Foto’s Francois Oberholster • Stilering Marian van Wyk

DIE HUISEIENAARS Claire en Duncan Dicey
WAAR Wolseley, Wes-Kaap
GROOTTE 96 m²

Stort onder die sterre, kyk hoe die son se laaste strale die bergpieke pienk verkleur, en ontspan met jou hond voor die kaggelvuur. Dit alles kan jy doen by Claire Dicey se eko-huis van skeepsvraghouers hier naby Wolseley in die Wes-Kaap.

“Ek hou die meeste van die stoep, en die pier daarvoor wat ek en my man, Duncan, self gebou het – dit loop uit op die dam. En natuurlik die buitestort!’’ sê Claire van dié wegbreekplek wat hulle in Oktober 2017 begin bou het. Dit was in Januarie vanjaar klaar.

“Ons noem die huis FamTin, kort vir Family Tin. Skeepsvraghouers word mos van metaal gemaak en hierdie een is groot genoeg vir ’n hele gesin.’’

Sy het nog altyd gehou van die gedagte van ’n vraghouerhuis. “Herwinning en hergebruik is vir my baie belangrik. Ek hou van die idee om nuwe lewe te gee aan ’n onbenutte ding.”

Die buitestort aan die agterkant van die huis is een van Claire se gunsteling-ruimtes, want dit het ’n uitsig op die berge en saans kan jy die helder sterre sien. “Deon het die muur rondom gebou en die vloer geplavei. Die krane kom uit ’n vervalle huis op die plaas,” vertel sy.
Handdoek van MRP home

Van hier is nie net ’n deel van die Witzenberge te sien nie, maar die hele reeks, asook Mostertshoek, die groot piek oorkant die dam! – Claire

Claire het self gehelp om die terrein vir die huis gereed te kry, hoewel sy hulp gehad het met die aanvanklike beplanning. “’n Masjiengraaf was letterlik op my hakke terwyl ek en ’n vriendin kalkstrepe geverf het sodat die operateur geweet het waar om grond uit die skuinste te skep en tot by die dam te neem.” Intaba Environmental Services het die veldtuin rondom die huis ontwerp.

Die proses

Die huis bestaan uit twee vraghouers sy aan sy, met ’n stoep voor.

Claire het baie navorsing gedoen voordat sy en Duncan die projek aangepak het. “Ons het op die internet afgekom op mense wat spesialiseer in die ombou van vraghouers in huise en het twee houers deur hulle bestel. Die eerste bouers het in Oktober 2017 aan die werk gespring, maar ons paaie het geskei. ’n Bouer van Bredasdorp, Deon Morkel, het toe die projek voltooi. Ek het die ontwerp self geteken en Deon het daarvolgens gebou.

“Eers is die basis waarop die huis staan van bakstene gebou, so ook die stoep. Die vraghouers is per vragmotor afgelewer en met ’n hyskraan op die basis staangemaak; toe het die sweisery, skrynwerk en dak gevolg.

“Aan die binnekant het ons die wande met MagnaBoard geïsoleer en dit geverf. Buite het ons die voorkoms van die skeepsvraghouer behou sodat ’n mens kan sien wat dit is.’’

Haar raad is: “Kies die maatskappy wat die ombouing doen baie versigtig. Maak seker julle het dieselfde idee van wat kwaliteit-afwerkings is. En dat hulle betyds kan klaarmaak. Noudat ons iemand het wat ons kan vertrou, beplan ons om volgende jaar nog sulke huisies te bou.’’

Die hele huis se vloer is geseëlde sement. “Nie gekleur nie, net geseël, presies soos ek dit wou hê,’’ sê Claire.
Geel beker van MRP Home

Deel van die plaas

Claire-hulle woon nie op Palmietvlei nie, maar op ’n plaas daar naby. “Op Palmietvlei is net FamTin en ’n ander gastehuis, The Riverstone House, tussen die bessies en die peerboorde,” verduidelik sy. “The Riverstone House bied slaapplek vir nege, maar as daar meer gaste is, kan hulle nou in FamTin oornag.” ’n Paadjie lei van The Riverstone House na die Breërivier.

Palmietvlei is sowat 80 hektaar groot. Hier boer Duncan met bloubessies en Claire versorg perde, maar sy doen ook afrigting en onderneem perdrysafari’s.

“Hier is 16 stalle met 21 perde. Ek rig elke dag nege van hulle af; die ander is nog te jonk of al afgetree. My onderneming, Equiknow, neem klante na Duitsland, Portugal en Nederland vir perdegeleenthede, en ons gaan op safari’s na die Okavango.”

Ten einde dit so gemaklik moontlik te maak vir besoekers, het Claire geen moeite ontsien nie.

“Ek hou van kreatief wees en het baie pret gehad met die binneversiering. Ek probeer altyd kyk hoeveel ek kan uitrig met so min moontlik; hoe goed jy iets kan laat lyk sonder om baie geld uit gee.

