’n Pasgemaakte hoekbank by die voordeur maak ’n aanloklike hoekie, afgerond deur houtpanele met hake.

Bankie gemaak deur French Style Furniture

Foto’s Francois Oberholster | Produksie Marian van Wyk

WIE WOON HIER?

Lynda Burgess, Nic Real en Declan (18) en Shaelyn (16)

WAAR West Beach, Kaapstad

GROOTTE 300 m²

“Ons wou nog altyd ’n vars, helder kombuis hê,” sê Lynda. “Die inspirasie is ’n Franse plaashuis-gevoel, soos uitgedruk in elemente soos die boogdeurgang met afgewitte bakstene.”

Kombuiskaste deur Johan Jooste; lopermat van Airloom; hanglampe van The Lighting Warehouse

Dis in die detail
 Houtraamdeure in die kombuis en nabygeleë eetarea maak oop op die swembad-area; dis swart geverf vir ’n treffende effek.


Wonderlike herinneringe aan familievieringe tydens die feestyd inspireer Lynda Burgess vandag nog. “Kersfees was vir my altyd so wonderlik met al die liefde, opwinding en afwagting,” vertel sy. “Ek is in my hart nog ’n kind en dit het my nog altyd bygebly. Dis so lekker om Kersfees deur ’n kind se oë te sien en ek maak nog elke Oukersaand ’n wens wanneer ek die eerste ster sien.”

Die Kersboom word gewoonlik vroeg in Desember staangemaak en mooigemaak met versierings wat deur die jare versamel is.

“Ek gebruik graag room en goud saam met ‘sneeuvlokkies’ en titsels rooi hier en daar. Die basis van my Kers-dekor is baie groenigheid saam met wit versiersels. Daarby is takbokke en kouse wat van die kaggel se mantel af hang, ook ’n moet,” sê Lynda. Sy loer graag by amazon.com vir winterige Kers-dekor, by Santa’s Warehouse vir interessante kopies en by Paradiso vir blomme en groenigheid.

’n Kaggelrak van handgekerfde donker hout, wat die paartjie op gumtree.co.za gevind het, het ’n antieke voorkoms gekry met krytverf en was. Lynda het houtskywe teen ’n plank geplak om die “vuurherd” af te rond. Kunsmatige loof en ’n takbok-lig rond die prentjie af.

Takbok-lig van Starke Ayres Garden Centre; kouse van amazon.com; Sixth Floor-matte van superbalist.com

Neutrale kleure en sagte stowwe is saam gebruik vir die “moderne Amerikaanse plaashuis”-voorkoms wat Lynda vir die sitkamer wou hê. “Dis ’n stil plek waar jy kan ontspan of lees, en ons kuier graag hier met gaste oor ’n koppie koffie,” sê Lynda.

Die gemaklike rusbanke het los katoen-oortreksels van Surefit, ingevoer uit die VSA. Lynda het die gordyne van dik katoenvoering gemaak. “Dit het ’n ruk geneem om lap te kry wat goed sou werk. Die gordyne is bo oorgevou en hang aan metaalknippe. Dit was lekker om al die materiaal om te stik; my ma en suster het kom help en ons het ’n dag daarvan gemaak,” sê sy.

Lynda het die groot horlosie langs die dubbeldeur by die kombuis gemaak van ’n houtbord waarop sy ’n wyserplaat gestensil het; dit is met was afgerond vir ’n verouderde voorkoms. Bo-oor het sy kuns-wingerdblare gedrapeer.

Rusbanke van Coricraft

Die TV-kamer skakel in ’n oop plan met die kombuis en eetarea. Hier gebruik Lynda die kaggelrak as uitstalplek. “Ek bring graag groenigheid, hout-teksture en kerse in bonkige blakers in. Ek kontrasteer ook hoër elemente met kleiner dekorstukke,” sê sy.

Mat van superbalist.com; groot strooikussing van Volpes; groen takbok van Super Floral

Die gesin geniet lang Kersetes langs dié tafel wat op die swembad uitkyk.

Kandelaber van Glo Lighting

Nic, Lynda en Shaelyn kuier om die kombuis-eiland.

Eiland gebou deur Johan Jooste; swarthout-blad gemaak deur French Style Furniture; hangligte van Glo Lighting

Sondagkos

Op Kersdag staan Lynda, Nic en die kinders vroeg op om geskenke oop te maak. Daarna beweeg almal kombuis toe en begin met die kosvoorbereiding – op Kersdag eet die gesin Sondagkos, maar met baie meer trimmings!

