Fotos Francois Oberholster | Stilering Misi Overturf

’n Swart voordeur en ’n geroeste motordeur maak ’n stylstelling by die ingang na Hein en Madelein se huis.

Vloerteëls van Italtile

WIE WOON HIER? Madelein en Hein Luttig en hul seun, Cooper (8)

WAAR Zevenzicht, Kuilsrivier

GROOTTE 180 m² 

Toe Madelein en Hein Luttig in 2013 ná 13 jaar in Brittanje na Suid-Afrika terugkeer, was Kuilsrivier in die Wes-Kaap die logiese voorstad om weer te kom wortelskiet. Dis immers waar hulle grootgeword het. Nou is dit die agtjarige Cooper se beurt om hier te kom herinneringe bou, gerieflik naby Ouma en Oupa.

“Ons het vier jaar gelede op die Zevenzicht-sekuriteitslandgoed gebou en in Desember 2015 ingetrek,” vertel Madelein. “Dis ’n hegte klein gemeenskap: Almal groet mekaar, die kinders speel by die bure en kan boonop veilig in die strate hardloop en fietsry.”

Hoewel die Luttigs aan die streng stylvereistes van die ontwikkeling moes voldoen tydens die bou van hul drieslaapkamerhuis, het dit hulle gepas, want hulle verkies die moderne voorkoms. Maar moenie dat hul liefde vir skoon lyne jou flous nie – dié twee is geseën met ’n goeie skoot kreatiwiteit; hulle hou van spatsels kleur en daar is heelwat speelsheid in hul dekor te sien.

Die geel mure in die ingangsportaal skep heerlike kontras met die bordjiemuur in die oopplan- leefvertrek-en-kombuis. Hein het dié speelse hanglamp in die portaal self gemaak.

Verfkleur
Dulux Lemon Rind

Een van die eerste dekorstukke wat Madelein en Hein vir hul nuwe huis gekoop het, was plakpapier met ’n reuse-wêreldkaart. “Ons is mal oor reis en dis vir ons lekker om te sien waar ons al oral was of waarheen ons nog wil gaan,” sê Madelein. “Dis ’n interessante besprekingspunt wanneer vriende kom kuier. Boonop pas die grys kleur van die kaart perfek by ons dekor, want ons kan enige ander kleur in die leefvertrek inbring omdat alles by grys pas.”

In die leefvertrek word verskillende dekorstyle slim gekombineer. Dit skep ’n huislike atmosfeer propvol persoonlikheid.

Gekleurde ligkoord van Hoi P’loy; silwer blomlamp van Arora Lights; roosgoue lamp van Builders; plakpapier van Wallpaper Inn

Swart verf (Dulux Phantom Ship) skep ’n treffende fokusmuur in die andersins neutrale kombuis, met ’n vrolike pienk (Dulux Sweet Sundae) muur in die agtergrond. Die eetkamertafel is ’n vonds van die Luttigs se familieplaas in Namakwaland. Hein het dit afgeskuur en weer tot sy volle glorie herstel

Madelein se dekorwenke

  • As jy nuut bou of opknap, kies tydlose teëls waarvoor jy nie gou moeg sal word nie. Wit is altyd ’n goeie keuse, want jy kan kleur inbring met plante, potte en kunswerke.
  • Woon eers ’n rukkie in jou huis voordat jy verskillende dekorstukke koop – dit sal jou ’n gevoel van die ruimte en plek gee.
  • Markte en oudhedewinkels is wonderlike plekke om inspirasie te kry. Pinterest, Instagram en Tuis sal jou ook help om vas te stel van watter dekorstyl jy hou.
  • Jou huis moet ’n storie vertel van wie jy of jou gesin is; dit behoort ’n versameling te wees van alles waarvoor julle lief is.

Onthaal en kuier

Die kombuis het ’n skoon voorkoms met neutrale kaste, maar die Luttigs het nie geskroom om een muur pikswart te verf as fokus nie. “Ek is mal oor hoe die swart muur jou oog vang,” vertel Madelein. “Ek het die deur na die waskamer daaragter met pienk verf omraam, en dit vorm hierdie pragtige kontras. Swart en pienk is vir my prettig in ’n kombuis!” vertel sy laggend.

