’n Pragtige fokuspunt

Niks sê “Kom sit aan!” soos ’n tafel met ’n feestelike rangskikking nie – sommer uit die tuin en die yskas! Marelize Boonzaaier van die blomwinkel Flowerheart in Durbanville het dié tafelrangskikking gemaak – in ’n ou sementkruik uit haar winkel. Die basis is ’n kombinasie van loof uit die tuin: heldergroen Viburnum-blare, takkies Virginiese klimop, grenadella en malva, asook vaalgroen bloekomblare, silwer Brunia, Tillandsia-plantjies en kooigoed. Hou duim vas vir ’n paar krismisrose en bring rooi in met wildepruimtakke. Aan die bopunt is blomkool en knoffelhuisies net so in die skil tussen roomkleurige ‘Vendela’-rose, Delphiniums, tjienkerientjees en Lisianthus. Te mooi!

Gee dit kleur

Gee jou drankiestasie ekstra skop en kleur. Marina Smith van die dekorwinkel Chisel & Chalk in Durbanville het dié dekoratiewe traliewerk vrolik versier met lint, tuisgemaakte sterre gesny uit pottebakkersklei (die soort wat self droog word), ’n lagie Annie Sloan-verf in die kleur Old White en verguldroom in die kleur German Silver. Met ’n klimop as agtergrond lyk dit mos pure Kerskaartjie!

Aan die hoof van die tafel

Skep ’n waterval van loof wat sommer so by die tafel afhang: Spinasiesade, malva-, bloekomen dilleblare, Viburnum, marog, die rooi bessies van ’n Chinese bamboes en ’n paar laventeltakkies vir geur verdien hul ereplek aan die bopunt van dié tafel.

Hou dit koel

As die kraaie gaap, sit jou drinkgoed op ys – sommer in ’n ou emalje-emmer met rose uit jou tuin tussenin. Hoe mooi lyk dié rooi ‘Grand Gala’ nie hier nie! En teen die tyd dat die drankies op is, lyk die ysbak steeds vars en vrolik.

’n Lekker present

Stuur jou gaste huis toe met ’n present, dis immers Kersfees, sê Marina se vennoot, Dale Niehaus. Dié plekmatjie onder die bord is gemaak van oorskiethout en sy rande is mooi afgewerk. “Daarna het ons dit na hartelus versier met dekoratiewe stensils, Annie Sloan-verf in die kleure Pure, Burgandy en French Linen en ’n kombinasie van Annie Sloan Clear Wax en Dark Wax vir afronding. Wanneer die gaste teen ounag vertrek, maak seker elkeen vat een huis toe.”

Die “Kersboompie” op die borde bestaan uit ’n groot rooi appel, ’n aarbei en ’n bosbessie, met ’n plastieksterretjie heel bo, alles op ’n stokkie geryg. Gesondheid!

Als mooi bymekaar

Kort jy pakplek vir die presente? Skep vir Kersvader ’n hoekie soos dié, met kissies van groot na klein op mekaar gestapel in die vorm van ’n Kersboom. Die kissies is eers met ’n laag Annie Sloan Dark Wax geseël en toe met verskillende stensils versier in ’n verskeidenheid Annie Sloan-kleure, soos Emperors Silk, Pure, Paris Grey, Louis Blue en Aubusson. Teekersies in glashouers sal lig verskaf nadat die son gesak het.

As die fees verby is, kan jy jou kissies op allerhande kreatiewe maniere inspan deur jou hele huis:

  1. Gebruik dit om jou drinkgoed vir ’n braai netjies bymekaar te hou.
  2. Dis die ideale bêreplek vir servette, messegoed en potjies of botteltjies met geurmiddels – bêre dit net so in die kas, dan staan dit reg vir uitdra tafel toe.
  3. Plant groenigheid in terracottapotjies en rangskik hulle in die kissies in jou huis of tuin.
  4. Sit dit teen ’n muur vas as ’n rak.
  5. Gebruik dit soos ’n laai op enige kasrak waarin jy los artikels bymekaar kan hou: sokkies, onderklere, garetolletjies, skryfbehoeftes…
  6. Stal bederfgoed soos sepies en roompies in jou gastebadkamer daarin uit.
KONTAKTE
  • Chisel & Chalk 021 976 044
  • Flowerheart 021 976 691
  • Plan B Vintage 082 491 367