Foto’s Gareth Hubbard en Francois Oberholster Stilering Shelly Bergh en Marian van Wyk

Die boog by die ingang is die eerste ding wat ons sien wanneer ons by die huis aankom, so ek wou hê dit moet ons laat goed voel. – Thelma 

Schempers Palmtak en veselsponse deur Daniel DP Ferreira van Ecozest

Fraai

Die ingang by Willouw Deacon en Thelma Schempers se huis op Greyton spog met ’n swierige veiligheidshek by die voordeur. Die paartjie wou nie te veel aan strukturele veranderinge bestee nie, toe maak hulle ’n vinnige sakpas-plan vir ’n nuwe voorkoms: ’n laag verf en vetplante in potte bo die ingang. En dit het ’n reuseverskil gemaak! “Ons visie was ’n ingang met interessante detail en diepte,” sê Thelma. Tydens ’n besoek aan die gewilde plaas Babylonstoren naby Franschhoek het Thelma potplante bo die ingang van die Scented Room gesien. In daardie terracottapotte het roosmaryn gegroei, maar Thelma het besluit op spekboom. “Dit groei goed en vra nie so gereeld water nie,” sê sy. Saam met die blou deur vorm die spekboom-“deurgang” ’n treffende prentjie.

Thelma se vriendin en verftegniek-ghoeroe Helet Withers het die voordeur tekstuur gegee deur die hout eers ligblou en daarna met ’n donkerder skakering te verf; tussen lae het sy die hout liggies geskuur.


Die sjarmante “deurklokkie” met ’n uil bo-op versterk die rustieke tema.

Thelma se wenke oor detail

• Die huis se buitemure is ligblou, terwyl die deur en inham in ’n donkerder komplementêre skakering geverf is. “Die ingang front noordwes, wat die warm kant van die huis is. Ek het gevoel die blou sou koel en verfrissend wees,” sê Thelma.

• Die potte bo die ingang hang aan twee rye sterk draad wat die boog van die muur volg; dié draad is eenvoudig aan skroewe in die muur geheg. Rondom elke pot is ’n draadsirkel gedraai wat toe aan die twee rye draad vasgemaak is. 

’n Ingang moet gaste binnenooi en ’n prentjie skets van die mense wat daar woon. – Thelma

Thelma het geharde spekboom bo die ingang gebruik – dis die ideale plant vir ‘n pot omdat dit uiters waterwys is.Die pasgemaakte Art Deco-styl-veiligheidshek is geverf met swart metaalverf.

Anthony en Leana Keogh

Voor

Die ligte stoepmure (Plascon Blond Wood) was vir Anthony en Leana net te afgewater saam met die gruislaag op die grond.

Twee rivierverfbosse (Indigofera jucunda ‘Schrire’) in die middel van die binnehof sal sowat 2–4 m hoog wees wanneer hulle groot is – perfek vir ’n binnehof. Om die binnehof te versag het Anthony en Leana verbleikblom-struike (Brunfelsia pauciflora) in potte langs die groen pilare geplant. In die twee terracottapotte groei bottelborselbome (Melaleuca flammea). In ’n waterwys tuin is plante en struike in potte ’n slim plan.

Helder

Anthony Keogh skrik nie vir kleur nie. Daarom dat dié kunstenaar van die Baai sonder huiwering met die verfkwas en ’n paar blikke verf ingespring het om sy binnehof ’n nuwe baadjie te gee. Binne is die huis al lankal ’n bontspul, maar dit was eers in Augustus laas jaar dat hy en sy vrou, Leana, besluit het die buitemure kort ook persoonlikheid. “Ons het die plan bespreek en saamgestem oor die kleure,’’ vertel Anthony. En kyk hoe lyk dit nou! 

Mense is dikwels bang vir kleur, maar as dit sensitief gebruik word, kan dit ’n wonderlike gevoel van atmosfeer en ruimte skep. – Anthony

Rooibruin nommer-19-gruisklip van Jeffreysbaai bedek die grootste deel van die binnehof se vloer. Waag ’n slag Die binnehof is tussen Anthony se L-vormige ateljee aan twee kante en die huis aan die ander kant. As kunsbewaarder by die Nelson Mandela Metropool se kunsmuseum in Port Elizabeth spesialiseer Anthony in die restourasie van esel-skilderye. Hy skilder ook self en het al in Kaapstad en Port Elizabeth uitgestal. Leana is ’n wetenskaplike tegnoloog en werk by ’n laboratorium in die stad. Vir hul binnehof het Anthony doelbewus uiteenlopende kleure gebruik wat ’n mens nie noodwendig bymekaar sou sit nie. “Daar’s oranje op ’n ateljeemuur langs die stoep, rooi op die muur aan die kant en groen en oranje op die pilare,” verduidelik hy. “Verder het ons die kleure afgewissel aan die binnekant van die deur- en vensteropeninge, asook op die vensterbanke. “Om soveel kleure te gebruik was nogal ’n waagstuk. Maar nou pas ons huis se buitekant en die ingang na my ateljee by die kleure binne, en vorm die geheel ’n vriendelike, warm ruimte. Leana is ook dol oor hoe dit lyk.’’

