met iets op die kole eindig, van tjops en braaibroodjies tot skaapstertjies vir ’n bederf. In die warmste maande span hulle ’n seil as afdak oor die buitetafel.

Hout wat voorheen die sandvloer onder die oorspronklike afdak afgebaken het, is vir die dakbalke gebruik. Maar omdat elke tweede balk van nuwe hout is, het Anette alles afgewit. Die ou groen kas was voorheen hul kombuiskas en die leertassie Anette se eerste handsak.

Werkbanke van Timbercity; wasbak van Seconds Building Materials; rakstutte van Handles Inc.; tafel van Builders

’n Vakansiehuis op ’n afgeleë plek met ongerepte natuurskoon, oorverdowende stilte, en geen selfoonontvangs of elektrisiteit nie – dis wat Johan en Anette du Preez in hul visier gehad het toe hulle ’n wegbreekplek begin soek het. Die perfekte stukkie grond het in die Gifberg, noord van die Sederberge, op hulle gewag.

Maar hier is die paaie woes, en die een bouer ná die ander het hul projek van die hand gewys as “onmoontlik” omdat die bou- perseel net met ’n vierwielaangedrewe voertuig bereik kan word. Tog, ses jaar later, staan dié twee natuurliefhebbers se huis uiteindelik hier onder ’n berghang. As jy eers anderkant Klawer van die N7 afklim, is dit nog ’n uur se skud in laestrek.

Johan, ’n professor in elektroniese ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch, moes die Tuis-span met sy bakkie op Klawer kom haal. Nes jy wonder hoe hulle dan met die boumateriaal gemaak het, beduie Johan na ’n aftrekplek by ’n driffie, waar alles op ’n trekker en sleepwa oorgelaai moes word vir die laaste skof.

Johan en twee vriende het in 2014 ’n 50%-belang in dié werkende rooibosplaas van 2 700 ha gekoop. Waar hy en Anette hul huis wou bou, was net ’n basiese struktuur met ’n sandvloer, ’n bakkrans as mure, ’n afdak op behandelde pale en drie vertrekke (sien foto’s onder).

Die terrein was perfek om iets meer permanents op te rig, maar die “bosdier” in Johan wou eers al die seisoene en weersomstandighede beleef. “Ons het die eerste twee jaar om en onder die ou struktuur gekamp,” vertel hy. Eers toe kon hulle hul naweekhuis begin beplan.

Die kombuis is die afgelope jaar met losstaande werkbanke ingerig weens die koste van ingeboude kaste en hul afgeleë ligging. Die oop rakke is herwonne Oregondennehoutbalke. Anette het die tafel ge-anguish, soos Johan haar vintage-verftegnieke noem. Die buighoutstoele is erfstukke van haar oorlede pa.

Die antieke Spong London No. 2-koffiemeul, ’n geskenk van Anette se broer, Tino Smith, word elke dag gebruik.

Die beplanning

Terwyl hulle saans sit en kyk het hoe hul kampvuur se vlamme teen die bakkrans weerkaats, het Johan en Anette se drome van ’n naweekhuis begin vorm aanneem. Vir die Du Preezs was een ding ononderhandelbaar: Hulle wou nie die omgewing versteur deur die bestaande voetspoor te vergroot nie. Wat hulle ook al sou bou, moes in die bestaande struktuur se ruimte pas.

Net sowat 5% van die plaas is onder rooibos. Die res is ’n kritieke biodiversiteitsterrein en onversteur, iets wat die Du Preezs net so wou hou. Voordat hulle daaraan sou dink om ’n baksteen neer te sit, het hulle die Departement van Natuurbewaring geraadpleeg. “Hulle het spesiaal kom kyk, en was tevrede dat ons op die bestaande, reeds versteurde terrein kan bou,” vertel Anette.

Hierna het veral Anette, wat haar eie kommunikasiefirma bestuur, haar verdiep in navorsing oor allerlei omgewingsvriendelike en passiewe boumetodes (sien oorkant). Vroeg in 2016 was hulle slaggereed met hul nuwe kennis en planne waarmee hul vriendin en argitektekenaar, Irene le Roux, hand bygesit het. Maar dis hier waar die een bouer ná die ander koue voete gekry het. Totdat “Oom Daantjie van Vredendal” op die toneel verskyn het …

Dit was by ene Blikkies van die Vredendal Boumark dat Anette van oom Daantjie – sy volle naam is Danie Sloet – gehoor het. “Hy het glo nog nooit geskrik vir ’n uitdaging nie,” vertel Anette. “Hy was die enigste bouer wat kans gesien het vir ’n projek sonder elektrisiteit. Boonop sou hy en sy span onder ’n ander bakkrans naby ons huis moes kamp.”

