Foto’s Henrique Wilding Stilering Marian van Wyk

DIE HUISEIENAARS

John en Pippa Walls

WAAR Koringberg

GROOTTE 250 m²

Koringberg lyk dalk na ’n rustige dorpie in die Swartland, maar sy inwoners lei ’n verbasend aktiewe sosiale lewe. Dié kombinasie van vrede en aksie – asook die nabyheid aan Kaapstad – het John en Pippa Walls bekoor. “Ons het ses kinders tussen die twee van ons en was op soek na ’n wegbreekplek uit die stad se gejaag,” sê Pippa. “Ons het by vriende wat ook ’n plek op Koringberg het verneem van ’n eiendom wat te koop was. En hoewel dit ’n ‘konyn-nes’ met ’n doolhof van klein vertrekke was – dit was trouens voorheen ’n restaurant – kon ons die potensiaal vir ’n naweek-wegbreekplek net meer as ’n uur se ry van die stad af sien.”

Pippa het al voorheen saam met die binneontwerper Salomé Gunter gewerk, en die twee het Koringberg toe gery om na die huis te gaan kyk. Salomé kon dadelik sien wat John en Pippa in die vooruitsig gehad het en hoe hulle die huis weer in sy oorspronklike gedaante as ’n groot skuurstyl-ruimte kon verander. “Buiten ’n soliede struktuur om mee te werk, het die eiendom ook so ’n lieflike atmosfeer en soveel karakter gehad; ons het begin mure uitbreek, die vloerplan verander en nuwe dele bygevoeg ten einde die perfekte wegbreekplek te skep,” vertel sy. 

Kontemporêre hangligte en ’n swartgeverfde kas kontrasteer met die rustieke afwerking in die sitkamer. Ligte van Salomé Gunter Interiors; kas van Block & Chisel

In die kombuis is al die moderne toestelle wat die alledaagse lewe en onthaal vergemaklik, onder betonblaaie versteek.

Die opknap

Die eerste stap was om binnemure uit te breek ter wille van ’n groot oopplan-leefruimte. Salomé het haar laat lei deur die verskillende vlakke in die huis; die kombuis is byvoorbeeld een trappie hoër as die leefarea.

“Ons het argitektoniese elemente soos hierdie reg deur die bouery in ag geneem,” verduidelik sy. “Hoewel die oorspronklike dik mure die huis goed isoleer, kon ons byvoorbeeld nie daardeur breek om vensters in te sit nie.” Al die loodgieters- werk is vervang en nuwe ligtoebehore is ingesit. Die oorspronklike restaurantkombuis is in die hoofslaapkamer omskep, en as huldeblyk aan dié ruimte se vorige lewe het Salomé opdrag gegee vir ’n muurskildery geïnspireer deur ’n foto van die Franse kunstenaar en binneontwerper Pascale Palun se plaaskombuis. Langs dié vertrek was ’n stoep met die warmwatersilinder teen ’n muur; Salomé het dit geskuif om plek te maak vir ’n lieflike kuierstoep onder dak.

Om die gestroopte gevoel te skep wat John en Pippa wou hê, het Salomé wit gepigmenteerde sement vir die fasade en binnemure gebruik, en die vloere laat afvlak. Die kombuis is ingerig met ’n kombinasie van betonblaaie en losstaande kaste vir ’n plaaskombuis-voorkoms. Wit geverfde dakbalke beklemtoon die ruim proporsies, terwyl latte-plafonne in die glashuis-kroeg en op die stoep tekstuur verskaf. 

KENNERSRAAD

Die binne-ontwerper Salomé Gunter gee dié wenke vir enigeen wat met ’n wit palet werk en ’n minimalistiese voorkoms wil skep:

• Werk laag op laag – dis die sleutel tot trefkrag in ’n wit palet. Bring opvallende artikels in as fokuspunte, soos ’n kleurvolle kunswerk, ’n interessante meubelstuk of ’n lamp wat die oog vang. Subtiele elemente soos ’n eenvoudige streep geverf op ’n andersins “kaal” muur sal ook ’n stelling maak sonder om te oorweldig.

• Skep ’n gesellige atmosfeer in ’n minimalistiese ruimte met behulp van tekstuur – gebruik lap met verskillende teksture saam, byvoorbeeld linne en fluweel, en sluit natuurlike elemente en besadigde patrone in. 

• Moenie al wat ’n oppervlak is kaal los nie. Groepe van eenvoudige voorwerpe soos kerse in glashouers op ’n skinkbord skep trefkrag sonder dat dit deurmekaar lyk. 

Versamelings kosbare erfgoed skep ’n laag-op-laagvoorkoms wat die huislike atmosfeer versterk. Die twee stillewes (regs) is deur Janis Hopley.

Oop rakke in die kombuis verskaf uitstalplek vir spesiale items, onder meer ’n skildery van die huis.

