Foto’s Francois Oberholster en Greg Cox | Stilering Marian van Wyk

WIE WOON HIER?

Rina-Marie en Niel van Velden met hul kinders, Simon (6) en Alex (3)

WAAR Overgaauwwynlandgoed, Stellenbosch

GROOTTE 120 m² 

Twee I-balke dien as basis vir ’n aluminiumvensterraam aan elke kant. Die dakbalke is geanker met behulp van pasgemaakte stutte wat direk bo-op die twee vraghouers vasgesweis is. Waar die balke bo by die nok met ’n 45°-hoek bymekaarkom, is daar nog pasgemaakte knoopplate vir ondersteuning. IsoBoard en plafonborde is tussen die ontblote balke geïnstalleer. Kombuiseiland van Greenway Interiors

1 Maak ’n konneksie

Met die koms van hul twee kinders het Rina-Marie en Niel se 90 m²- kothuis op die familieplaas sommer gou te klein begin voel, en hulle wou graag aanbou. Maar, omdat die ou herdershuisie uit die laat 1700’s dateer, wou hulle graag die oorspronklike karakter behou. “Ons wou nie aanbou en die nuwe deel oud laat lyk om by die kothuis te pas nie,” sê Rina-Marie. “Pleks daarvan het ons ’n uiters moderne aanbouing beplan sodat jy duidelik die verskil tussen die ou en nuwe deel kan sien, en só die sjarme van die bestaande kothuis behou.”

Die Van Veldens het na verskeie opsies gekyk en onder leiding van die argitek Stephen Hitchcock van Stretch Architects besluit op vraghouers. “Omdat die huis op ’n skuins erf staan, was dié boumetode heelwat goedkoper as ander opsies, want dit kon eenvoudig op betonpilare geanker word. Boonop het ons baie van die ontwerpkonsep gehou,” verduidelik Rina-Marie.

Maar dié ontwerp is nie jou standaard- reghoekige vraghouer wat in ’n blyplek omskep is nie. Twee 12 m-vraghouers langs mekaar is verbind met ’n betonvloer, aluminiumraamvensters en ’n spits dak. ’n Glas-loopgang verbind die herdershuisie met die nuwe struktuur en dien as duidelike skeiding tussen oud en nuut. En so skakel albei lieflik in by die pragtige plaas-omgewing.

’n Volledige huis

Die nuwe struktuur is ’n volledige drieslaapkamerhuis waar die jong gesin die meeste van hul tyd saam deurbring. Die twee vraghouers, wat deur Topshell aangepas is en in Augustus 2019 afgelewer is, dien as slaapkamers – een is in twee kamers en ’n klein badkamer verdeel vir die kinders en die ander een is die hoofslaapkamer met sy en suite. ’n Opwashoekie uit die kombuis is ook in dié deel geskep.

In die oopplankombuis, -eet en -sitkamer tussen die twee houers is van die buitepanele net so gelos – iets waaroor die paartjie gaande is. Die res is beklee met Nutec-bord.

“Ons is dol oor al die natuurlike lig wat hier instroom danksy die groot vensters en ’n dubbelvolume-leefarea,” sê Rina-Marie. “Die kothuis het sulke klein venstertjies – ons moes altyd buitentoe gaan om die omgewing te geniet. Nou het ons ’n uitsig uit elke vertrek. Gaste sê dikwels dis die eenvoud van die struktuur wat so ’n lieflike, knus ruimte skep,” sê Rina-Marie. “En almal is mal oor die natuurlike ‘skilderye’ wat perfek omraam word deur al die vensters.”

Die houers is voor aflewering afgerond deur Topshell: Alle roeskolle is weggeskuur en toe netjies gespuitverf. Nadat al die bouwerk op die terrein voltooi is, kon die Van Veldens die binnekant afrond met ’n finale verflaag van hul keuse.

Saam met die afgevlakte vloer dra die ontblote houtbalke en staal-I-balke by tot die kontemporêre styl van die huis. Vensters deur Go Green Design

Dis vir my wonderlik hoe die ontblote mure binne duidelik wys dis nog ’n vraghouer. – Rina-Marie

Staalrakke gemaak deur Reiner Joubert

Die groot portret, Johannes, is deur M Els, en die twee kleiner kunswerke deur Stefania Origgi.

’n Stylvolle kombinasie

Rina-Marie se liefde vir oud en nuut is ook te sien in haar dekor. “ ’n Natuurlike verhouding tussen oud en nuut is belangrik,” sê sy.

“Ek hou van dinge wat ingeleef en aanloklik lyk. Die meeste van ons meubels is erfstukke en ander kom uit tweedehandswinkels. Dit skep goeie balans teen die moderne struktuur van die huis.” Vir ’n natuurlike palet wat die huis se omgewing komplementeer het Rina-Marie aardse kleure soos houtskool, wit en groen, asook tekstuurryke afwerkings soos sement en hout, gekies. Sy versier ook graag met groenigheid.