“Enigeen kan slim wees met baie geld. Dis vir my opwindend om artikels te hergebruik met die hulp van plaaslike vakmanne. Ek koop meubels by veilings en rommelwinkels, en die tierlantyntjies by konvensionele winkels. Soms beplan ek vooruit hoe iets moet lyk, en ander kere sit ek dinge bymekaar en kyk hoe dit uitwerk.

“Ek laat my nie beïnvloed deur giere nie en gebruik waarvan ek hou. Op die oomblik is helder kleure soos geel en bruin-oranje my gunstelinge. “Die dekor is landelik-sjiek. Want wanneer ek daar instap, wil ek net ontspan.’’

Claire het die banke op die stoep op Wolseley laat maak. “Die koffietafel het ons self gemaak nadat ’n eikeboom op ’n familielid se plaas omgeval het. Ons het stompe van die boom gesaag, verseël en rolwieletjies aangesit om die koffietafel, asook ’n paar kanttafeltjies te maak.” Dieselfde donkerblou verf, Resplendent van Plascon, is op die dak, voor op die stoep en op die agterste muur gebruik.
Strooikussings van Coricraft; muurlamp van Biggie Best

Teen die spatvlak is teëls wat oorgebly het nadat Claire ’n kothuis vir haar ma versier het; dit pas perfek by die houtskoolkleurige kaste.
Kombuis ontwerp deur Mili Design Studio; kabinette gemaak deur Superior Cabin Components; pynappel van MRP Home; ketel van Le Creuset; teëls van Italtile 

Die eetkamertafel het Claire gekry by vriende wat geëmigreer het. “Dis ’n Ikea-tafel wat hulle in die Verenigde Koninkryk gekoop het. Die hanglamp daarbo was ’n gelukkige vonds. Ek wou een hê wat klem plaas op die koperkrane en koperversierings in die kombuis. Toe ek by die kassier kom, was dit op ’n halfprysuitverkoping. Natuurlik het ek toe sommer twee gekoop; ek bêre die ander een vir ons volgende vraghouerhuis.”
Gordyne deur Elmarie’s Gordyne; hanglamp van Builders

Die stoep van 12 m lank en meer as 4 m breed is die hart van dié huis. “Dis groot genoeg dat ’n hele paar mense hier kan ontspan of braai,” vertel Claire. “Ons het besluit op staal vir die stoep se oorhangdakkie, want dit eggo die industriële styl van die res van die huis.” Die stoeptafel se blad is van populierhout uit die omgewing, sê sy. “Dis ’n baie harde houtsoort wat goed werk vir buitemeubels. Ek het die tafel en stoeltjies ontwerp.” Die Nguni-vel verleen ’n Suid-Afrikaanse gevoel aan die huis.
Constantia-braaikaggel van The Fireplace Company; mure geverf in Plascon se French Chartreuse

“Ons noem hierdie kamer die Vicki Thomas-kamer,” vertel Claire. “Sy is ’n wêreldbekende botaniese kunstenaar; die skets bo die bad is van haar werk. Haar dogter en skoonseun woon in die omgewing en sy gee soms kunsklasse hier in die vallei.” Claire het die Victoria & Albert-pootjiesbad tweedehands gekoop by die vorige eienaars van die plaas.
Leer van Spaces op Robertson; lamp van Eagle Lighting; deken van MRP Home; handdoeke van Studio W by Woolworths

1. Die tweede slaapkamer het twee enkelbeddens wat teen mekaar geskuif kan word. Die bedkassies is gemaak van dieselfde eikestompe as die koffietafel op die stoep. Dis met harpuis bestryk vir ’n mooi blink afwerking.
Beddegoed van Miss Lynn; kombersies van H&M Home; skuurdeur gemaak deur Christo Botha 2. Skuurdeure voor die en suites bespaar heelwat plek in die slaapkamers. Spieël van Elle Interiors Spieël van Buco

Verskaffers en kontakte
  • Biggie Best 021 534 8662, biggiebestwebshop.co.za
  • Buco 0861 174 273, buco.za
  • Builders 0860 284 533, builders.co.za
  • Christo Botha 076 212 9969
  • Coricraft 011 611 8700/ 021 508 5200, coricraft.co.za
  • Deon Morkel (bouer) 073 368 8135
  • Eagle Lighting 021 424 4071, eaglelighting.co.za
  • Elle Interiors 021 873 3045
  • Elmarie’s Gordyne 023 313 3757
  • H&M Home hm.com/za
  • Intaba Environmental Services 087 943 4524, greenintaba.co.za
  • Italtile 0861 555 109, italtile.co.za
  • Le Creuset 086 177 3321, lecreuset.co.za
  • Mili Design Studio 083 707 1216
  • Miss Lynn 021 447 3419, misslynn.co.za
  • MRP Home 0800 212 535, mrphome.com
  • Spaces 023 626 6670, spacesr62.co.za
  • Superior Cabinet Components 021 945 2400, superiorcc.co.za
  • The Fireplace Company 021 979 4894, thefireplacecompany.co.za
  • Woolworths 0860 022 002, woolworths.co.za