Foto’s Greg Cox

WIE WOON HIER?

Elche Robinson en haar aanneemhond California, ’n Italiaanse windhondkruising

WAAR Nieu-Bethesda in die Oos-Kaapse Karoo

GROOTTE ±255 m² sonder die stoep

Voor

Wanneer Elche Robinson die statige ou voordeur van haar huis langs ’n stil grondpad op Nieu-Bethesda oopmaak, weet jy onmiddellik hoekom die oorspronklike eienaar die huis destyds in 1876 “Paradijs” genoem het. Van die voordeur af dwaal jou oë eers na die lieflike stoep, dan na die uitgestrekte tuin met sy damaspruimlaning, en van daar tot in die vertes van die asemrowende Karoo-landskap.

Toe die Robinsons die eindom in 2005 gekoop het, sou geen beskrywing van die huis egter die woord “Paradijs” bevat het nie. “Die inskripsie bo die voordeur was in werklikheid al wat netjies was hier,” onthou Elche.

Die huis was vervalle en vandale is vort met die lieflike houtvloere, geelhoutplafonne, die meeste vensterrame en selfs van die dakplate. ’n Enorme hoenderhok van modder en bakstene het die pragtige uitsig versper.

Elche en haar man John (hy is in Junie 2017 oorlede) het destyds op Witrivier in Mpumalanga gewoon waar hulle ’n private wildreservaat bestuur het, en was saam met hul dogter Simone met vakansie op Nieu-Bethesda. Hulle het verlief geraak op die sjarmante Oos-Kaapse dorpie, waar dit voel of die tyd stilstaan en die sterre ekstrahelder flonker in die afwesigheid van straatligte. Hulle het die huis, wat eintlik maar ’n ruïne was, daar en dan gekoop.

“Ek en John was glad nie bekommerd oor die uitdaging nie; ’n naam soos Paradijs hou immers heelwat belofte in...” Die egpaar was vasbeslote om die oorspronklike karakter te herstel en het tweedehandse skuifraamvensters, houtdeure, antieke deurhandvatsels en ligtoebehore begin bymekaarmaak.

Die ou pleisterwerk op die moddersteen-buitemure was onredbaar. Die pleister is afgekap en ogiesdraad is binne en buite aangebring om die mure te versterk voor dit nuutgepleister is. Dit het die mure nog dikker gemaak, wat help dat die huis koel bly op snikhete Karoo-somerdae. Die ander groot uitdaging was die oorblyfsels van wat ’n yslike ondergrondse watertenk in die leefvertrek sou word...

Op die buitemure is ’n tradisionele voegvullingtegniek gebruik om die illusie van groter stene te skep. Die voeë word 10-20 mm diep geskraap en met ’n sterker betonmengsel gevul.

Voor

Bykans al wat nog staan van die murasie wat die Robinsons gekoop het, is die woorde “Paradijs 1876” bo die voordeur. Die twee beelde herinner Elche aan ’n geliefde weimaranerhond wat sy gehad het.

Die skildery in die eetkamer is die handewerk van Elche en haar kunstenaarsuster Marjan Grootenboer.

Al die binnemure is met ’n ongeverfde afvlaklaag bedek en meestal onverseël gelaat, want Elche wou die ligter, mat skakering behou.

Die eetkamer, wat gerieflik tussen die kombuis en televisiekamer is, is heerlik knus in die winter en koel in die somer. Die kaggel is beklee met klippe wat op die erf gekry is en die populiervloerplanke kom van Bedford. Die tafel van Oregon-dennehout en geelhout was swart toe Elche dit tweedehands op Lydenburg gekoop het.

