Pret met Paaseiers

Eiers is al eeue lank ’n simbool van vrugbaarheid en nuwe lewe, asook een van die mees herkenbare simbole wat met Paasfees geassosieer word. ’n Mens kan met natuurlike bestanddele gewone eiers in ’n reënboog van kleure omtower. Hier is ’n paar voorstelle:

  • Pienkrooi: vars beet of bosbessies
  • Geel: fyn borrie
  • Liggroen: spinasieblare
  • Blou: geblikte bloubessies of rooikool
  • Bruin: sterk boeretroos

1. Pak die eiers in ’n enkellaag in ’n kastrol en bedek dit met water.

2. Gooi 5 ml asyn by die water.

3. Gooi nou die kleurselbestanddele by – gebruik meer as jy baie eiers kleur of as jy van helderder skakerings hou.

4. Verhit die water tot kookpunt en verlaag dan die hitte. Prut die eiers vir 8 minute as jy van hardgekookte eiers hou.

5. Haal die kleurselbestanddele uit en sit die eiers in ’n bak. As die doppe nie donker genoeg is nie, kan jy die eiers weer met die kleurselwater bedek en oornag in die yskas laat staan.

Foto uit Tuis Maart 2005

Papierdun

Teken ’n hasie in een hoek van ’n vel dik papier (ons het ’n koekiedrukker vir die buitelyn gebruik) en sny die lyfie met ’n papiermessie uit. Los die voetstuk vas. Buig nou die hasie regop. Dit maak die perfekte weggooiplekmatjies vir ’n Paastafel.Foto uit Tuis April 2011

Haaskos

Gee jou Paastafel ’n speelse kinkel met ’n keramiekhaas tussen die slaai.Foto uit Tuis April 2013

Neseier

Skep ’n besonderse rangskikking vir jou tafel met delikate eiers, loof en keramiek. Kikker wit suikerbedekte Paaseiers op met ’n voëltjiestempel.

Ons het die vloeistof van ’n sjokoladepen as ink gebruik; drup net ’n bietjie op ’n bord en doop jou stempel daarin. Rol dan die stempel versigtig oor die kontoere van die eier vir ’n netjiese buitelyn. Rangskik die wit eiers saam met kleurvolle sjokolade-eiers in ’n nessie van gestreepte bloekomblare, slangbos en koorskruid.Foto uit Tuis April 2015

Ken jou plek

Gee ou kleurkaarte nuwe nut deur dit as plekaanwysers in te span. Ons het dié vrolike diamantvormige Evolve-kaarte van Builders gebruik. Kies kleure wat by jou tafeltema pas en doop die rande in metaalverf. Stempel of skryf dan jou gas se naam daarop en bind dit met ’n natuurlike tou aan ’n stoel, ’n oulike keramiekhasie of selfs ’n lieflike vintage-koppie vas.Foto’s uit Tuis April 2015

Hasie-plekmat

Maak ’n oulike hasie-plekmat uit Supawood en verf dit in ’n sagte pastelkleur. Ons het Dulux Luxurious Silk in die kleur Brooklyn Nights 2 gebruik.Foto uit Tuis April 2015

Klop-klop!

Al wat jy nodig het vir hierdie Paashaas-deurstuiter, is ’n figuursaag, ’n vaste hand en Alcolin Professional Wood Glue. Merk jou hasieprofiel op 22 mm-denneplanke uit. Gebruik dan ’n smal figuursaaglem (wat skerp hoeke sal saag) en saag genoeg vorms uit om ’n swaar genoeg deurstuiter te maak. Gebruik Alcolin Professional Wood Glue en gom die vorms aanmekaar. Vul enige groewe of gapings met Alcolin Woodfiller voor jy dit skuur en in die kleur van jou keuse verf.Foto uit Tuis April 2015

Lig jou stert, Hasie!

Saag ’n hasievorm uit oorskiet-hout. Ons s’n het ’n impressionistiese reghoekige vorm met ore, maar maak joune gerus meer tradisioneel as jy wil. Saag ook twee gleuwe waarin pootjies kan skuif sodat jou haas regop staan. Boor ’n 26 mm-gat en druk ’n ligsok daardeur.

Skroef nou ’n ekstragroot gloeilamp in die sok om jou haas se stert te vorm.Foto uit Tuis April 2017

’n Wolhaasstorie

Sny ’n hasievorm uit kunspels (te kry by materiaalwinkels). Maak dit so groot soos jy wil – ons s’n is net reg vir ’n baba om te lê en bottel drink, of maak ’n groter een vir jou kleuter se speel- of leeshoekie. Sny ’n glyvaste rugkant in presies dieselfde vorm en stik die twee aan mekaar. Werk die rand af met skuinsband.Foto uit Tuis April 2017

Jaag die hase op

Ons is veral dol oor die vier keramiek-hasies bo die kaggel in dié knus hoekie. Raakgeloop by ’n plaaslike mark in Somerset-Wes, is dit nou ’n permanente uitstalling teen een van die sementpanele teen die skoorsteen. Die panele raak boontoe al hoe smaller, wat die fokus plaas op die dubbelvolume van die vertrek. Dekens, ’n ronde fokusmat en versamelgoed op die kaggelrak voltooi die prentjie.Foto’s uit Tuis April 2017