Foto’s Francois Oberholster Stilering Marian van Wyk

WIE WOON HIER?

Roy en Elise Parkhurst

WAAR Fransche Hoek Agricultural Estate, Franschhoek

GROOTTE 440 m²

Elise versamel al jare lank pragtige glasvase; die rose kom uit die bure se tuin. Die skoorsteenbors is afgewerk met Earthcote Pandomo, ’n stukadoorpleister met ’n harsbasis wat dit ’n spieëlgladde, gepoleerde voorkoms gee.

Afwerking deur Screed Worx; kaggel van Décor Fires

Verskillende teksture is deur die huis gebruik, soos die sandafwerking teen die mure in die ingangsportaal – die perfekte agtergrond vir kuns. Die mat was ’n impulsiewe kopie by ’n straatveiling op Stellenbosch.

Knus tussen die wingerde net onder die Franschhoekpas, met die lieflikste uitsigte op die imposante Drakensteinberge en die dorp daaronder. Dís waar Roy en Elise Parkhurst hul huis laat bou het. En wat ’n droommooi ruimte is dit nie ...

Hul aanvanklike plan was ’n tradisionele H-vormige ontwerp, maar op die ou end het hulle besluit op ’n huis met eenvoudige, gemaklike vloei en ’n uitsig uit elke venster op die asemrowende omgewing.

Toe Roy en Elise dié erf in 2007 op die Fransche Hoek-landgoed gekoop het, was hulle van die eerste eienaars op dié werkende plaas van 100ha met sy olyfbome, wingerde en ’n oorvloed ongerepte fynbos en natuurroetes. Omdat hul huis in die “plaaswerf”-deel van die landgoed geleë is, moes die ontwerp in harmonie met die volksargitektuur van die geskiedkundige Franschhoek wees.

“Ons het verlief geraak op die idee van skure wat met mekaar verbind is,” gesels Roy oor die projek en sy eerste ervaring as eienaarbouer. “Gevolglik het ons ’n baie meer moderne interpretasie van die boustyl gekies – vier skure wat onderling by mekaar aansluit, waarbinne ons ’n oop, industriële gevoel geskep het met ‘rou’ elemente.”

Die Parkhursts het teen die einde van 2017 ingetrek ná ’n bouery van 18 maande weens langdurige reën. “Die ontwerp het goed gewerk. Trouens, dit het ons verwagtinge oortref,” vertel Roy. “Daar heers ’n wonderlike gevoel van beweging, terwyl elkeen van die skure sy eie trefkrag het,” voeg Elise by. “Ons geniet die oop ruimte en privaatheid, asook die naatlose vloei tussen binne en buite.” 

Nieteenstaande die hoë plafon en grootte van die ruimte, het die oopplan-leef-en-eetvertrek ’n gesellige, knus gevoel danksy kleurvolle matte en tekstuurryke stoffering.

Stoffeerlap van Fabric Centre

Die twee kandelabers, wat eers kristalle en ’n goue kleur gehad het, is gestroop en matwit geverf om by die plaasstyl en -gevoel van die huis te pas. Daar’s g’n ‘kan nie’ of ‘moenie’ as dit by kleurkombinasies kom nie! – Elise

Het jy geweet? Elise en Roy se kaggel is nuut gebou, maar jy kan ook ’n losstaande stofie in ’n bestaande kaggel installeer, sê Carli Adendorff van Decor Fires. “Om te verhoed dat hitte deur die skoorsteen verlore gaan en koue lug by jou vertrek inkom, moet jy ’n afsluitplaat bo die kaggel in die skoorsteen installeer; dit het geen uitwerking op die kaggel se hitte-uitset nie. Onthou dat sowat 60% van die hitte van die stofie deur die glas vrygestel word – hoe groter die venstertjie, hoe warmer sal die kaggel die vertrek maak.” 

Amper al die shabby-sjiek meubels op die stoep kom uit die paartjie se vorige huis in Kloof, KwaZulu-Natal. Elise sê dié ruimte is nog lank nie klaar nie!

Tafel van Odds & Ends; grys stoele van Block & Chisel

Die eiland van 1,2 x 2,8 m het laaie aan een kant vir breekgoed en eetgerei, terwyl die ander kant ’n skottelgoedwasser en kroegyskas huisves. Gebleikte eikehout versag die swart kaste; die blaaie is van geslypte swart Zimbabwiese graniet en grys kwarts.

Kombuis deur Nelson Baardman Houtwerke; vloere deur Screed Worx

Plaas ontmoet industrieel

Om in te skakel by die industriële skuurstyl het die paartjie hul afwerkings met sorg gekies – van deure met swart aluminium-rame en groot glaspanele, tot hoë plafonne met I-balke in drie van die skure.

Afgevlakte vloere deur die hele huis, ook die slaap- en badkamers, dra by tot die plaasgevoel. Danksy IsoBoard-isolasie onder die vloere, asook in die mure en plafonne, bly die huis se temperatuur taamlik konstant.

