Foto uit Tuis Januarie 2018.

By hul huis op Porterville gooi ’n witstinkhoutboom heerlike skadu oor die etenstafel waar Wanda du Toit en Jeremy Doveton-Helps amper heeljaar eet. Danksy ’n hangmat, dagbeddens en ’n groot poef is hier meer as genoeg lêplek op loom somerdae. Koeltebome, ’n swembad en buitestort sorg vir die res op snikhete dae.

Foto uit Tuis April 2017.

Lynette de Lange, die eienaar van Old Time Bathrooms in Pretoria, wou haar eie en suite-badkamer só versier dat dit haar aan die see herinner, maar dit moes steeds elegant en modern wees – geen skulpies op die vensterbank vir haar nie! Daarom het sy die mure ’n sagte blougroen geverf (sy het die kleur spesiaal laat meng) en ’n dakvenster as plafon bo die Art Deco-styl-bad geïnstalleer – perfek vir sterrekyk. 

Foto uit Tuis September 2017.

Hoe lieflik is die uitsig van Gail en James Tinsley se Vishoek-kothuis wat met yskaspanele gebou is? Die kompakte leefarea bestaan uit ’n kombuis met kaste van soliede dennehout, ’n eetarea en sitkamer, en daar stroom heerlike seelug by die groot vensters in.

Foto uit Tuis Oktober 2016.

Op die stoep van die plaas Halfaampieskraal naby Napier in die Overberg het Jan-Georg Solms en Cobus Geldenhuys ’n rustige hawe geskep. ’n Bloureëngordyn waardeur gaste die uitsig op die vredige, golwende heuwels van die streek kan bewonder. Die deure, vensterrame, vloerlyste en selfs die plafon is swart geverf, wat ’n koel atmosfeer skep.

Foto uit Tuis Werf 2017.

Kyk net hoe mooi is dit! Lynne en Luiz Correia, twee ywerige tuiniers en herwinners, het ná hul huisopknap op Stellenbosch genoeg bruikbare bourommel gehad om dié planthuisie in die skadu van ’n reuse-hibiskus agter op hul werf te bou.

Foto uit Tuis Opknap 2017.

Die kombinasie van grys op die mure, ’n houtplafon en ’n romantiese, ragfyn baldakyn bo die bed laat Shaun en Laetitia Brits se slaapkamer in hul Pretoria-huis heerlik koel voel.