Foto’s Elza Cooper

WIE WOON HIER?

Rick en Jessica Roché en hul katte, Pikkewyn en Liefste

WAAR Johannesburg

GROOTTE van huis 343 m², erf 729 m²

’n Vier meter lange houttafel is die fokuspunt van die onthaalstoep wat uit die kombuis oopmaak. Die tafel – groot genoeg vir tot 20 mense – het saam met die huis gekom, want dit was te groot om te trek. Die styl van dié ruimte is aards en modern. “Dit moes voel soos buite, want dis eintlik ons tuin. Daarom was groen aksente belangrik.” Potplante en hangplante gee groenigheid en die gras-lampskerms uit Kosibaai versterk die aardsheid, terwyl die donker mure tog ’n kontemporêre gevoel inbring.

Aan die voet van die Melville-koppies en loopafstand van die Boheemse straatkafeekultuur van hul buurt het Rick en Jessica Roché die afgelope twee jaar nesgeskop. Van buite is hul tweeslaapkamer-skakelhuis kenmerkend van die ou mynhuise van die omgewing – die een ’n patroontjie van die ander. Presies wat hulle nie wou hê nie.

Maar stap jy in is die interieur ’n vertoonkas van twee kleurryke persoonlikhede: Rick is ’n sagteware-ingenieur wat in sy twintigs beter bekend was as Rick Disco die platejoggie; Jessica is ’n filmmaker en kunsregisseur. Albei is ambisieus, kreatief, sosiaal en so effens eksentriek.

“Ons styl is eklekties,” vertel Jessica. “As stilis hou ek van elke nuwe dekorgier, maar ’n mens kan nie elke jaar alles verander nie. Die deurlopende styl is donker, anders as die gewone, met baie kontemporêre kuns en artefakte van ons reise.” 

Die huis is geleë aan die onderkant van ’n helling. Rick en Jessica is besig om die kunsgras in die voortuin te vervang met plante, sodat die klein tuin ’n woudgevoel kan hê.

Die kombuis se karakter is industrieel, met vlekvryestaalwerkbanke op wiele en afgevlakte sementvloere. Die oorspronklike staal-vensterrame is swart geverf en pas perfek by die kontemporêr industriële estetika.

Lig wat deur die wit gordyne stroom, bring balans in die gesellige donkerblou sitkamer. Die oop kaggel (sy klipomranding was reeds swart geverf toe die Roché’s hier gekoop het) werk hard in die winter om die huis warm te hou. Een van Jessica se kosbaarste besittings is die skedel deur die strokiesprentkunstenaar Conrad Botes; die kunswerk regs daarvan was ’n trougeskenk van die kunstenaar Koemi Hillebrand.

Die eetkamer met sy lang tafel wat Jessica se pa, John Young, gemaak het, is ook die kunsgalery in die huis. Teen die mure pryk werke van onder andere Walter Battiss; daar’s ook ’n portret van Jessica en haar vriendinne deur Nanna Venter. Die groot industriële hangligte het saam met die huis gekom en die houtvloere was reeds afgeskuur. Die Roché’s het die Globe-eetkamerstoele by ’n familielid gekry en die retrodrankkabinet (links van die boekrak) vir net R300 by ’n tweedehandswinkel opgeraap.

Ek sê altyd ek koop ’n kunswerk as ’n belegging, maar eintlik weet ek voor my siel ek sal dit nooit verkoop nie. – Jessica

“Die skedelversameling het begin met die idee dat ons almal eenders lyk onder die vel, hare en klere. Ons is eintlik maar almal ’spooky’ geraamtes,” sê Jessica laggend.

“ ’n Skedel is ook die simbool van die Day of The Dead-fees in Mexiko ter ere van gestorwe geliefdes. Die idee dat ons nie vergeet van ons geliefdes ná hul dood nie, maar hulle liewer eer en onthou, is vir my mooi.”

Die botaniese tema maak weer ’n verskyning met ’n blaarmotief in die hoofslaapkamer se gordyne. Gordyne van H&M

Meubels uit die middel van die vorige eeu is kontemporêr afgewit; Sy & Haar-portrette van Kronk gee die vertrek ’n speelse kinkel.

Die Roché’s het nog groot planne vir hul en suite-badkamer, maar intussen is dit kontemporêr in swart en wit.

Jessica het gesê Rick kan die spaarkamer in sy tuiskantoor omskep, mits dit mooi lyk. Kantoormeubels van @home

Jessica se oupa is erg trots daarop dat sy in die rolprentbedryf werk, en dra gereeld ou kameras en filmboeke vir haar aan. Die meeste van die kameras werk nog en sy droom daarvan om eendag ’n rolprent daarmee te skiet. Die plate is Ricky se versameling.

Botaniese plakpapier en ’n trio rooskleurige spieëls in organiese vorms skep ’n vars indruk by die voordeur. Plakpapier van Builders; spieëls van Superbalist

Potplante op ’n interressante rak verwelkom gaste op die voorstoep.

Melville of nêrens

Rick het een vereiste gehad vir huiskoop – dit moes in Melville wees. Gelukkig is Jessica net so dol oor dié voorstad. “Ons het Melville gekies want ons hou van ou huise met Oregon-dennehoutvloere en staalplafonne. Baie van ons vriende woon hier, en daarby is die buurt meer alternatief as die meeste ander voorstede – dis nog ’n bietjie rock en roll,” sê Rick en Jessica laggend. “Eiendom hier is ook nog bekostigbaar.”

Die huis het voorheen aan ’n ander kunsregisseur behoort, daarom het Jessica uit die staanspoor tuis gevoel met die andersoortige styl wat sy hier aangetref het. Die groot onthaalarea onder dak was ook reg in hul kraal – hulle hou van kuier, en hier kan hulle dit doen ongeag die weer. Eers het hulle die pizza-oond en braaiplek op ’n aaneenlopende werkblad gebou, daarna is die hele huis binne en buite in donker kleure met groen en blou ondertone geverf.

Op hul wenslys is nog ’n gastebadkamer, ’n nuwe bad in hul eie badkamer en ’n groot stort – en dan moet die jacuzzi buite ’n plonspoel word. Die kombuis, wat tans toegerus is met losstaande eenhede, wil hulle vervang met betonstrukture en vlekvryestaal-blaaie – alles drome vir eendag.

[DIE BUURT]
Melville, een van die oudste voorstede in Johannesburg, het in 1896 ontstaan – net 10 jaar ná die goudstormloop. Die huis is aan die einde van ’n doodloopstraat en die twee kranige stappers kan vinnig ná werk ’n draai deur die Melville Koppies-natuurreservaat oorkant hul huis stap.