“In warm weer is die vloer heerlik koel,” sê Elise. “Matte op strategiese plekke help wanneer dit koud word, terwyl die groot baksteen-skoorsteen die kaggel se hitte vasvang en die leefarea warm hou. Vir ‘noodgevalle’ het ons ondervloerse verhitting in al die badkamers ingesit. Dit het ’n kurk-onderlaag, wat dit baie meer energiedoeltreffend maak.”

Roy sê: “Ons was beïndruk deur al die goeie kontrakteurs wat ons gehad het, en ons hoop hul ondernemings oorleef die erge ontwrigting weens Covid-19. Hul vaardighede is so belangrik vir die land. Ons is baie bly om steeds op goeie voet te wees met almal wat by ons bouprojek betrokke was.”  

Die swembad met sy lae rand en donker afwerking binne herinner aan ’n plaasdam. Henk Scholtz Landscaping, Pietman Diener Landscaping en Two P’s in a Pod Landscaping het tuinraad gegee; stoepblindings van Wonder Blinds

Stoep en tuin

Die stoep is ’n gemaklike 66 m², maar wanneer hulle die stapeldeure tussen die leefarea en stoep oopgooi, beslaan die twee ruimtes saam 150 m² met ’n onbelemmerde uitsig op die Franschhoek-vallei. “Só voel almal deel van die aksie, of jy nou in die swembad of die kombuis is,” verduidelik Roy. “Dis ook waar ons drie jong kleinkinders heerlik op hul fietse kan rondrits!”

Aangesien die stoep noordwes front, geniet dit ongelooflike uitsigte en winterwarmte, maar moet dit ook die winterreën en -wind trotseer. “Twee groot gemotoriseerde blindings (5 x 3,6m elk) verskaf skadu en beskerming teen die elemente, behalwe wanneer die noordwestewind ons looi en die windmeter dit outomaties lig om skade te voorkom,” verduidelik Roy. “Ons het dié blindings bo ’n vaste struktuur gekies omdat dit so maklik werk en die oop gevoel behou.”

In die tuin het Roy en Elise besluit op waterwys, hoofsaaklik inheemse plante saam met fynbos en vetplante. “Ons het by ’n paar bekende plaaslike tuinargitekte raad gevra,” sê Elise. “Een het ’n basiese uitleg en plantlys voorgestel, die ander het ons raad gegee oor hoe om met verskillende vlakke te werk. Nog ’n tuinargitek van Kaapstad het ook heelwat wenke gegee. Hulle was almal gaaf genoeg om baie steggies van onder meer spekbome en vetplante te deel.”

Daarna was dit Elise se verantwoordelikheid om ander plante, klip en arbeid te bekom. Buiten sitrus- en granaatbome is daar ’n hele paar olyfbome; die egpaar kon juis in Mei hul eerste olie pars. “Ons geniet dit om te sien hoe die tuin nou vorm begin aanneem. Die verskillende soorte gras, fynbos en vetplante tussen die groot rotse is pragtig,” sê Roy. 

Die hoofslaapkamer het ’n natuurlike palet met spatsels kleur tussen die natuurlike houtmeubels. Kas van Velvet Home & Living

Oor die dekor

Hul dekor getuig van Elise se kreatiewe, kleurryke persoonlikheid. “Sy’s altyd besig met verf, stik, brei, kwilt en versier,” sê Roy. “En sy’t ’n wonderlike intuïsie as dit kom by die gebruik van kleur.”

Elise kombineer graag ruite, strepe en effekleurige of geblomde materiaal. Sy beskryf haar dekorstyl as modern eklekties, ’n goeie mengsel van oud en nuut. Sy het ’n grys-en-swart tema gekies vir ’n neutrale agtergrond, wat haar die vryheid gee om amper enige kleur daarby te voeg. “Ek is ’n groot aanhanger van Tricia Guild en haar Designers Guild,” sê Elise. “Sy het my geïnspireer om dapper kleur- en ontwerpkeuses te maak. Gelukkig is Roy ook lief vir kleur en die manier waarop ek grense uitdaag.”

Die paartjie het ’n indrukwekkende versameling matte wat hulle al sedert die 1990’s bymekaarmaak – party was geskenke van vriende, ander is vondste uit antiek- en tweedehandswinkels. Oral in die huis word aandag gegee aan die fynste besonderhede, soos ’n enkele roos in ’n bekoorlike vaas. “Ek moet kleur en blomme in my huis hê,” vertel Elise.

“Dit bring ’n lewendigheid en positiewe energie in. Ek het vase van oraloor versamel, selfs ’n paar kosbare Art Deco-vase.” Elise erken dat sy ’n kompulsiewe versamelaar is. “Ek het ’n hele stel Harlequin-teekoppies, -pierings en -kleinbordjies. En moet my man nie eens vra oor my lapversameling nie!”

