Foto’s Francois Oberholster Stilering Marian van Wyk

WIE WOON HIER?

Heidi en Peter Lund en hul honde, SweetiPi en Buddi, Peanut die kat en ’n trop hoenders

WAAR Swellendam

GROOTTE 150 m²

Heidi het die rottangmeubels op die agterstoep geseël met Woodoc 30 Exterior Polywax Sealer wat sy met Woodoc Colours Brights in die kleur Orange en Full Moon getint het – laasgenoemde versag die oranje. Vloerteëls van Langeberg Teëls

Met hope planne om so te sê alles in hul “nuwe” huis op Swellendam te verander, het Heidi en Peter Lund in April 2018 ingetrek. Die huis was immers amper 100 jaar oud.

Maar toe moes hulle verneem so te sê al die binnemure is lasdraend. En die loodgieterswerk moet vervang word. En die elektriese bedrading is gaar... En kort voor lank het die kwotasie vir die opknap die koopprys van die huis verbygesteek. Al genade was om van ’n groot opknap te vergeet en liewer ’n “verjongingskuur vir die ou dame” te gee – met verf en kleur.

“Nadat ons omtrent vyf maande in die huis gebly het, het ons besef die gebou is eintlik baie stewig; ons moes dit net gemaklik vir óns inrig,” sê Heidi. “Ek het toe die eerste keer verstaan hoekom mense altyd sê jy moet eers ’n ruk lank in ’n huis bly voordat jy enigiets verander.” As kunstenaar het kleur nog altyd ’n groot invloed gehad op alles waarmee Heidi doenig raak. “Ek sien myself eintlik meer as ’n kleurkenner as kunstenaar,” sê sy.

Met die huis se kontemporêre grys buitemure sou ’n mens maklik kon aanneem dat ’n soortgelyke styl binne heers. Maar dan verklap ’n pienk voordeur dat jy dalk iets anders te wagte moet wees.

“Ek hou van ’n verstandige grys, maar wanneer jy my voordeur oopmaak, sien jy allerlei skatte en spatsels kleur,” vertel Heidi. “Nie dat ek dit so beplan het nie – dit het net gebeur! Besoekers sê dikwels hulle wens hulle kon sulke helder kleure in hul eie huise gebruik, maar dat hulle dit nooit sou kon laat werk nie.”

Die houtbekleding verbloem ’n onooglike afskorting waarmee die voorstoep toegemaak is – die Lunds is dol oor die voorkoms.

Die tafelblad is met lapstroke ge-podge en geseël met Plascon Waterbased Glazecoat Clear Matt.

Die wasbak en ’n kas daaronder moes ook vervang word en Heidi het die nuwe kas met Annie Sloan Antibes Green geverf. Toe pas die appelgroen nie heeltemal by die turkoois mosaïekteëls nie. Maar Heidi ken van kleure meng, en het die eerste laag bedek met Annie Sloan Provence, wat meer van ’n verbleikte blougroen is; dis toe verseël met Annie Sloan Clear Wax. “Die groen breek die donker muurkleure en die turkoois vloer, sodat alles nou goed saamwerk,” verduidelik sy. “Al is ruimte beperk in ons kombuis, voel dit nie beknop nie en is dit ’n wonderlike vertrek om in te werk.” ’n Gehawende venster is vervang met ’n glaspaneel en rakke van ’n ou boekrak. Die meeste van die blou vase kom uit Saoedi-Arabië, waar die Lunds ’n tyd lank gewoon het.

Wasbakkas van Bespoke Kitchens; granietblad van Du Toits Granite

’n Funky kombuis

Die Lunds het besluit om geen strukturele veranderinge aan te bring nie, maar die kombuis se houtvloer was heeltemal vrot en moes vervang word. Aangesien Heidi nie ’n groot aanhanger is van wit nie, het sy die vloer geverf met verdunde turkoois PVA-verf en verseël met drie lae Woodoc 25 Water-Borne Matt White.

Die mure is geverf in ’n donkergrys kleur wat spesiaal gemeng is, vertel sy. “Ek wou eintlik ’n swart-en-wit kombuis hê. Omdat Peter nie seker was oor die oorspronklike donker kleur wat ek vir die mure gekies het nie, het ek eers twee skakerings ligter gebruik. Maar toe is ek weer nie tevrede nie. Die verf kon nie getint word nie, want dit was die verkeerde basis. Toe gaan ons maar in elk geval voort daarmee,” sê Heidi. “Dit wys jou net dat niks in klip gegiet is nie. Gelukkig pas dit pragtig in by die turkoois-en-groen kleurskema.”

