Foto’s Francois Oberholster | Stilering Misi Overturf

WIE WOON HIER?

Harold en Ané Spies en hul kinders, Annebelle (11), Martyn (10) en Melissa (8)

WAAR Karindal, Stellenbosch

GROOTTE 520 m²

Die braaiplek is eers in 2018 aangebou. Stapeldeure aan albei kante laat die stoep soos ’n ekstra vertrek in die huis voel. Klompiestene binne die braaiplek verskaf lieflike tekstuur en kontrasteer met die donker muur daarrondom. Net links van die kuierstoep is die kinders se speelkamer. “Daar het eintlik ’n fout ingesluip toe ons dié vertrek vergroot het en die vensters is te laag ingesit,” vertel Ané. “Dit het nogal vreemd gelyk, maar die argitek se raad was: ‘Turn the creature into a feature.’ Toe beklee ons die hele muur aan die buitekant met hout, wat aansluit by die dek langsaan.

Helder spatsels kleur gee trefkrag teen die mure en in die dekorkeuse in byna elke vertrek, soos dié vrolike geel fokusmuur in die kombuis. “Kort voor Tuis se besoek was die muur nog blou!” sê Ané. “Omdat die kombuis nogal donker is in vergelyking met die res van die huis wou ons iets helder en vrolik doen. Ek weet nie hoe lank die muur nog geel gaan wees nie, dit is nogal wild!” Kunswerke deur Jenny Parsons en Kirstin Simms skep ’n pragtige fokuspunt bo ’n bankie van Piér Rabe Antiques. Ligte van Ikea

Groot vensters wat baie lig inlaat, vertrekke wat aaneenvloei vir gesellige kuiers, en genoeg mure waarteen ’n kunsversameling kan pryk – dit was alles op Harold en Ané se wenslys toe hulle sewe jaar gelede ’n piepklein huis in ’n lowerryke buurt op Stellenbosch gekoop het. Die Spiese het die hulp van Hein Visser van VKdB Argitekte ingeroep om hul droomhuis te help ontwerp, met die voorwaarde dat die bestaande gebou deel van die struktuur moes uitmaak. Harold, ’n eiendomsontwikkelaar, kon toe saam met die boukontrakteur werk en dié planne verwesenlik.

“Omdat Harold in die boubedryf werk, kon hy baie van die materiale self bekom,” verduidelik Ané. “Ons het so ver moontlik dinge self gedoen om waarde te skep. As ons begroting dit toegelaat het, sou ons seker die oorspronklike huis heeltemal platgeslaan het sodat dit nie die nuwe huis se ontwerp beïnvloed nie, maar ons het elke baksteen nodig gehad!”

Waar die donker, beknopte “botterblokkie” met sy enkelmotorhuis oorspronklik gestaan het, is vandag ’n ruim, kontemporêre huis waar die gesin vriende en familie onthaal en die kinders hul maats kan oornooi om smiddae en naweke te kom speel. 

Die Spiese onthaal graag om hul lang eetkamertafel. Teen die muur bo die trap is ’n hele galery van gesinsfoto’s op houtblokkies. Ligte van Ikea; tafel van Continuum Furniture; mat van The Red Carpet; stoele van Pierre Cronje

’n Huis met oop arms

Buiten die paartjie se drie kinders, ’n Bernse Sennenhond Antjie, ’n jong apporteerhond Uli, en drie katte, deel die Spiese ook hul huis met twee studente. Maar plek is hier genoeg, want tydens die bouwerk is die voetspoor van die oorspronklike gebou – nou die slaapkamers en kinders se speelkamer – met 380 m² vergroot. 

Die enkelmotorhuis is omskep in ’n waskamer langs die kombuis, die leefvertrek het die hoofslaapkamer geword en ’n boonste verdieping met twee en suite-slaapkamers en ’n tussenvlak met ’n studeerkamer is aangebou. Die doel was van meet af om dié twee kamers as ’n gastehuis te bedryf, maar ná sowat twee jaar het Ané besluit om die kamers permanent aan studente te verhuur, en het sy saam met twee vriendinne ’n gastehuis, Twice Central, in Stellenbosch se middedorp oopgemaak.

Hierdie gesinswoning is steeds ’n bymekaarkomplek vir vriende en familie, en daarom is daar kuierkolle oral in die huis – van die eetkamer, sitkamer en kuierstoep tot die kombuiseiland en knus hoekies in die slaapkamers.

“Die blou bank gee ons daagliks groot vreugde, omdat ons hele gesin met gemak daarop pas,” vertel Ané. Die leunstoele kom uit Harold se ma se huis en is oorgetrek in ’n speelse lap wat inskakel by die vertrek se blou palet – alles mooi saamgetrek deur ’n kontemporêre los mat. ’n Kort muur in ’n diep seeblou skort die sitkamer af van die trappe wat na die boonste verdieping lei sonder om die vloei van die vertrek te belemmer. Pasgemaakte bank deur Leon at CCXIX, oorgetrek met lap van Hertex; stoele gestoffeer deur Van der Spuy Stoffeerders met lap van Hertex

Teëls teen spatpaneel van Hadeda

Saam-saam kreatief

Die huis se oopplan-ontwerp beteken daar is ’n gemaklike vloei van die voordeur af, deur al die leefvertrekke, tot by die kuierstoep agter. Danksy groot vensters stroom natuurlike lig by elke vertrek in, en skoon lyne gee die huis ’n kontemporêre voorkoms. Selfs die heining rondom die eiendom – ’n onopvallende staalstruktuur – skep visuele ruimte met ’n onbelemmerde uitsig op die huis.

