Steek vas

Beskerm jou tafeloppervlak met ’n mosaïek-potstaander – kyk na kruissteek-naaldwerkpatrone vir inspirasie. Tel die steke op die patroon om te bepaal hoeveel teëltjies van elke kleur jy nodig het en plak hulle dan in plek op ’n growwe maasbasis. Sny ’n stuk hardebord in dieselfde grootte as jou ontwerp, plak die teëls vas en smeer voegbry tussenin – so maklik soos dit. So ’n patroon kan ook ’n mooi spatplaat agter ’n stoof of wasbak word.

Meesterlike mosaïek

’n Leser, Linkie Staegemann van Buffelspoort, het vir ons dié foto van haar trap-transformasie gestuur. Sy vertel hoe haar gewone staaltrappe met sementoppervlakke darem net te leweloos was. Haar kreatiewe vriendin, Ursula Schutte, het mosaïekteëls voorgestel. Hulle het die teëltjies in kleure en patrone gerangskik en toe met gewone koue lym en growwe skadunet hul eie mosaïekvelle volgens elke trap se grootte gemaak. Daarna is dit vasgesit met Mosaic-Fix gemeng met Bond-It. Die mengsel het ook as voegbry gedien. Knap gedaan, julle!

Waterpas

Suzanne du Preez se selfsorggastehuis, The Tin House, op Riebeek-Kasteel spog met die mooiste roosdetail by die swembad in haar tuin. Die mosaïek-rankroos op die keermuur verbloem die fontein se kraankoppe in die ontwerp en skerm die tuinbedding daaragter af.

Afgemeet

Die binneversierder Nikki Zigras van Studio do Cabo vertel dat haar badkamer die gunstelingvertrek in haar klein Victoriaanse kothuis in die Bo-Kaap is. Sy het lank in die Verenigde Koninkryk in hotelontwerp gespesialiseer, en met dié agtergrond kon sy haar badkamer so ontwerp dat die 2,2 x 2,2 m-ruimte heelwat groter lyk. Die geheim? Neutrale mure en ’n moderne interpretasie van ’n Victoriaanse swart-en-wit teëlvloer. Haar treffende patroon is deur Mosaic Works op maas geplak, reg vir installering.
Kabinet en spieël ontwerp deur Nikki en pasgemaak deur Darmun Projects; Mango-handdoeke en Charlotte Rhys-toiletware van Gallery91; rose van Paradiso Flowers

VERSKAFFERS EN KONTAKTE