Foto’s Francois Oberholster | Stilering Marian van Wyk

WIE WOON HIER? Nikki en Michiel Zigras met hul schnauzer, Zorro

WAAR Drieankerbaai, Kaapstad

Grootte 92 m²

Nikki se versameling plaaslike en internasionale kuns (onder meer werke deur die Suid-Afrikaanse kunstenaars Chris Spies en Sthenjwa Luthuli, en die Franse kunstenaar Jean Starck) maak ’n interessante fokuspunt in die leefruimte uit en trek die aandag van die TV af. ’n Gemaklike rusbank komplementeer die res van die meubels.

Rusbank van Weylandts; staanlamp op Gumtree gekoop; marmer-koffietafel op Bid or Buy gekoop; koperkandelaber pasgemaak deur Arc Lighting; handgemaakte, indigo-gekleurde ottoman van Pilgrimage Living Space.

Ons is dol hieroor!
Dié vintage-leunstoel is herstoffeer in pragtige blou fluweel van Hertex.

Ruimterekker

Die stylvolle eikehoutkaste in die kombuis het versteekte skarniere en opvoudeure wat plek bespaar. Die eiland van staal en eikehout, gemaak deur JP Steel, kombineer die beste industriële en organiese materiale.

Kombuis ontwerp deur Andre Otto van Green Cube Design

Ruimterekker

Wanneer dié pasgemaakte eetkamertafel nie in gebruik is nie, word dit twee ontbyttoonbanke onder die venster.

Gewone aluminium-skuifvensters is vervang met stapelvensters in houtrame. Die lieflike uitsig vergoed vir die gebrek aan ’n balkon.

Die interieurontwerper Nikki Zigras se hande het gejeuk vir ’n nuwe projek, en soos die geluk dit wou hê, loop sy toe dié ruim woonstel in Drieankerbaai raak.

“Met drie meter hoë plafonne en groot slaapkamers het ek en my man, Michiel, dadelik die potensiaal van die plek raakgesien,” sê sy. En danksy vensters aan die noorde-, ooste-, weste- én suidekant is daar oorgenoeg natuurlike lig.

As gesoute opknapper weet Nikki jy kan altyd strukturele veranderinge aanbring – maar natuurlike lig en warmte is nie iets wat jy sommer kan skep nie. ’n Paar veranderinge was wel nodig. “Ons het die muur tussen die kombuis en sitkamer uitgebreek om ’n rustige oopplan-leefruimte te skep, plafonprofiele in die leefarea aangebring vir meer atmosfeer, en die aparte toilet by die badkamer ingewerk.” Die eindresultaat is ’n minimalistiese toonbeeld van kontemporêre funksionaliteit en sjarme.

Nikki het haar besonderse versameling vintage-glasvase, almal vakansiekopies, saamgegroepeer vir groter trefkrag.

Ons is dol hieroor!
Die ingeboude speseryrak met sy mooi potjies is ’n knap oplossing om werkblaaie netjies te hou.

Die ruimte

Michiel, ’n akademikus by die Universiteit van Kaapstad, is die aangewese kok (Nikki spot dat sy net kook as sy moet) en die minimalistiese kombuis is ’n fokuspunt in hul blyplek. Hier word eikehout en vlekvrye staal gekombineer om ’n funksionele, duursame werkspasie te skep, en danksy die hout-aksente lyk dit nie koud en klinies nie.

In die sitkamer dien ’n afgebakende leeshoek as moderne “mannegrot” vir Michiel, terwyl losstaande veeldoelige toonbanke onder die venster teen mekaar geskuif kan word om ’n eetkamertafel te skep.

“Dis die perfekte plek om die seiljagte wat soggens verbyvaar, te sit en dophou,” sê Nikki.

Die eikehout-vloerblokkies is van ’n bouperseel gered en met groot sorg gelê en geskuur. Jason Henry van Love Your Wood het dit in ’n Loba-satynafwerking verseël.

Warmte en karakter

Nikki, ’n gewoonte-reisiger en -versamelaar, het ’n fyn oog vir alles wat sjarmant en uniek is. “Tog is ek genadeloos oor wat ek uitstal,” verduidelik sy. “ ’n Slim rangskikking van hartsgoed soos glas-papiergewigte en half-edelstene lyk netjieser as ’n deurmekaar versameling op verskillende oppervlakke.”

Sy waarsku ook teen die gevaar van te veel bonkige vintage-stukke wat in ’n klein ruimte geprop word: “Kombineer liewer meubels van goeie gehalte met interessante tweedehandse vondste.”

En hoewel funksionele elegansie aan te beveel is vir ’n badkamer, hoef dit darem nie vervelig te wees nie. Nikki en Michiel s’n spog met ’n oulike wynvat-bad; dis ’n rustieke, tekstuurryke toevoeging wat goed kontrasteer met die andersins neutrale afwerkings.

Die gevoel in dié kompakte woning is een van warmte en karakter – nes sy eienaars.

Ons is dol hieroor!

Die wynvat-vervaardiger F.S. Smit & Co. in die Paarl het die bad van Franse eikehout spesiaal gemaak. “Dis ontwerp as ’n gewone wynvat sonder enige voering en het ’n los sitplek.

Dis veronderstel om die water effens te laat deursypel, daarom is die badkamervloer ontwerp vir dreinering,” verduidelik Nikki.

Duursame travertynvloerteëls komplementeer die perlemoen-mosaïekteëls van Douglas Jones teen die badkamermure, terwyl die kas met spieëlvoorkante lig weerkaats vir ’n ruimer gevoel. Danksy ’n nuttige rakkie lyk die groot instapstort altyd netjies.

Nikki se wenke vir klein ruimtes

  • Belê in veeldoelige meubels, soos die tweeledige eetkamertafel wat ons spesiaal laat maak het.
  • Sorg dat daar genoeg bêreplek is en kies kaste wat van die vloer tot die plafon strek waar moontlik.
  • ’n Neutrale agtergrond met spatels kleur sal jou ruimte helder en ruim laat voel.
  • Eksperimenteer met teksture vir visuele prikkeling. Hang lap of langpoolmatte pleks van kunswerke teen die muur.
VERSKAFFERS

Arc Lighting 021 981 0539

F.S. Smit & Co. 021 863 1032

Green Cube Design 076 339 9292

Hertex 0860 437 839

JP Steel 082 895 1165

Love Your Wood 076 116 4369

Lula Fabrics 021 797 7472

Pilgrimage Spaces 021 300 1925

Weylandts 0860 103 400