Linne-tafeldoek in die ontwerp Green Olives van Tokara Deli

WIE WOON HIER?

Hennie en Jolanda Aggenbach en hul dogters, Mila (18), Jana (15) en Yanke (8) 

WAAR Durbanville 

Kersdag in die Aggenbach-huis is tyd vir besinning. Daar brand altyd ’n vuur of twee en die feesmaal bestaan uit geregte wat moeiteloos is en vooraf berei kan word.

“Ons is nie ingestel op geskenke nie; eerder die atmosfeer en die saamkuier,” vertel Jolanda, die gasvrou en kreatiewe gees agter dié Kers- samesyn. “Dis ’n dankbaarheidsfees en daar is niks vreemds op die tafel nie. Ons maak eintlik net elke lid in die gesin se gunsteling-gereg.”

Dit is daarom nie vreemd om name soos “Jana se sout-aartappels”, “Jolanda se wilde koolslaai” en “Yanke se wortelkoek” op die spyskaart te sien nie. “Hennie se takbokfilet à la Wellington” is ook daar, want wildsvleis is elke jaar op die Kerstafel.

Hennie is immers een van drie vennote in ’n wildplaas naby Hopefield. Hy voel baie sterk oor natuurbewaring en het uiteraard ’n passie vir wild.

“Ons het waardering vir die diere se skoonheid en skiet nie voor die voet nie,” verduidelik Jolanda. Daarom is bokkoppe as dekorelemente ook geen verrassing in dié huis nie. Jolanda kry haar inspirasie van die beroemde Franse ontwerper Philippe Starck wat in die Vienna Hotel in Argentinië dié trofees “aangetrek” het.

Die koppe in die Aggenbachs se huis kry ook dikwels ’n mus of ’n serp – en met Kersfees selfs ’n krans om die nek! 

Toe die kombuis en braaikamer vernuwe is, was ’n pizza-oond ’n welkome toevoeging – die Aggenbachs gebruik dit gereeld en van die gunstelinge wat hulle daarin maak, sluit pizzas, bierblik-hoender en geroosterde tamaties en eiervrug in.

Pizza-oond van Italoven

Jolanda hou daarvan dat meubels in dieselfde kleur as die mure geverf word, oor die visuele eenvormigheid wat dit skep. ’n Vriend, van die destydse Contemporary Creations, het dié kas gemaak.

Dekorstyl

Hennie, eienaar van die plaveiselvervaardiger Cemstone, en Jolanda, een van die organiseerders van die gewilde CY Market in Durbanville, is albei kreatiewe geeste en dra gereeld interessante stukke by die huis aan. Hulle hou van besonderse dekor en vermy kommersiële artikels, behalwe as hulle ’n kontemporêre stuk of twee moet aanskaf ter wille van balans tussen oud en nuut.

As hulle nie kry wat hulle soek nie, maak hulle dit sommer self. Aandag aan detail is baie belangrik en hulle beskryf hul styl as “jagter-versamelaar”, wat aansluit by hul wortels in die plaaslewe.

Daar is ook ietwat van ’n Marokkaanse invloed te bespeur, maar nie jou tipiese helderkleurige voorkoms nie – eerder die aardse woestynkleure en ’n gestroopte gevoel.

“Dit eggo seker die Skedelkus in Namibië waar ek grootgeword het,” vertel Jolanda. “’n Vriendin het eenkeer opgemerk dat ek meestal ‘sywurm-kleure’ gebruik! Deesdae vind ek dat ek wel meer kleur – selfs al rooi – in my dekor inbring. Dit kom seker maar van die mooi sonsondergange in Namibië.” Tog is daar niks pretensieus aan dié imposante huis propvol detail nie, en saam met al die skoonheid kry ’n mens die gevoel van kalmte en rustigheid.

In die voorportaal huisves ’n antieke eikehoutkas linne en ander bêregoed, terwyl swart-en-wit-foto’s ’n mooi prentjie skep. Hennie en Jolanda is lief daarvoor om foto’s van hulle reise te neem en tuis as kunswerke te gebruik.

Kas van Steyn’s Antiques; beker en kom van Plan B Vintage

’n Foto wat Jolanda geneem het in die Recoleta-begraafplaas in Buenos Aires, waar Eva Perón begrawe is, skep ’n treffende kunswerk in die sitkamer. Die muurbekleding kom van Cemstone se fabriek waar dit as basisplanke vir sementgietwerk gebruik is – Jolanda is dol oor die patina en tekstuur van die ou sement.

Niks in die huis lyk week ná week dieselfde nie en Jolanda speel graag rond met haar “kaggeltwakkies”, soos sy dit skertsend noem.

Tafeldoek van Tokara Deli

Aards en groen

Vanjaar is groen Jolanda se dekorkleur vir Kersfees. “Groen is my gunsteling-kleur en dit is simbolies van groei en ’n nuwe begin.” Sy glo daaraan om te gebruik wat tot haar beskikking is. Elke jaar in Oktober tel hulle takbokhorings op die plaas op wanneer die bokke dit afgooi – dit word slim as Kerskranse ingespan, soos die een bo die eetkamertafel.

Wit sement word in plastiekbottels gegiet vir treffende blompotte wat mooi kontrasteer met die groen en okerkleurige glas wat die Aggenbachs oor die jare by plekke soos die Milnerton-mark buite Kaapstad bymekaargemaak het.

