Foto’s Francois Oberholster • Stilering Marian van Wyk

WIE WOON HIER? Piet en Strepies van Wyk en hul twee Siberiese katte, Joseph en Olga

WAAR Agulhas, Wes-Kaap

GROOTTE 414 m²

Elke dag as Strepies van Wyk kantoor toe en weer terug huis toe ry, verwonder sy haar steeds aan die ongelooflik mooi natuur van die kusstrook waar hulle bly.

Jare terug, toe haar en haar man, Piet, se kinders nog klein was, het sy altyd met hulle in die Soldatepoel – ’n lieflike getypoel aan die suidelikste punt van die vasteland – kom swem. “Piet het destyds in die omgewing geboer,” vertel sy. “En elke keer as ons hier kom swem het, het ek die huise hier reg langs die see bewonder.”

In 1992 het die Van Wyks by die eiendomsbedryf in die omgewing betrokke geraak en later Struisbaai toe getrek. “Meer as tien jaar later, in 2006, het ek dié einste huisie namens die eienaars geskou en net tuis gevoel – al was hier nie veel van ’n kombuis nie en ook nie ’n en suite-badkamer nie.” Uiteindelik het sy en Piet die eiendom toe self gekoop.

Die vorige eienaars het die huis hoofsaaklik as vakansieplek gebruik – dit was daarom nie juis ingerig vir permanente verblyf nie. “Pleks van ’n kombuis was hier net ’n kroeg met 14 sitplekke,” onthou Strepies vandag.

As eiendomskonsultant verstaan Strepies alte goed dat jy nie net ’n eiendom moet mooimaak nie, maar ook waarde moet toevoeg. Sy verkies dat ’n huis gemaklik van binne na buite moet vloei, veral vir familiekuiers. Piet se vereiste was dat daar ’n binnebraai moes wees; dit is toe langs die kroeg ingebou nog voordat hulle ingetrek het.

’n Jaar later het hulle begin met die opgradering van die kombuis, en die badkamers het ’n paar jaar later gevolg. Vier jaar gelede het hulle ook ’n nuwe hoofslaapkamer met en suite aangebou, en verlede jaar is die kombuis finaal afgerond. Tussendeur is daar ’n waskamer aangebou en die gastekamer buite vergroot en opgegradeer.

Strepies was gelukkig genoeg dat sy van die begin af op haar dogter, Carol, ’n interieurontwerper van Kaapstad, kon staatmaak vir die uitleg en beplanning van elke projek, terwyl die argitek Hendré Pitout gesorg het dat die huis van buite sy eenvoudige styl behou.

“Vandag is die huis perfek vir ons behoeftes. Dis vir ons baie lekker as die hele familie by ons is. Twee van ons kinders bly op Struisbaai en kom gereeld Sondae by ons eet. En wanneer Carol hier kuier, kom die ander ook oor vir ’n lekker braai. Op warm somersdae geniet die kleinkinders die getypoel reg voor die huis en draf sommer gou oor die pad vir iets te eet of te drink.” 

Die getypoel oorkant die Van Wyks se huis staan bekend as Soldatepoel. Volgens oorlewering was daar tydens die Tweede Wêreldoorlog ’n radiostasie op die berg wat net deur vrouesoldate beman is. Hulle is hier ontplooi om die kuslyn dop te hou vir vyandige duikbote en ander vaartuie. Die getypoel was hul uitspanplek – vandaar die naam.

Matrasse van Woolworths

Wat is ’n somervakansie nou sonder dik skywe waatlemoen? Strepies, haar dogter Carol, Mischa en Philip (Strepies se seun Philip se kinders) geniet die uitsig oor die suidpunt van Afrika. Van hier kan ’n mens verby Soldatepoel (bo) tot by Struisbaai met sy 14 kilometer lange strand sien.

Hangmat van Beach House Interiors & Homeware; strandhanddoeke van Woolworths

Hulle sê mos hoe verder suid jy in ’n land gaan, hoe meer ontspanne is die mense. – Strepies


Die Van Wyks het die besonderse kassie langs die kaggel ongeveer 28 jaar terug by Napier Antiek gekoop.