Danie se arendsoë en versameling riempiestoele gedurende die bouery sal sy nooit vergeet nie. Waar hulle hulle letterlik in rotse vasgeloop het en van Irene se planne moes afwyk, kon hy voorstelle maak. “Danie het so van riempiestoeltjie na riempiestoeltjie deur die vertrekke geroteer, terwyl hy die werk met arendsoë ondersoek het. ’n Mens kon sommer sien hoe die bouspan asem ophou, onseker of hy gaan afhaak met ‘breek af en doen oor’, of aanskuif.”

Die vervoer van die groot skuifdeure vir die leefvertrek was een van die grootste uitdagings, onthou Anette. “Go Green, die verskaffer, het tot op die plaas gekom met die deure – en in die proses so amper-amper hul sleepwa se as gebreek. My broer, Tino, kon dit die laaste ent met sy bakkie sleep danksy ’n ewenaarslot en spesiale bande. Tino was voltyds daar as projekbestuurder. Hy moes elke naweek vir ons wys wat deur die week gedoen is, en dan weer ná die naweek ons wense aan die bouer oordra.”

Die gastekamer, waar Anette en Johan graag in die somer slaap omdat dit die koelste daar is, het ’n mooi uitsig op ’n sandsteenrots reg langs die venster. 

Dis in die detail
Anette het die laaghout in die deure van dié ou kassie, ’n gunsteling wat al jare saam met haar reis, met ogiesdraad vervang.

’n Passiewe boumetode saam met die natuur

Anette het aanvanklik voorgestel dat hulle met sandsakke of strooibale bou, maar hulle het daarteen besluit omdat die klimaat van uiterstes baie onderhoud sou beteken.

Johan se ingenieursvernuf en Anette se navorsing oor passiewe boumetodes – waar jy saam met die natuur werk – het goed te pas gekom om allerlei uitdagings te oorkom. “Besoekers is altyd verstom oor hoe gematig die huis is teenoor wat ook al buite gebeur,” sê Johan. “Belaglik gemaklik,” beaam Anette. Hier is die redes:

Oriëntasie

Die huis staan op ’n berg en is daarom aan uiterstes blootgestel. Die temperatuur kan tot onder vriespunt daal, maar Anette onthou ook die keer toe die kwik vyf dae ná mekaar tot 47°C geklim het. Maar sonder elektrisiteit is lugversorging nie ’n opsie nie.

“Danksy die bakkrans se ligging front ons huis perfek tussen noord en noord-noordoos. Aan die noordekant keer ’n dakoorhang die somerson van die groot vensters af, maar laat in die winter genoeg son in vir heerlike hitte.”

Kruisventilasie

Die huis is grootliks met ’n oop plan ontwerp. Aan die leefvertrek se kant is daar ook ’n opening van sowat 120 cm tussen die hoofslaapkamer se muur en die plafon gelaat. “Dít, tesame met verskeie vensters wat die lug oos-wes deur die huis laat trek, asook ventilasie-vensters bo die skuifdeure, is van die omgewings-vriendelike beginsels wat ons toegepas het vir verkoeling.

’n Venster bo die voordeur verskaf ook lieflike kruisventilasie deur die gang.”

Isolasiemateriaal

Die betonblad van die stoepe is reg rondom die huis deur 5cm breë stroke Isoboard van die vloer binne geskei. Wanneer die stoepe in die somer warm bak, dring dié hitte nie deur na binne nie, en in winter kan die stoepe nie die hitte “gaps” nie; dit bly binne.

Van die spoumure is met Pratliperl gevul vir isolering, en sommige buitemure is met dié brandbestande liggewig-hitte-isolasieproduk gepleister. Die dak is afgewerk met Plascon Nuroof Cool, ’n UV-bestande verf.