Gordyne van Ghanese Kente-lap, wat handgeweefde stroke sy en katoen bevat, helder die televisiekamer op. St Tropez-eetkamerstoele van Coricraft; glashanglamp van Weylandts

’n Lappaneel met ’n digitale afdruk van ’n skildery van ’n swartwitpensbok deur die kunstenaar Harem dra by tot die sitkamer se Afrika-plaashuisgevoel. ’n Lae kandelaber met teekersies, muurlampe en ’n staanlamp skep atmosfeer in sterbesaaide Karoo-nagte. Kandelaber van Hans van der Merwe & Son; digitale afdruk van Hot Coffee Design

Voor

Ek wou ’n gemaklike huis hê waar natuurlike lig instroom, maar ek wou beslis die oorspronklike karakter behou. – Elche

Die latte-plafon is eie aan Karoo-huise uit die laat 19de eeu. In die winter, wanneer die kwik na minus-syfers tuimel, hou die gangdeur die hitte van die houtsmeulstoof in die oopplan-kombuisen-leefvertrek aan die ander kant van die deure. “Die deure het aan ene mnr. Serfontein op Graaff-Reinet behoort, wat dit gerestoureer het voor hy dit kom installeer het,” vertel Elche. Die Oosterse kas was ’n tweedehandse kopie.

Elche se dogter Simone het die tweedehandse kombuiskas op Graaff-Reinet raakgesien; dit is die perfekte werkeiland. Hanglampe van Weylandts

Die laboratoriumwasbak is nog ’n tweedehandse vonds. Die donker muur en toonbank is met Paintsmiths Pigmented Floorcote in die kleur Mr Grey afgewerk.

Die Nordica, ’n “skoon” houtsmeulstoof wat minder giftige uitlaatgasse vrylaat, brand deur die winter. Die vloer is met Paintsmiths Pigmented Floorcote in die kleur Mr Grey afgewerk. Nordica-stoof van Fireplace Warehouse

In ere herstel

“Die vorige eienaar het die vloer begin uitgrawe om ’n wateropgaartenk te bou. Dis regtig verbysterend…” lag Elche. Net buite die sitkamer, waar die stoep is, was ’n tweede gat wat blykbaar ook deel van “die groot wateropgaarplan” was.

“Die voorstoep het net so sleg gelyk, want hier het die vorige eienaar ’n leivoor so breed soos die voordeur gegrawe om leiwater na sy beplande opgaartenk in die sitkamer te lei. Gevolglik het die onderste helfte van die voordeur verrot,” verduidelik Elche.

Om die huis in ere te herstel was ’n liefdestaak wat ’n hele 12 jaar geverg het. Baie werk moes oor ’n lang afstand, heelpad uit Mpumalanga, gedoen word.

“Dis regtig duur om so ’n vervalle eiendom op te knap. Ons wou dit behoorlik doen en het nêrens afgeskeep nie. Ons het geweldig baie self gedoen, en selfs die populierdakbalke en -vloerplanke afgeskuur wat ons op Bedford, 200 km van hier, gekry het. Maar dit was vir ons absoluut heerlik! Ons bouer, Conrad Kaspersky van die konstruksiemaatskappy The Polish Way, en sy span was regtig van groot hulp.

“Telkens as ons die bekistingbord voor die gapende venster- en deuropeninge verwyder het en een van ons tweedehandse kopies daar kon installeer, was dit tog te lekker om te sien hoe die huis al hoe mooier word.” Teen 2015 was ’n deel van die huis leefbaar en het die Robinsons permanent na Nieu-Bethesda verhuis. In Mei 2017, meer as ’n dekade nadat hulle hul huis gekoop het, is die laaste slaap- en badkamer voltooi en kon Paradijs weer sy naam gestand doen.

“Ná al die jare wat ons in die bos gewoon het en aan stilte gewoond was, het ons nuwe leefstyl ons baie goed gepas. Dit was, en is steeds, so lekker om te sien hoe die huis stadig maar seker van gedaante verwissel het,” sê Elche trots. 

’n Tuin wat floreer

Die huis is op die middelste van drie aanliggende erwe gebou en die tuin hou Elche goed besig. Trouens, toe die Tuis-span vir die fotosessie opdaag, was sy in die groentetuin aan die tamaties en spinasie pluk vir ’n heerlike quiche, terwyl California, die Italiaanse windhondkruising wat sy aangeneem het, kruis en dwars deur die groot tuin hardloop.

Elche geniet haar groentetuin geweldig. Maar dis ’n noodsaaklikheid, want die naaste supermark is 55 km ver op Graaff-Reinet. “Gelukkig kry ek elke Sondagoggend ’n uur en ’n half se leiwater, en dan is ek vroeg uit die vere. Ek kan die groot dam op die eiendom volmaak, en van daar word die water na die vrugtebome gelei. In die week kan ek ook die res van die tuin met die damwater natlei.