Kanttafels van Weylandts en Montebello Design Centre; deken van Hertex; kunswerk deur Jan Le Witt; strooikussings van Montebello Design Centre

Rottangmeubels, ’n grasmat en mandjies verskaf tekstuur in die oopplan-leefvertrek.

Rottangstoele van Weylandts, kussings oorgetrek met linne van Mavromac; leerbank van Klooftique; strooikussings van Montebello Design Centre; deken van Hertex

Strepies en Piet het die geelhouttafel sowat 40 jaar terug gekoop by ene oom Manie Groenewald. “Ek onthou nog goed dit het in sy motorhuis aan die dakbalke gehang,” vertel sy. Die buffet agter het hulle 15 jaar terug by Napier Antiek raakgeloop.

Hanglampe van Pezula; tafellamp van Cécile & Boyd; beeldjies van Rudi Neuland

Ná die vernuwing spog die kombuis met Caesarstone-blaaie in die kleur Snow White en handgemaakte terracotta-teëls met naaswit glasuur. Kaste en rakke van wit essenhout verskaf warmte.

Teëls van Douglas Jones; krane van Exquisite Bathrooms; kombuiskaste en houtwerk deur Tip of Africa Creations

Die blou toonkas is saam met die huis gekoop. “Ons het hom net oorgeverf,” vertel Strepies.

Bankie van Block & Chisel; skildery deur Leszek Skurski

Van tydelike tot permanente blyplek

Baie vakansiegangers sal saamstem: Dis nie juis ’n probleem om ongemaklike ruimtes in ’n vakansiehuis te verduur as dit net vir ’n week of drie op ’n keer is nie. Maar as jy en jou huismense dit jaarin en jaaruit wil gebruik, kan dit knyp. “Piet is lief vir kos maak en ons onthaal graag ons kinders en vriende,” verduidelik Strepies. “Die vorige kombuis was smal en die opwasarea was in ’n nou gangetjie, wat nie vir ons gewerk het nie.”

Carol vertel hoe sy te werk gegaan het: “Ons moes meer beweegruimte en meer pakplek skep.” Met die groot stoep onder dak was die logiese besluit om ’n deel toe te bou vir ekstra leefruimte.

“Omdat die toestelle en ingeboude kaste in die kombuis meestal nog in ’n goeie toestand was, kon ons dit behou. Vir ’n vars voorkoms het ons wit essenhout gebruik as sweefrakke en vir ’n paar soliede kaste. Ons het ook luike van dieselfde hout laat maak om die opwasdeel toe te maak wanneer nodig en ergonomiese binnerakke gebruik om kasspasie optimaal te benut.” 

Praktiese seehuis-dekor

Strepies hou van ’n neutrale kleurskema, vandaar die meestal wit en naaswit oppervlakke. Dit laat haar toe om die aksentkleure van tyd tot tyd af te wissel. “Op die oomblik is die aksente meestal heldergeel en verskillende skakerings van blou,” verduidelik Carol, wat gehelp het met die inkleding.

Sy het ook verskillende teksture slim ingespan om karakter aan haar ma se huis te verleen. “Natuurlike materiale is tydloos en laat ’n mens goed voel om daarmee omring te wees.” Linne, hennep en katoen, rottang en seegras is óf laag op laag óf in geweefde vorm te sien deur die hele huis – van dekens op rottangstoele tot mandjies en los matte. Dit komplementeer die ander aardse teksture van ou en nuwe hout, bakstene en leer. Vir kontras is reflektiewe oppervlakke soos keramiek en glas bygevoeg.

Buiten die hoofslaapkamer en die badkamers is al die vloere bedek met gelamineerde hout. Dis duursaam genoeg vir sandvoete en baie maklik om skoon te hou.

Carol glo nie ’n mens hoef jou mooigoed weg te pak wanneer familie met jong kinders by jou huis langs die branders kom kuier nie. “Kies materiale wat jy in die wasmasjien kan gooi en oppervlakke wat nie maklik skrape opdoen nie. Koop gebruiksware wat almal saam kan geniet, sonder bekommernis,” is haar raad.

