Foto’s Greg Cox | Stilering Marian van Wyk 

In die solder se oopplan-leefarea word ’n vintage-Flokati-mat as deken ingespan op die groot dagbed. Strooikussings met ryk motiewe, teksture en kleure skep ’n knus agteroorsit-hoekie met ’n uitsig op Tafelberg.

WIE WOON HIER? Nadia Botha

WAAR Rosebank, Kaapstad

GROOTTE 220 m²

Verfkleur
Duram Sodwana Pool

Toe Sandra en Andries Botha in 2006 uit die woelige Kaapse middestad na die voorstede wou trek, het ’n Kaaps-Hollandse huis in Rosebank hul hart gesteel. Dis in 1785 gebou, en het hulle herinner aan die huis op hul Vrystaatse plaas waar hulle voorheen gewoon het. Dit het die ouwêreldse sjarme en stewige raamwerk gehad waarna hulle op soek was – ongelukkig was die solder ’n ander saak.

’n Solder is gewoonlik ’n aanwins, maar dié een was in ’n treurige toestand. Dit was donker en klam, die vloer het skeefgetrek toe ’n geiser jare gelede gebars het en die houtbalke en grasdak het begin insak.

Al sou hulle dit net vir pakplek gebruik, wou die paartjie darem ’n veilige, sindelike ruimte bo hul blyplek hê.

Hulle het die vloer laat herstel, die rietdak laat vervang, maar die oorspronklike ontblote dakbalke behou. ’n Paar skuifraam-vensters is ingesit om natuurlike lig in te laat.

Aanvanklik het hulle wel die ruimte vir pakplek gebruik, maar toe hul dogter Nadia in 2016, ná 10 jaar in die buiteland, terugkeer na Suid-Afrika, het sy blyplek gesoek. Daarom het die Bothas besluit om die ruimte in ’n woonstel vir haar te omskep.

Andries hou van nuwe nut aan ougoed gee en het die projek met albei hande aangegryp. Oor die jare het hy allerlei goed bymekaargemaak – van ’n boom wat in ’n storm omgewaai het tot geperste plafonpanele uit ’n afgebrande gebou in Bloemfontein. En omdat hy jare lank geboer het, skrik hy nie vir hande vuilmaak nie. “As boer leer jy om dinge self te doen en om op ’n knap begroting reg te kom!” sê hy laggend.

Agttien maande lank het Nadia, Andries en hul bouer, Francois Burger, gewerskaf: dennehoutvloere gelê, ’n bouvallige trap vervang, droëmure ingesit om ’n badkamer en twee slaapkamers te skep en ’n kombuis ingerig. Vandag is die stowwerige, onderbenutte ruimte ’n stylvolle blyplek. 

Dubbeldeure, “weggooigoed” van ’n vriend se opknap, maak uit die oopplan-leefarea oop op die gastekamer. Die glas is gesandblaas vir privaatheid. ’n Droëmuur met ’n CreteStone-afwerking vir tekstuur skei die slaapkamers van die leefarea.

Ons is dol hieroor! Die spatsel pastelpienk van dié Smeg-yskas bring ’n bietjie pret in die ruimte.

Weens die gebrek aan muurspasie was dit ’n uitdaging om die kombuis te ontwerp. “Gelukkig het my suster juis ’n nuwe kombuis laat installeer, toe kon ek uit haar ou kaste genoeg eenhede uitsoek wat die beste in dié klein, driehoekige ruimte sou pas,” verduidelik Nadia.

Die geelhout-eetkamertafel is Andries en Sandra s’n; hulle het dit sowat 30 jaar gelede by ’n vakman in Knysna laat maak vir hul vakansiehuis op dié kusdorp.

Ek is dol oor die aardse groen op die kaste; dit neem my terug na die warmte van my ouma en oupa se plaaskombuis in die Vrystaat. – Nadia

Die tafel met marmerblad en stoele is erfstukke.

My gunstelingtyd op die stoep is soggens vroeg wanneer die lig ’n sagte goue gloed is, en vroeg saans wanneer dit begin donker raak. – Nadia

’n Soliede deur na die stoep is vervang met ’n dubbeldeur met glaspanele wat Nadia en haar pa by Ross Demolition raakgeloop het.

Die sierlike, geverfde trapreling was voorheen deel van ’n ou Balinese dagbed, terwyl die treetjies se hout gesaag is uit ’n boom wat ná stormskade in die parlementstuin in Kaapstad afgekap moes word.  

Verfkleur
Dulux Heritage Green

Dekor-inspirasie uit Parys

Sandra en Andries het nog altyd ’n oog vir mooigoed gehad. Deur die jare het hulle hul opeenvolgende huise gevul met allerhande antieke meubels en linne van topgehalte, en baie van dié skatte versier nou Nadia se opgeknapte solderwoning.

“Ek is baie gelukkig dat my ouers al dié mooigoed gehou het; gelukkig is ons hele familie ’n spul opgaarders,” sê Nadia. “Met my eklektiese smaak was dit vir my heerlik om die erfstukke uit my familie saam met al die meubels wat ek tydens my jare oorsee bymekaargemaak het, weer nut te gee. Dit hou my in voeling met al die herinnerings en ervarings wat elkeen verteenwoordig.”