Salomé het ’n kaggel in die sitkamer laat bou om ’n knus atmosfeer in die winter te skep. ’n Betonbankie bied ekstra sitplek langsaan.

Die ou glashuis is omskep in ’n kroeg waar John en Pippa gereeld saam met bure kuier oor ’n drankie. ’n Antieke houtstofie wat die vorige eienaars daar gelos het, hou die ruimte warm in die winter.

In die eetkamer (links) huisves ’n glaskas kosbare versamelings kristalware, linne en breekgoed, die meeste daarvan erfstukke. Glaskas van Biggie Best

Die afronding

Salomé gebruik graag bestaande artikels wanneer sy ’n gelaagde, ingeleefde gevoel skep in die huise wat sy ontwerp. Sy het in John en Pippa se huis in Kaapstad gaan soek na erfstukke wat aanklank sou vind by die geskiedkundige gevoel van hul vakansiehuis. ’n Eetkamertafel wat aan Pippa se ma behoort het – iets met groot sentimentele waarde – is grys geverf en staan nou trots tussen moderne stoele en banke met vars wit stoffering in die glashuis-kroeg.

Al is tradisionele stukke deur die hele huis te sien, verseker heelparty kontemporêre items dat die huis meer “ontwerper” as “outyds” voel. Swart sanitêre ware is vir die kombuis en badkamers gekies, metaalligte met ’n geometriese vorm hang in die sitkamer en ’n paar modieuse vlinderstoele lyk heeltemal tuis op die stoep. “Ek het dié stoele in Italië gekry – jy sien dit oral in die Mediterreense streek,” sê Salomé. “Dit voel asof jy sweef as jy daarin sit, en Pippa en John het gevra dat ek nog van hulle kry want almal wil op daai stoele sit.” Ondanks ’n terugkeer na die huis se rustieke skuurgevoel wou Pippa en John ’n stylvolle ruimte hê. “Alles in die huis is vir ons spesiaal en daar is kosbare versamelings,” sê Pippa.

“Die kaste staan vol van my ouma se kristalware, ons gebruik Le Creuset-potte en gestyfde servette, en Salomé het Franse linne ingevoer. Ons het kwaliteit bo kwantiteit gekies.”

Wit beddegoed in die hoofslaapkamer verseker dat ’n muurskildery van die Franse ontwerper Pascale Palun se kombuis al die aandag kry.

Die huis is só ontwerp dat gaste alles het wat ’n ontspanne wegbreek verseker, insluitend spieëltafels in die slaapkamers en voldoende beligting.

Die badkamers is geheel en al vernuwe. In die hoofbadkamer dra ’n losstaande wasbaktafel by tot die plaashuis-sjarme van die ruimte.

Die ideale naweek

Niks in die Walls-huis is gekunsteld nie en gaste is welkom om net agteroor te sit en te ontspan. “Die plek moes prakties wees,” verduidelik Salomé. “Al die stoele en banke het los oortreksels en die kussingoortreksels kan afgehaal en gewas word. Die huis is eenvoudig, maar het al die moderne geriewe wat ’n kuier hier so verkwikkend maak; dis net goed weggesteek.”

Ook die tuin, wat aanvanklik oorgroei was, is vernuwe: struike is uitgehaal, klip is as grondbedekker gebruik waar die gras nie in die sand wou groei nie en enkele plante, soos die donkerpienk bougainvillea wat so oorvloedig blom in Koringberg se warm, droë klimaat, is tot fokuspunte gesnoei. “Al lyk Koringberg soos ’n stil gehuggie, is daar eintlik baie om te doen,” sê Pippa. “Daar’s ’n wonderlike mark waar jy vars produkte kan koop, ’n hele paar boetiek-wynkelders en ’n organiese plaas waar jy sjampanje en oesters kan kry.” Die huis se vier slaapkamers bied oorgenoeg oorslaapplek vir gaste en naweke hier word gekenmerk deur vroegoggend-stappies, uitgerekte middagetes en feestelike aande. “Dit voel regtig soos ‘huis’,” sê Pippa en John.

Dié koel onderdakstoep bied nie net lafenis in die warm somers op Koringberg nie, maar skep ook privaatheid van die hoofstraat wat langs die huis verbyloop. “Nie dat daar veel rygoed verbykom nie,” sê Pippa en lag. Die kussings is oorgetrek met linne wat Salomé in Frankryk gekry het. 

Die ronde fontein en die geluid van water skep kalmte. Twee lêstoele is die ideale plek om uit te span met ’n boek of vir ’n middagslapie.

Oordekte stoepe by die slaapkamers bied private ruimtes vir gaste.

Afgewitte sementmure, sinkdakke en houtafwerking versterk die rustieke gevoel wat die huis se buitekant soveel karakter gee

VERSKAFFERS EN KONTAKTE

Biggie Best 021 534 8662

Block & Chisel 021 691 0878

Janis Hopley 072 524 8400

Salomé Gunter Interiors 073 145 7170