’n Ruwe ontblote baksteenmuur gee trefkrag in ’n gastekamer waar Joseph hom graag tuismaak.

Blou kussing en deken van Mungo; handdoeke van Arabesque

Die pragtige stoel in die gesinsbadkamer het ’n mooi storie. Strepies vertel: “Toe my oupa Ben afgetree het by Barry Handelshuis op Robertson, het hy dié stoel gekry vir getroue diens.”

Witelshout-bekleding deur Victor Hugo Originals; krane van Lavo Bathrooms; badmat van Weylandts

Huisie by die see

Oorweeg jy eiendom by die see?

Hier is Strepies se raad oor wat jy in gedagte moet hou as jy ’n kus-eiendom oorweeg:

  • Ligging Natuurlik is elke individu se behoeftes verskillend. Party wil loopafstand van die see wees en ander wil weer ’n see-uitsig hê of net ’n stukkie van die see kan sien.
  • Beleggingswaarde As jy reg koop en die uitleg laat werk, is eiendom altyd ’n goeie belegging – maak nie saak waar dit is nie. Laat jou lei deur ’n betroubare agent.
  • Vir aftrede Die ontspanne atmosfeer en rustige leefwyse op dorpe langs die Suid-Afrikaanse kus maak dit aantreklik vir afskaal.
  • Vir korttermyn-verhuring Weer eens hang dit af van die ligging en die behoeftes van die korttermyn-huurmark. Hoe nader aan die see en ander geriewe en hoe geriefliker die verblyf, hoe beter die moontlike inkomste.

In die somer, wanneer dit ondraaglik warm raak in die binneland, is hier altyd ’n welkome briesie. Die vloer in die hoofslaapkamer, wat sowat vier jaar gelede aangebou is, is van afgewitte soliede dennehout.

Stoel en bankie van Weylandts; lampe van LIM; liggeel kussing van Woolworths; mat van Ecoco; bedkassies van soliede Franse eikehout gemaak deur Victor Hugo Originals

Daar is vir my niks lekkerder as om ná ’n besige dag tuis te kom en die see-uitsig en die rustigheid te geniet nie. – Strepies

Die antieke stoel in die hoofslaapkamer se en suite kom uit Strepies se pa se familie. “Dit was sy ouers s’n,” vertel sy. “My pa het dié ‘ouma’-stoel geërf en sy broer die ‘oupa’-stoel.”

Mat van Ecoco; Tabula Bianco-porseleinteëls met houtvoorkoms van Italcotto

KONTAKTE EN VERSKAFFERS

Arabesque 021 424 1234, arabesque-shop.com

Beach House Interiors & Homeware 028 313 0383, beachhouse.co.za

Caesarstone caesarstone.co.za

Carolina Van Wyk Interiors 083 372 1638, morehomelove.co.za

Cécile & Boyd cecileandboyds.com

Douglas Jones 086 166 7242, douglasjones.co.za

Ecoco 021 424 3339, ecoco.co.za

Exquisite Bathrooms 021 418 7626, exb.co.za

Hendré Pitout 021 976 8774

Hertex 0860 437 839, hertex.co.za

Italcotto 021 425 4192, italcotto.co.za

Klooftique 021 424 9458, klooftique.com

Lavo Bathrooms 021 461 0180, lavo.co.za

LIM 021 423 1200, lim.co.za

Mavromac 021 797 4739, mavromacandthegatehouse.co.za

Montebello Design Centre 021 685 6445, montebello.co.za

Mungo 021 201 2374, mungo.co.za

Napier Antiek 028 423 3314

Pezula Interiors 021 424 2661, pezulainteriors.co.za

Strepies van Wyk 082 801 6154

Tip of Africa Creations 028 435 6131, tipofafricacreations.co.za

Victor Hugo Originals 028 425 2881, victorhugooriginals.co.za

Weylandts 0860 103 400, weylandts.co.za

Woolworths 0860 022 002, woolworths.co.za