Soos in baie huise is die Van Veldens se kombuis die middelpunt van al die aksie. “Ek is mal oor kook, daarom moes die kombuis prakties wees,” sê Rina-Marie. “Maar omdat ons ook rondom die eiland onthaal, was dit belangrik dat die ruimte gesellig voel.” Die groot eiland met sy staalraam en blad van saamgstelde klip is ’n apploustrekker. “Ek hou van al die laaie – die kombuis in die kothuis het skaars kaste gehad. Nou is daar plek vir alles – dis fantasties!”

Laai-eenheid van G Designs 

Verfkleur Plascon Monsoon Lagoon

Die drie kunswerke getiteld Table conversations deur Shany van den Berg was ’n geskenk van Rina-Marie se ouers op haar 21ste verjaardag.

’n Glas-loopgang verbind die ou kothuis met die nuwe vraghouerhuis.

Van aflaai tot intrek

1 Die vraghouer vir die hoofslaapkamer word met ’n hyskraan van die sleepwa gelig.

2 Hier is die komvensters wat spesiaal by die slaapkamers ingesit is, duidelik te sien.

3 Die twee houers word op die pilare neergesit voordat die res van die bouwerk kan begin.

4 Die betonvloer tussen die vraghouers word voltooi en die I-balke vir die venster-strukture word geïnstalleer. Die dakbalke word met pasgemaakte stutte bo-op die houers vasgesit.

Rina-Marie beplan om die pilare met rankplante te versag.

KENNERSRAAD

“ ’n Knap begroting dwing jou om met nuwe oë na alledaagse materiale te kyk,” sê die argitek Stephen Hitchcock van Stretch Architects. “Vraghouers was nog altyd ’n gewilde keuse vir verskuifbare strukture – dink maar aan tydelike klinieke, terreinkantore of huiswinkels – maar dis ook ’n haalbare opsie om by permanente huise in te werk, veral met die stygende koste van tradisionele boumetodes.

Voordele Die grootste deel van die werk vind elders plaas in ’n beheerde omgewing. Só is daar beter gehaltebeheer en is minder boutyd op die perseel self nodig. As dit reg gedoen word, is dit ’n goedkoper alternatief vir tradisionele boumetodes.

Nadele Die houers moet waterdig en vuurvas gemaak word, en dit moet behoorlik geïsoleer word – wat ’n aardige bedrag kan kos. Jy het ook ’n vragmotor met ’n plat laaibak nodig vir aflewering; daarom is voldoende toegang tot die perseel belangrik.

Wenke As jy besluit om met vraghouers te bou, aanvaar dit vir wat dit is en gebruik dit soveel moontlik in sy oorspronklike vorm. Rangskik dit só dat jy ’n nuwe bewoonbare ruimte tussenin skep – as jy net ’n dak bo-oor kan installeer, het jy ’n nuwe vertrek en uiteindelik ’n volledige huis!

KONTAK 084 516 3976, stretcharchitects.com

[NIEL EN RINA-MARIE SE WENKE]

  • • Kies ’n goeie vervaardiger; Topshell het ons beïndruk met hul kennis en die standaard van hul werk. Hulle het die aanpassings en versterkings verstaan en goed toegepas.
  • • Gebruik die vraghouers om ekstra ruimte te skep. Deur twee oorkant mekaar staan te maak en die twee te verbind met ’n betonvloer in die middel en ’n dak bo-op kon ons ’n ruimte van 120 m² skep. En deur komvensters by te voeg (Topshell het dit vooraf gedoen) het elke slaapkamer 900 mm gewen; ’n groot verskil, aangesien dit ’n taamlik smal ruimte is.

Met sy uitsig op ’n boom voel die minimalistiese, rustige hoofslaapkamer amper soos ’n boomhuis.

VERSKAFFERS EN KONTAKTE

G Designs 074 305 8610

Go Green Design 021 945 1156, gogreendesign.co.za

Greenway Interiors 021 868 1289, greenwayinteriors.co.za

Qasim Jakoet (boukontrakteur) 084 563 4870

Rayner Joubert 081 773 7474

Shany van den Berg 082 821 1620, shanyvandenberg.com

Stefania Origgi 082 880 4005

Topshell 076 770 4500, topshell.co.za

2 Ons wegbreekplekkie

WIE WOON HIER?

Jean en Hanli Fourie

WAAR Riebeek-Kasteel

GROOTTE 15 m²

Vir Jean en Hanli het die idee van ’n klein vraghouerhuis in 2019 posgevat nadat die twee Kapenaars ’n erf op Riebeek-Kasteel gekoop het met die plan om ’n baksteenhuis te bou en permanent daar te gaan woon.