Heidi is ’n ywerige versamelaar van tin-voorwerpe, soos die ster wat sy teen die geverfde kas gemonteer het.


Heidi het die kunswerk in die spatpaneel juis gekoop oor sy rooi kleur; dit kontrasteer pragtig met die turkoois mosaïek.

Die kas is met Creative Chalk Paint in die kleur Cranberry geverf en die deure en laaie met Annie Sloan Barcelona; Annie Sloan Clear Wax is as seëlaar gebruik.

Geïnspireer deur kleur

Min mense is dapper genoeg om ’n ou houtvloer wit te verf, laat staan nog ’n sterk kleur soos pers. Maar in Heidi en Peter se eetkamer skep ’n pers vloer ’n fantastiese agtergrond vir geverfde meubels en kuns, meestal Heidi se handewerk.

Die Lunds het sowat 11 liter Woodoc Water-Borne Floor Matt White oorgehad van ’n projek in hul vorige huis en het besluit om dit te gebruik waar hulle kon. Om die skakering wat Heidi wou hê presies reg te kry, het hulle Woodoc Colours Brights in die kleure Purple en Pink bygevoeg.

Vra jy haar om haar dekorstyl te beskryf, lag Heidi net en sê dis “baie eklekties. Ek was nog altyd aangetrokke tot kleur. Ek het in Tamboerskloof in Kaapstad grootgeword en ek kan die reuk van my ma se potte Pelikan Plaka-verf nog goed onthou; sy het aan die Michaelis-kunsskool gestudeer.

“Wanneer dit by my eie dekor kom, weet ek nooit mooi waarheen ek op pad is nie. Ek volg nie ’n stap-vir-stap-benadering nie en laat my maar altyd inspireer deur kleur.”


Heidi versamel voëlneste en beendere wat sy tydens haar wandelings optel.

Op die stoep

Nadat hulle verlief geraak het op die pienk voordeur, het Heidi gedink dieselfde kleur sal net so goed werk op die agterstoep. “Ek is absoluut mal daaroor. Ek sou die hele huis pienk geverf het as ek nie reeds die grys verf gekoop het nie!” sê sy laggend.

Hoewel sy nie juis iemand is wat by ’n enkele tema hou nie, het Heidi bepaalde kleure in haar dekor gebruik – soos die pienk, turkoois, groen, geel en oranje op die stoep. “Die oranje is iets nuuts vir my, maar dit lyk goed teen die pienk en gee trefkrag.

“In die winter bring ons baie tyd op die agterstoep deur, en in die somer kuier ons in die voorstoep se koelte,” sê sy. “Dié huis is soos ’n geskenk wat aanhou gee. Hoe langer ons hier woon, hoe meer ontdek ons en hoe meer openbaar die huis homself aan ons.”

[HEIDI SE TOP-KLEURWENKE]

• As jy nie seker is watter kleur om te gebruik nie, kyk na ’n gunsteling-mat, -muurbehangsel of -prent en kies een van die subtieler kleure in daardie voorwerp om elders as ’n hoofkleur te gebruik. So loop daar byvoorbeeld ’n turkoois draad deur die rooi olifant-muurbehangsel in my eetkamer, en dít het die turkoois mure geïnspireer.

• Moenie bang wees om met kleure wat jou na aan die hart lê, te werk nie – gebruik dit in elke vertrek sodat dit deur jou ruimte eggo.

• Vertrou jouself! Jy hoef nie by die geykte manier van dinge doen, te hou nie – volg jou instink.

Ek hou van woorde en het die gryse deels gekies om sentimentele redes – Paris Paving het my herinner aan ons 25ste huweliksherdenking in Parys, en die naam Bovine klink soos ‘divine’! – Heidi

Heidi werk altyd swart en wit by haar dekor in, want dis ’n wonderlike teenvoeter vir kleur. 

Die Lunds is nog nie klaar met die slaapkamer nie. “Ek oorweeg ’n donker moerbeikleur vir die mure – iets tussen pers en pienk!” sê Heidi. Die kopstuk is ’n ou skrootwerf-vonds wat voorheen ’n steierplank-rak gehad het en as handdoekreling gebruik is; die beddegoed kom van Saoedi-Arabië

VERSKAFFERS

Bespoke Designs 087 238 2696

Dassiesfontein Padstal 028 214 1475

Du Toits Granite 021 982 0603

Langeberg Teëls 028 514 1424

Woodoc 0800 411 200