Met plafonne van 50 mm-Isoboard styg die kwik selfs op ’n 47°C-dag selde hoër as 24°C binne.

Termiese massa

Beter termiese massa as die rots al langs die huis se suidekant – van die hoofslaapkamer aan die voorkant en reg deur die leefvertrek aan die agterkant – kry jy nie. Op sonnige wintersdae bak die son die sementvloer warm, en snags ontsnap dié hitte nie. In die somer bly die huis koel danksy die dakoorhang, en snags dra ’n bergbries die hitte weg.

* Anette se bronne: susdesign.com/overhang; yourhome.gov.au/passive-design

Smeulkaggel van GC Fires; Anette het die twee gemakstoele se verweerde stoffering gekleur met verdunde Fired Earth-krytverf van Builders in die kleur Raw Earth

Die dak is vasgebout aan dié sandsteen-bakkrans wat reg deur die huis loop. Die Du Preezs moes behoorlik met al 160 kg van die smeulkaggel stoei om dit in die huis te kry. Die twee kiaatvensters is ’n Gumtree-vonds en kom uit die Mount Nelson-hotel, waar dit in die 1950’s tydens ’n opknapprojek vervang is.

Die skuifdeur agter die rusbank is die enigste groot venster aan die westekant, en bied die mooiste uitsig. Johan en Josef, “’n wonderlike Rastafariër sonder wie ons nie sou klaarkom nie”, het die Isoboard-plafon geïnstalleer. Anette het dit ’n houtvoorkoms gegee met ’n verftegniek. Die leermat het ’n paar gate sedert muise die leerrepies gegaps het vir ’n nessie in die hoofslaapkamer. Dié muis-egpaar is in ’n etiese lokval gevang en buite vrygelaat.

Sementvloere afgewerk met Coprox Waterproof Dualcoat in die kleur Oat; skuifdeure van Go Green Design; mat van Builders; leermeubels van ’n Panga Panga-uitverkoping jare gelede

Die hoofslaapkamer is die warmste in die winter danksy die sandsteen-rotsmassa. Anette het op wit linne besluit as ’n ligte kontras met die swaar klip. “Na gelang van die seisoen en lig verander die rots se kleur. As die kerslig daarop speel, verbeel ek my ek is ’n grotbewoner – weliswaar van ’n baie gerieflike grot!”

Pap wiele en ’n hartaanval

Teen April 2016 het ’n heel leefbare huis gestaan, maar nie sonder haakplekke soos verskeie pap wiele, die beskadigde as, ’n afgeskryfde wielvelling, etlike giftige slange en oom Danie se hartaanval nie (hy het gelukkig mooi herstel).

Die Du Preezs verwys graag na hul wegbreekplek as hul “grothuis”. Wanneer jy agter uitstap, is dit asof die huis sy arms wyd uitstrek na die ongelooflike uitsig oor ’n vallei na die westekant.

Ook al die dekor is goed deurdink. “Hierdie besonderse plek het gevra vir ’n spesifieke aanslag en respek vir die konteks – die rots, natuurskoon, en ouwêreldse plaasgevoel,” verduidelik Anette.

Waar hulle nou die uitsig kan geniet terwyl nog ’n nuwe jaar wink, is daar min wat hulle anders sou doen. “Ons het oor die kleinste detail eers mooi nagedink en mekaar se verskillende opsies oorweeg voor ons op iets besluit het,” onthou Johan. “Dit beteken die hele huis is ‘ons’ huis, eerder as net een van ons se ontwerp en smaak.”

En die heel lekkerste van hier kuier? “Om unplugged te wees,” antwoord Johan sonder huiwering. En dan raak Anette poëties oor die winter se goue middaglig: “Terwyl groot dele van die plaas reeds in diep skadu lê, glip die laatmiddagson in, gee die rotsmuur lewe en omvou my in ’n laaste bietjie hitte…”

En dís waaroor die grothuis gaan. Hy koester jou tot jy so rustig is dat jou gedagtes ver draaie loop.

AARDSE Leefwyse

Water, krag en dreinering

Hier is geen elektrisiteit of munisipale dienste soos watervoorsiening en rioolstelsels nie. “Gelukkig is hier altyd ’n bietjie water in die stroompie. Ons het ’n 1 000-liter-reënwatertenk en oorweeg dit om nog een te kry.”