“Daar is altyd ’n gewoel-en-werskaf in die kombuis, met ligte paniek af en toe voor middagete gereed is,” sê Lynda. “My ma en suster kom eet gewoonlik by ons en verlede jaar het my dogter, Mycaila, haar man en hul babadogter van Skotland gekom om Kersfees saam met ons te wees. Die huis was omtrént bedrywig!

“Ek hou van die manier waarop Kersfees gesinne en vriende bymekaarbring. Ek wil ook sulke spesiale tye en tradisies in ons huis skep, en Kersfees-dekor vorm die perfekte agtergrond!”

Verfkleur
Dulux Grey Steel 1

Spieël van MRP Home; hortjies van gumtree.co.za

’n Broodnodige regruk

Die gesin het in Augustus 2018 by hul huis ingetrek en dadelik opknapplanne begin maak. Hulle het gehou van die huis se grootte en die spits dak met ontblote balke op die tweede verdieping. Die struktuur het ’n plattelandse gevoel, maar hulle wou die outydse Kaaps-Hollandse styl verander ter wille van beter vloei vir lekker kuiers.

“Die sitkamer in ons vorige huis was byvoorbeeld te klein vir groot familiekuiers, en die styl het ook nie vir ons gewerk nie. Dié huis het ’n goeie raamwerk en ons kon die potensiaal sien, al het dit opknapwerk en ’n vars aanslag geverg.”

Nic het ’n ontblote baksteenmuur nageboots deur baksteen-teëls met groot voeë tussenin teen die muur vas te sit; daarna het hy wit voegbry oor die teëls gesmeer en weer rofweg afgevee vir ’n afgewitte voorkoms. Die effek is dieselfde as wat ’n mens dikwels in eeue oue kothuise en kastele in Noord-Duitsland sien.

In dié gastekamer wou Lynda ’n mengsel van plaas- en strandhuis-elemente hê.

Bedraam van Cielo (Lynda het dit swart gespuitverf); kandelaber van Builders; Sixth Floor-mat van superbalist.com

Verfkleure
Dulux Grey Steel 2 en Grey Steel 3


French Style Furniture het die wasbakkas pasgemaak vir die hoofslaapkamer se en suite. Lynda het dit geverf met Rust-Oleum Ultimate Wood Stain in die kleur Sunbleached.

Spieëls van superbalist.com; mat van Leroy Merlin; handdoeke en wasgoedmandjie van MRP Home


Neutrale agtergrond

Lynda was nog altyd passievol oor dekor. “As kind het ek gereeld my slaapkamer oorgedoen,” sê sy. Haar styl het oor die jare verander en dié huis is die eerste een waar sy ’n neutrale tema gekies het. “In ons vorige huis was daar baie blou en groen met net ’n paar neutrale skakerings. Hier wou ons ’n kalm en ontspanne moderne plaashuis skep waar kleur nie té opvallend is nie.”

Om ’n knus en gesellige ruimte te skep het Lynda haar nuut opgeknapte huis ingerig met gemaklike meubels, handgemaakte houtkaste en bonkige houttafels.

“Ek vernuwe graag meubels met verf en daar is ’n hele paar stukke in ons huis wat ek self gemaak of opgeknap het,” sê sy.

“Sagte lap en teksture wat lekker is om aan te vat, val beslis in my smaak. Ek bly sover moontlik weg van stowwe van dierlike oorsprong en ek hou ook nie van kunspels nie. Ek het ’n sagte plekkie vir boheemse patrone met verhewe motiewe, asook macramé. Dit, saam met die groenigheid in die huis, skep die rustige gevoel wat ons van die begin af beplan het.” 

Ons is dol hieroor!

Lynda het ’n motief teen die wit muur gestensil vir tekstuur.

Kershouers wat eers teen ’n ander muur in die badkamer gemonteer was, is swart gespuitverf en aan weerskante van die pootjiesbad teen die muur gemonteer. Die plafon is beklee met IsoBoard.

Hanglampe van Eight Degrees South; mandjies van Basketly; kandelaber van Builders; stensil en Matt Black-krytverf van Tjhoko Paint; afgevlakte vloere deur CreteAge in die kleur Cream

Ek wou ’n badkamer in die tropiese styl hê wat dit laat voel of jy met vakansie is. – Lynda


VERSKAFFERS