Foto’s Francois Oberholster Stilering Marian van Wyk

WIE WOON HIER?

Hennie en Jacomien de Wet en hul drie spruite, Christiaan (9), Amri (6) en Júha (20 maande)

WAAR Onrusrivier

GROOTTE 285 m²

Die kas met die blou loodglas-panele en die wit bank voor die venster in die ingangsportaal kom van Jacomien se ma. “My pa het die lang buffet onder die spieëls vir Hennie gemaak vir sy 30ste verjaarsdag,” vertel Jacomien. Al die vloere, buiten dié in die slaapkamers, is gepigmenteerde sement – gewone sement gemeng met Earthcote-verf in die kleur Husky. Mat van Hertex; vensters van Botrivier Boeremark

Tydens bouwerk

Sowat vyf jaar gelede het Hennie en Jacomien de Wet van Onrusrivier buite Hermanus met Jacomien se ouers ’n ooreenkoms aangegaan: Hulle sou op eie koste ’n kleinerige huis op ’n afgesnyde hoek van Jacomien se ouers se eiendom bou, met dien verstande dat hulle kan blyplekke ruil wanneer die jong gesin se huisie uit sy nate begin bars.

Vandag woon Hennie, Jacomien en hul drie spruite in die huis waar Jacomien jare gelede saam met haar ouers vakansie gehou het – nou in ’n blinknuwe baadjie.

Hans en Irma Herbst het die huis 16 jaar gelede gekoop. Onrusrivier was aan hulle bekend, want dié Overbergse kusdorpie was 28 jaar lank die Herbste se vakansiebestemming. Destyds het ’n veel kleiner huisie voor teen die see in hul behoeftes voorsien, maar toe die gesin permanent soontoe trek, het hulle meer ruimte gesoek en dié huis op ’n erf van amper 3 000 m² gekies.

Jacomien, wat toe as 24-jarige in Kaapstad gewerk het, was nie baie beïndruk nie. “Vir my was dit ’n lelike huis ver van die see.” Maar vir Hans en Irma was dit nommerpas.  

Tydens bouwerk

“Ons het van die begin af geweet ons wil die stoep deel van die huis maak, maar wou nie die stoep-gevoel prysgee nie,” vertel Jacomien. “Toe bou ons dit toe met groot vensters wat heeltemal kan oopskuif tussen die ou klippilare.” Die bankies by die tafel is gemaak van balke wat jare lank in ’n melkstal gebruik is. Holtes in die sitplekke wys waar die koeie die hout oor jare weggeskaaf het.

Die groot Oregon-dennehoutkas teen die muur het aan Hennie se ouma behoort; die ruitjies is nog van gerolde glas. Toe Hennie die kas in die ou perdestal ontdek, was die bokant geverf en die onderste kas vrot. Terwyl hy die bo-kas skoongeskuur het, het Jacomien se pa en ’n span skrynwerkers vir hulle ’n nuwe onderkas gemaak.

Tydens bouwerk

Die groot Oregon-dennehoutkas teen die muur het aan Hennie se ouma behoort; die ruitjies is nog van gerolde glas. Toe Hennie die kas in die ou perdestal ontdek, was die bokant geverf en die onderste kas vrot. Terwyl hy die bo-kas skoongeskuur het, het Jacomien se pa en ’n span skrynwerkers vir hulle ’n nuwe onderkas gemaak.

Hangligte van Eagle Lighting; eilandblad deur Oelofse Skrynwerke

Ou en nuwe planne

Nadat Hennie en Jacomien in 2008 getroud is, het hulle op die De Wet-familieplaas in die Overberg gaan woon. Die plaas is in 2011 verkoop en die jong gesin – Christiaan was toe 9 maande oud – het ook Onrus toe getrek, waar hulle eers ’n huis gehuur het. Toe kom Jacomien se pa in 2014 met die blink plan vorendag dat die kinders ’n huisie op hul ruim erf bou.

“Die erf was klaar onderverdeel,” verduidelik Jacomien. “Die ooreenkoms was dat ons vir hulle ’n aftreehuisie bou waarin ons eers sou woon totdat dié te beknop word vir ons en die kinders. Met klein Júha se geboorte laat in 2018 was ons gesin amptelik groot genoeg.”

