Foto’s Francois Oberholster en Elza Cooper Stilering Marian van Wyk en Amanda van Wyngaardt

Van meet af

’n Kreatiewe uitstalling van kosbare maatkoppies en -lepels gee tonne sjarme en persoonlikheid aan Manuel en Jenny Cernades se nuwe kombuis in Linden, Johannesburg. “Van dié lepels het ek by my oumas geërf, en ander het ek oor meer as 30 jaar bymekaargemaak,” sê Jenny.

Sy het die uitstalbord gemaak van ’n deel van ’n ou tafelblad. Elke lepel of koppie hang aan sy eie spyker op sy plek, altyd gereed vir gebruik. Panele in verskillende kleure op die oorspronklike hout maak dit ’n interessante fokuspunt in die andersins monochroom kombuis. Die versameling het nou ’n ereplek tussen twee vensterrame van herwinde Oregondennehout.

Die muur is reeds in 1935 met die pragtige roospatroon afgewerk en nou gee ’n vars laag verf dit ’n moderne voorkoms.

Wit tafeltjie van PEP Home; geel kussing van Hermanus Factory Shop

Verfkleur Plascon Paris Paving 


Trendy tralie

Nadine Theron van Worcester is nie een vir kaal mure nie. Toe die Therons ’n ou hek by hul huis op Worcester vervang, het sy besluit om die traliewerk ’n tweede kans te gee. Nou spog dit in haar leeshoekie waar dit pragtig vertoon teen die donkergrys mure. “Ek is ’n more is better-tipe mens,” skerts sy.

Die vertrek vorm ’n inham voor die venster waar dit heerlike oggendson kry. Nadine het ’n oorgroot ottoman by ’n plaaslike stoffeerder laat maak om presies in die opening te pas sodat twee mense gemaklik daar kan lê en boek lees. Die traliewerk dien ook as ’n nuttige rakkie. “Soms hang ek tydskrifte of selfs boeke daaroor,” vertel sy.

Het jy geweet?

Nadine het ons Rookie Stylist-kompetisie in 2019 gewen! Het jy ’n mooi hoekie in jou huis wat jy graag met ons wil deel? Volg @tuishomemag op Instagram en skryf in – daar’s weeklikse pryse op die spel en die algehele wenner kry ’n koopbewys ter waarde van R15 000 van MRP Home!


Geometriese teëls en vloerteëls van CTM; spatpaneel se teëls van Quadrata; spieël van Delicious Display en draadrakkie van MRP Home

Treffende teëls

Toe Morné en Peter Foale besluit om die gastebadkamer van hul huis in Bergvliet op te knap, het ou teëls uit ’n vorige badkamer-opknap goed te pas gekom. Die oorskietteëls was net die regte grootte vir ’n spatpaneel agter die wasbak.

“Ons het besluit op ’n monochroom voorkoms en het 60 x 60 cm-teëls in swart en wit op die vloer gebruik,” vertel Morné, wat haar dekorstyl beskryf as industrieel met ’n tikkie Franse flair. Geometriese teëls op die sweefrakkie eggo die swart-wit tema.

KONTAKTE EN VERSKAFFERS

CTM 010 003 9987

Delicious Display 021 448 7513

Hermanus Factory Shop 028 312 3265

MRP Home 0800 212 535

Orejen 083 303 3063

PEP Home 0860 737 000