Die oorspronklike bouplanne is aangepas om plek te maak vir ’n treffende 3,7m hoë deur uit Argentinië na die en suite-badkamer. Dit het nog sy oorspronklike gegolfde glas en verskillende lae verf. Die groen muurkleur word in die stoel, deken en duvetoortreksel herhaal. ’n Geblomde mat bring die stoel en tafel (oorkant) bymekaar, en eggo die groen in die res van die vertrek. Deur van Onsite Gallery; bed van Velvet Home & Living

[ELISE SE KLEURWENKE]

• Kies een van jou gunstelinge en voeg dan die komplementêre skakering regoor dit op die kleurwiel by. Om byvoorbeeld die pienk rusbank in ons sitkamer te komplementeer, het ek groen op die ander bank gebruik. Vir die kussings het ek gesplete komplementêre kleure, violet en geel, gekies; dis die kleure weerskante van pienk en groen op die kleurwiel. Vertrou op die kleurwiel!

• ’n Monochroom skema word dikwels in huise gebruik, want dis ’n veilige keuse en heelwat makliker as om met kleur te werk. Maar sit altyd ’n bietjie kleur in die vorm van kussings, vase en ’n helderkleurige mat by.

• Meng kleure én teksture. Ek het al linne en fluweel saam gebruik; ek is regtig gaande oor hoe verskillende teksture op ’n rusbank voel. Matte gee aan vertrekke ’n ryk gevoel en rond die prentjie af.

• Jy kan trefkrag skep deur jou mure ’n aantreklike kleur te verf. Een geverfde muur is dikwels al wat nodig is om ’n vertrek karakter te gee. Dié muurkleur bepaal dan die kontrasterende kleure vir die vertrek – soos die deken op ons bed, gemaak van Designers Guild-lap, met kleure wat oorkant groen op die kleurwiel lê. 

[PLAASLANDGOEDERE]

Die Parkhursts het ’n plaaslandgoed gekies vir die natuurlike bergomgewing, lae digtheid (net 93 erwe op 100ha) en goeie sekuriteit. Volgens die eiendomsagente Lynette Schoeman en Doug Gurr van Pam Golding Properties het so ’n leefstyl sy voor- en nadele:

Voordele

• ’n Gevoel van ruimte.

• Uitstekende sekuriteit met outomatiese toegangsbeheer, aangevul deur veiligheidswagte 24 uur per dag.

• Huiseienaars het toegang tot fantastiese stap- en wandelroetes binne die gerief en gemak van die ontwikkeling.

• ’n Prentjiemooi omgewing tussen wingerde, olyfboorde of stalle en perdekampe.

• Sommige landgoedere op ’n wynplaas produseer hul eie wyn en eienaars deel in die opbrengs.

• Party het geriewe soos gemeenskaplike swembaddens, tennisbane of ’n klubhuis.

• Die uiterste privaatheid.

Nadele

• Party landgoedere is ’n paar kilometer buite die dorp – wat beteken jy sal jou uitstappies dorp toe mooi moet beplan.

• Daar is bepaalde reëls en regulasies wat jy moet nakom.

• Ontwerpbeperkings en argitektoniese riglyne kan eenvormigheid tussen die huise beïnvloed.

• Heffings kan hoër as normaalweg wees. Eienaars van huise op sulke landgoedere betaal ’n heffing aan die huiseienaars-vereniging wat die landgoed bestuur. Dit dek sekuriteitsdienste (dikwels 24 uur per dag), die instandhouding van paaie, grens- heinings en gemeenskaplike dele, asook boerderybestuur op die ontwikkeling.Handdoek van Mungo

Deur ’n aantrekkamer by een groot badkamer in te sluit was daar plek vir ’n eiland, iets waarvan Elise nog altyd gedroom het.

Ontwerp deur A3D Architects; bouwerk deur Patson Van Willingh Bouers; struktuur-ingenieurswerk deur Frame Group Civil Engineers

Teëls van Tile Africa

Swart 3D-teëls in die gastebadkamer is ’n treffende keuse. Elise wou graag die gastetoilet met ’n muurskildery versier, maar haar tyd was net te min. Toe laat maak sy plakpapier van ’n monochroom Shutterstock-prent.

Plakpapier van Orms

VERSKAFFERS

https://a3d.co.za/ 021 872 8066

Block & Chisel 0800 127 337

Decor Fires 021 872 9147

Fabric Centre 021 851 5086

Frame Group Civil Engineers 021 872 4436

Henk Scholtz Landscaping 082 570 3495

Mungo 

Nelson Baardman Houtwerke 084 690 5454

Odds & Ends 021 851 8267

Onsite Gallery 021 462 1357

Orms 021 465 3573

Patson Van Willingh Bouers 082 807 0918

Pietman Diener Landscaping 072 376 5632

Screed Worx 083 571 7113

Tile Africa 011 455 6061

Two P’s in a Pod Landscaping 083 564 0686

Velvet Home & Living 044 873 0381

Wonder Blinds 021 883 9111