Foto’s Elza Cooper | Stilering Amanda van Wyngaardt

DIE EIENAARS Marinda en Willie Turvey
WAAR Tsekama-trouvenue, Modimolle, Limpopo-provinsie
GROOTTE 36 m²

’n Trouery is meestal ’n glansryke affêre waar die een heildronk ná die ander geskink word. Nadat die gaste vertrek het en die onthaalplek opgeruim is, getuig die aantal leë bottels presies hóé vrolik die bruilof was. Dis iets wat die Turveys van die trouvenue Tsekama suid van die Waterberg maar alte goed weet. En omdat Marinda hou van “anderste” huise (die Turveys se “Blikhuis” van vraghouers was juis in September 2017 se Tuis), het sy begin wonder oor die moontlikheid van huis bou met al die leë bottels.

“Ek wou iets bou met goed wat ’n mens gewoonlik weggooi,” vertel sy. ’n Kunstige vriend, Eugene Diener, het kans gesien vir eksperimenteer totdat hy ’n boutegniek met glasbottels ontwikkel en die agthoekige huis vir haar gebou het.

Marinda sê wanneer sy die bottelhuisie vir ’n wittebroodspaartjie aanbeveel, is hulle aanvanklik skepties. “Maar sodra hulle dit sien, is hulle gaande daaroor, veral omdat dit so eenkant en privaat is!”Die bottelhuis verskaf romantiese verblyf onder die doringbome – wat meer kan ’n pasgetroude paartjie vra? Die grasdak-vleuels is afgewissel met ekstra vleuels van latte. “Dis sommer vir die mooigeid,” verduidelik Marinda.

’n Eko-argitek sê:

Die voordele van dié boumetode is dat minder glas op vullisterreine beland, dit verskaf werk, die glas skep mooi ligpatrone en die mure is goed geïsoleer.

’n Mens kan ook die boonste, dunner deel van die bottels afsny en dan twee-twee aan mekaar plak sodat dit ’n geseëlde glasbuis vorm. Die buise word dan in ’n patroon gestapel en met sement, kalk of ’n mengsel van strooi en klei vasgemessel.

Kalk en wit sement werk die beste vir ligweerkaatsing deur die glas; jy kan ook aluminiumfoelie rondom die glas draai om die liggehalte te verbeter.

Bron ecodesignarchitects.co.za

Die proses

Die huisie is tussen die doringbome, ’n entjie weg van die onthaalplek, gebou. Omdat die turfgrond hier redelik onstabiel is, moes daar eers ’n struktuur van pale staangemaak word. Nadat die dak opgesit en gedek is, het hulle die mure tussen die pale gebou.

“Ons het polistireenvelle as ‘bekisting’ gebruik om vorm te gee aan die mure – een laag binne en een laag buite (sien skets), met gate vir die bottels. Daar is dus ’n spasie tussenin, net soos in ’n spoumuur, wat die huis lekker koel hou.” Die bottels is laag vir laag in die gate geplaas, met die opening aan die binnekant; dit is toe met ’n gewone dagha-mengsel aan die binne- én die buitekant van die polistireenvelle vasgemessel. Sowat 4 000 witwynbottels later was die huisie klaar!

Dis in die detail
Om die bottels se openinge aan die binnekant van die huis te bedek is glasballetjies, wat by kuns- of tuinwinkels te koop is, met ’n gompistool vasgesit.

’n Pootjiesbad en koperkrane pas goed by die aardsheid van die rou sement. Buite is daar ook ’n stort met ’n latteskerm vir privaatheid. Die ligspel van die son deur die groen glas is iets besonders. “Ons het dit nie so beplan nie,” sê Marinda. “En dis maar toevallig dat die meeste bottels wat hier leeggemaak word, groen is.”

’n Houtskerm agter die bed skei die badkamer van die slaapdeel. “Dis ou houtdeure wat ek by ’n pandjieswinkel gekoop het,” vertel Marinda. “Terwyl ons dit geskuur het, het die ou lae verf so mooi deurgekom.”

KONTAK
Tsekama tsekama.co.za