’n Soliede plan

Beton-afwerkings ry steeds die dekorgolf –nie net vir badkamer- en kombuisblaaie, teen mure of op vloere nie, maar ook as dit kom by meubels en dekor.

“Dis die rou, ongekunstelde voorkoms van sement wat huiseienaars aantrek,” sê Johan Coetzee, die eienaar van World of Decorative Concrete (WODC) wat dié stylvolle stoeptafel met ’n betonblad vir die funksiebeplanner Aleit Swanepoel se huis in Somerset-Wes gemaak het.

“Beton werk goed saam met glas, metaal, linne en selfs papier,” verduidelik Aleit. “Dis die ideale medium as jy kontras wil skep tussen harde en sagte elemente.” Om dit te illustreer het hy verskillende sementvoorwerpe soos beelde, rame, onderborde – en selfs kerse met ’n sementvoorkoms – op dié lieflike tafel gebruik. Te mooi vir woorde!

’n Weelderige goue stoel wat Aleit jare gelede by Cape to Cuba in Kaapstad gekoop het, is buitentoe gedra om atmosfeer te skep. Hier het hy dit gekombineer met die stoele van ’n ou smeeyster-stoepstel.

Gedroogde krismisrose kan in enige seisoen gebruik word en ’n ligte laag spuitverf sal die kleure lieflik laat uitstaan. Aleit versamel ou trofeë van tweedehandswinkels. Hy vul dit met blomme om kontras te skep met die harde sement-oppervlakke.

ALEIT SE WENKE VIR 'N AANDKUIER IN DIE BUITELUG

• Indien jou kombuis ver van jou onthaalarea is, is dit belangrik dat jy jou kos vooraf berei – jy moet immers met jou gaste meng, nie in die kombuis besig wees nie. Of laat die kosbereiding ’n spanpoging wees.

• Lapservette is tydloos en elegant – en dis minder geneig om in die geringste briesie weg te waai.

• Indien jy ’n tafeldoek gebruik, oorweeg aanknip-gewiggies wat die doek op sy plek hou sodat ’n windvlaag nie al jou harde werk ongedaan maak nie. 

Die spieëls teen die muur is tweedehandse vondste. ’n Kruipvy sal mettertyd die muur toegroei en nog sagtheid aan hierdie buiteruimte verleen.

Aleit het ’n sement-afgietsel van sy hande by WODC laat maak – dis nou ’n dramatiese fokuspunt as kershouer.

Sementbykomstighede gegiet en gedoop deur WODC

Dekoratiewe detail

Johan het ’n gietvorm gebruik om ’n stel stylvolle onderborde te maak met WODC se Quickset Concrete, wat binne ’n uur droog word. Aleit het elke plek afgerond met ’n eenvoudige wit servet en goue eetgerei wat hy op ’n speelse manier gerangskik het. Eetborde pas knus in die onderborde.

Metaal-items, soos messegoed en kersblakers, rond die prentjie af. “My nuwe ding is om goud en silwer te kombineer,” sê hy. “Goud is groot nuus dié seisoen en ek gebruik dit waar ek kan. Dit verleen ’n tikkie nostalgie aan enige ruimte.”

Johan bied sementdoop-klasse aan by sy fabriek in Brackenfell, Kaapstad, en sê enigiets kan gedoop word om dit ’n sementagtige voorkoms te gee. ’n Roos wat in sement gedoop is, sal vir ewig hou!

Kennersraad: ’n Grys area

Johan Coetzee van World of Decorative Concrete beantwoord ’n paar vrae:

Wat is die verskil tussen sement en beton?

Al word die terme sement en beton dikwels as “sinonieme” gebruik, is sement eintlik ’n bestanddeel van beton; dit is die “gom” wat die sand en aggregate bymekaarhou.

Beton is ’n mengsel van sand, gruis of klip, sement en water. Sement word meestal gebruik vir pleister- en messelwerk, terwyl beton gewoonlik gebruik word om vloere te gooi of balke, trappe en pilare mee te bou.

Mat of glansafwerking?

Wanneer jy met beton werk, is ’n mat afwerking gewoonlik meer verkieslik, want dit gee ’n meer natuurlike gevoel. Sou jy ’n glansafwerking verkies, kan jy die oppervlak laat skuur en poleer, of ’n hoëglans-verseëlaar aanwend.

KONTAKTE

WODC 021 982 0006

Aleit Swanepoel 021 007 2739, aleit@aleit.co.za