Foto’s Elza Cooper l Stilering Amanda van Wyngaardt

WIE WOON HIER?

Aaron en Stacey Russell, Harley-Knox (4), die baba Griffen-Grey en Bo die speurhond

WAAR Parkhurst, Johannesburg

GROOTTE 220 m²

Danksy ’n weggesteekte opwashoekie bly die oopplankombuis netjies. Kombuiskaste in die kleur Sage Green van CEN Kitchens and Cabinetry; hangligte van Leroy Merlin

Die nuwe gips-plafonroos lyk nes die oorspronklikes in die ou deel van die huis. Plafonroos van Dudley Mouldings; hanglig van Leroy Merlin; sementtafel en swart tafeltjies van Weylandts; wiegstoel en mat van @home

Vir Stacey en Aaron Russell kon dinge seker nie beter uitgewerk het toe hulle in Johannesburg wou huis koop nie.

Eerstens is hulle bekoor deur die eiesoortige kleindorp-in-die-stad-atmosfeer van Parkhurst, ’n voorstad wat al in 1903 gestig is. Die gesellige straatkafeetjies, rustige boomomsoomde strate en inwoners wat daar met hul kinders wandel het hulle dadelik laat tuis voel, vertel Stacey. 

Toe raak hulle sommer ook met die intrapslag verlief op ’n eiendom in dié buurt. “Die huis staan op ’n hoekerf met groot ou bome,” sê sy. “Dis honderd jaar oud, het nog sy oorspronklike staalplafonne en houtvloere en ’n mens kan sommer sy erfenis-karakter aanvoel.” 

Die goeie nuus was dat die huis, wat destyds aan vriende van die paartjie behoort het, juis toe in die mark was. Die vriende was op pad om Kaapstad toe te trek, waar die Russells vandaan kom. “Ons het eenvoudig eienaarskap van die twee huise geruil in ’n privaat transaksie,” verduidelik Stacey. 

“Hulle bly nou daar in die duplekswoonstel in Harfield Village waar ons voorheen gewoon het, en ons bly hier. En hulle is net so gelukkig met hul nuwe blyplek as wat ons met ons s’n is.” 

Opknap in hul bloed 

Die Russell-egpaar en hul seuntjie Harley-Knox (4) woon sedert die middel van 2019 hier. Griffen-Grey het in November verlede jaar sy opwagting gemaak.

Hoewel die huis van die begin af vir hulle pragtig was, wou Stacey en Aaron dit tog ’n vars baadjie gee. Vandag spog die oorspronklike vierkantige struktuur met ’n spits dak en ’n parmantige swartgeverfde driehoek op die voorste muur langs die ewe swart voordeur.

Stacey, wat ontwerp gestudeer het, is ’n direkteur van hul familie-onderneming, House2Homesa. Dié maatskappy het ook die ontwerp en veranderinge aan die huis behartig. “Ons doen binneversiering, konstruksie en projekbestuur en het kantore in Kaapstad en Johannesburg,” verduidelik sy. Aaron is die eienaar van The African Influence, ’n drankmaatskappy.

Sy vertel dis nou al die vyfde opknapprojek wat hulle aanpak. “Ons kan onsself nie help nie. Huise opknap is nou maar eenmaal in ons bloed! Die eerste twee was woonstelle. Daarna het ons ’n huis wat voorheen ’n ou stal was in Wynberg getakel. Dit was so oud dat ons ’n sandvloer onder die matte ontdek het toe ons dit oplig. Ons het die hele plek uitgebreek en opgeknap. In Harfield Village het ons ’n moderne duplekswoonstel ’n vars baadjie gegee.

Lig van Leroy Merlin; eetkamertafel van @home; mat van Superbalist; stoele van Chair Crazy; prente deur die kunstenaar @ohheycindy op rak van KNUS

Aaron, Stacey, Griffen-Grey, Harley-Knox en Bo

Geraamde resepte vir wafels, sjokoladekoek en plaatkoekies in die handskrif van Aaron se oorlede ma, Linda, versier die kombuismuur. 

Grey Terrazzo-vloerteëls van I Space

Swart bakkies van The House2Home Shop

Kraan van CTM 

Kashandvatsel in Brushed Gold van House2Homesa

Die ou fietse het reeds die garage-muur versier toe die Russells ingetrek het.

Koppies en pierings van @home

Eie stempel

Met hierdie huis wou die paartjie meer ruimte en lig skep. “Ons het ook nie gehou van die kombuis wat, soos in baie ou huise, ’n klein vertrekkie op sy eie was nie.” 

Hulle het 60 m² gewen deur by die voorkant van die huis aan te bou. Hier is ’n spits dak ingesit vir hoogte sodat dit by die hoë plafonne van die oorspronklike deel kan pas; terselfdertyd vorm dit ’n treffende dakvenster wat lig inlaat in ’n huis wat voorheen taamlik donker was. “Die spits struktuur skep ook ’n interessante ontwerpelement,” verduidelik Stacey.