“Ek het geleer kook terwyl ek by die wildreservaat gewerk het. Goeie kos was altyd belangrik in ons gesin en my kinders Simone en Jonathan is al twee gekwalifiseerde sjefs.”  

Elche kook alte heerlik met die kruie, blaarslaai, artisjokke, tamaties, wortels, beet en eiervrug wat in haar groentetuin gedy.

Die Robinsons het ’n laning damaspruimbome aangeplant met lote van die enkele oorlewende bome wat hulle op die verwaarloosde eiendom aangetref het.

Elche het die vuurput spesiaal vir haar seun, Jonathan, se troue in haar tuin op 21 Maart 2020 gebou.

Dekor so reg uit die Afrika-bos

Elche se liefde vir sonderlinge kleurryke lap is reg deur die huis te sien. ’n Turkoois deur nooi jou na ’n gastekamer waar tekstiele laag op laag in diep skakerings van geel wag; in die televisiekamer raam ’n gordyn met ’n oranje streep die sonnige tuinuitsig; en in die ander gastekamer bring ’n Midde-Oosterse mat die warmte in die skakerings van ’n handgekleurde deken na vore.

Sy meng motiewe met groot gemak. In die sitkamer is pienk geblomde linne-stoffeermateriaal en donker handgeborduurde gordyne ’n ongewone dog elegante kombinasie. ’n Neutrale palet vorm die grondslag vir spatsels helder kleur in elke vertrek. “Beslis net natuurlike stowwe vir my,” sê sy. “Lap laat regtig my hart warm klop, en ek versamel dit en bêre dit tot ek die regte plek vir ’n besonderse stuk kry.”

Elche het haar vroeë kinderjare in Nederland deurgebring en haar skoolloopbaan in Suid-Afrika voltooi; daarna het sy in die skone kunste gestudeer en aanvanklik as reklamekunstenaar gewerk.

Jare later, terwyl sy die wildreservaat saam met John bestuur het, het die eienaars haar flair vir dekor raakgesien. “Gelukkig het hulle van my invloed op die gasteverblyf se styl gehou. Mettertyd het hulle die dekor aan my oorgelaat, en só het my eie dekoronderneming tot stand gekom,” verduidelik sy.

Gevra oor hoe sy dit regkry om sulke besonderse kombinasies op te tower, haal Elche bloot haar skouers op. “Dis nie asof ek dinge strategies plaas nie; my komposisies kry spontaan vorm en verander gereeld. Al die jare in die bos het beslis my styl beïnvloed. Ek werk graag met wat beskikbaar is, en ek is alewig op die uitkyk na interessante stukke.” 

Die hoofslaapkamer het ’n uitsig oor die tuin en Franse deure wat na die ruim stoep lei. Deken van Oh So Boho

Die turkoois deur van die gastekamer agter die kombuis is een van ’n klompie wat op die erf rondgelê het. Elche was dol oor die kleur en het ’n laag glansvernis daaroor geverf.

Al twee gastekamers kyk straat se kant toe. “Hier moet jy muskietnette hê, maar ek hou baie van hoe elegant dit ’n kamer laat lyk,” sê Elche.

Pruimbloeisels uit die tuin helder die hoofslaapkamer se en suite-badkamer op.

Die stoep is een van Elche se gunsteling-plekke. “In die somer is dit ongelooflik koel hier danksy die hoë dak. In die winter is hier vroegoggend son en dis beskut teen die koue bries.”

Haar oorlede man, John, het die koffietafel van steierplanke gemaak. Die egpaar het die vliegtuie oor jare versamel en hul “lugdiens” Blikkies Airways gedoop.

Ek sit letterlik elke dag op die stoep en verwonder my aan die sonsondergang; dis verruklik, en die lewe is goed. – Elche


VERSKAFFERS EN KONTAKTE

Coricraft 087 245 0005

Fireplace Warehouse 

Hans van der Merwe & Son  

Hot Coffee Design 

Oh So Boho 021 788 2443

Paintsmiths 021 447 0217

The Polish Way 082 372 0246

Weylandts 0860 103 400