Foto’s Francois Oberholster • Stilering Kim Bougaardt

WIE WOON HIER? Trish en Louis Wiese
WAAR Clara Anna Fontein, Durbanville
GROOTTE 289 m²

Toe Trish en Louis Wiese besluit dis tyd om af te skaal en hul groot gesinshuis in Aurora, Durbanville, te verkoop, het hulle skaars 3 km ver na die nuwe Clara Anna Fontein-ontwikkeling verhuis. “Ek het die grootste deel van my lewe in Durbanville gebly en is baie lief vir dié omgewing,” sê Trish. “Ons het wonderlike herinneringe aan ons vorige blyplek, maar sedert ons seuns, Alex en Garth, nie meer in die huis is nie, was dit tyd vir ’n nuwe hoofstuk in ons lewe.”

Clara Anna Fontein het die perfekte ligging: Dis ’n sekuriteitslandgoed wat deel is van ’n natuurreservaat, en ’n veilige, rustige ruimte vir Trish, wat as traumaberader werk. “Dit was vir my belangrik om ’n veilige hawe te hê – en dis presies wat ons hier gevind het. Dis kos vir my siel.”
Stoele van Block & Chisel; kandelaber van Candelabra

Geverfde meubels en dekoratiewe bykomstighede soos ’n sierlike voëlkou en ’n borsbeeld, kunswerke en blomme gee ’n sagtheid aan die kontemporêre portaal. In die eetkamer is ’n fokusmuur tekstuurryk afgewerk met wit sement en wit Philippi-sand. Stoele in die Franse styl pas perfek by die Wieses se ou eetkamertafel.

Danksy ’n daklig in die kombuis is daar altyd lieflike natuurlike lig in hierdie andersins donker deel van die huis.
Kombuis geïnstalleer deur Louis se onderneming, Durbanville Cupboards; kaste geverf met Paris White van Sabre Paints; werkblaaie in Frosty Carrina van Caesarstone

’n Tweede woonvertrek verseker dat daar nog ’n rustige hoekie is waarheen Trish, soms met ’n kliënt, haar toevlug kan neem. Dis skaars 20 m² groot, maar perfek; daar is selfs plek vir ’n lessenaar om by te werk. Trish en Louis het die treffende muurbehangsel op Hermanus gesien en dadelik geweet hoe goed dit hier sou pas.
Koffietafel geverf en gestoffeer deur Plan B Vintage; kandelaber van Candelabra; muurbehangsel van Mitat; gordyne van The Great Indoors

Op die landgoed

Die Wieses het hul vorige huis deur die jare van tyd tot tyd opgeknap. Dié slag wou hulle van nuuts af bou en moes hulle by die ontwikkelaar se streng bouvereistes hou. “Die landgoed is taamlik kontemporêr en al is dit glad nie my styl nie, kon ons dit maak werk,” sê Trish. “My man het gesê ek kan doen net wat my hart begeer binne-in die huis – maar buite moes ek die argitek met rus laat dat hy sy werk kan doen!”

In pas met die res van die landgoed moes die huis ’n donker dak, donker aluminiumvenster- en deurrame en neutrale, aardse verfkleure aan die buitekant hê. Die paartjie het vensters van die vloer tot by die plafon gekies waar moontlik om die lieflike berguitsig – van Sir Lowryspas tot by Wellington – ten beste te benut. “Van die kleiner erwe, soos ons s’n, wat sowat 580 m² groot is, lê teen die onderste deel van die heuwel en het steeds ’n uitsig omdat die meenthuise ondertoe enkelverdiepings is,” verduidelik Trish.

Afgevlakte vloere van Screedworx pas ewe goed by die kontemporêre én aardse voorkoms van die ontwikkeling. “Die kleur is iewers tussen grys en bruin; gewone grys sou vir my net te koud wees,” sê sy. “En my geverfde meubels wys baie mooi af teen die donkerder vloer.”

Trish het in haar nuwe huis wegbeweeg van die alomgewilde grys mure en het ’n ligte beige (Light Stone van Plascon) deur die hele huis gekies; sy glo dit skep ’n warmer atmosfeer. Boonop dra die kontras met die breë kroon- en vloerlyste by tot ’n weelderige afwerking. “Ons huis is perfek vir ons; ek kan skaars wag dat my toekomstige kleinkinders hier kom speel!”

Die hoofslaapkamer is ’n rustige ruimte met ’n oopplan-badkamer en afgevlakte vloer. Trish het detail en tekstuur ingebring met vergulde spieëls en ou kandelabers van Plan B Vintage. ’n Vriendin, Marietjie Muirhead, het die kombers op die bed gehekel. Net buite die en suite (links) is ’n buitestort wat Louis gebruik – selfs op reëndae! Die Romeinse blinding kom uit hul vorige huis; gelukkig pas dit perfek op die nuwe skuifdeur, want Trish kon nêrens dieselfde toile-materiaal kry nie.
Kopstuk van Cottonwood Furniture; mat van Hertex

’n Tikkie vintage

Trish beskryf haar dekorstyl as “landelik Frans met ’n tikkie vintage. Ek het nog altyd van enigiets Frans gehou, veral die geverfde meubels en die mooi gevormde tafel- en stoelpote.” Hoewel sy die meeste van haar meubels saamgebring het uit hul vorige huis, het sy die ou eetkamerstoele vervang met stoele in die Franse styl van Block & Chisel. Dié ruimte vorm nou die fokuspunt van hul huis.

Hier en daar het sy klein meubel- en dekorstukke van Plan B Vintage en Domaine Du Cap bygevoeg. Die onderskeie winkeleienaars, Bibette Prins en Felicity Heymans, is albei goeie vriendinne van haar.

“Ek het deur die jare gereeld van my meubels laat verf – gewoonlik by Bibette – terwyl Felicity my help met binneversiering,” sê Trish. “Ek vind dat as jy klein veranderinge aan ou meubels aanbring, soos ’n sierstrook aan ’n kasdeur, dit ’n groot verskil maak en die stuk sommer nuwe lewe gee.”

Die eerste ding wat ’n mens oplet wanneer jy by die Wieses se huis instap, is die treffende kandelabers. Trish gebruik graag ’n oorgroot kristalkandelaber as middelpunt van ’n vertrek, maar sy het ook lantern-tipe hangligte vir die leefvertrekke gekies om by die landelike voorkoms en gevoel in te skakel. “Ek het die meeste van die kandelabers spesiaal laat maak by Candelabra. Aanvanklik het ek gedink hulle is heeltemal te groot, maar toe ek hulle ophang, het hulle perfek gepas aangesien die leefvertrek so ’n hoë plafon het,” sê sy.

Die huis baat ook baie by die neutrale palet. “Ek sê altyd my huis is eintlik vervelig omdat daar omtrent nie kleur is nie, maar dis presies hoe ek daarvan hou,” vertel Trish. Trouens, al haar vriende stem saam dat die huis allesbehalwe saai is met soveel tekstuur, detail en patrone; ook met al die blom-elemente in elke vertrek – van strooikussings en los matte tot vars rose.

My meubels is taamlik oud, maar ek maak gedurig veranderings deur party te verf of sierstroke aan te bring. – Trish

Die wasbakkas pas perfek in hierdie ruimte met sy Franse inkleding.
Wasbakkas van Cottonwood Furniture; handdoekring van Masquerade

VERSKAFFERS