Benewens die swart en pienk muur moes Madelein opsluit ook een met borde versier. “Ek wou nog altyd ’n bordjiemuur hê. Die bordjies het omtrent elkeen sy eie storie – van iets wat ons by ’n markie in Londen gekoop het tot kleinode van my ma. As ek na dié bordjiemuur kyk, laat dit my altyd glimlag, want dis iets waarvan my ma ook gehou het. Ons het dit wel ’n bietjie meer kontemporêr gemaak deur die borde met ons gesin se voorletters en ander stukkies kuns te kombineer.”

Die kombuis sluit gemaklik aan by die gesin se oopplan-leefwyse en skakel naatloos met die eetkamer en sitkamer wat op die klein agterplaas uitloop. Omdat die gesin twee honde en ’n jong seun het, was vloei tussen binne en buite baie belangrik. “Ons geniet dit om in die middae, nadat ons tuisgekom het, eers buite te sit met ’n glasie wyn terwyl Cooper op die trampolien spring. Ons onthaal ook graag hier,” vertel Madelein. 

Die gastebadkamer het ’n klassieke voorkoms danksy die pootjiesbad, metroteëls en antieke wastafeltjie; laasgenoemde kom ook van die familie-plaas af en is nou die perfekte wasbakkas, oorspronklike teëltjies en al.

Die vinielblomme teen die muur van haar en suite verskaf Madelein elke oggend hope plesier en bring kleur in die andersins neutrale ruimte.

Wasbakke en krane van Bathrooms4U; vinielplakker van Luv’it

Droomland

Hein en Madelein se kreatiwiteit is ook sigbaar in die dekor van hul slaapkamer. Die hoofslaapkamer moes aan ’n moderne boetiekhotel herinner, verduidelik sy. “Dit was vir my belangrik om ’n ruimte met ’n wegbreek-gevoel te skep. Ek en Hein sit graag hier en lees of gesels – veral as daar ’n klompie woelige 8-jariges in die huis speel en by die leefvertrek in- en uithardloop!” sê sy en lag. Hein het die kopstuk self gemaak en oorgetrek.

Die kamer se moderne voorkoms is deurgevoer tot in die en suite-badkamer, waar klassieke metroteëls die skoon lyne aksentueer.

“Ek dink ons het dit reggekry om ’n moderne en skoon voorkoms in ons huis te skep, maar ons kon dit met ons eie eklektiese styl inkleur,” sê sy.

Hortjies van Plantation Shutters

Dekor moet iets beteken. Baie van ons meubels is familiestukke wat elkeen ’n storie vertel. – Madelein

Cooper se kamer spog met helderrooie en -bloue en hy is gaande oor sy ruimte-tema.

Verfkleur
Duram Ultramarine Blue

Kleur en tekstuur

“My styl is eklekties, met moderne bykomstighede,” sê Madelein. “My ma is vyf jaar gelede oorlede en my pa verlede jaar – die meubels het dus vir my die mooiste herinneringe aan my ouers.”

Sy het deurgaans kleure uit die natuur – groen, blou, grys en wit – in haar palet gebruik. Tekstuur is volop danksy mooi lappe, matte en ’n rou baksteenmuur by die ingang. En helder spatsels kleur en vrolike kunswerke dra by tot die eklektiese voorkoms waarvoor hulle so lief is.

Buiten materiaalwinkels is Madelein lief daarvoor om by markte rond te snuffel; heelparty van die kunswerke in hul huis is by KAMERS/Makers, die CY-mark en die Stellenberg-feesmark gekoop.

“Maar Hein is baie kunstig en al die groot kunswerke is sy handewerk,” vertel Madelein. “Hy verf vir ontspanning, maar kan eintlik enigiets met sy hande maak. Ons gesels net oor iets wat ons vir die huis kort, dan maak hy ons idees ’n werklikheid!”

Spatsels geel, pienk en groen vrolik die gastekamer op.

Die knus agterstoep is waar die gesin die meeste van hul tyd deurbring. Dié “witboom” van hout is een van Hein se skeppings en sluit aan by sy en Madelein se speelse aanslag tot mooimaak. Sommige aande hang hulle teeliggies in glasborrels aan die boom vir ’n mooi skouspel.

Stoele van Makro; teëls van Italtile 

Die stoepteëls pas perfek by ons palet van bloue en groene. – Madelein
VERSKAFFERS

Arora Lights 021 949 2520

Bathrooms4U 021 883 9861

Builders 0860 284 533

Hoi P’loy 021 447 1433

Italtile 086 155 5109

Luv’it 083 241 5943

Makro 0860 300 999

Plantation Shutters 021 577 1705

Wallpaper Inn 087 359 1682