Blommetjie gedenk

Plak mooi papier rondom ’n leë blikkie, vul dit met bloemisteskuim, maak dit nat en steek varsgeplukte blomme uit jou tuin daarin.

1213GDNgardengift-009

Vir jou soetlief

Maak dié maklike bessiekonfyt as geskenk.

Gebruik 500 g gemengde bessies, 375 ml witsuiker en 30 ml vars suurlemoensap:

Plaas al die bestanddele in ’n groot glasbak en meng goed. Sit die mengsel in die mikrogolfoond en kook dit op mediumkrag (50%), sonder ’n deksel, vir 5 minute of tot al die suiker opgelos is. Roer elke 2 minute. Kook verder op volle krag vir 16 minute en roer elke 3 minute. Gooi nou die warm konfyt in ’n glasflessie en seël. Draai dit onderstebo en laat staan vir 2 minute; keer weer om en laat afkoel.

1213GDNgardengift-014

Bondeltjie geur

Pluk vars kruie uit jou tuin, sit dit in ’n bruinpapiersak en bind ’n strik daarom. Sit sommer ook een van jou gunstelingresepte waarin jy die krui gebruik, daarby.

1213GDNgardengift-011

Lekker vir later

Ingelegde groente en vrugte maak ’n pragtige geskenk. Rond die flessie af deur ’n sirkel uit mooi lap te knip met ’n tandjieskêr en dit met ’n vrolike bypassende lint vas te bind.

1213GDNgardengift-016

Dop uit

Maak steggies uit jou kruietuin en gee dit weg! Deur dit in leë eierdoppe te plaas en versigtig nat te maak, kry die ou plantjie dadelik die natuurlike voeding wat dit op dié stadium nodig het. Herinner die ontvanger om die eierdoppe rondom die plantjie te strooi wanneer dit uitgeplant is – dit hou die slakke weg!