Warm water

Johan en Tino het self ’n goedkoop sonkrag-waterverwarmingstelsel gebou. “Die stelsel is passief; daar is geen pomp nie, net ’n swart pyp van 300 m lank op die dak en ’n 260-liter-tenk. Die water in die pyp word deur die son verhit. Warm water sit uit en beweeg boontoe, na die tenk. Die kouer water onder in die tenk vloei terug na die pyp, en so word die proses herhaal,” verduidelik Johan. “’n Vlotterklep sluit die toevloei af wanneer die tenk vol is. In die somer word die water ontsettend warm, en selfs in die winter het ons op sonskyndae lekker warm water. Vir bewolkte dae is daar ’n gasgeiser.”

Sonkrag, gas en beligting

“Ons het net ’n losstaande 80W-sonpaneel waarmee ons ons kraggereedskap se batterye herlaai; ons koppel ook die klein Engel-yskassie daaraan. Die groter yskas werk met gas. Vir beligting kom ons klaar met sonflesse, gaslampe, kerse en paraffienlampies.”

Dreinering en riool

“Die wasbakke en stort loop bloot buite aan die vallei se kant uit, daarom gebruik ons eko-vriendelike skoonmaakmiddels en toiletware. Die toilette se spoelwater gaan na ’n septiese tenk wat voor die huis onder die grond ingebou is.”

Die binne-badkamer se buitemuur moes oor ’n rots gebou word. Die klippies op die vloer kom uit ’n paar poele naby die huis, en het oor duisende jare uit konglomeraatrotse gespoel, verduidelik Johan. Dit gee ’n goeie voetmassering!

Koperkrane en -stortkop van Brassique; loodgieterswerk deur die nutsman Xander Darvall

Dié windbeskutte kolletjie onder ’n rots aan die voordeur se kant kry in die winter eerste oggendson, en dis waar Anette en Johan graag met koffie sit en kyk hoe die dag breek.

By die sjarmante ou rooi voordeur aangekom, lyk dit soos ’n knus huisie wat al dekades hier staan met sy vensterrame van Birmaanse kiaat. Anette se stensilwerk op die deure se ruite dien as ’n tipe “kantgordyntjie” wat nie kan vuil word nie. “Die oggendson skep die mooiste flikkerpatrone deur die stensilwerk op die glas,” sê Johan. Anette het die vuurput eiehandig gebou van klip uit die omgewing. Hulle braai graag hier as die wind aan die ander kant lastig is.

Voordeur van Builders Mart, geverf met Annie Sloan-krytverf in die kleur Emperor’s Silk; vensters van Seconds Building Materials

Die buitebad is ’n Gumtree-kopie wat Anette, Johan en hul dogters letterlik na sy staanplek gesleep het. Dis ’n baie noodsaaklike afkoelplek in die snikhete somermaande. Johan het groot planne vir ’n “rocket stove” wat in die winter die badwater sal verhit sodat hulle die Melkweg uit ’n warm bad kan bewonder.

In wording ...

Die huis is onder die bestaande struktuur se dak gebou, wat tydelik op stutte moes staan nadat die oorspronklike stutpale verwyder is. Nuwe, groter dakbalke is geïnstalleer. Die openinge tussen die dakplate en die rots is met handgesnyde polikarbonaatplate toegemaak en met Sikalastic 560, ’n membraanverf, verseël.

Om te keer dat die hele koppie se reënwater oor die dak loop, het Johan en twee handlangers sowat 2 ton sand in sandsakke gepak en ’n halfmaanvormige ringmuur op die rotsvlak al langs die dak gebou. Die huis is as’t ware tussen rotse vasgeknyp en bykans onsigbaar van enige uitkykplek af.

Uit die lug ...

VERSKAFFERS

Brassique 021 851 3812

Builders 0860 284 533

Builders Mart Strand 021 853 6243

Danie Sloet (bouer) 061 341 2822

GC Fires 021 851 3187

Go Green Design 021 945 1156

Irene le Roux (argitektekenaar) 083 658 4298

Handles Inc. 021 422 2322

Panga Panga  

Seconds Building Materials 028 313 2372, 076 810 1196

Timbercity 0861 174 273  

Vredendal Boumark 027 213 2671

Xander Darvall (nutsman) 072 260 3941