“Ons het die bestaande gastekamer en die kombuis oopgebreek en sodoende ’n oopplan-leefruimte geskep wat die eet- en sitkamer insluit. Van die oorspronklike leefruimte, wat op ’n dek uitgeloop het, het ons ’n nuwe hoofslaapkamer met ’n en suite-badkamer gemaak; langsaan het ons ’n kantoorruimte ingerig.” 

Die Russells het ook ’n gastetoilet gebou en versier met kunstige plakpapier. Deur die meeste van die mure te verf in kleure wat hulle self gemeng het, kon die kreatiewe paartjie hul eie stempel op die hele ruimte afdruk. Die gesin het deur die bouwerk in die oorspronklike deel van die huis gebly. “Dit het langer geneem as beplan,” vertel Stacey, “want ons het tussenin ook aan ander projekte gewerk.” 

[Stacey se wenke]

• Gebruik neutrale kleure op die vloer, mure en plafon as agtergrond vir spatsels kleur.

• Moenie meer as twee of drie verskillende vloerafwerkings in ’n klein ruimte gebruik nie. Dit moet ’n eenheid vorm.

• Moenie jou huis oorlaai met dekoritems nie.

 • Maak een sterk stelling, soos ons met die treffende plakpapier in ons gastetoilet gedoen het. 

Pienk stoel in die gang van Mr Price Home; spieël met gekerfde raam van @home (self geverf)

Plakpapier maak ’n treffende stelling in die gastetoilet. Plakpapier van Cara Saven Wall Design; vloer- en muurteëls van I Space

Parkhurst, Industrial kitchen, black and white, wa

Die hoofslaapkamer met sy ingeboude spieëltafel en ’n werkhoekie is een van Stacey se gunsteling-vertrekke in die huis. Spieëlkas ontwerp deur House2Homesa en ingebou deur CEN Kitchens and Cabinetry

Lessenaar van @home; groen stoel van Chair Crazy

Klerestaander van The House2Home Shop

Droë rangskikking deur House2Homesa

Outentieke sjarme 

Die ouwêreldse karakter wat Stacey en Aaron so van hierdie huis bekoor het, het grootliks behoue gebly ondanks die modernisering. “In die aangeboude deel het ons kroonlyste teen die plafonne gesit wat pas by dié in die ou deel van die huis. Ons het ook ’n nuwe plafonroos van gips laat aanbring wat net soos die ander lyk wat reeds hier was.

”Die oorspronklike houtvloere is behandel en verseël. Ongelukkig was sommige dele daarvan heeltemal te gehawend om te behou, vertel Stacey. “Ons moes die houtvloer in die gang en spaarkamer uitbreek en het dit vervang met terrazzo-teëls wat soos klip lyk. Planke wat nog goed was, kon ons elders gebruik waar die vloere ligte herstelwerk nodig gehad het.” 

Haar gunsteling-vertrekke in die huis is die gastetoilet (sy noem dit die “powder room”) en haar en Aaron se slaapkamer. “Hierdie vertrekke is pragtig en het ’n rustige atmosfeer,” sê sy. “Bo ons bed hang ’n rangskikking wat ek van droë takke en blomme gemaak het. Ek hou veral van die idee dat een van die blomme daarin, Lunaria annua, as die ‘honesty plant’ bekend staan.”

Hul drieslaapkamerhuis is nou perfek vir hul gesin, glo Stacey. “Die huis se grootte laat dit huislik voel en maak dit maklik om skoon te hou. Maar daar is genoeg ruimte op die erf as ons eendag nóg wil aanbou.” 

Koperlamp van Superbalist; tierornament van H&M Home

Plakpapier met ’n safari-tema versier Harley-Knox se kamer. Plakpapier van Leroy Merlin; goue kussing en deken van H&M Home 

Die hoofslaapkamer se badkamer is lig en helder. Spieël van Mr Price Home

Spieël van Biggy Best;handdoeke van H&M Home

Klein Griffen-Grey se ouers het self sy bedjie gespuitverf. Bababed van Mr Price Home; blaarvormige mat van Superbalist

Die badkamer by ’n gaste-suite langs die motorhuis het ’n monochroom afwerking. Teëls van I Space


VERSKAFFERS

@home 0860 834 834

Biggie Best 021 534 8662

Cara Saven Wall Design 082 953 6246

CEN Kitchens and Cabinetry 071 811 5721

Chair Crazy  

Dudley Mouldings 011 444 1284/5/6

H&M Home 0860 690 707

House2Homesa 082 765 0487

The House2Home Shop 

I Space 079 895 6898

KNUS 

Leroy Merlin

Mr Price Home 0800 212 535

Superbalist 

Weylandts 0860 103 400