Anthony se raad oor kleur

“Onthou, kleur is soos klere. Dit kan mooi lyk aan die model, maar nie aan jou nie. Net so met verf. Jy moet jou kan versoen met die kleur wat jy in jou ruimte wil gebruik. Wees sensitief oor waar jy dit aanwend en hoe dit saam met die struktuur, ontwerp en beligting gaan werk. Die meeste handelaars verskaf graag toetsblikkies verf en ek het agtergekom kleurmonsters is deesdae meer akkuraat as voorheen. Moenie bang wees om kleure te gebruik wat jy dink dalk gaan bots nie; hulle werk soms wonderlik saam op die regte plekke.”

Heldergeverfde stoele en ’n tafel buite die ateljee is die perfekte plek om ’n koppie boeretroos te geniet.Die stoep voor die ateljee is geverfde sement. Droogtebestande tuin Die stoep het sy feestelike voorkoms te danke aan die waterslim tuin wat Anthony en Leana jare gelede aangelê het. “Toe ons in 2009 die motorhuis en ’n buitegebou in ’n ateljee omskep het, is ’n groot deel van die grasperk vernietig en ’n groot boom uitgehaal. Ons moes die tuin daarna heeltemal oordoen. Dis toe dat ons besluit het om soveel gruis moontlik en plante in potte te gebruik sodat ons nie nodig het om ’n grasperk en plante water te gee nie; potte is ook baie minder moeite as beddings,’’ verduidelik Anthony.

Eksoties

Toe Kundra Bowley in 1993 ’n afgeleefde huis in Tamboerskloof koop, was dit beslis nie oor die plek mooi van buite was nie! Die voorstoep en ingang het nooit tot hul reg gekom nie en het die meeste aandag geverg tydens die huis se vier maande lange opknap. Maar met verloop van tyd het Kundra, die eienaar van die Kaapse dekorwinkel Moroccan Warehouse, dié ruimte omskep in ’n Marokkaanse oase. “Ek is mal oor die oorspronklike lang, smal stoep,” sê Kundra. “Dit strek oor die hele voorkant van die huis, en die eetarea, voordeur en slaapkamer maak daarop oop.” Gipsstroke met fraai graveerwerk, wat tipies gebruik word om mure, plafonne, vensterrame en deurgange in Marokko te versier, omraam die voordeur; Kundra het dit vasgesement en wit geverf.

Voor

Ek is ook dol oor die suurlemoenboom. Dit was al boom voor die huis toe ek hier koop en dit dra vandag nog die mooiste vrugte! – Kundra

Mooi, nè! Stervormige Marokkaanse teëls versier elke trap wat na die voordeur lei. Die ou baksteentrappe is herstel waar nodig en het ’n afvlaklaag met ’n kinkel gekry: fyngedrukte seeskulpe is by die sement ingemeng vir tekstuur en ’n ekstra sprankel.

Kundra kies eenvoud

• Kundra het die stoep se oorspronklike sinkplaatdak behou, maar die lendelam geute met nuwes vervang en Pandorea jasminoides daarteen laat opgroei. Omdat sy growwer buitemure wou hê om die rustieke gevoel van die ruimte te versterk, is dit met Midas se tekstuurryke buiteverf in die kleur Almost There geverf.

• As jy nie buitestoele het nie, gebruik stoele van binne wat lig genoeg is om buitentoe te dra wanneer jy daar wil ontspan.

• ’n Eksotiese voorkoms hoef nie baie geld of moeite te kos nie. Belê in enkele stukke wat tot jou spreek en hou die res eenvoudig; só kan jy ’n elegante ruimte skep wat jou na ’n ander wêreld sal meevoer!

Pandorea jasminoides gee skadu oor die stoep.Die stoep is verleng tot by die voorste grensmuur, wat plek geskep het vir dié plonspoel. Dis uitgevoer met swart guniet, waarna die rand afgewerk is met Marokkaanse teëls om by die res van die huis te pas. “Dié swembadjie is die perfekte lafenis teen die somerhitte!” sê sy.

Wanneer jy die sitkamerdeure oopmaak, voel binne en buite soos een ruimte. – Kundra

As jy regte Marokkaanse sementteëls gebruik, is dit noodsaaklik dat jy dit verseël voor jy die swembadwater intap; Kundra het ’n spesialis-poliuretaanseëlaar gebruik.

KONTAKTE EN VERSKAFFERS

@home 0860 666 674,

Botanica 011 262 3107

Cape Garden 021 988 4137

Ecozest 082 745 7445

Eurolux 011 608 2970

Hadeda 011 788 5774

H&M Home 0860 690 707

Italcotto 021 425 4192

Italtile 021 510 7766

Le Creuset 086 177 3321

Moroccan Warehouse 021 461 8318

MRP Home 0800 212 535

Patio Warehouse 087 825 1120

Stodels 021 919 4040

Vogel Design 021 447 6128

WilsonStone 021 701 7655