Hoewel Jacomien se ouers destyds, toe hulle hier gekoop het, die huis na hul smaak vernuwe het, was Hennie, ’n bouprojek-bestuurder, en Jacomien, sy kreatiewe regterhand, gereed om hul eie stempel hier af te druk.

“Ek het die ou plan gevat en met ’n liniaal, uitveër en potlood self die planne verander,” vertel Jacomien. Sy en Hennie het koppe bymekaargesit en die ou huis se voetspoor behou, maar ’n ekstra motorhuis en ’n voorportaal met reuse-vensters wat op die berg uitkyk, bygelas.

Aangesien die paartjie helder, oop ruimtes in gedagte gehad het, is heelparty mure uitge-Tipp-Ex. Hulle moes ook ’n plan maak met die lae plafonne wat die huis donker en beknop laat voel het.

“Ons het begin deur die hele dakstruktuur af te haal en die mure hoër te bou; toe het ons die dak weer teruggesit. Só kan ons nou die oop gevoel in al die vertrekke ervaar,” vertel Jacomien. Hulle het ook die onderdakstoep met sy braaikaggel in ’n gesellige sit-eetkamer omskep wat gerieflik met die kombuis skakel.

“Vandag is ons mal oor ons huis. Dit vloei absoluut volgens ons leefstyl. En dis wonderlik dat die tuin altyd deel van die huis voel. Ek kan nie glo ek het destyds gedink dis nie ’n goeie kopie nie...”

/

Erfgoed

Die De Wets se uitgebreide versameling antieke meubels staan trots sy aan sy met meer kontemporêre toevoegings op afgewitte sementvloere.

“Ons huis se styl is moderne Afrika-sjiek met koloniale titsels, maar dis die erfgoed wat altyd die oog vang.” Jacomien vertel hulle hou van donkerhout- en antieke meubels. Hennie se ma het baie van die plaas se oudhede bewaar en vir die paartjie gegee, terwyl haar pa, Hans, self ’n oog vir karaktervolle ou meubels het.

“As klein dogtertjie het ons gereeld van die see af op pad terug Johannesburg toe eers op Graaff-Reinet gestop om nog skatte te gaan uitsnuffel. Die ou Volkswagen Caravelle was dan tot die dak toe gelaai en ons kinders moes styf sit!” vertel sy.

Hans is ’n kranige skrynwerker wat graag met ou hout werk. Die eetkamertafel in die braaivertrek is juis sy handewerk. Hennie vertel: “Die Oregonbalke in die melkstalle op ons familieplaas was al erg beskadig en moes vervang word, maar ek wou dit red en iets spesiaals daarmee maak. Toe spring my skoonpa en sy handlangers in en maak vir ons ’n karaktervolle tafel. Ons het tot die ringe waaraan die koeie altyd met melktyd vasgemaak is, behou.” Jacomien gebruik dié ringe nou as plekaanwyser waar sy vir gaste kan dek.

Toe Irma, Jacomien se ma, in die huis gewoon het, het sy dié eethoekie geskep wat haar herinner aan die Italianers wat so graag in die flieks by ’n lang tafel onder ’n druiweprieel kuier.

Die “stapelbed” in Christiaan se kamer bestaan ook uit erfstukke. “Ek wou eers regte stapelbeddens kry om meer vloerspasie te skep, maar toe bout ons sommer die een bed teen die muur vas,” vertel Jacomien. Muurplakkers van littlelovekids.com Vars idee Eenvoudige houtrame dien as boekrakke bo Christiaan se lessenaar.

’n Stort en antieke Bulgaarse bad onder die boom buite die hoofslaapkamer is baie gerieflik as die gesin eers die seewater en sand wil afspoel wanneer hulle van die strand af kom. Die geelhoutkis by die bed se voetenent kom uit Hennie se ouerhuis. Mat van MRP Home

’n Buitedek wat aan die hoofslaapkamer grens, is die ideale plek om in die somer te ontspan. Jacomien het die dekstoele op ’n dag buite ’n tweedehandswinkel in Hermanus raakgesien en net daar opgelaai.

VERSKAFFERS

Botrivier Boeremark 028 284 9641

Eagle Lighting Hermanus 028 313 0553

H.C. de Wet (projekbestuurder) hcdewet@whalemail.co.za

Hertex 021 914 3390

MRP Home 0800 212 535

Oelofse Skrynwerke 082 574 6991