WIE WOON HIER? Paula en Sandra de Oliveira
WAAR Parkhurst, Johannesburg
GROOTTE 176 m²

Foto’s Elza Cooper | Stilering Amanda van Wyngaardt

Paula de Oliveira het nog altyd ’n oog gehad op die gesellige Johannesburgse buurt Parkhurst met sy kafees, kuns- en dekorwinkels en kleindorpse atmosfeer. Sy wou graag ’n huis hier koop – een waarop sy haar persoonlike stempel kon afdruk. Sy en Sandra, haar suster, het dié drieslaapkamerhuis uit die 1950’s in 2007 raakgeloop, en dit was die perfekte keuse vir hulle, “want daar was omtrent niks reg aan die plek nie”, onthou Paula en lag.

“Ons het van die begin af geweet strukturele veranderinge was onvermydelik om die ruimte oop te maak; al die loodgieterspype en elektriese bedrading moes ook oorgedoen word, en die tuin moes van nuuts af beplant word,” sê Sandra, wat die huis met Paula deel.

Maar die werk wat voorgelê het, het die susters glad nie afgeskrik nie. Hulle was eerder opgewonde oor die kans om vloei van binne na buite te skep. Om dit te bewerkstellig was die installering van Franse dubbeldeure by elke vertrek in die huis bo-aan hul lys.

’n Swierige antieke hek hang in die gang wat van die eetkamer na die kombuis lei; dis nie funksioneel nie, net iets vir die oog. Rooi stoel van Essential Life; swart-en-wit stoel van Classic Bond Décor

’n Boekrak van The Modernist en ’n tradisionele skildery van Maria Magdalena maak ’n pragtige hoekie uit in die sitkamer.

Die oopplan-sit-en-eetkamer is versier met ’n eklektiese mengsel van meubels en bykomstighede. Die Robin Sprong-plakpapier skep ’n treffende fokuspunt in kontras met die neutrale basis. Die geel kas is ’n vonds uit ’n antiekwinkel wat intussen sy deure gesluit het. Leerstoele van Sevens Furniture

Paula en Sandra se dekorwenke
  • Beplan jou huis rondom jou daaglikse aktiwiteite en behoeftes – ons moes voorsiening maak vir ons honde, want hulle is ’n onafskeidelike deel van ons gesin.
  • Versier met stukke wat tot jou hart spreek. En span die mure in as skoon agtergrond wat jou kunswerke ten beste vertoon.
  • Snuffel rond – as jy geduldig is, kan jy goeie kopies losslaan.
  • Hou by jou begroting en moenie oorhaastig raak en in die proses te veel geld bestee nie. Ons opknap het jare geneem, want dis nie ’n wedloop nie en ons begroting is knap.

Met sy palet van liggrys, wit en natuurlike hout is die kombuis knus en gesellig, terwyl die gebruik van vlekvrye staal ’n kontemporêre gevoel verleen. Hanglampe van The Modernist

Ons is dol hieroor!
’n Ronde tafel is by die eiland aangebou, wat die nodigheid vir ’n losstaande kombuistafel uitskakel. Die kombuiskassies is geverf in Dulux Grey Steel 2.

In die kombuis

Paula en Sandra wou ’n warm atmosfeer in die kombuis skep. Hulle het die hulp van Eazyway Kitchens ingeroep om hul idees ’n werklikheid te maak. “Ons mikpunt was ’n eklektiese ontwerp met invloede uit die middel van die vorige eeu; ek het Google ingevaar en dele van verskeie kombuis-uitlegte gekombineer om by ons finale voorkoms uit te kom,” verduidelik Sandra. “Dit was nogal moeilik om dié projek af te handel, want Paula was in Parys vir werk en ons moes foto’s en idees per e-pos bespreek.”

Op die ou end kan hulle nie gelukkiger wees met die resultaat nie. Die ronde tafel teen die eiland, soos Eazyway Kitchens voorgestel het, is ’n wenner omdat die susters nie ’n gewone vierkantige kombuistafel wou hê nie.