In byna elke vertrek is ’n fokusmuur wat pronk met ’n kunswerk, hetsy ’n afdruk van ’n bekende kunstenaar soos Walter Batiss, of die kinders se eie handewerk wat netjies geraam is. “Ons gesin is baie lief vir kuns en het spesifiek gevra dat die argitek genoeg mure los waarteen ons dit kon hang!” Die kleure binne die kunswerke spoel ook plek-plek oor hul rame tot op die huis se mure. “Ons is nie bang om ’n muur te verf nie,” sê Ané met ’n glimlag. “Dis ’n goedkoop manier om ’n vertrek sommer heeltemal anders te laat lyk.

“Ek en Harold geniet dit om te sien hoe die prentjie van ’n vertrek verander, daarom is ons gereeld aan die karring. Gelukkig is Harold se werk ook ’n uitlaatklep vir sy behoefte om te skep.” Oor hul dekor sê Ané die gesin het nie ’n bepaalde styl nie; hulle werk met dit wat hulle het en geniet dit om oud en nuut te meng. “Baie van die meubels in ons huis kom uit familie se huise en ons het dit net opgezhoosh.”

Mooimaak is beslis vir dié paartjie ’n avontuur. “Ek en Harold was tydens die bouwerk Duitsland toe vir een van sy werkkongresse. Met dié reis het ons amper al die huis se ligte by Ikea gaan koop. Ons moes ’n ekstra tas koop om alles huis toe te bring!” onthou Ané. “Die ligte het ons so tussen-in ons klere verpak. Ons sê graag ons het ‘lig’ gereis op pad huis toe!”

Wanneer die twee saam op dekor of meubels besluit, is dit ’n wenkombinasie. “Ons sit nie baie vas nie. Daar is baie ruimte vir mekaar se idees en die meeste van die tyd vind ons ’n middeweg waarmee ons albei gelukkig is.” Solank dié keuses steeds prakties genoeg is vir ’n gesin van vyf en al hul vriende.

Staanders met glasbokse van Pezula Interiors

Aluminiumraamvensters van die vloer tot die plafon skep die gevoel dat die hoofslaapkamer (voorheen die sitkamer) een is met die tuin. “Ons tuin is werklik deel van die huis, en ons is ook lief vir die groenigheid van huisplante,” sê Ané. “Dit skep ’n rustige atmosfeer en helder ’n vertrek in ’n japtrap op.” ’n Groot los mat bedek die vinielvloer, terwyl vrolike bedkassies ’n tikkie speelsheid aan die ruimte verleen. “Dis heerlik om sulke groot bedkassies met baie laaie te hê waarin ’n mens al die losgoed kan indruk wat maklik langs die bed vergader.” Bedkassies van De Steyl; skilderye deur Mona Haumann

Romantiese spieëls en tydlose afwerkings gee ’n ouwêreldse gevoel aan die hoofslaapkamer se en suite, terwyl patroonteëls op die vloer ’n vars fokuspunt skep.

’n Marmer-rakkie bo die wasbak is ’n luukse dog praktiese pakplek wat die ruimte rondom die wasbakke oop hou. Teëls van Moroccan Warehouse; ligte van African Affair; spieëls van @home

’n Kleurryke kopstuk en vintage-bedkassie gee karakter aan Melissa se kamer.

In Annebelle se kamer skep die turkoois fokusmuur met ’n reëndruppelmotief ’n kalmerende effek.

’n Aansteekbord wat Annebelle en haar oupa self gemaak het, herhaal die sagte kleure in haar kamer. Lessenaar van @home

In die gastebadkamer maak plakpapier agter die toilet ’n dapper stelling en werk saam met die donker mure om ’n dramatiese atmosfeer te skep. Harold het die wasbakkas en boekrak spesifiek vir die ruimte ontwerp. Die lig bo die toilet kom uit die oorspronklike huis se kombuis. Plakpapier van Stuart Graham

Harold het die lessenaar en rakke in Martyn se kamer ontwerp en dit toe laat maak deur Cape Heritage Furniture.

Die ingeboude bankie by die swembad is beklee met dieselfde klompiestene as die braaiplek en vorm ’n heerlike kuierkol in die hoek van die erf.

KONTAKTE EN VERSKAFFERS

@home 0860 576 576

African Affair 044 343 1008

Cape Heritage Furniture 021 887 2542

Continuum Furniture 076 942 4044

De Steyl 044 878 0480

Hadeda 011 788 9859

Hertex 0860 437 839

Ikea

Leon at CCXIX 021 447 1304

Moroccan Warehouse 021 461 8318

Pezula Interiors 021 424 2661

Piér Rabe Antiques 021 886 6281

Pierre Cronje 021 691 8589

Stuart Graham Fabrics 041 402 1300

The Red Carpet 021 882 9067

Twice Central 021 887 7889

Van der Spuy Stoffeerders 021 855 0588

VKdB Argitekte 021 880 2991