Volgens Nadia is dié kombinasie tipies van die Boheemse solderwoonstelle in Parys, waar sy baie jare gewoon het. “Ek vind dié ruimtes absoluut onweerstaanbaar. Hul karakter is gevorm en ingeleef van geslag tot geslag, nie geskep met uitgesoekte meubels of perfekte stilering nie. Dis ’n ryk mengsel van handgemaak, geërf en aangegee na volgende geslagte, waarby stukke met ’n ware herkoms en vlooimark-vondste net so welkom is. Niks gee voor om perfek te wees nie.” 

Dennehout-panele is rondom een van die komvensters geplaas om die badkamer van 11 m² te skep. Vensters aan die bokant laat natuurlike lig deur. “Omdat ons reeds die toilet, lamp en losstaande bad gehad het, was die koper- sanitêre ware al groot uitgawe hier,” verduidelik Nadia.

Andries het dié teëls van geperste tin wat vir die badkamerplafon gebruik is, in 2005 uit ’n afgebrande gebou in Bloemfontein gered – dit het hom net R5 stuk gekos!

Travertyn-vloerteëls van Artmar Warehouse; koper- sanitêre ware van Wauhaus

Verfkleur
As jy van dié blou panele hou, probeer Plascon Lapis Blue.


Nadia het verlief geraak op die “teatrale vorm” van dié antieke sleebed van On Site Gallery en dit het die middelpunt van haar elegante slaapkamer geword.

Staanlamp van Private Collections; bedkassies van Weylandts; die mat en stoel is erfstukke

Nadia is ’n joga-instrukteur en het die sentrale ruimte tussen die leefareas, kombuis en gastekamer oop gehou vir klein klasse en privaat kliënte.

Hangstoel van Weylandts; pienk gestoffeerde ottoman van Piér Rabe Antiques; room stoel van Block & Chisel; die mat is ’n erfstuk

Pragtige tekstiele roer my net soos kuns, veral tradisionele weeftegnieke en borduurwerk. – Nadia

AAN DIE WERK...

Die vloer is ’n ou “brandsolder”, wat tipies uit ’n laag klei en stene bestaan en keer dat ’n brand wat moontlik in die grasdak kan ontstaan, na die vertrekke daaronder versprei. Die Bothas het dennehoutplanke daaroor laat lê en die oorspronklike dak professioneel laat versterk.

Weens die A-raam van die solder strek die dennehoutpanele wat gebruik is om die badkamer en hoofslaapkamer af te skort, nie tot teen die plafon nie. Dit laat meer natuurlike lig in. Nadia en Andries het in die beplanningsfase ou lakens opgehang sodat hulle “die vertrekke kon visualiseer en ’n gevoel vir die ruimte kon kry”.

’n Ou, mankolieke trap tussen die huis en solder is vervang met ’n nuwe een gebou uit herwinde vondste.

Uitdagings

Dit wil nogal gedoen wees om ’n ruimte met ’n A-raam te versier.

Hier is Nadia se raad vir diegene wat ’n soortgelyke projek wil aanpak:

  • Omdat daar soveel ontblote balke is, kan die ruimte baie gou besig lyk. Ek het my bes probeer om die wonderlike, oop gevoel wat ’n mens in ’n solder geniet, te behou.
  • Ons kon nie plat ligskakelaars aan die ronde balke vassit nie. Moderne, reghoekige plastiek-skakelaars sou iedergeval nie pas nie. Daarom het ons met groot moeite na ronde vintage-koperskakelaars gesoek – hulle is kleiner en komplementeer boonop die gevoel van die hout.
  • Min vertikale muurspasie is werklik ’n uitdaging. Dit was eers toe ons ’n bed of kas wou staanmaak of kuns wou hang, dat ons dit agtergekom het. Ek moes byvoorbeeld lae laaikaste vir pakplek kies.
  • Met die badkamer wou ons ’n reghoekige ruimte skep binne ’n hoër, breër driehoekige volume wat deur horisontale en diagonale plafonbalke deurkruis word. Dit was uiters belangrik om die dimensies van die panele net reg te kry sodat dit in harmonie met die ruimte se afmetings sou wees. Maar dit moes ook prakties wees, want die deure kon nie te groot of te klein wees dat dit nie kan oop- of toemaak nie.
Ek is dol oor vintage-stukke en hul goeie vakmanskap; dit sal veel langer gewild bly as enigiets wat tans as ‘trendy’ beskryf kan word. – Nadia

Koste:

R244 200

Vloer 131 000

Kontrakteurs (droë- mure, teël- en lood- gieterswerk, ens.) 44 250

Laaghout 9 000

Glas 1 700

Materiaal vir trap 1 000

Teëls 7 000

Sanitêre ware 15 000

Verf 1 250

Ligte 14 000

Allerlei 20 000 

Die afwerking

Inbou van kombuiskaste en eiland Wood Love (082 950 3311)

Skrynwerk, lê van teëls en vloer Francois Burger (071 161 6646)

Laaghout Baltic Timber Co (021 448 4600)

Verf LT Discount Paint Wholesalers (021 447 5435)

Bykomstighede Barn & Werf (084 670 6099)

Block & Chisel (021 691 0878)

BUCO (021 927 5000)

On Site Gallery (021 462 1357)

Piér Rabe Antiques (021 886 6281)

Private Collections (021 421 0298)

Weylandts (021 914 1433)