Vindingryk is Jolanda beslis, want ou wit damaslinne lyk nou sommer splinternuut nadat dit donkergroen gekleur is. En sy glo daar moet altyd ’n speelse element by jou dekor wees, soos haar wit geverfde speelgoeddiertjies as servetringe. Die stukke van ’n skaakstel uit Israel – almal van olienhout – maak ook deel van die tafeldekor uit.

“Ons is nie baie tradisievas nie en elke Kersfees is anders,” vertel Jolanda. “Ek werk met wat ek kan vind, al verkies die kinders liewer ’n tradisionele boom vol blink goed soos ‘normale’ mense! Op die ou end bly die kuier saam met die niggies en nefies die hoogtepunt. Ons jongste, Yanke, geniet natuurlik haar geskenke die meeste en voel ekstra spesiaal omdat sy en Liewe Jesus so naby mekaar verjaar. Sy is op die 20ste Desember gebore.”

Die Charnwood-kaggel in die kleur Almond skakel goed in by die neutrale dekor, maar skep tog ’n treffende en stylvolle fokuspunt.

Dié lap, gespan oor ’n raam, is verlede jaar by die Hoër Meisieskool Bloemhof op Stellenbosch, waar Mila en Jana skoolgaan, se matriekafskeid gebruik. Dit het nou ’n ereplekkie by die Aggenbachs se voordeur gekry. Die stoel is met kunsgras oorgetrek nadat Oupa se kat die bekleedsel stukkend gekrap het.

Jolanda probeer elke jaar iets nuuts doen vir Kersfees en vanjaar het sy die Ficus-potplant nader getrek as Kersboom.

Jolanda tel graag spoelglas op as sy dit teëkom en sê sy kan nie groen glas weerstaan nie.

Linne-kussing in die ontwerp Albuca Seeds van Tokara Deli

Jolanda se Kersdekor-wenke
  • Gebruik loof en takke uit die tuin – veral olyftakke en lourierblare werk baie goed.
  • Ek versamel mooi blikkies en boksies gedurende die jaar en vul dit met koekies en klein geskenkies. Opmekaargestapel lyk dit soos ’n Kersboom en as die geskenke uitgedeel is, is die “boom” sommer klaar “opgepak”!
  •  Steek kerse aan en laat stringliggies brand, selfs in die dag, want dit skep heerlike atmosfeer.
  • Waag met interessante, speelse kombinasies. ’n Tuindwerg met ’n Kersmus op sal almal laat glimlag.
  • Gee aandag aan garnering en hoe jy geregte voorsit. Mooi kos smaak lekkerder, al is dit hoe eenvoudig.

Christa Myburgh het die skilderye van die kinders gemaak. Milla was toe 14, Jana 11 en Yanke vier. 

Takbokvarings op planke gemonteer is Jolanda se eie handewerk.

Verskeie ou blikkies is opmekaargestapel vir Kersfees-atmosfeer in die TV-kamer. Jolanda het haar hart verloor op dié rooi vyfsitplek-Winchester-bank. Dit is lank genoeg dat sy en Hennie hulle saam daarop kan uitstrek.

Rusbank van Nook Decor and Design; staanlamp van Weylandts; kunswerk van Plan B Vintage

Ek is mal oor skattejag by onwaarskynlike plekke, maar ek koop selde iets en regtig net as dit besonders is. – Jolanda

Wit sementvloere, ’n marmerblad en mosgroen teëls skep detail en ’n aardse voorkoms in die en suite-badkamer, terwyl die kassie, ’n erfstuk, ’n tikkie nostalgie inbring.

Handdoeke van Mungo

In die kinders se badkamer helder ’n strook glas-mosaïekteëls die sementwasbak op, terwyl ’n rou steierplank-rak die aardsheid beklemtoon. Silwer houers, nog van Jolanda se vondste van die Milnerton-mark, skep detail.

Handdoeke van Mungo; teëls van Douglas Jones

Yanke se kamer spog met ’n hemelruim-muur. Jolanda het swart verf met ’n mat-afwerking as basislaag gebruik waarna sy pêrelkleurige glansverf met ’n ou tandeborsel daaroor gespat het. Yanke het self die goue sterretjies opgeplak.

Skapie van Merlyn Toys

Die hoofslaapkamer het ’n Oosterse gevoel danksy die rooi bedkassie en die geweefde sy-kunswerk bo die bed wat Jolanda tydens ’n besoek aan China vir Hennie gekoop het. Die drakie op die bedkassie kom van Griekeland.

Mat van Pak Persian Carpets; deken van Hertex Haus

Die braaikamer maak aan die een kant oop op die binnehof en swembad. Die braai se skoorsteen is met Cemstone beklee vir ekstra detail en tekstuur.

Die visdam het blou teëltjies binne-in, ’n verrassing as jy nader staan.

Adora, afgelei van “adorable”.

Klippies skep ’n treffende tuinvloer sedert die grasperk tydens die Kaapse droogte verklein en later heeltemal uitgehaal is. Net soos vir hul huis, glo die Aggenbachs in min onderhoud vir die tuin. Hennie het die tafel gemaak en dit word gebruik om nuwe plantjies soos spekboom van steggies te maak.

Emaljeborde, deel van ’n walviswerwel en droogtebestande spekbome en kaktusse gee kleur aan dié muur

VERSKAFFERS