Net soos in die res van die huis is twee aluminium-oopswaaideure ingesit om die tuin met die kombuis te verbind. “Die lekkerste van die kombuis is die binne-buite-gevoel – ons kan kos berei, gesels én met die honde speel, als tegelyk,” sê Sandra.

Die ingangsportaal is bekoorlik met ’n treffende staalkabinet en spieël met ’n sierlike houtraam van Weylandts.

Paula het ’n Smeg-yskas en -vrieskas gekies vir ’n spatsel kleur in die andersins neutrale kombuis.

In die oopte

In die eerste paar jaar nadat Paula en Sandra ingetrek het, het hulle die strukturele veranderinge aangepak soos hul begroting toegelaat het. Hulle het onder meer binnemure laat uitbreek en vertrekke geruil ter wille van beter vloei. “Ons het die ou kombuis geskuif na waar een van die slaapkamers was sodat al die slaapkamers in een deel van die huis is,” sê Sandra. “Met die kombuis nou in die ou hoofslaapkamer is die vloei tussen die sitkamer, eetkamer en kombuis soveel beter.”

Buiten die bou- en breekwerk is al die vertrekke gestroop van vaste toebehore en afwerking – ook die badkamer en ou kombuis. Die susters het van die begin af besluit om die palet neutraal te hou, met afgevlakte vloere en wit mure, sodat hulle ’n skoon skilderdoek kon hê om mee te werk.

“Ons is groot hondeliefhebbers en het op die oomblik vier,” sê Sandra. “Daarom werk die afgevlakte vloere so goed – dit maak die onderhoud soveel makliker. Ons het besluit om die mure wit te hou in pas met die helder, oop gevoel wat ons in gedagte gehad het. Ek en Paula is albei lief vir kleur en wou hê die huis moet ’n uitstalplek vir ons kuns wees.”

Swart detail skep warmte in die badkamer met sy helderwit kleurskema, en hangplante bring ’n bietjie lewe in. Krane van Bathroom Bizarre; teëls van Italtil

In Sandra se slaapkamer skakel die Hertex-plakpapier in by waterverfskilderye wat in Europa gekoop is. Dit beeld verskeie historiese geboue aan die Europese kus uit. ’n Riempiestoel dien as bedtafeltjie.

Paula se kamer spog met plakpapier van Hertex met ’n Parys-tema wat geboue, kafees en die Eiffeltoring uitbeeld. Meubels van Weylandts

Oor die dekor

Die susters beskryf hul styl as “eklekties met elemente uit die middel van die vorige eeu” in ’n neutrale palet met helder spatsels kleur. “Die mooimaakproses is eintlik eers so twee jaar gelede voltooi, want ons wou nie daarmee begin voor al die opknapwerk klaar was nie,” verduidelik Sandra. “Ons het gemeen aandag aan dekordetail is wat die meeste kos, en ons wou wag vir presies die regte kunswerke voor ons enigiets koop – en dít het ’n paar jaar geduur!” sê Paula.

Paula reis gereeld Parys of Madrid toe vir werk en wanneer Sandra daar by haar kuier, soek hulle saam na interessante werke. “Tussen ons twee is Paula die ‘kunstenaar’; sy het die slag om kunswerke op die mees ongewone maniere saam te voeg, hoewel Lieb Wessels van Mr Handyman Plus ’n groot rol gespeel het in hoe ons die kunswerke in ons huis uitstal,” sê Sandra.

Al bly die basis neutraal, is plakpapier by van die vertrekke ingebring om fokusmure te skep, soos die Robin Sprong-papier met palmbome in die leefarea. “Ons is dol oor hoe die lewendige kleur die neutrale ruimte opkikker; dit kry ons gaste aan die gesels,” sê Sandra.

’n Staalkabinet van Weylandts en ’n klererak, pasgemaak deur Craft Steel Interiors, is ’n stylvolle alternatief vir ’n gewone hangkas in Paula se slaapkamer.

VERSKAFFERS