“Omdat ons van plan was om betrokke te wees wanneer die bouery eers begin, wou ons ’n plekkie op die perseel hê waar ons kon bly terwyl ons ’n oog op die vordering hou,” sê Jean. Nadat hulle met die plaaslike munisipaliteit gesels het, het hulle besluit hulle sou ’n terreinkantoor en pakplek op die erf staanmaak.

Jean sê: “Die plan was om in ’n 6 m-vraghouer te belê en dit in ’n kantoor te omskep. Maar ons het gou besef ons gaan nie tevrede wees om net hier en daar ’n venster of deur in te sit nie; ons wou ’n volwaardige huisie ontwerp.”

Jean, ’n meganiese ingenieur wat ren- en sportmotors vir die internasionale mark ontwerp, en Hanli, ’n skoonheidskundige, het eiehandig die vraghouer in ’n trendy huis verander – self gesaag en gesweis, isolering geïnstalleer en geverf, en die loodgieters- en elektriese werk gedoen. Die resultaat? ’n Knus wegbreekplek met ’n slaapkamer, stort, toilet en oopplan-leefarea – én ’n dek wat meganies opslaan! Wanneer hul baksteenhuis klaar is, gaan hulle die vraghouerhuis hou as ’n gastekothuis, of dit verkoop.

Die houer is teen die hitte en koue geïsoleer deur die mure en plafon te beklee met 18 mm-laaghout oor ’n 10 cm-laag Isotherm. Die mure is geskuur, met ’n onderlaag bedek en voorberei vir plakpapier. “Dit was so opwindend toe die houer soos ’n huis begin lyk,” sê Jean. Plakpapier van WCI Wallpapers; plafon van Happy PVC Ceilings; ysterware van Builders; laaghout van Online Building Supplies; strooikussing van MRP Home

Die oorspronklike deure aan die kort sye is behou, maar Jean het ook ’n skuifdeur en venster net binne een stel deure bygevoeg.

’n Muur en aluminiumdeur skei die slaap- en leefdeel. In die stort het Jean die houer se vloer uitgesaag en ’n pasgemaakte stortbak van vlekvrye staal daar versink om die water op te vang en tuin toe te lei; bo-oor is oorskiet-dekplanke gelê. Hy het selfs ’n nis vir sjampoe en seep in die stortmuur gemaak! Lap oor bed van Sophia Helen Design; Lemon Delight-kussing van Makietie 


Aan die werk ...

Die paartjie het ’n B-graad-vraghouer van TCC Container Services gekry. Die hele omskakeling is by Jean se sakeperseel gedoen voor hulle die eenheid Riebeek-Kasteel toe vervoer het. Die omskakeling het sowat R110 000 gekos.

Jean het die hele “voorste” paneel van die vraghouer uitgesaag en toe ’n stewige raam, vier doelgemaakte skarniere en ’n 12V-wenas met leispore en ’n roller aan dié paneel geheg sodat dit maklik kan oopslaan. Dit vorm ’n dek wanneer dit oop is en bied sekuriteit wanneer dit toe is, en gee ’n nuwe dimensie aan die begrip “toesluit en ry”! Hout-dekplanke is aan die binnekant van die paneel gesit en wanneer die 15 m²-dek afgeslaan is, verdubbel dit hul leefruimte. Op die perseel is ’n afdak met deursigtige panele oor die dek aangebring vir skadu.

’n Sonpaneel wek krag op vir twee 12V-batterye.

Jean het die meeste van die kombuiskaste pasgemaak en ’n gasstoof geïnstalleer. Groot keramiekteëls is vasgeplak pleks van met sement geheg, want hy was bekommerd oor beweging tydens die vervoer van die houer na sy nuwe staanplek. Die vloere is bedek met viniel met ’n houtvoorkoms en plakpapier skep ’n lieflike agtergrond.

[JEAN SE TOPWENKE]

• As jy kan, koop ’n A-graad-vraghouer. Dit neem langer en kos meer om die B-graad-houer na jou smaak reg te ruk.

• Isoleer die houer goed. Afgesien van die temperatuurreëling help dit ook om geraas van buite te verminder.

• Gebruik laaghout van minstens 18 mm (of selfs dikker), pleks van 10 mm, om die mure te beklee.

• Volgende keer sou ek klaargemaakte kaste koop!

VERSKAFFERS

Builders 0860 284 533

Cape Glass and Aluminium 078 367 4322

Flooring Solutions 021 982 8008

Happy PVC Ceilings 021 701 1414

Makietie 084 206 9898

MRP Home 0800 212 535

Online Building Supplies 021 712 1550

SophiaHelen Design 021 976 0114

TCC Container Services 021 510 1677

The Board Store 021 551 3060

WCI Wallpapers 021 465 6547