Foto’s Francois Oberholster, Elza Cooper, Suné Esterhuizen en Werner Kotze

Uit die omgewing

Ons is mal oor die sandsteenwerk aan Louise en Manfred Vietze se huis op Stilbaai. Die klip kom uit die omgewing, en saam met die dekoratiewe traliewerk in die handrelings en kleurkombinasie van hout, sagteblou hortjies en grys vensterrame is die plek pure romanse. Toe die Vietzes ’n kothuis op die erf wou bou vir wanneer hul kinders kom kuier, moes hulle fyn beplan om by die erfenisbepalings van die munisipaliteit te hou. Die huis is immers oor ’n 100 jaar oud. “Ons het reeds heelwat gekapte klip op die werf gehad en moes nog ’n paar bykoop. Gelukkig kon ons kundige klipkappers kry wat ons kon help met die nuwes,” vertel Manfred.

Louise het die bouers met ’n valkoog dopgehou en seker gemaak die “mooiste” klippe kry ereplekke.

Teëltjie, teëltjie om die rand

Jill en Craig Marion van Wildernis wys ’n gedaantewisseling hoef nie jou beursie seer te maak nie. Hulle het ’n nis in een van die binnehowe van hul huis met ’n treffende fontein verfraai. Om die boogvorm ten beste te benut, het hulle dit omrand met dekoratiewe teëls. Die binnekant van die inham is ’n diepblou geverf, en met net vier dekoratiewe teëls agter die watertuit maak dit meer as genoeg impak!

Dis vir ons heerlik om saam met vriende te braai of onder die maan en sterre te kuier. Ons het al wonderlike herinneringe in dié klein binnehof geskep! – Mariaan

Van hoek tot kant

Werner en Mariaan Botha van Pretoria het hul klein buite-kuierplek van hoek tot kant mooigemaak. “Ons woon in die hart van die stad waar bitter min woonstelle ’n tuin het; ons is dus regtig gelukkig met ons stukkie werf en probeer om elke vierkante duim daarvan ten volle te benut. ’n Gevestigde bougainvillea groei oor ’n houtstruktuur vir skadu, ’n string ligte verskaf atmosfeer saans en ’n dagbed van paletplanke maak ’n pragtige – en baie gemaklike – fokuspunt. Dit word in ’n japtrap met vrolike kussings en komberse uit die huis verfraai wanneer hulle daar ontspan. Verder gee hangmandjies, staanders en potte vol tropiese groenigheid op verskillende hoogtes tekstuur; dit kan boonop na hartelus rondgeskuif word om dié buite-sitkamer in te kleur.  

Staan vas ’n Buitetafel met baksteen-“pote” is ’n kostedoeltreffende manier om struktuur te skep in ’n groot buiteruimte met ’n uitgestrekte sementvloer; dit skep terselfdertyd ’n gesellige onthaalruimte. Melinda Brummer van Somerset-Wes het in 2010 haar agterplaas ingeskryf vir ons Regruk met flair-wedstryd. Nou, amper ’n dekade later, is dit steeds elegant en doeltreffend. Die enkelbaksteenmuurtjies onder die tafel smelt saam met hul omgewing en weerbestande steierplanke vorm ’n karaktervolle blad. Danksy lang, los kerkbankies is in- en uitskuif maklik en is daar altyd plek vir nog ’n gas.

KONTAK

Perfect Settings 082 785 2842/ 082 562 5410

Pluk en geniet

Met sy versonke plantbak in die middel spog dié buitetafel met ’n permanente tuintjie waarin kruie en eetbare blommetjies sommer byderhand groei. Wanneer jy so ’n kruietafel beplan, maak voorsiening vir dreinering en sit ’n drupmatjie onderin sodat dit nie onder die tafel mors wanneer jy water gee nie. Anders kan jy die plantbak vol individuele potjies kruie pak sodat net die groenigheid uitsteek – sodoende kan jy die plantjies maklik rondskuif, vervang en water gee sonder om op die tafel te mors.

Slim met min

Toe Ilze en Johann Niehaus ’n ou padteken toe onder die stof by ’n tweedehandswinkel in Pretoria raakloop, het hulle die potensiaal vir ’n tuintafeltjie gesien. “Johann het die staaldele gebruik om ’n raam met pote te maak, en die waarskuwingsbord dien as tafelblad,” vertel Ilze. Die staalstrukstuur van die potterak is ook optelgoed. Met ’n paar herwinde houtplanke het die Niehause dit omskep in ’n fokuspunt teen ’n kaal muur – voorwaar ’n aanwins in hul waterwys tuin. Ilze sê sy’s mal oor die lewe wat die plantjies verskaf en die afwisseling van kleipotjies en herwinde houtbokse. “Hier groei ’n mengsel van vetplante, sierplantjies en kruie vir die kombuis,” verduidelik sy. “Die hoenders en hase wei soms ook in die groenigheid, maar die vier seuns – Samuel, Joe, Vivi en Ilann – help getrou om die orde te probeer handhaaf.”

Organiese ontwerp Klippies is ’n goeie deklaag en alternatief vir gras, maar kan maklik “hard” lyk. Nie in dié pragtige waterslim, minmoeite-tuin nie. Die organiese klip-vlakke is ontwerp rondom bestaande bome en struike, en danksy die kurwes is dit ’n fees vir die oog. “Ons het metaalvorms en twee kleure klip gebruik vir visuele impak, en toe die potte bo-op staangemaak vir diepte,” verduidelik die landskap-ontwerper Werner Kotze van Perfect Settings. “Die potte en klippe se kleure komplementeer mekaar en gee ’n moderne gevoel aan die tuin.” Onthou om onkruidmat onder die klip te lê en kies aalwyne en vetplante om die prentjie af te rond.

Klip in die bos Klip-kuns is groot pret onder kreatiewe geeste. Cape Town Rocks is ’n Facebook-groep wat klippe versier en dit dan op openbare plekke in en om die stad neersit. As jy een sien, neem jy ’n foto daarvan en laai dit op hul Facebook-blad – en dan kan jy die klip hou of op ’n ander plek plaas, reg om weer gevind te word. So kan elke lid van die groep sien hoe ver hul kuns reis. Niks keer jou om klippe vir jou eie tuin te verf nie; dit kan met groot vrug as fokuspunte gebruik word, of span ’n hele ry in as beddingomranding. Maak seker jou geverfde klip is waterdig geseël en plaas dit waar niemand dit sal miskyk nie!